Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 16
Hoofstuk 12
ОглавлениеNovember 2014, Johannesburg
Agter die Tabernakel, versteek van die straat se kant af deur die baie groter gebou, is daar ’n eens vervalle skuur. Die ou pastoor het daaraan gedink om dit die een of ander tyd in ’n kleiner aanbiddingsentrum te omskep, maar het nooit daarby uitgekom nie – en Gabriël het intussen die ander, meer persoonlike moontlikhede van so ’n ruimte besef. Hy het ’n paar vernuwings aangebring, asook heelwat veranderinge, en dink nou daaraan as sy private museum – en bron van inspirasie. Geen gemeentelid kom hier nie; daar is geen rede voor nie en net hy het die sleutel.
Die staalbalk, twee maande gelede geïnstalleer, hang net onder die halfmaanvormige vensters aan die noordekant. Bedags laat die lig deur die vensters die sewe staalhake glim; dit is natuurlik daar vir galgtoue, bokant ’n stellasie waarin hy ’n valdeur laat aanbring het. Op aande wat hy hier is, blink die hake net so mooi onder die ligte. Aan ’n staande klererak hang sewe poppe wat hy laat maak het: kleiner en groter, sommige swaarder, sommige ligter. Die kuns van die laksman was mos om die sterkte en dikte van die tou sorgvuldig te bereken volgens die lengte en gewig van die veroordeelde. Dit, asook die afstand van die val.
Niemand sal egter ooit hiér gehang word nie. Nee, dit is sy heilige plek; ’n totaal ander soort heiligdom as die Tabernakel. Hy sou nooit kon geraai het waarvoor hy uiteindelik die skuur sou inspan nie.
Hier hou hy ook sy gereedskap. En hier bespreek hy en Marx hulle sake – Marx, die jonger man wat hom so mooi help om die wanbalans tussen kwaad en goed te herstel. Hier, omring deur die gepaste rekwisiete, doen hulle hul beplanning. En hier, in ’n herboude weergawe van die omstandighede waarin Hansie hom eens bevind het, die plek waar hy eenmaal ’n hulpelose slagoffer was, is hy nou meester van sy omgewing.
Vier van sy slagoffers – húlle slagoffers, want Marx was vir nommers twee en drie verantwoordelik – is reeds gevind, en almal is deur die polisie as selfdoodgevalle geklassifiseer. Hulle het die teregstellings mooi gespasieer, omtrent ’n maand uitmekaar. Dis mos nie nodig om oorhaastig te wees nie.
Nou lê nog ’n taak voor. Ongelukkig het hy maar net ’n paar dae gelede met hulle vierde prooi afgereken. Hulle sal egter eenvoudig nie hierdie keer weer ’n maand kan wag nie, want die man is op pad hierheen. Die ideale geleentheid.
Die staalkaste langs die muur aan die oostekant huisves verskillende sterktes galgtoue. In die middel van die vertrek is ’n tafel. Die huilende Hansie Horrelpoot was by tien teregstellings teenwoordig. Daardie arme mense roep al jare lank om wraak. Maar daar is ook ander gevalle waar straf uitgedeel moet word, aan dié wat die drakoniese reëls neergelê het waarvolgens die teregstellings uitgevoer is. Die derde en die vierde geslag van dié wat My haat, sê die Woord mos.
Marx is ’n goeie student – leergierig, en bowenal verbitterd. Gabriël het aangebied dat as dinge reg verloop, die Tabernakel sy studiekoste sal dek, maar die jong man stel nie meer belang nie. Hy weet dat Marx nou plesier vind in die jagtery. Hy verstaan ook dat bloot sy ondersteuning nie salf op Marx se wonde kan wees nie. Hy is jonk en trots en die onderbreking van sy studies is ’n persoonlike vernedering. Dis góéd dat die gevoel van onreg ook in hom wortel geskiet het.
Wat nou voorlê, is die teregstelling van Anton Vermeer. Die politikus. Die vurige kampvegter vir gay regte – iets waarmee die ANC-regering skynbaar minder van ’n probleem het as wat al met ander se beginselsake in die verlede die geval was.
Hulle het albei navorsing gedoen via daardie wonderlike hulpmiddel, die internet. Alle inligting wat daar omtrent die dertigjarige Vermeer te vinde is, nagespoor. Hulle het saamgewerk, maar Gabriël was verbaas en beïndruk toe Marx hom ’n week gelede vertel hy en Anton is per e-pos in verbinding. Marx het aan hom geskryf om hom te bedank omdat hy soveel vir “sy soort mense” doen. Hom gevlei. Marx gebruik natuurlik net ’n Gmail-adres en ’n vals naam. Dinge het so vinnig gevorder dat hulle nou daagliks kontak het. Dit is veral op ’n spits gedryf omdat Vermeer na Johannesburg op pad is en Marx graag wil ontmoet.
Daar is ’n klop aan die skuur se deur. Gabriël maak eers seker wie dit is, nie dalk een van sy diakens wat oortree deur hierheen te kom nie, en sluit vir Marx oop.
Gou rapporteer die swart man: “Hy sal my laat weet watter tyd hy land. Dit moet dan gebeur, en klaar. Ons kry nie weer so ’n kans nie.”
Gabriël knik. Sy kaal kop blink in die lig. Net so blink die dik lense van sy bril, waardeur die blou van sy oë net-net waarneembaar is. Niks ontsnap sy blik nie. “Daar is min wat ek jou nou nog kan leer, behalwe die laaste bietjie afronding … Sê my, hoe goed hét jy Peter Moegeng geken?”
“Seker nie baie goed nie. Oupa was polities baie bedrywig. Hy was so lank weg en ek moes omtrent vier of vyf gewees het toe ek hom die laaste keer gesien het. My ouma het my later vertel hy was vlugtend voor die polisie en het by haar skuiling gesoek tot hy oor die Mosambiekse grens kon padgee. Hy was net ’n paar dae tuis, maar dit was genoeg tyd om vir sy kleinseun ’n seepkiskarretjie te bou. Dis seker hoekom ek daardie paar dae so goed onthou. Omdat hy so min by ons was, was dit so wonderlik ás hy daar was.
“Die vierde dag het die polisie by die huis opgedaag. Iemand in ons lokasie moes hom uitverkoop het. Die owerhede was altyd bereid om te betaal vir inligting. Hulle het hom weggevat Pretoria toe. My ouma het hom ’n paar keer in die tronk besoek. Nadat hy skuldig bevind is en die doodsvonnis oor hom uitgespreek is, kon sy hom elke dag sien, maar Pretoria is ver van Mokopane af – dit was natuurlik toe nog Potgietersrus. Tot die dag van my ouma se dood het sy elke jaar sy teregstelling herdenk. Dit het by my ook ’n gewoonte geraak. As ek eendag kinders het, sal ek hulle van dié dag leer. Hulle ook vat om die museum te besoek.”
“Marx …” Gabriël se stem is feitlik ’n fluistering, tog vul dit die skuur. Die jonger man kyk vraend na hom toe hy na die muur loop, een van die geraamde foto’s afhaal wat daar hang en daarmee terugkom tafel toe. Dis dieselfde een as wat in die galgmuseum hang, van die internet afgetrek en uitgedruk. “Jou oupa. Ek was daar die dag toe hy gehang is.”
“Wat?”
“Jy weet wat ek destyds moes doen. Die verskriklike goed wat ek gesien het. Jou oupa se lyding sal ek nooit vergeet nie. Die laksman het ’n fout begaan met die berekening van sy gewig, sy lengte en die afstand van die val. Jou oupa is nie dadelik dood nie. Sy nek het die val weerstaan, en hy was gillend van pyn. Ek hoor dit nou nog.”
“Hoekom vertel jy my dit?” vra Marx skor.
“Om jou te herinner hoe noodsaaklik dit is om voor die tyd alles haarfyn te beplan. Met jou oupa het hulle ’n fout gemaak. Hy moes weer opgehys word. Die tweede keer het dit gewerk en is hy dood verklaar. Sy nek was gebreek tussen die tweede en derde werwels. Nou het jy jou bereid verklaar om sy dood te wreek. Dus is dit tyd dat jy meer uitvind omtrent die presiese berekeninge.” Gabriël loop na die staalkas waarin die toue gebêre word, haal een uit en skakel dan die skerp lig aan wat op die staalbalk val. Hy wink Marx nader en wys vir hom die sewe poppe aan die staande klererak.
“Met jou vorige twee teregstellings het ek vir jou toue gegee wat ek geweet het reg was vir daardie mans. Ek het ’n oog daarvoor ontwikkel.”
Marx haal sy skouers op. “Hoekom gebruik mens nie maar net altyd die sterkste tou nie?”
Gabriël sug. “Want dit is ’n kuns. En ’n roeping. Ons neem dit ernstig op. Dié pop,” en hy beduie na die tweede een van links, “is naastenby dieselfde gewig en lengte as Anton Vermeer. En dié tou is veel moderner as wat hulle destyds gebruik het, maar dit weet jy al. Dit is perfek vir sy gewig. Maar daar is meer as dit. Ek wil hê jy moet heeltemal gereed wees vir wat jy gaan doen. Anders as met die vorige twee mans, is jy tog in ’n soort verhouding met hom …”
Marx se lag is amper ’n blaf. “Verhouding? Dalk wat hóm betref. Vir my is hy niks.”
“Tog, jy ken Anton Vermeer beter. Jy het hulle glad nie geken nie. Wanneer die oomblik kom, en ook in die tydjie vóór dan, sal dit alles vergemaklik as jy jou oupa se gille in gedagte hou. Jy moet jouself reg oriënteer. Soms is dit nodig om te haat. Dit maak jou sterk. Ek het dit lankal geleer, maar verstaan jy dit?”
“Pastoor, Vermeer beteken vir my niks meer of minder as die ander twee nie. Maar ek ken wel daardie gevoel. Die haat. Te lank al.” Marx frons. “Maar jy, pastoor? Wie is jy eintlik?”
“Ek?” vra Gabriël. “Bloot ’n pastoor. Een van baie. Maar my Meester het my ’n geleier gemaak. My wil geslyp sodat ek sy instrument kon word. Slegs deur die bestrawwing van sonde kan begenadiging plaasvind.” Hy draai weg. “Daar is nog iets wat jy hierdie keer sal nodig hê.” By die liasseerkas trek hy ’n laai oop. “Dit sal jou derde teregstelling wees, Marx, en die belangrikste een. Ek het twee nuwe dinge om jou mee toe te rus. Weet jy wat dié is?”
Hy hou ’n kort plastiekstaaf op. Toe Marx sy kop skud, druk Gabriël ’n knoppie en die wapen spoeg ’n elektriese straal. Die swart man skrik en spring agteruit.
“’n Taser, Marx. Ek moes lankal daaraan gedink het, want dit maak alles makliker. Ons is gelukkig dat ons tot dusver daarmee weggekom het. Niemand sal meer geslaan hoef te word nie. Ek het dit gebruik op my laaste geval – nommer vier – en dit werk perfek. Die wagte noem dit ’n skokstok. Maak kontak met die vel hier,” en hy beduie met twee vingers hoog teen sy nek, “en jy stel ’n man twintig minute lank buite aksie. Dit sal jou genoeg tyd gee hiervoor.”
Volgende hou Gabriël ’n plastiekhouertjie omhoog. “Dan moet jy hom merk. Ek het dit ook laas keer begin doen. Só verfyn ons ons kuns. Die een wat boete doen, moet ’n bewys daarvan dra.” Hy maak die houertjie oop. “’n Stempel. Onuitwisbare ink. Hierdie een is joune. Jy druk dit teen die vel, hierso.” Hy hou sy arm op om te demonstreer. “Net voor die oksel. Dit behoort nie maklik raakgesien te word nie – maar ons sal weet dit is daar. En God sal weet.”
“Dis soos ’n tatoe? ’n Kenteken?”
“Lees weer Openbaring, Marx. Met die wederkoms word sekere uitverkorenes gemerk. Die mense wat die boetedoeningslas moet dra vir ’n voorgeslag, sal ook gemerk word met die Engel van Geregtigheid se embleem.”
Marx neem die stempel. ’n Ronde blou profiel nie veel groter as ’n outydse posseël nie. Dit lyk ook outyds weens die geboë neus, soos Grieke en Romeine eens op ’n tyd uitgebeeld is. Hy wag dat Gabriël moet sê presies wat dit is, of wie, maar dit kom nie en hy is bang om oningelig te klink as hy vra. Ook die Taser hanteer hy met die grootste versigtigheid.
Gabriël glimlag. “Die eerste keer toe ek dit vashou, was ek ook skrikkerig vir die ding wat so knetter. Maar húlle moet bang wees. Dit is jou wapen. Druk die knoppie. Jy kan niks oorkom nie.” Marx gehoorsaam en skrik hierdie keer effe minder vir die blou-wit flits van die stroom en die knetterende geraas.
Gabriël staan terug. “So, wat bespreek jy en Anton Vermeer alles?”
“Soos jy weet, is hy ’n vurige ondersteuner van BEE en enige regstellende aksie. Hy mag wit wees, maar hy hou niks van sy mense nie.” Marx lag droogweg. “Nogal ’n verandering ná sy oupa en die ou Nasionalistiese denkwyse.”
“Dit skeld hom nog nie vry van sy oupa se dade nie. Deur hom is meer as duisend mense galg toe gestuur. Hy was die beplanner van daardie galgkamers. Hulle kon só meer mense per dag hang. ’n Baie effektiewe ontwerp.”
“Ek weet dit alles, pastoor. Glo my, ek is gereed hiervoor. Anton vertrou my – hy het al twee keer verwys na hoe sleg hy voel oor sy oupa se dade. Op ’n manier … ja, op ’n manier is ons minnaars. So op ’n afstand. Hy wíl boete doen, maar hy dink hy kan dit op so ’n maklike manier doen.” Hy sien die manier waarop Gabriël na hom kyk. “Nee, pastoor, ek is nie gay nie. Maar vir geld doen mens baie dinge. Ek hét al. Ek gee nie om om dit te erken nie. Pastoor weet ek is net ’n mens. Ek was al wat jy ’n rent boy kan noem. Nou koop ek daardie sonde af. Nou kan ek, met hierdie man, inspan wat ek deur daardie sonde geleer het. Anton het al in daardie rigting gepraat. Skimpe gegooi wat nie so subtiel was soos wat hy dalk dink nie. As hy sê hy hou van swart mans met sterk persoonlikhede, weet ek presies wat hy bedoel … Hy het ook ewe terloops gevra of hy ’n foto van my kan sien.”
“Het jy een gestuur? Dis gevaarlik.”
Marx lig sy wenkbrou. “Weet pastoor dan nie wit mense sê ons lyk almal eenders nie? Ek het iemand anders se foto van Facebook afgetrek, en hy lyk wel baie soos ek. Maar nie só dat die polisie my dalk later sal kan opspoor nie. Wanneer ek hom inwag op die lughawe, sal ek vir hom waai en hy sal my sien en dink hy het maar net swak na die foto gekyk, of ek is nou effens ouer, of so iets.”
“Ek moet sê, jou inisiatief beïndruk my, Marx. Een van die dae moet ek by jóú leer!”
Marx lyk skielik skaam. “Ek wil pastoor nie teleurstel nie … Die stadsraad reël vir hom ’n groot middagete. Ek is vanselfsprekend nie ingesluit nie, want ek is die geheim in die kas, al erken hy dit nog nie teenoor my nie – maar daarna is hy myne.”
“Hoe het jy gedink om dit te doen?”
“Om tyd saam met hom deur te bring, waarskynlik in sy hotelsuite. Dit is nodig. Ek sal dit noodgedwonge moet doen – sy rent boy wees. Ek sweer hy is van plan om vir my geld te gee. Maar dan, wanneer ek sy volle vertroue het en dit donker is, neem ek hom na ’n plek met nuwe … opwinding.” Hy gee ’n blaflaggie. “Sekere ouens vind so ’n plek opwindend.”
“Waarvan praat jy?”
“Laat ek dit vir jou vir ’n verrassing hou, pastoor. Ek het reeds die boom uitgesoek.”
Gabriël frons. “Raak dit vir jou ’n speletjie, Marx? Dit kan die einde van alles beteken, vir ons albei. Ons moet dit op openbare plekke doen, ja, hulle moet gesien word, maar …”
“Dit is slegs gevaarlik as mens nie voldoende beplan nie, pastoor. Jy sal sien, ek sal jou nie faal nie. Gee my nou die regte tou, pastoor. Ek wil vroeg gaan slaap.” Nog ’n blaflaggie. “Sê maar dis my beauty sleep voor my groot date.”