Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 18

Оглавление

Hoofstuk 13

Vyftig moet fabulous wees, besluit ek. Ek wil nie eendag wanneer ek oud is, dink: Ek wou nog so graag . . . Onderweg na die Stormsrivier om saam met ’n groep vriende die Otterwandelpad te stap, ry ek oor die Gouritsrivierbrug en sien ’n inligtingsbord wat sê: bungee jumping, en draai impulsief af. Ek parkeer en stap na die brug.

Ek wil, ja! onthou ek wat Audrey Blignault eenkeer in ’n artikel geskryf het. Met dié gedagte stap ek doelgerig na die kaartjiekantoor, betaal vir my sprong en is tien minute later op die rand van die Gouritsbrug met ’n harnas aan en rektoue aan my voete.

Just do it! sê die Nike-advertensie.

“Vyf, vier, drie, twee, een . . .” tel die jong gidse agter my.

In my verbeelding het ek my dit al voorgestel. Soos ’n hoëplankduiker sal ek spring met my arms wyd, my rug grasieus gerond en my kop omhoog, bene reguit na agter en my tone gepunt. Dan soos ’n swael vlieg . . . Maar op die bevel “bungee!” val ek eerder soos ’n dooie hoender van die brug af en maak eers my oë oop toe ek ná die weer en weer en weer val uiteindelik koponderstebo en stil aan die rekkoord swaai.

Toe Nicolaas later na die video-opname van my sprong kyk, draai hy die klank harder en sê: “Haai, Mamma, ek kan sweer ek hoor die f-woord, en nie net een keer nie.”

So goed voel ek ná die tyd dat die skrik en bang van voor die sprong vergete raak. Toe ek dus ’n paar maande later hoor dat ’n mens ’n reksprong kan doen uit een van die Tafelbergse kabelkarre wat vroegoggend stil tussen die twee kabelstasies hang, meld ek weer aan. Ek wil, ja!

My laaste reksprong is van die Bloukransbrug naby Nature’s Valley. Ek weet dat ’n mens net regtig ge-bungee het as jy met die hoogste sprong ter wêreld, naamlik dié brug se 217 meter, kan spog. Die “ekkk wwil jjja . . .” is maar bra halfhartig dié slag toe ek op die rand van die afgrond staan. Op die bevel “bungee!” val ek weer met my dooie-hoender-styl in die niks in en my hart gaan staan amper. Dit genees my ook van dié gier. Nee, o magtag, so hoef ek myself nou nie verder te verskrik nie! Drie spronge sonder om ooit my oë oop te maak . . .

Die dinge wat ons doen, is ’n manifestering van wat in jou binnewêreld ontkiem, wortelskiet, groei en naderhand blom.

Dieselfde jaar stap ek saam met twee vriendinne die Inca-roete na Machu Picchu teen die oostelike helling van die Andesgebergte in Peru. Ná hulle vertrek bly ek nog tien dae alleen agter. In die dorpie Cusco bespreek ek op die ingewing van die oomblik by een van die baie toeroperateurs daar ’n toer na die Manu-reservaat, een van die mees ongerepte reënwoud-wildernisgebiede in Suid-Amerika. Ek en sewe ander reisigers onderneem die veertien uur lange busrit saam met ons gids, ’n kok en een handlanger. Ons ry van Cusco deur ’n wolkwoud en dan deur ’n reënwoud tot onder in ’n vallei by ’n sytak van die Amasonerivier. Die kronkel-grondpad is te nou vir twee busse om by mekaar verby te kom. As daar wel ’n bus van voor aankom, moet een van die busse toegee, en soms ry ons busbestuurder so na aan die afgrond dat al die insittendes stil raak, skaars asemhaal en almal instinktief na die teenoorgestelde kant van die afgrond leun. Ons let op dat daar elke nou en dan ’n kruis geplant is aan die afgrondkant van die pad. Ons gids verduidelik dat die kruise die insittendes gedenk wat in busse daar afgestort het. Met die volgende stilstaan teen die afgrond leun ek en my onbekende reismaats nog verder oor anderkant toe.

By die oewer aangekom, pak ons ons bagasie oor op ’n houtskuit. Daar is ou motorsitplekke in die middelste deel van die boot gemonteer met ’n seil bo-oor gespan; ons gids beman die enjin van die boot in die voorste punt en in die agterste punt maak die kok en handlanger vir ons kos. Dit is ’n grootse ervaring om bedags met die rivier af te vaar en die natuurskoon van Manu vanuit die boot te aanskou en saans op houtstellasies in die woud onder reusagtige bome kamp op te slaan. Saans ná ete trek ons reënstewels aan en stap elk met ’n flits agter ons gids aan. Dit is ’n openbaring – en ’n benoudheid! – om ’n digte reënwoud in die nag te beleef. Ons gids lol met ’n stokkie in ’n gaatjie in die grond en die volgende oomblik spring ’n reuse-tarantula uit. Ek skrik my buite weste. Ek kan sweer ek het die ongedierte se tande gesien! Ape spring ver bo ons al koggelend van boom tot boom.

Op ons tweede dag met die vinnig vloeiende rivier af gewaar die gids iets in die ruigtes. Behendig kry hy dit reg om die boot stroomop te draai en dit as’t ware naby die wal stil te laat staan. Die volgende oomblik verskyn ’n jaguar uit die ruigte en kom water drink op ’n sandbank reg voor ons. Sy drink lank, kyk dan op na ons en draai katvoet terug die digte bos in. Die gids staan openlik en huil. In die sewentien jaar dat hy ’n gids is, is dit die eerste keer dat hy dié manjifieke, skugter dier sien.

Ek hou myself eenkant, dring aan om alleen te bly in my eie tent en belewe die agt dae intens met my volle bewuswees. Omdat my reisgenote my nie ken nie, kan ek die één keer maak of ek ’n introvert is – ek leer ’n nuwe vryheid ken.

Alleen reis is ’n reis na binne.

C'est la vie

Подняться наверх