Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 11
ОглавлениеHoofstuk 6
Michael is een-en-dertig en ek agt-en-twintig. Ons dogtertjies, Michelle en Nina, is onderskeidelik drie en amper twee jaar oud. Om ouers te wees is ons grootste vreugde. Ons is ’n gelukkige jong gesinnetjie.
Michael werk by Tukkies se Studentediensburo as sielkundige. Ek het die spaarkamer van ons huis in ’n tuisnywerheid omskep en het ’n vrou voldag in diens om my te help met die naaldwerk. Ek maak nou, benewens my laslapprodukte, ook ’n reeks van kruie- en speseryprodukte wat ek aan geskenkwinkels in Pretoria en in Johannesburg verkoop. Ek verdien daarmee ’n goeie aanvullende inkomste terwyl ek ’n toegewyde tuisbly-ma is.
Maar my wêreld krimp.
Michael en sy sielkunde-kollegas lees al wat ’n boek is oor nuwe sielkundeteorieë en terapeutiese metodes en hy kom smiddae begeesterd tuis. Dan praat hy veral oor die Amerikaanse sielkundige Arthur Janov se boek The Primal Scream.
Ek voel agtergeblewe in ’n vervelige voorstad van Pretoria.
Michael en kie. begin korrespondeer met Janov se Primal Institute in Santa Monica, Kalifornië, en hulle is baie opgewonde toe hulle een van dié instituut se terapeute oorreed om Pretoria toe te kom. Hulle bied hulleself aan as proefkonyne vir Primal-terapie, teen omtrent die helfte van elk se salaris per maand, en neem verlof vir die twee weke lange intensiewe terapie waarmee die proses ingelui word.
Die eerste twee weke se terapie behels daaglikse sessies. Daarvoor gaan woon Michael in afsondering in ’n buitekamer by vriende. Daarna het hy drie weke lank twee individuele sessies per week waarna hy ’n onbepaalde tyd twee maal per week saans groepsessies bywoon. Michael is op pad om ’n “Primal-persoon” te word, en vir my raak hy ver en vreemd.
Wat hulle presies in die terapiesessies doen, is hoogs geheim, maar soms kom Michael ná ’n sessie by die huis aan met rooigehuilde oë. Hy praat egter nie met my daaroor nie; ons deel nie meer alles nie, sit nie meer saans saam in die bad en gesels oor ons dag nie. Hy raak krities oor hoe ek die kinders hanteer en sien wat hy noem “Primal-skade” in my geringste teregwysing van hulle. Dit is ooglopend moeilik vir ’n Primal-persoon-in-wording om om te gaan met ’n Gewone Neuroot.
Ek voel bedreig en uitgesluit. En soms lekker die moer in!
Vrydae pak ek vroegoggend mandjies met my produkte en lewer my bestellings af, eers aan winkels in Pretoria en dan ry ek deur Johannesburg toe, na die winkels daar. My beloning aan die einde van so ’n oggend se handeldryf is ’n middagete met ’n glas wyn in ’n restaurant in die pasvoltooide Sandton City. Dit laat my soos ’n wêreldburger voel.
Met dié etes merk ek gereeld ’n man op wat alleen by ’n tafel sit en werk terwyl hy eet. En ek kom agter hy het my ook raakgesien. Eendag stap hy oor na my tafel en kom stel homself voor. David. Engels. Mede-wêreldburger. Met ’n selfversekerdheid in sy stap en ’n vibrasie in sy donker stem wat êrens in my lyf resoneer.
David vertel my hy “dryf handel met metale”. Vir my wat net mense ken wat aan ’n universiteit studeer het, klink dit onakademies en tog half belangrik. Hy vra uit na wat ek doen en ek laat my klein tuisnywerheid ook ewe belangrik klink. Toe hy wegstap, sê hy: “Will you join me for lunch next Friday?”
Ek het ook nou iets geheimsinnigs om die res van die week aan te dink, buiten klein kinders en lappiesgoed en ons huishouding. Die skuldgevoel wat effe pla, probeer ek ignoreer. Dis tog net lunch, nie ’n moord wat ek beplan nie.
Die volgende Vrydag doen ek moeite met my voorkoms en oor middagete sê David vir my ek is mooi. Nee, eintlik sê hy vir my ek is sexy. Daar is daardie iets in die toonhoogte van sy stem as hy dit sê . . . Dit voel asof iemand my weer interessant vind. Ek voel weer sensueel en sien uit na ons ete-afspraak die volgende Vrydag.
My man het na ’n ander planeet verhuis en merk absoluut niks van hierdie ontluiking nie. Ons leef in twee afsonderlike wêrelde – dié van die Gewone Neuroot en die Primal-persoon-in-wording, die tuisnyweraar en die groot sielkundige, die ontwakende nimf en die asketiese Primal-bekeerling.
Daar is baie dinge wat aanleiding gee tot affairs en ’n mens kan dit op baie maniere rasionaliseer. Dis ’n menslike drama wat hom daagliks afspeel; huweliksontrouheid is ’n tema in menige sepie en in die meeste hedendaagse liefdesverhale. My affair met David die scrap-metal dealer was daarom nie uniek nie, ook nie verstaanbaarder en dus meer verskoonbaar nie. Inteendeel, klinies beskou was dit so voorspelbaar. Soos enige ander affair was dit aanvanklik só opwindend en uiteindelik geheel en al destruktief. En vir ’n goeie Doppermeisie ’n algehele ommekeer van alles wat haar tot in daardie stadium aan die aarde geanker het. Dit voel vir my of ek reg in die middel verdeel het. Die deel van my wat met die allesoorheersende skuldbesef sit, beëindig uiteindelik die kortstondige hedonistiese vergryp van die ander deel van my. Soos wanneer ’n hoofmeisie ’n standerd 7-flerrie tot orde sou roep.
Oor die einde van ons affair haal David net sy skouers op. Vir hom is dit ’n onvermydelike en natuurlike verloop van ’n affair. Nie sy eerste nie.
Maar ek voel verlore. So verlore dat ek Michael se Primal-terapeut opsoek. Oor ’n koppie koffie verduidelik hy vir my dat ’n huwelik tussen ’n Gewone Neuroot en ’n Primal-persoon nie ’n kans het nie. Al raad is dat ek die meeste van my swaarverdiende geldjies, en myself, op die altaar plaas. Ek is lief vir my man, versot op ons gesin, voel ellendig en sondig en hoop dat ek deur die Primal-terapie absolusie sal vind.
Michael is verbaas toe ek aankondig dat ek met Primal-terapie gaan begin, maar ook bly oor die vooruitsig dat ons eersdaags in ’n meer gelyke verhouding sal kan staan, as Primal-persoon tot Primal-persoon.
In die eerste week van die intensiewe fase kry ek elke dag drie uur lank terapie. Die Primal-terapeut en ek sitlê in ’n donker, klankdigte boks, ’n houtkubus met twee meter lange sye, ingebou in die motorhuis van twee van Michael se kollegas, ’n jong egpaar wat ook Primal-pasiënte is. Dit is baarmoederdonker in die boks, die hele binnekant is uitgeplak met dik skuimrubber en die reuk van die gom is nog vars en bedwelmend. Ek kan die terapeut nie sien nie en hy praat min.
“Dink aan iets hartseers,” sê hy met ons eerste sessie.
Natuurlik is ek hartseer om saam met hom in die boks te wees en oor David die scrap-metal dealer en oor ek sleg en sondig voel, maar dis onlangse hartseer en ek weet nou al genoeg van Primal-terapie om te besef dit gaan hier oor hartseer wat verder terug gaan, na my kleintyd.
Toe dink ek aan my skoolmaatjie Ulla Braun, my bondgenoot sedert graad 1, wat in standerd 7 saam met haar seunsvriend, Peter Snyckers, in die Apiesrivier verdrink het. Ek dink aan die aand toe my boetie Ferdie my die nuus kom vertel het in die Denne-koshuis van die Hoërskool Middelburg. Ek dink aan my streng pa wat my in standerd 7 na Middelburg verban het, en hoe my ma nie gekeer het nie. Hoe verpletter Ulla was toe ek weggegaan het.
Ek dink aan die begrafnis van die twee skoolkinders, hoe die leerlinge van my ou skool almal teenwoordig was, stroef en stemmig in hul netjiese skoolklere. Ek sien myself weer bang en verslae sit tussen haar bedroefde ouers by die diens in die krematorium; my pa en ma wat albei huil in die bank reg agter ons. Hoe die twee kiste met hope blomme daarop stadig in die vloer insak. Ulla was haar ma-hulle se enigste kind.
Daar in die boks kom die huil, wat destyds net te groot was, los en ek huil my volle drieuur-sessie om oor die hartseer en verskrikking van Ulla se dood. Daar is genoeg huil oor vir die volgende dae in die donker boks en die Primal-terapeut hoef nie veel te praat nie.
As ’n mens grootgemaak is deur ’n verstandige en praktiese ma, en sy eweneens die kind was van ’n ma wat nie nonsens geduld het nie, en so aan tot in die verre verlede terug, is daar iets in die oorgeërfde gedragspatrone wat jou ’n bewerige onderlippie laat vasvat met ’n ferm “sluk daardie huil”. En as jy boonop met ’n kwaai pa grootgeword het, een wat in jou tienerjare alle tekens van ontluikende seksualiteit van sy jaart af verban het, het jy nogal heelwat in jou huilbank opgespaar.
Wanneer ek in die eerste intensiewe weke van Primal-terapie nie vir my drieuur-sessie in die boks was nie, moes ek deur die week in afsondering wees, sonder kontak met die buitewêreld. Michael en Sanna, die kinders se oppasser, het die dogtertjies by die huis versorg. Naweke kon ek huis toe gaan.
My skoonouers wat, soos my ouers, die dinge van hulle kinders met kommer aanskou, neem my by hulle in. Ek woon in ’n leë vleuel van hulle huis, en my skoonma sit vir my voor die deur kos op ’n skinkbord neer, drie maal per dag.
Ek voel hoe daardie draadjie binne-in my weer begin lostorring, hoe my oerpyn onverdoof blootgelê word. Saans droom ek hoe ek in ’n donker boks op ’n swart oseaan wegdryf. Michael en die dogtertjies staan aan wal en beduie met die hande.
Ná daardie eerste intensiewe weke van terapie is ek weer terug by die huis. Nou het ek net twee sessies per week met my Primal-terapeut. Hy moet tevrede voel, want klokslag huil ek ná net vyf minute in die boks. Ek kan hom nie sien nie; hy praat nie veel nie en vir al wat ek weet, slaap hy.
Ná ’n paar weke word ek bevorder tot groepsessies. In die leë sitkamer van ’n huis êrens in Pretoria is daar agt matrasse op die vloer. Die ander pasiënte wat aankom vir die groepsessie, ewe vrolik en geselserig, neem elk stelling in op ’n matras. Die groep bestaan uit Michael en sy kollegas, ’n paar ander mense en ek. Die Primal-terapeut kom binne, groet en sit die lig af.
Elkeen lê op sy of haar matras en dink ooglopend aan iets hartseers, want nie te lank nie of daar breek ’n huilery los. Die man op die matras langs my, ene Bert, se huil klink soos die gebalk van ’n donkie en dit is vir my so snaaks dat ek aanvanklik glad nie aan iets hartseers kan dink nie. Die terapeut loop tussen die wriemelende wenendes deur, gaan sit ’n wyle by elkeen, en net daar, ten aanhore van almal, word elkeen van ons se stories uitgeryg. Nou en dan weerklink daar ’n oergil – die primal scream! – wat my laat versteen van die skrik.
Dit is dan ook hoe Michael, ten aanhore van almal, te wete kom van die scrap-metal dealer, en hy huil die res van daardie aand se sessie bitterlik daaroor. Ek wil hom troos en sê hoe vreeslik jammer ek is, maar die terapeut laat dit nie toe nie.
Nou is daar boonop huismoles!
Al die gehuil verander iets in my chemiese samestelling. Ek ly aan ernstige depressie, maar het nie die afstand daarvan en die insig om dit te besef nie. Die Primal-terapeut is hoegenaamd nie bekwaam om my te help sin kry van alles nie en doen niks om my psigiese aftakeling te beperk nie.
Met een van die groepsessies kan ek net kerm: “Help my, help my . . .” Die terapeut neem my ná die sessie eenkant toe en sê ek moenie weer terugkom nie, die Primal-terapie werk klaarblyklik nie vir my nie. Boonop ontstig ek sy ander pasiënte.
Ek ry bedremmeld saam met Michael huis toe. Dis een ding om uit die paradys geskop te word, maar uit die hel . . . dit is volmaakte mislukking. Ek is só in die moeilikheid.
In die byna sektariese afsondering van die Primal-terapie is ek deur die terapeut aangemoedig om afstand te doen van die ondersteuning van my ouers en die anker wat my geloof van kleintyd af vir my was. “That’s what fucked you up in the first place,” verklaar hy in sy alwysheid.
Ek en Michael se verhouding is gespanne en ongelukkig. Hy het intussen vir ons ons eie Primal-boks in ons motorhuis geïnstalleer en ons maak beurte om alleen daar te gaan lê, half bedwelmd deur die gomwalms, en te doen wat ’n mens in ’n Primal-boks doen: wroeg.
In ’n poging om beter te voel, gaan bly ek met my kinders ’n paar dae by vriende in Johannesburg. Op die derde dag by hulle kan ek nie uit die bed uit kom nie. My vriendin neem my kinders saam met hare vir die dag uit, en toe haar man laatmiddag by die huis kom, vra ek hom om my Tara-hospitaal toe te neem. Daar word ek in die afdeling vir akute gevalle opgeneem. Met ons aankoms is die dokters reeds van diens af, maar die aandverpleegster hanteer die opname effektief, hoewel met min deernis.
Ek het weer die grens oorgesteek van “ons” na “hulle” toe, dink ek. Ek voel geskok en eindeloos hartseer dat dinge wat ek doelbewus gedoen en gekies het, my weer hier laat beland het. Ek huil bitterlik, en die kwaai verpleegster se vermaning dat ek die ander pasiënte steur, maak net dat ek harder huil. Dit is juis hoekom ek hier is, dammit, oor ek nie kan ophou huil nie.
Die verpleegster kom haal my ná ’n ruk, ewe ongeduldig, om saam met haar en ’n ander nagverpleegster in die personeelkamer te gaan sit. Hulle sit en brei en drink tee. Dan doen sy iets wat my lewe net daar in ’n ander rigting stuur. Sy skink vir my ’n koppie tee in en toe besluit sy self, sonder om my te vra, hoeveel suiker en melk om in te gooi! Sy skuif die koppie tee ongeërg oor die tafel na my toe, sodat dit stort in die piering, terwyl sy met haar gesprek met haar kollega voortgaan. Die soet, louwarm, melkerige tee walg my. Maar my verontwaardiging oor haar minagting vir my is die gesondste emosie wat ek in maande ervaar. Ek los die tee ongedrink en gaan lê en wag in my bed, oop-oë, vir die son om op te kom. Sonder ’n verdere snik. Ligdag bel ek Michael van ’n telefoonhokkie af en vra hom om my te kom haal.
Die sielkundige wat die ontslagvorm teken, is ’n ouerige man, ’n mens met insig. “Neem jou vrou huis toe,” sê hy vir Michael. En dan vir ons albei, soos ’n pa: “Ai, julle kinders moet mekaar mooier oppas.”
Ek en Michael ry stil huis toe, sy hand liefdevol op my been. Ek kyk strak voor my in die pad en neem ’n eed dat ek nooit weer, as ek dit enigsins kan verhelp, in ’n plek sal beland waar ander sal besluit hoeveel melk en suiker ek in my tee drink nie.
Daardie week breek Michael die Primal-boks in die motorhuis af. Hy het pas van die Primal Center in Amerika gehoor dat ons terapeut nooit daar as Primal-terapeut gekwalifiseer het nie. Michael reken tog dat hy waarde uit die terapie geput het, en sy kollegas stem saam. Hulle sê die persoonlike ervaring van hoe disintegrasie tot integrasie lei, dra by tot groter insig in die proses van die heling. Dit maak van hulle goeie terapeute en gevoelvolle medemense, sê hulle.