Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 14

Оглавление

Hoofstuk 9

Die inhoud van Clutter & Thyme in Kaapstad staan in bokse in ons huis. Sodra die Constantia-winkelsentrum klaar gebou is, trek ek oor soontoe om my nuwe winkel, Sweet Emma, te begin.

Ek is kwaad vir Michael omdat hy my nie ’n steek gehelp het met die oppak van die winkel in Kerkstraat en met die trek van die voorraad na ons huis nie. En hy is kwaad vir my omdat ek “deesdae altyd besig is”. Dit is waar, ek weet dit, maar ek glo nou vas dat dit die spoke van vroeër op hulle plek hou.

Ek weet egter Michael se beswaar gaan oor meer as dit: My selfaktualisering het oorgegaan in werkverslawing, ek is verslaaf aan besig wees. Maar goed, as ek bereid is om die balk in my eie oog raak te sien, kan ek tog seker ook aan myself erken dat my man meer drink as waaroor ek gemaklik voel. Nie sosiaal waar ander dit sou agterkom nie, maar tuis, elke aand ná werk. Twee stywe doppe met die intrapslag en dan, so met die verloop van ’n aand, genoeg wyn om hom net so in sy stoel voor die TV aan die slaap te laat raak. Ek raak stil bedonnerd hieroor en soms luid afkeurend.

Maar die gevoel dat daar onheil op pad is, verdring ek, skud ek byna letterlik van my af soos ’n hond wat hom droogmaak.

Met my winkelvoorraad opgepak en gestoor, gaan ek en die dogtertjies vir die wintervakansie saam met my skoonouers na hulle vakansiehuis op Clarens naby Golden Gate. Michael bly tuis. Hy het onlangs begin met selfontwikkelingskursusse wat hy aanbied vir groepe bestuurslui van korporatiewe ondernemings. Dit gaan goed met sy werk. Hy is in aanvraag, het die een kursus ná die ander en kan nie saamkom na Clarens nie. My mooi, slim man met sy sagte oë en warm botter in sy stem.

Ná die drie weke lange vakansie ry ek en die kinders met die trein terug Kaap toe.

Slaap op ’n trein is mos ’n heerlike ding. Vroegaand word die beddens opgemaak met skoon wit spoorweglakens, ’n dik grys wolkombers en swaar kussings in katoenslope. Amper soos ’n mummie-kooi. Die dogtertjies kies die twee hoë afslaanbeddens naby die plafon van die kompartement. Ek slaap onder. Die ritmiese klik-klak van die wiele op die treinspoor sus ons aan die slaap.

Ek wil die aand op die trein versigtig onthou. Ek wil nie die ervaring inkleur met my eie verbeelding nie . . .

In die middel van die nag is ek skielik helder wakker. Is hier iemand in ons kompartement? Ek skrik en lê doodstil. Die Karoo-volmaan skyn in deur die venster. Dan kom daar ’n dringende en duidelike gedagte by my op, amper soos ’n stem: Kyk na jou kinders.

Ek kruip uit my knus treinbed en gaan staan tussen die twee hoë afslaanbedjies waarop my dogtertjies rustig lê en slaap. Ek kyk eers na Michelle en dan na Nina. Hulle is so perfek en my liefde vir hulle so na aan heilig as wat ek in my aardsheid kan vermag.

Dan is daar nog ’n gedagte, ook helder, asof ek dit hoor: Dit is ’n wonderwerk. Hulle verwekking, hulle groei in jou, hulle geboortes, hulle bestaan.

Dit voel vir my asof ek binne-in die grootsheid van hierdie gedagte staan. Ek en my kinders in die kompartement wat soos ’n kapsule deur die heelal sweef. Veilig.

Ek kruip terug in my bed en slaap verder.

Toe ek die volgende oggend wakker word, weet ek met sekerheid dat iets belangriks dié nag gebeur het. Dat ek nie gedroom het nie. Ek het ’n kalmte in my, maar met êrens ’n tikkie hartseer tussenin. Ek verstaan die hartseer nie.

C'est la vie

Подняться наверх