Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 8
ОглавлениеHoofstuk 3
’n Paar maande ná die Groot Kys, ry ons vir ’n naweek na Golden Gate sodat Michael my aan sy ouma en oupa Van Reenen kan gaan voorstel. Hulle woon in die mooi ou opstal tussen die twee bergkranse waar Golden Gate sy naam gekry het.
Die plase Golden Gate en die aanliggende Glen Reenen in die Oos-Vrystaat is ’n paar geslagte reeds Van Reenen-grond – Michael se oupagrootjie, Jan Nicolaas Rossouw van Reenen, het hom in 1876 hier kom vestig en sy oumagrootjie, ’n nooi Moody, het die poort sy naam Golden Gate gegee. Oupa Van Reenen het ’n ding oor vanne gehad en het vas geglo dat hy iemand se karakter aan die hand van sy van kon uitlê. Toe Michael hulle bel om te sê hy bring ’n meisie saam vir die naweek, Lanie Quass, wil Oupa weet: “Wat vir ’n van is dit, Boet? Klink vir my Portugees?” Maar toe ek vlot Afrikaans blyk te wees, is Oupa sommer verlig. Gedurende die naweek kry ek kans om te vertel van my Oostenrykse oupa Quass wat in Middelburg met ’n Duitse meisie getrou het. En dat daar aan my ma se kant darem Pretoriusse en Snymans is.
Ek kry ’n kamer met ’n hoë houtkatel, gestyfde wit linne en ’n donskombers wat ouma Van Reenen self gemaak het van haar eie ganse se dons. Daar is ’n waskom en ’n beker wat saans wanneer jy bed toe gaan met warm water regstaan, ’n warmwatersak tussen jou lakens en ’n piepiepot onder die bed, sodat jy nie snags ’n koue, donker gang hoef te trotseer nie.
Die huis ruik soos geen ander plek wat ek ken nie, ’n mengsel van katjiepiering en vloerpolitoer en kamfer en soetgebak uit die kombuis.
Ek ken dit nie, ’n ouma en oupa wat op ’n plaas woon met ’n kombuis waaruit daar die wonderlikste kos te voorskyn kom, drie maal per dag, en dan nog boonop tee, koek, koekies en terte tussenin. ’n Mens wil naderhand huil van al die eet.
Ouma Van Reenen maak kosbaarhede bymekaar wat sy koop van ’n handelsreisiger wat ’n paar maal per jaar met sy ware daar aandoen. Hy weet al waarvoor om uit te kyk vir haar: fyn blou-en-wit porselein, mooi glas- en koperware. Ek kan my verkyk aan die mooigoed wat uitgestal word op, onder meer, ’n agthoekige tafel van okkerneuthout waarin ’n groot, blink, ronde koperskinkbord versink is. Ouma sê dat die kopertafel een van haar kosbaarste aankope was – sy het dit van ’n katalogus bestel en moes baie lank daarvoor wag. Dit lyk vir my of die herkoms Indies kan wees en ek is verbaas dat ’n mens daar op daardie afgeleë plek iets so mooi kan bekom. Ek is verlief op die kopertafel.
Michael wys vir my die plekke van sy kleintyd. Die kloof wat agter die opstal begin en waarin ons plek-plek moet leopard crawl omdat dit heeltemal vergroei het sedert hy dit as seun verken het.
Ons klim na die witkruisarende se nes in die krans aan die oorkant van die huis. Oupa Man sit die arende daagliks met ’n verkyker en dophou en hy het gesê ons moet gaan kyk, hy dink daar is kuikens. Ons moet egter agterom klim tot bo-op die krans en dan op die maag tot by die rand van die sandsteenrots seil om in die nes in te kan sien.
Dié avontuur is so reg in my kraal, maar net toe ek my neus oor die rand van die afgrond stoot en tot in die nes kan sien, kom ek agter Michael is nie meer langs my nie. Ek roep saggies: “Daar is twee kuikens in die nes, kom kyk.” Ek hoor egter niks nie en kyk om.
Michael sit spierwit in die gesig vir lewe en dood aan twee graspolle en vasklou. “Kom weg daar van die afgrond, asseblief,” roep hy. “Nou dadelik!”
Ek seil agteruit tot weer by hom. Sweet blink op sy gesig. “Ek het hoogtevrees en jy het nou amper my hart laat staan,” sê hy.
Ek voel sommer ’n hele ent liewer vir hom omdat hy sy kwesbaarheid vir my kon wys.
Michael neem my na die reusagtige holkrans waar hy as seun met die buurplaas se seun en die plaaswerkers se kinders oorgeslaap het, en vertel hoe sy ouma elke uur ’n gesant van die huis gestuur het met nog kos en koeldrank. Eintlik maar om seker te maak die kinders oorleef nog.
Ons stap tussen die grafte in die Van Reenen-familiekerkhof deur. Dit lê aan die voet van die poortkranse van Golden Gate en is omring deur ’n klipmuur wat uit dieselfde soort sandsteen gekap is. Michael vertel my die geskiedenis van die mense wat daar begrawe lê, verhale wat hy van kindsbeen gehoor het by sy ma en pa, ouma en oupa.
Ons is jonk en fiks en kyk wie kan eerste bo-op die Brandwagkrans staan. Toe ek uitasem net ná hom daar aankom, tel hy my op en swaai my in die rondte. Ons staan hygend en kyk hoe die son ondergaan, hoe die laaste strale die kranse rooigoud kleur sodat dit soos die poorte van die hemel lyk. Daar is nie ’n gelukkiger mens as ek nie.