Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 10
Hoofstuk 6
ОглавлениеMei 2014, Fourways
Dominee Jack Erasmus kan maar net nie vorder met die preek nie. Hoe meer hy probeer dink, hoe minder kom die regte gedagtes; die regte woorde. Hy kan tog nie Sondag in die kerk met ’n mond vol tande staan voor die hele gemeente nie!
Hy sit in sy studeerkamer voor die rekenaar, want hy het gedink as hy nie inspirasie in homself kan vind nie, kan die internet dalk help. Daar was egter die een dwaalspoor op die ander, en dan die soveelste doodloopstraat. Alles waaroor hy behoort te preek, smaak dit vir hom, hét hy al oor gepreek. En nou is dit al tien voor twaalf in die aand, Vrydag is amper verby, en oormôreoggend is so te sê op hom. Gewoonlik is sy preek al Woensdagaand op die laatste volledig in sy kop, hy het nog nooit ’n probleem gehad nie. Dalk het hy niks meer om te sê nie? Geen aanvoeling meer vir hoe om sy gemeente te lei nie?
Nee. Hy wil darem glo dis ’n tydelike kwaal. Dat hy net bekommerd is oor Helena se ma. Nellie Harmse was nog nooit die wêreld se maklikste skoonma nie, daarom is hy byna verbaas dat haar siekte hom so ontstel. Hy moes saam met Helena gegaan het. Maar dis so ver – dit was sy rede, of verskoning. En hy het mos ’n preek om voor te berei. Moet Sondag ’n diens lewer. As Nellie Harmse moet sterf terwyl hy tog niks hier uitgerig gekry het nie, hoe sleg gaan hy nie voel nie!
Dis byna asof daar vir hom ’n boodskap gestuur word, of ’n straf om hom te wys hy het die verkeerde besluit geneem.
Hier sit hy alleen in die grote huis. Helena is nog skaars ’n dag weg, en hy mis haar iets ysliks. Hy betrap homself elke nou en dan dat hy luister vir haar voetval, of haar kenmerkende kuggie – en onthou dan weer sy is by haar siek moeder, en dat hy haar behoort te ondersteun. Dat ’n oproep en ’n whatsapp nie naastenby genoeg is nie.
Hy neem ’n besluit: Sondag val hy in die pad, sodra die kerkdiens verby is. Dan …
Jack Erasmus ruk van die skrik toe daar ’n harde slag uit een van die vertrekke kom. Hy is reeds op sy voete toe hy besef die geluid kom eintlik uit die voordeur se rigting; iemand hamer daarteen.
Wie op aarde kan dit wees? Jack haas hom soontoe. Hy hardloop byna, al het die gehamer opgehou. Het iets by een van die huise langsaan gebeur? Hy het niks gehoor nie, maar die huise in hierdie gegoede deel is ook so ver uitmekaar, almal het soveel privaatheid dat hy nie sou nie.
Hy bereik die voordeur, huiwer nadat hy die slot oopgemaak het. Die kettinkie is nog aan en hy los dit vir eers so, want in hierdie gevaarlike tye is dit malligheid om net oop te maak, veral dié tyd van die aand. Asof om dié gedagte te onderstreep, begin ’n kerkhorlosie – sy kerk s’n – die eerste van twaalf slae gee.
Jack maak die deur so wyd oop as wat die kettinkie toelaat. Hy kry ’n glimp van ’n man se gesig. Seker iewers tussen veertig en vyftig, ligte krulhare wat gevaarlik yl is. Gewone klere, ’n baadjie oor ’n knoophemp.
Die man praat voordat Jack iets kan sê: “Ekskuus tog dat ek so hard geklop het. Ek het nog ’n lig sien brand, maar kon nie seker wees jy is wakker nie. Jy is meneer Erasmus, nè, ek bedoel dominee Erasmus?”
“Dis reg?” Jack onderdruk ’n rilling. Die man klink op sy senuwees, selfs beangs, en dit word aan hom oorgedra.
“Ek … ag, ek is so jammer. Maar ek het slegte nuus. Helena het … jammer, ek bedoel u vrou, sy het …”
“Wat van Helena?” Nou gaan daar ’n volwaardige rilling deur Jack.
“Ek is bevrees daar was ’n ongeluk. Motorongeluk. Ernstig. Ag, asseblief,” en die man beduie na die kettinkie, “kan u my maar …”
“Natuurlik. Ekskuus.” Jack maak vinnig die deur toe sodat hy die kettinkie kan afkry. Maak dit dan wyd oop. Sy stem kraak: “Wat het gebeur?”
“Ons is almal vreeslik ontsteld. Helena was saam met haar moeder in die motor.” Die man glip verby hom die huis binne. Jack sien hy dra handskoene, seker teen die koue. Behalwe dat dit nie koud is nie. “Toe sy om ’n draai gaan …”
“Is sy …” Hy kom nie verder nie.
“Nee. Sy makeer niks nie.” Die man leun oor om die deur toe te druk. Dit op slot te sit.
“Maar jy het dan gesê …”
Blitsig bring die man iets van onder sy baadjie te voorskyn. ’n Staalpyp.
“Wat …” Jack kom nie verder nie, want die man swaai die pyp en dit tref hom teen die kant van sy kop.
Dan raak alles swart.
“Dit is tyd dat jy pa staan.”
Jack knip sy oë. Het hy reg gehoor?
“Ek sien jy kom by,” sê die man. “Ek wou dit nie doen terwyl jy nog nie by jou bewussyn was nie. Dit sou baie onregverdig wees. Jy moet weet hoekom jy doodgaan.”
Wat bedoel jy? Dit is wat Jack wil vra, maar sy lippe wil nie beweeg nie. Sy lyf is lam. Hy lê plat op sy rug, sy hande agter sy rug vasgemaak. Sy kop pyn aan die kant waar hy geslaan is.
En iets wil-wil hom wurg. Hy kom agter daar is iets om sy nek gebind. Toe weet hy dat dit ’n tou moet wees, want die man hou die punt daarvan in sy hand. En hy besef waar hulle is, want hier naby hom staan sy Mercedes. Dié kant van die motorhuis is leeg sonder Helena se motor.
Die tou, kan hy aflei, loop bo-oor die swaar balk teen die plafon.
“Ek sien jy probeer loskom,” sê die man. “Jy sal nie. Jou hande is stewig vasgebind – met doeke, sodat daar nie merke is wat verdag sal lyk nie.” Hy kyk rond. “Ek het gehóóp ons sal regkom hier in jou garage. Wanneer ons hier klaar is, kan ek die deur laat oopgaan. Sodat almal jou hier kan sien wanneer dit lig raak buite. Kan sien dat jy vir sy sondes geboet het.”
“Wie se …” kry Jack gesê.
“Jou oupa s’n,” kom die antwoord. “Die goeie meneer Boet Erasmus wat soveel mense se lewens beëindig het – en nooit vir sy eie sondes betaal het nie. Nou doen jy dit namens hom.” Die man met die yl blonde hare en intense blou oë hou sy hand op, die een wat nie die tou vashou nie. “Ek sal dit nie lank uitrek nie. Jy moet boet, maar jy hoef darem nie gemartel te word nie.”
Sonder ’n verdere woord staan hy terug, skop vas en begin trek. Die tou byt vas om Jack se nek. Desperaat kom hy op sy voete sodat hy die spanning kan verlig, maar al wat dit vermag, is dat die man vinnig die tou styftrek.
Jack is regop, hulpeloos. Hy probeer iets sê, maar daar kom net ’n kreun uit. By dié man sal hy geen genade vind nie, die mond is verbete saamgetrek. Hy kan nie asem kry nie! Die hande het die tou in ’n knelgreep en bewerk dit asof hy wat Jack is, niks weeg nie. Hoe kan hy so sterk wees? Jack staan reeds op sy tone. Die drukking op sy strot, hy kan dit nie meer vat nie; hy wil sluk, maar hy kan nie.
Die gevoellose oë bly op hom, weet hy, toe hy self nie meer so goed alles om hom kan waarneem nie; alles het begin swem. Hy kan nie meer vastrap nie, sy tone is op die punt om die grond te verlaat. Hy weet dis sy laaste oomblikke. Wat het die man gesê, die sondes van Oupa Boet?
Hy knip sy oë en fokus ’n laaste keer. Eers uit hierdie posisie sien hy die stoel wat altyd in die gang by die telefoon staan. Die man het dit op sy sy gekeer – asof hy dit self omgeskop het.