Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 13

Hoofstuk 9

Оглавление

“Ek weet nie wat gaan aan met die lig nie!” roep die ou pastoor uit die kombuis. “Dit flikker aanhoudend.”

Gabriël gaan soontoe. “Ek sal gou op die tafel klim en kyk, Pa. Miskien is die gloeilamp besig om te blaas.”

“Volstrek nie, seun. Nie met jou voet nie. En ek het darem meer as een keer die ligte in die ou tent reggekry, onthou jy nog?”

Gabriël wil keer, maar besef dis waar dat hy nie self moet opklim nie. Dalk is dit beter as hulle iemand inkry, ’n elektrisiën miskien. Sy pa is oud en lankal nie meer uitgeknip vir sulke take nie.

Tog kyk hy bloot hoe ou pastoor Bendt eers op ’n stoel klim en dan op die kombuistafel, wat protesteer onder die onverwagse gewig. Gabriël raak bewus van ’n soort energie in hom wat nie sekondes gelede daar was nie. Hy wil begin bewe en sy vel trek styf, kompleet asof daar ’n slang teen sy ruggraat opseil. Tog is die gevoel nie vir hom onbekend nie.

“Kan Pa iets uitmaak?” Hy weet hy moet die ou man vra om dadelik af te klim. Hy kan tog niks sien bloot deur so na aan die gloeilamp te staan en dit te bekyk nie. Die lig hou aan flikker. Gabriël weet egter ook hy gaan nie sy pa vra om af te klim nie.

“Niks fout met die bedrading, sover ek kan sien nie … Dalk is die gloeilamp nie behoorlik vasgedraai nie. Nie ’n lekker konneksie nie.”

“Moenie daaraan raak nie, Pa sal Pa se hand brand.”

“Ek weet, seun. Dis dalk maar net dat die stoor se bedrading al so oud is.”

“Dis nie meer ’n stoor nie. Dis my Tabernakel.”

Verras kyk die ou man af na hom. “Ek weet, ek bedoel maar net …”

Die energie laai sterker in Gabriël op – en hy besef waarvandaan hy die krieweling teen sy rug op herken. Dis hoe hy gevoel het toe hy by Jack Erasmus se huis gekom het, gereed om hom dood te maak.

Maar dis sy pa. Hy kan nie.

Maar dis nodig.

“Nou ja,” sê die ou pastoor, “mens moet seker maar net ’n ander gloeilamp probeer.” Hy maak gereed om af te klim.

Dit moet nóú gebeur. Gabriël trek sy asem in. Want hy is tog lief vir sy pa. Maar hy kan nie aanhou groei as die ou man steeds hier is nie. En dis nodig. Hy sou graag wou glo sy wil is nie meer sy eie nie, dat iemand anders die besluit geneem het, of dat ’n ander mag namens hom besluit het. Maar hy het reeds sy hand uitgesteek en hy het bedoel om dit te doen.

“Gabriël?” sê sy pa op ’n vraende manier. Sy gesigsuitdrukking moes hom verklap het.

Dit is tyd om oor te vat.

“Gabriël, om liefdeswil, wat maak jy!”

Hy stamp teen die ou man se linkerbeen. Tony Bendt verloor byna sy balans. Die tafel maak ’n kraakgeluid.

“Gabriël, nee!”

Nog ’n stamp, harder. Om te keer dat hy val, gryp die ou man na die koord wat uit die dak hang. Hy kry dit nie vasgevat nie en die gloeilamp begin heen en weer wieg.

Dis nie nodig om weer te stamp nie, die pastoor begin tuimel. Dis ’n ver val vir ’n ou man. Gabriël wil-wil hom probeer vang, maar weerhou homself.

Die pastoor tref die harde kombuisvloer kop eerste. Bokant die dowwe slag wat sy liggaam maak, is daar ’n duidelike kraakgeluid. Dis sy nek. Dis dié dat sy kop so skeef gedraai is. Dié dat daar geen uitdrukking is in die oë wat na bo staar, waar die gloeilamp al hoe stadiger wieg nie.

Dit moes gebeur, weet Gabriël, al laat hy homself ’n paar oomblikke van spyt toe. Selfs van hartseer. Geen groot taak, veral nie ’n taak soos syne, kom sonder opofferings nie. Hy is immers God se geroepene. Sy instrument van vergelding. Hy het ’n engel se taak, sy naam is nie verniet Gabriël nie.

Hy moet ’n dokter bel, of die polisie … en hy sal nou-nou. Hy moet net eers ’n rukkie alleen wees met die nuwe besef.

Dat hy volgende keer die Tabernakel se mense sal toespreek sonder iemand anders wat ’n mate van die erkenning inpalm.

Hy loop badkamer toe en skeer sy blonde hare af, dié wat hy nog gehad het. Hy kyk na die man in die spieël wat nou soveel anders lyk. Gestroop. Vaartbelyn. Van swakhede bevry.

Gabriël moet egter sy oë knip om homself ordentlik te kan sien. Sy sig het baie agteruitgegaan. Dalk was beide sy pa en ma se sig swak, hy sal nie weet nie. Maar net môre gaan sien hy ’n oogarts, sodat hy ’n bril kan kry. Dat hy weer soos ’n jong, sterk mens kan sien, een wat nie weens so ’n defek enige foute kan maak in die uitvoering van sy pligte nie.

Voorwaar, hy word ’n nuwe man …

Sondes van die vaders

Подняться наверх