Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 15

Оглавление

Hoofstuk 10

Toe Michael ons by die stasie in Kaapstad oplaai, weet ek dadelik iets skort. Intuïtief. Soos ’n vrou haar maat ken. Soos ’n mens net wéét. Aan die manier waarop hy sy oë afwend as ek hom entoesiasties groet; die dogtertjies lank en styf teen hom vasdruk, maar eerder afgetrokke as bly lyk.

“Wat is fout, Michael?” Hy het die koffer in ons slaapkamer neergesit en ek het die deur agter ons toegetrek.

“Dis niks nie, ek is net moeg, ek het hard gewerk,” sê hy.

Ek los dit.

Later die aand, toe die kinders in die bed is, sit ons voor die kaggel. Hy het pas ’n vierde glas whiskey geskink en voor ek iets kan sê, sê hy: “Ek is gatvol daarvoor dat jy so controlling is. Ander mense laat my nie voel asof ek ’n drankprobleem het nie.”

“Ander mense, Michael? Wie?” vra ek kwaad. Nou sal ek nie laat los totdat ek weet nie; voordat my wéét deur hom bevestig word nie. Voordat ek dit nie hardop hoor nie.

Hy is seer, verward, kwaad, verwytend. Gaan haal dinge uit die verlede waaroor hy my van voor af kwalik neem.

“Michael, dis mos ou issues daardie,” sê ek, “dinge wat ons al deurgepraat het. Hier is iets anders aan die gang. Wat is dit? Nee, wié is dit?”

En ná ek verder torring, kom hy uit daarmee. Hy het iemand ontmoet, sy sielsgenoot, sê hy. Hy het haar ontmoet in die eerste week van ons wegwees, by die kursus wat hy aangebied het. Om langer te vertoef in ons verhouding sal die onvermydelike net uitstel, sê hy. Dan sal hy ’n skelm affair hê, wat hy nie wil doen nie.

’n Week later trek Michael by ons huis uit en by sy sielsgenoot in. Ons sê vir die dogtertjies dat hy moet weggaan vir werk. Maar in die week daarop wil Michael hê dat ons die kinders vertel. “Doen jy die praatwerk, Michael,” is al wat ek kan sê.

Hulle weet sommer dadelik dat hier ’n swaar ding kom toe ons in die formele groen sitkamer elk op ’n stoel plek inneem. Nina begin huil.

Michael sê: “Pappa en Mamma is nie meer lief vir mekaar nie, maar dit verander niks aan ons liefde vir julle nie.” Dit is ’n daad van verraad wat hy pleeg teenoor my en boonop maak hy aanspraak op my medepligtigheid. Die kinders is te klein om die werklike rede te besef en ek moet myself hier en nou verloën om hulle te beskerm.

“Gaan julle nou skei?” raas Michelle. Toe huil ons almal.

Ek is so geskok dat ek kompulsief begin sluk. Sulke seer, droë slukke. Veral snags in my bed. Ek kan nie slaap nie. Ek kan nie huil nie. Ek kan net sluk.

Ek maak ’n afspraak by ’n psigiater. Dit voel na die verantwoordelike ding om te doen, gegewe my geskiedenis van angs en depressie. Ek het nêrens om die dogtertjies op dié dag af te laai nie en neem hulle saam na die psigiater se spreekkamer. Hulle sit in die ontvangskamer en wag op ’n bankie wanneer ek geroep word vir my beurt by die dokter. Voor ek ingaan, draai ek om en sien die twee pare maer beentjies en voete met sokkies en skoene wat so bokant die grond heen en weer swaai, die bekommerde, ernstige gesiggies, en my hart vermurwe. Vir julle sal ek dié gatslag en enige ander ding wat my kant toe kom, waaragtig oorleef!

Ek vertel die psigiater wat gebeur het. Van die skade en verlies dat my man my gelos het. Dat die aarde geskuif het onder my. Ek vertel hom ook van my geskiedenis van depressie en benadruk dat ek tot dusver dinge bymekaarhou. Maar ek wil voorbereid wees en nie weer in die donker put inval nie. Ek moet sterk bly vir my kinders.

Die psigiater gee my ’n voorskrif vir ’n antidepressant, kalmeermiddel en slaappille. Dan vra hy, net voor ek loop: “Tell me, do you have a gun at home?”

“Yes?” sê-vra ek.

“I suggest you get rid of it,” sê hy.

Ek is sprakeloos. Suggereer hy . . .? En toe raak ek die hel in. Die volgende dag skeur ek die voorskrif op en bel hom. Ek sê hom ek dink hy’s ’n doos.

Michael kom dikwels die kinders haal om te gaan swem of fliek of iets te gaan eet. Sulke kort, ongewone uitstappies met hulle pa wat hulle effe verward laat. Ek dobber êrens tussen verslaenheid, hartseer en woede rond. Michael lyk gehawend en dit is vir my duidelik dat hy baie drink. Sy sielsgenoot is seker nie so kil-krities soos ek hieroor nie.

Soms dra Michael ’n nuwe kledingstuk, ooglopend iets wat sy vir hom gekoop het. Dis ’n seer, seer ding . . . die Here weet!

Ek kom deur elke dag, maar ek sien nie kans om die winkel in Constantia oop te maak nie. Ek bel vir Lynn McAdam van Biggie Best in Cavendish Square, want ek weet sy wou die perseel ook graag gehad het om nog een van haar winkels daar oop te maak. Ek sê vir haar dat ek aan Norwich Union, die eienaar van Constantia Village, sal voorstel dat sy die perseel en my verpligtinge oorneem.

“Kom ons ontmoet vir koffie en gesels daaroor,” stel sy voor.

Ek en Lynn ken mekaar nie goed nie, het mekaar slegs ’n paar maal deur ons gemeenskaplike vriendin, Penny, te sien gekry. Ons kry mekaar in ’n koffieplek in Cavendish, en sy vra my wat tot my besluit aanleiding gegee het. Ek speel oop kaarte, vertel haar dat my man weg is, dat ek ellendig en treurig voel en dat ál waarvoor ek energie het, is om van die een dag na die volgende te kom en my en die kinders se ontreddering te “bestuur”.

“Maar dan moet jy juis die winkel oopmaak,” sê sy. “Ek sal jou help.”

Ek kan nie glo dat dié vrou, wat my eintlik nie ken nie, so uitreik na my nie. Sy kon bloot gesê het: “Ja, dankie, ek wou al lankal daardie perseel gehad het.”

Dit is asof daar ’n lig opgaan. Miskien kan ek tog . . .

Oor my kinders gee sy my dié raad: “Sit met hulle as hulle saans gaan slaap. Sit ’n hand op elkeen se voorkop en vra die Here om hulle en jou te beskerm. Sit net stil in Sy teenwoordigheid.”

Daardie aand doen ek wat Lynn voorgestel het en bid ook sommer vir die krag om wel met my winkelplanne te kan voortgaan. Die kinders se slapenstyd raak die tyd van die dag waarna ek uitsien. Dit word soos ’n oase vir een wat dors en al slukkend in die woestyn ronddwaal. En wanneer ek nog sit, lank nadat hulle reeds aan die slaap is, onthou ek die aand op die trein. Dit is asof die teenwoordigheid wat daardie aand so naby en werklik was, ons al drie nou omarm . . . Woon en werk rustig voort, doen wat goed is, laat jou lewe aan die Here oor, Hy sal sorg.

Ek bel vir Lillibet, wat sedert ons Kaap toe getrek het, ’n goeie vriendin geraak het, en vra of sy lus het om saam met my die winkel in Constantia oop te maak. Sy is entoesiasties oor die projek.

Soos voorheen in my lewe kom selfaktualisering tot my redding, en dié keer kom Lillibet saam. Sy is een wat kan organiseer en gedissiplineerd kan werk; daarmee vul sy my regterbrein-talente aan en ons twee vorm ’n goeie span. Op 1 Augustus 1985 maak ons winkel, Sweet Emma, sy deure in Constantia Village oop. Ons koop ons meeste voorraad van Lynn, wat vir haar Biggie Best-winkel in Cavendish Square geblomde materiaal laat druk by Berg River Textiles.

Dit was die dae van internasionale sanksies en Lynn het die geleentheid aangegryp om ’n plaaslik vervaardigde materiaalreeks te vestig. Om die minimum volumes te hanteer wat Berg River Textiles bereid was om te druk, moes sy meer afsetgebiede hê as wat haar enkele winkel kon bied, en dit is waar ons in die prentjie gekom het. Die samewerking het so belangrik geword dat ons winkel se naam uiteindelik van Sweet Emma na Biggie Best Constantia verander het – die eerste van ’n reeks Biggie Best-konsessiewinkels in Suid-Afrika. Dié reeks winkels het een van die suksesverhale van die Suid-Afrikaanse kleinhandel geword en is nou ’n alombekende huishoudelike naam.

Biggie Best het ’n reuse-pakhuis in Woodstock, waar ek en Lillibet weekliks ons kombi’s tot teen die dak gaan vol pak met rolle materiaal en dekor-bybehore. Ons winkel in Constantia is pragtig en suksesvol, en ek voel al hoe meer soos ’n bemagtigde, onafhanklike, sterk vrou.

As Michael deesdae die kinders kom haal en terugbring, is ek vriendelik en saaklik met hom. Maar een Saterdag bring hy laatmiddag die kinders huis toe, en toe hulle hom groet en na hul kamers hardloop, bly hy by die deur. “Kan ons praat?” vra hy, en ek kan sien hy is erg verleë.

“Natuurlik kan ons praat.”

Ek gaan sit in een van die sitkamerstoele, maar hy bly staan. “Ek wil terugkom,” sê hy. “Ek wil huis toe kom. Ek mis jou en die kinders en ons lewe saam.”

Ons besluit saam dat dit net kan werk as ons eers ’n draai by ’n goeie terapeut maak. Pas nadat hy teruggetrek het, gaan sien ons iemand. Ons praat en raas en luister en huil totdat die troebel waters weer helder is. Ons vergewe mekaar. Vir die eerste keer praat ons ook reguit oor Michael se verhouding met alkohol. Albei besef hoe ’n groot bydraende faktor dit was in die verwydering tussen ons. Michael besluit om liewer glad nie meer te drink nie.

C'est la vie

Подняться наверх