Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 12
ОглавлениеHoofstuk 7
By die huis dwaal ek in die dal van doodskaduwee. My gedagtes maak my bang, veral soggens nadat ek my dogtertjies by die kleuterskool afgelaai het. Ek dink obsessief aan die dood. Op pad huis toe van die kleuterskool fantaseer ek oor hoe ek met die gang in ons huis gaan afstap na die slaapkamer, Michael se rewolwer uit sy bedkassie haal en myself skiet. Dit voel vir my ek het losgekom van die wêreld en dat ek alleen wegdryf.
Van ons ouers was my pa die skeptiesste oor die volksvreemde Primal-terapie. Met die aanvang daarvan het hy vir my die nuwe Afrikaanse vertaling van die Nuwe Testament en Psalms gegee. Voorin het hy geskryf: Aan Lanelle – vir terapeutiese doeleindes. Daarby ’n lysie van sy gunsteling-aanhalings. Gedurende die terapie het ek vir eers godsdiens, die “opium van die massas”, eenkant geskuif, en ook enige diep gesprek oor godsdiens of die Primal-terapie met my ouers vermy.
Een oggend kom ek van die kleuterskool by die huis aan, weer oorweldig deur my angsgedagtes, en neem ek die Bybeltjie en lees een van die Psalms op my pa se lysie: Psalm 37. Woon en werk rustig voort, staan daar. Doen wat goed is. Laat jou lewe aan die Here oor, Hy sal sorg.
So eenvoudig? Werklik so eenvoudig?
Die volgende oggend ry ek haastig van die kleuterskool terug om dié versie weer te lees. Elke oggend wanneer ek by die huis kom, lees ek eers dié versie, oor en oor soos ’n mantra. En dan gaan woon en werk ek rustig voort. Ek doen wat goed is. ’n Mens weet mos wat góéd is.
Ek maak my huis mooi. Ek hou op koffie drink en rook en besef toe eers hoe sleg dit vir my was. Ek geniet my kinders – ons speel weer, lees stories, sing liedjies. Ek maak vir hulle mooi klere. Ek stel nog ’n vrou aan om te help met die tuisnywerheid en verdien nou ’n goeie inkomste daarmee. Ek neem kooklesse en maak lekker kos vir my huismense en ons vriende. Ek lees baie. Ek begin weer met dansklasse. Ek doen moeite met my verhouding met my man. Ek voel weer lief vir hom. Baie lief.
Ek maak ’n afspraak met ’n “gewone” sielkundige, ’n jong man, pas klaar gestudeer. Ná ’n paar sessies het hy dié mondvol wysheid oor my te sê: “Jy het ’n selfaktualiseringskrisis,” sê hy. Ek onthou nie eens sy naam nie, en min sal hy weet hoe dié wysheid, of raaiskoot, die kol getref het, en hoe dit die res van my lewe in ’n bepaalde rigting gestuur het.