Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 18
Hoofstuk 14
ОглавлениеAnton Vermeer hou net soveel van die jong man as wat hy geweet het hy sal. Dalk nog meer. Gemeng met die fisieke aangetrokkenheid knaag skuldgevoelens aan sy binneste. Wat ’n opdraande stryd het Marx nie vanaf sy kinderdae gehad nie. Daarby moes hy sy droom om dokter te word opoffer. So ’n sensitiewe jong man. Hy praat uitstekend Engels en sy intelligensie blyk uit alles wat hy sê, finansiële struikelblokke ten spyt. Met so iemand aan sy sy sou hy die wêreld kon wys dat die land ná soveel onsuksesvolle pogings tog ’n nuwe era kan binnegaan.
Marx roer in sy arms en maak sy oë oop. Hy het lang wimpers, merk Anton op en streel oor sy gesig.
“Sal ek vir ons nog vonkelwyn bestel?”
“Nee, dankie.” Daar is ’n glimlag in Marx se stem. “Ons gaan nie langer hier in jou suite bly nie. Die res van die aand doen ons wat ek wil. Jy’t belowe.”
Anton lag goedig. “In jou hande laat ek my aand – en nag. Wat beplan jy?”
“Opwinding, soos ek gesê het. Trek aan.”
“Ek hou net nie van klubs nie.”
“Ek ook nie. Waar ons heen gaan, is dit stil. Net die geluid van water. Miskien ’n verdwaalde nagvoël.” Hy knipoog, staan op en begin sy broek aantrek.
Anton swaai sy bene van die bed af. Sulke tye is hy bly dat hy sy gewig in toom hou.
Tien minute later sit hulle in die motor wat Gabriël vir Marx geleen het. Hy stuur die voertuig versigtig deur die nou amper verlate strate van Rosebank, waar Vermeer se hotel geleë is.
“Dis nie ver nie.”
“Ek gee nie om nie, maar ek brand van nuuskierigheid.”
Marx lag. Dis ’n eienaardige blaflaggie, dink Anton, waaraan hy gewoond sou kon raak. Miskien kan hy Marx omhaal om saam met hom terug te keer Kaap toe. As mense iets sou agterkom, wat daarvan? Dalk sal dit ’n goeie ding wees as dit opspraak wek.
Lampligte werp ’n blou skynsel op ’n massa water, sien Anton toe hulle vanuit Laer Parkweg soontoe afdraai.
“Gaan ons swem?” vra hy grappig.
“As jy jou dood soek. Dis die Dieretuinmeer. Die water is giftig, sê hulle.”
Marx hou naby die tennisbane se aantrekkamers stil. Dis laat, maar daar brand nog ligte binne.
Anton klim uit. Die aand is besonder stil, behalwe ’n enkele motor wat daar ver in Jan Smutsrylaan verbysnel. Hy sien hoe Marx iets uit die kattebak haal. ’n Piekniekmandjie. Goeie idee, want hulle het nie geëet nie, albei was te haastig om in die bed te kom.
“Hoop jy’t ’n lantern saamgebring vir die piekniek,” spot hy.
Marx se donker stem is grof. “Ek het alles saamgebring wat nodig is.” Hy gee vir Anton ’n flitslig aan. “Loop solank, ek sluit net die motor.”
Anton stryk aan in die rigting wat hy beduie het.
Haastig kry Marx die Taser beet. Anton is nou na aan die boom. Vinnig laat krimp hy die afstand tussen hulle. Bereik die ander man. Slaan sy arm om hom. Anton glimlag, dan vonk die skokstok blou en wit soos die elektriese stroom kontak maak met sy nekvel. Hy gee ’n kort gil voordat sy liggaam spasties begin ruk. Hy syg neer op sy knieë.
Marx haal die tou uit die mandjie, reeds voorberei. Hy swaai dit oor Anton se kop en trek die lus net styf genoeg. Dan swaai hy die tou oor die lae tak wat hy so sorgvuldig gekies het. Hy gryp die tou vas en begin trek. Gebruik homself as teengewig.
Die liggaam lig stadig op. Marx skop stewiger vas. Soos ’n gees verrys Anton Vermeer tot ’n staande posisie. Dan is sy voete van die grond af. Hoër, hoër tot Marx tevrede is. Dis volbring. Nou nog net die merkie van berou, of vergelding, of vergifnis, wat ook al Gabriël daarmee bedoel.
Gabriël sou nie die vonnis so volmaak kon voltrek het nie, dink Marx tevrede toe hy die mandjie terug in die kattebak laai.
Daar anderkant breek genoeg maanlig deur die takke dat hy die nog liggies swaaiende figuur kan uitmaak.
Minder as sewe uur later kies twee drawwers kortpad deur die park na die Dieretuinmeer toe. Dis beter om in Desember vroegoggend te hardloop, voor die hitte van die dag. En die regte manier om die dag te begin. Verby die betonteëls wat nou al maande lank daar lê – wie weet waarvoor dit beoog word – en verby die boonste speelpark, nou nog verlate. Hulle draf verby die openbare toilette wat op ’n afstand geruik kan word. Onderdeur die hoë bome wat koelte verskaf op die warmste ure van die dag.
Iets pla die vrou en sy sien haar skoenveter is los. Sy hurk om dit vas te maak. Haar drafmaat kom ook tot stilstand en buig om sy enkelsenings te strek. Albei haal hard asem. Die draffie van Houghton af was veeleisend. Die man buig eers regs en dan links om sy diafragmaspiere los te maak, toe kyk hy op.
“Fok!”
“Wat?” vra die vrou.
“Moenie opkyk nie, Ida!”
“Wat gaan aan met jou?” Sy ignoreer die bevel en kyk op. Haar blou oë rek en sy uiter ’n gil toe sy ’n figuur doodstil aan sy nek aan die dwarstak van een van die ou bloekombome sien hang.
“Liewe Vader! Is dit … is dit nie ’n pop of iets …”
Fred trek haar teen sy bors vas. “So – kry jou asem terug.” Dan staan hy terug. “Die Parkview-polisiekantoor is net twee blokke hiervandaan. Komaan …”
Hy trek haar aan die hand, maar sy protesteer: “Die polisie! Ek wil nie betrokke wees by so iets nie, Fred. Jy weet wat sal gebeur en hulle gaan ons laat maak vir werk en –”
“En dan vind jou man uit van ons?”
Sy bly stil.
“Oukei. Sê jou wat, jy het niks gesien nie. Toe, Ida, weg is jy. Hardloop aan, jou vier kilometer om die meer.”
“En jy?” wil sy weet.
Hy beduie na die hangende figuur. “Dis ’n mens. Magtig, ons kan nie al twee maak of ons hom nie gesien het nie.” Met dié begin hy in die rigting van Laer Parkweg hardloop.
Sy wil hom nog keer, maar dis te laat. Bang kyk sy op na die man aan die tou. Die vroeë sonlig breek deur die lower en spikkel die man se hare asof met goud. Sy nek lyk lank só, uitgerek. Maar sy gesig, sy ken dit van iewers af?
Ida begin hardloop so vinnig as wat sy kan. Sy moet Fred inhaal.