Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 14
Hoofstuk 10
ОглавлениеNovember 2014, Johannesburg
“Hoe vorder julle ondersoek?” vra die man oorkant haar en Anke gee ’n sug. Sy lig die bottel wyn uit die yshouer om vir haarself te skink, maar die kelner is vinnig by. Sy beduie met ’n wysvinger teen haar glas dat sy nie so baie wil hê nie, en draai dan weer na haar gryskopmetgesel. Professor Daneel lyk nie of hy al byna tagtig kan wees nie. Eens op ’n tyd was sy dié man se sterstudent. Sy sweer sy het teen twee keer sy spoed verouder. Dit is hy wat haar laat besluit het om ’n patoloog te word. Veeleisend soos dit soms mag wees, was sy nog nie een oomblik spyt nie.
“Die media is soos ’n spul brommers om ’n miskoek, prof. Dis dié dat ons maar so min moontlik sê voor buitemense.”
“Ek het opgemerk die straatplakkate is redelik stil daaroor. Daarom vra ek waar julle nou met die Klipmoordenaar is.”
“Ek wil glo ons vorder, maar hy is glibberig. Hy het begin om met die spanleier te kommunikeer – Danny Hector. Sy is werklik baie knap. Sy speel hom, in die hoop dat sy hom sal kan intrek. Ding is, ek weet nie meer wie die bok is en wie die jagter is nie.” Anke sug en verander dan die onderwerp: “Prof, jy het oor die foon gesê daar is iets waaroor jy met my wil praat.”
“Ja. Onthou jy dat ek ’n tydjie terug gepraat het oor vreemde selfdoodgevalle …”
“Die drie mans wat hulleself opgehang het?”
“Dis reg. Of dit was tóé drie. Ek het eergister gelocum by Pretoria se laboratorium. Die patoloog daar is dokter Johnson.”
“Hmm. Percy Johnson. Ken die man.”
“Ek …” Die kelner kom nader. “Sal ons eers bestel? Dan kan ons ongestoord praat.” Professor Daneel tik op die spyskaart. “My gewone, asseblief, Evert, maar vra die sjef om meer sous te gee. En jy, Anke?”
“Ek sal die schnitzel neem, dankie.”
Toe die kelner weg is, gaan die professor voort: “Wel, Percy Johnson verwys toe heel toevallig daarna dat daar weer ’n selfdoodgeval daar aangekom het, ook met ’n gebreekte nek. Gehang.”
Anke frons. “So dis nou vier?”
“En dit is darem baie verdag. Selfdood, het die polisie elke keer bevind. Maar dit begin ’n bietjie dik vir ’n daalder raak, dink jy nie? En so in die openbaar – dit was elke keer op ’n plek waar die liggame gevind kon word. Gesién kon word, wil ek glo. Dat dit deel is van die ding.”
“Prof glo dus vas dit is moord?”
“Wel, vier sulke gevalle, jy weet. Nie só baie mense hang hulleself op nie. Of goed, dit gebeur wel, maar nie soos hulle in Engels sê ‘in plain sight’ nie. Dis wat my die meeste opgeval het. En wag, voor jy verder praat …” Hy hou sy hand op, maak sy tablet oop en tik vinnig ’n bevel in. Daar verskyn ’n foto van om en by vyftien by vyftien sentimeter. Anke haal haar bril uit om die soliede blou vorm teen die bleek agtergrond beter te sien.
Dit is iemand se profiel. Geboë neus. Man of vrou, dit weet sy nie, want die hare is langerig. Dit moet hare wees – wat anders? Vreemde haarstyl egter, amper soos ’n hoedjie.
“Wat is dit dié? Dit lyk of prof dit baie vergroot het?”
Professor Daneel knik. “Dit was op die laaste man. Velgraffiti, kan jy maar sê. Al kom dit vir my baie outyds voor.”
“Hoe groot is dit in werklikheid?”
“So groot soos ’n vyfrandstuk.”
“Só klein?”
“Netjies met ’n sirkel om – sien jy? Regtig die grootte van ’n vyfrandstuk, asof dit nie gesien hoef te word nie. Nou bespiegel ek, maar … wel, dis asof dit om ’n ander rede as vertoon daar is. Dit maak seker nie sin nie. Ek sou nie kon raai watter ander rede nie.”
“Maar prof dink …” Anke se belangstelling is geprikkel, ondanks die feit dat sy en die res van Danny Hector se span so diep in die Klipmoordenaar-ondersoek gewikkel is.
“Dit het my laat wonder of ek moontlik dieselfde tatoe – of iets soos ’n tatoe – op die ander mans gemis het. Hierdie een, jy sal nie raai waar dit sit nie. Op die onderarm. Oksel, om presies te wees. Net langs die hare. Jy moet erken, dis ’n baie eienaardige plek om so iets te laat doen. Dit moet onuitwisbare ink wees, dis diep in die epidermis gekleur.”
“En só iets, tesame met ’n selfdood wat nie ’n geïsoleerde tipe voorval is nie …”
“Dis nog nie ’n vaste wete wat ek het nie,” verseker Anke se ou leermeester haar met ’n mooi glimlag. “Maar hond se gedagte? Absoluut.”
Dis beslis nie waar dat die professor nie mooi glimlag nie, dink Anke. Anke dink haar eie glimlag is op die oomblik bra geforseerd. Die laaste ding wat sy en die ander spanlede tydens die huidige ondersoek nodig het, is nog ’n reeksmoordenaar.