Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 17
ОглавлениеHoofstuk 12
Michael reël ’n verrassingsfees vir my verjaardag, my vyftigste! Vriende en familie verras my op ’n partytjie op ’n boot in die Kaapstadse hawe. Michael maak ’n toespraak wat my en van die gaste in trane het. Hy skerts met deernis oor my blondgeid en sê die engele het hom geseën en gestraf met my. Hy praat oor die seëning wat ons kinders is en ons lewe saam. Ook oor die moeilike tye en hoe ons albei se demone al dinge omgekrap het. Ek hoor hoe goed hy my ken en verstaan. Ek hoor hoe lief hy vir my is.
Vroeg die volgende oggend vertrek ek en hy per trein uit Kaapstad, die bestemming is ’n geheim. Ons het pas uit die stasie vertrek, toe bondel die kinders – die dogters se kêrels is ook saam – by ons kompartement in, met kitare, ’n kosmandjie, speelkaarte en Scrabble. “Verrassing!”
Al singend, skertsend, etend en spelend ry ons tot by Matjiesfontein, waar die kinders afklim, die aand in die hotel oorslaap en die volgende dag weer terugry Kaap toe. Ek en Michael ry aan na Pretoria en toe ons die volgende dag daar afklim, word sy motorfiets ook afgelaai, saam met al ons toer-toebehore. “Verrassing!”
Ons twee saam op die motorfiets, sprekend van hoe dit is as dit met ons goed gaan – Michael met selfvertroue aan die stuur, ek wat tevrede en veilig voel op my passasiersitplek, my arms om sy lyf. Wat hom veral pas, sê hy, is dat ek nie so baie kan praat nie.
Ons stop laatmiddag by die romantiese Blue Mountain Lodge naby Hazyview, waar ons al voorheen oorgebly het. Een van my gunstelingplekke. Die kamer is vol blomme. “Verrassing!”
Die volgende dag is ons by die Pongola-gholfklub, en daar kom ’n klompie van ons vriende aangeloop. “Verrassing!”
Ons groep bring vier dae in die Pongola- private wildtuin deur met een van die beste veldgidse in die land. Ons stap elke dag ure lank in die ongerepte natuur, volg die spore van diere saam met ’n bobaas-spoorsnyer en gesels saans bospraatjies om die vuur.
Op ons motorfietsrit terug huis toe gaan ons by Golden Gate aan; ry na waar die opstal gestaan het waar ons getrou het, nou ’n piekniekplek. Ons stap op die werf rond en is stil in die onthou.
By die Van Reenen-familiekerkhof pluk ons arms vol wildeals en lê dit neer op ouma en oupa Golden Gate en ook pa Nico se grafte.
’n Mens weet as jy gelukkig is. Dit is ’n skoon gevoel, soos om deur helder water tot op die bodem te kan sien.
Net enkele maande later is ek egter weer onrustig oor my man. Sy emosionele pieke en dale volg duidelik ’n sikliese patroon en ek is bewus daarvan dat depressie soms aan sy gemoed knaag. Dit voel vir my asof daar ’n kraak in Michael se fondament is en dat dié ding ook aan my los draadjie wil kom torring. Later sou ek deur psigoanalise insig kry in hoe hierdie kraak van hom en my los draadjie mekaar aantrek en afstoot in ’n tipiese patroon van medeafhanklikheid. Hoewel Michael reeds langer as ’n jaar geen alkohol gebruik nie, is ek soms bang dat hy in sy donker tye nie die versoeking sal kan weerstaan om homself met alkohol reg te dokter nie.
Sommige oggende kan hy nie uit die bed kom nie. ’n Keer loop ek laatoggend, ná die ontbytsessie by die gastehuis, in ons slaapkamer in en kry Michael handewringend op die rand van die bed sit. Hy huil. Ek gaan langs hom sit. Hy leun teen my aan en snik. “Ek is so moeg,” sê hy, “so moeg . . .”
Dit is vir hom onmoontlik om sy werk as motiveerder van ander te doen in dié depressiewe toestand en hy neem ’n ruk siekverlof.