Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 11

Hoofstuk 7

Оглавление

Desember 2014, George/Johannesburg

Eric het haar George-lughawe toe geneem. Hulle het albei doelbewus nie die afskeid uitgerek nie, met te veel op die gemoed om daaroor te praat. Buitendien sal Eric voor die einde van die week aansluit by die res van die span.

Maandag 1 Desember. Nuwe week, nuwe maand – en terug na die ou manier van leef. Danny besef sy en Eric het die hele tyd op Stilbaai nie een keer oor werk gepraat nie. Sy kon byna dink daar was nooit iets soos die Klipmoordenaar-saak nie. Daardie gegewens kon deel wees van ’n boek wat sy op ’n tyd gelees het, ’n fliek wat sy gekyk het. ’n Reeksmoordenaar genaamd Adam Williams, eenmaal die vroulike speurder se pa se beste vriend, se lewe is deur Harm Hasslau vernietig. Nadat Braam Brink te na aan die waarheid gekom het, het Hasslau gesorg dat hy uit die weg geruim word. Selfdood. Dit was die polisie se gevolgtrekking.

Danny kan dit skielik weer voor haar sien, en voel aan die ruk wat haar lyf gee dat dit nié ’n fiktiewe verlede is nie. Sy onthou die bloedbesmeerde badkamer toe sy eendag ná skool, as veertienjarige kind, haar pa se lyk aangetref het. Sy het jare lank nagmerries daaroor gehad. Maar haar ma het nog meer daaronder gely. Sy kon nie verstaan waarom die man wat hulle so lief gehad het so iets aan haar en Danny kon doen nie.

Danny word uit haar gedagtegang geruk toe die lugwaardin langs haar vra: “Wil u ’n kaas- of ’n hamtoebroodjie hê?”

“Niks vir my nie, dankie. Net ’n mineraalwater.”

Die vlug is gelukkig aan die leë kant. Danny onderdruk ’n sug toe sy dink aan die miserabele huisie in Westdene. Sy het nie gedink sy sal die plek ooit weer sien nie. Hopelik sal sy min daar wees, want waar Harm Hasslau se spoor ook al opgetel mag word, dis waarheen sy moet afsit.

Die vliegtuig begin sirkel oor O.R. Tambo-lughawe. Sy sal ’n uber neem en eers oë gaan wys by Mbulu, dan miskien vir Billy vra om haar Westdene toe te neem sodat sy van haar tas ontslae kan raak.

Dis net hulle drie – Danny en Billy Venter, haar speurluitenant-vennoot, langs mekaar oorkant kommissaris Bongani Mbulu, wat besig is om hulle meer inligting te gee oor Harm Hasslau se ontsnapping.

“Sersant Fourie was aan diens gewees. Volgens hom was daar twee dokters – nou weet ons nie regte dokters nie – wat daarop aangedring het dat Hasslau na die x-straalafdeling moet gaan. Hy het al twee dae gekla oor pyn by sy niere. Fourie was dus nie agterdogtig nie, maar hy het nogtans die trollie waarmee Hasslau laat haal is tot daar gevolg. Toe hulle hom by die x-straalkamer ingestoot het, het Fourie voor die deur wag gehou. Ná byna ’n kwartier van stilte het hy agterdogtig geraak en die deur oopgemaak. Die vertrek was leeg. Geen teken van Hasslau of die danige dokters nie.”

“Waar is die naaste uitgang?” vra Danny.

“Dit is wat die plan laat werk het. Die vertrek is verbind met die een langsaan en daarvandaan loop ’n gangetjie direk na die area waar ambulanse stop as hulle aankom met ’n noodgeval. Die uiteinde is dat Hasslau spoorloos verdwyn het.”

Danny sien daar gaan niks meer volg nie en kom orent. “Daar moet iets vasgevang wees. Die hospitaal het tog sekerlik kringtelevisiekameras?”

Mbulu kyk na Billy. “Gaan saam, Venter. Julle is vir eers saam op die saak.”

By die hospitaal word hulle deur sersant Fourie begroet. Hy gaan wys hulle in watter kamer Hasslau was, en hulle loop saam die redelike entjie na die x-straalafdeling toe.

“Niks meer uitgevind oor die sogenaamde dokters wat hom kom haal het nie?” vra Danny.

Fourie skud sy kop. “Hulle was baie oortuigend en hulle beplanning was goed. Radiologie het vir my gesê die Röntgenmasjien is buite werking. Daar was dus geen besprekings vir enigiemand gemaak nie.”

“Met ander woorde,” sê Billy, “iemand by x-strale het aan hulle gelek dat die vertrek leeg sou wees.”

“Die een langsaan ook. Dié een. Kom.” Fourie lei hulle deur die tweede vertrek en dan deur die kort gangetjie na buite.

“Indien ’n voertuig hier gewag het, kon hulle hom sonder hindernis inlaai en –”

“Weg is ta vir goed!” brom Billy.

“Nie vir goed nie,” help Danny hom reg. “Iewers moes hulle ’n spoor agtergelaat het. En ons sal hom vat.”

Dan is daar drie stapels beeldmateriaal om deur te werk – van oor die hele hospitaal op die gewraakte dag.

Niks val vreemd op nie.

“Noudat ons daardeur is, kom ons beweeg aan na die voertuie op die parkeerterrein,” sê Danny eindelik.

Elke motor, elke ambulans en afleweringstrok word bekyk.

Billy lyk later moedeloos. “Mors ons nie ons tyd nie?”

Danny druk die laaste disket in die masjien. “Hy kon nie in die lug verdwyn het nie.” Sy weet nie wie van hulle sy probeer moed inpraat nie.

“Wat het ons hier …” mompel Billy ’n paar minute later. ’n Byna tenkagtige vierwielaangedrewe motor ry die raampie binne. Dit lyk na ’n bruin motor, maar dis moeilik om te sê met so ’n dik laag vuiligheid op die bakwerk. “Lyk nie na designer mud nie,” merk hy op.

“Nee, Billy, daai motor kom van ver af. Kan jy inzoem op die nommerplaat?” ’n Opgewondenheid begin in Danny kriewel.

“Shit. Nee. Kan dit nie lees nie. Dit lyk of swart verf daaroor gespuit is.”

“Dis hy, Billy! Dis ons motor. Vergroot dit sover jy kan.”

“Dis dít. Help ons nie veel nie.”

Danny verskuif haar leesbril. Probeer op ’n ander manier daarna kyk. Dan sien sy dit. Die registrasienommer mag onleesbaar wees, maar in die middel van die modderskerm is ’n embleem. Danny leun vorentoe en trek haar oë op skrefies.

“Wat is dit?” wil Billy weet.

Sy beduie met haar vinger. “Lyk soos ’n soort hoed?”

Billy leun ook nader. “Dis ’n hoed, kaptein. ’n Basotho-hoed!”

“Lesotho! Die voertuig kom van Lesotho.” Sy draai na hom. “Dis dan waarheen ek gaan, Billy. Ek hoop nie Boelie gaan moeilik wees nie.”

“Ek kom saam, natuurlik. Jy kan nie vrou-alleen …”

“Bog, Billy. Jy weet ek kan my man staan.”

“Hulle sal jou nie toelaat om jou dienspistool in te bring nie,” stry hy. “Ek gaan saam, Danny.”

“Nee, luister na my. Jy sal moet instaan hier. Mbulu sal nie al twee van ons afstaan nie – nie so ver weg nie.”

“Maar ek en jy is saam …”

“Nee, Billy,” sê sy ferm. “Hasslau is myne. Myne en myne alleen. Onthou, hy was mý pa se moordenaar.”

Sondes van die vaders

Подняться наверх