Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 12

Hoofstuk 8

Оглавление

Mei 2014, Johannesburg

Gabriël vertel nie sy pa van die uitnodiging nie. Dit mag hom ontstel – en buitendien, ou pastoor Bendt is een van die min mense buiten Kliprand se personeel wat weet van Hansie. Wat die geskiedenis ken van die mank seun wat die man Gabriël geword het.

Terwyl hy bestuur, dink hy aan die berig wat in Beeld verskyn het. Baie kortliks is vermeld dat dominee Jack Erasmus se lyk vroeg die vorige oggend deur ’n buurman aangetref is toe hy sy hond vir ’n wandeling geneem het. Die deur van die motorhuis was oop en hy kon die lyk van die straat af sien. Die predikant het aan ’n balk gehang en die polisie vermoed geen misdaad nie. Helena Erasmus was nie tuis nie en daar was ’n dubbele tragedie deurdat sy op dieselfde dag haar man en siek moeder verloor het. Sy het gesê Jack Erasmus was soms neerslagtig, maar dat hy nooit laat blyk het hoe ernstig die toestand was nie.

Geen verwysing daarna dat hy dalk voor sy dood ’n hou teen sy kop gekry het nie. Gabriël het geweet hy waag ’n effense kans met die staalpyp, maar hy moes die man tog op ’n manier bewusteloos kry en op die plek waar hy geslaan het, was die hare taamlik lank en lekker dik. Kamoeflering.

Gabriël het sy gesig uitdrukkingloos gehou toe hy sien ou pastoor Bendt lees die beriggie en sy mond vertrek liggies in afkeer van sulke geestelike swakheid.

Die internet is ’n seën. Jy kan so baie omtrent iemand uitvind. Dit wat jy nog nie weet nie, kan sosiale media jou bied. Helena Erasmus het op Facebook ’n boodskap gedeel dat dit so ’n voorreg is om tans by haar siek moeder te kan wees. Toe het Gabriël geweet haar man is alleen by die huis – die perfekte tyd om hom te besoek. Met al die moderne middele waardeur mense hulleself so blootstel, hoef jy net jou oë oop te hou.

Hy bring die motor tot stilstand hier waar hy dekades gelede sulke foltering deurgemaak het. Skakel die enjin af en sit ’n oomblik in diepe bepeinsing. Die grasperke is nog so diepgroen. Die kannas blom steeds helderrooi. Niks hier buite verraai die gruwels wat eens op ’n tyd in die vierverdiepinggebou tussen die groot watertenks plaasgevind het nie.

Gabriël klim uit, sluit sy motor en loop stadig na die ingang. Om die een of ander rede is hy nou weer bewus van sy linkervoet. Dit het hom so lank laas enige ongerief veroorsaak, maar pyn weer, sonder rede. Hy weet dis psigosomaties. Daar ís geen pyn nie.

Hy sluit aan by ongeveer twintig genooide gaste in die voorportaal. Die gids, ’n jong vrou in uniform, besluit om nie langer te wag nie en begin die groep na die eerste seksie lei.

“In 1985 alleen is 137 mense gehang. In 1987 vermeerder die getal na 164. In een week is daar elke dag voor ontbyt sewe mense gehang. Ons hoop dat u besoek aan hierdie museum dit by u almal sal inskerp wat ’n barbaarse praktyk die doodstraf was.”

Hulle bereik die dodeselle.

“Soms het die galgafwagtendes meer as drie jaar hier deurgebring, veral as hulle op ’n appèlverhoor moes wag.”

Gabriël hou aan die agterkant van die groep. Hy het nie die jong dame se lesing nodig nie, hy ken dié plek en die omstandighede wat was maar net te goed.

Daar is egter iemand wat hom opval. ’n Jong swart man wat ook met opset agterlangs stap. Hulle maak oogkontak en Gabriël knik. Net so kom dit, die wete in sy siel dat hý die regte een is.

Die jong man val langs hom in en beduie na Gabriël se klere. “Sê my, pastoor, julle kerklikes, kan julle enige begenadiging vind vir dié wat mense hier op só ’n manier na hulle Heiland gestuur het? ’n Dood van skande, sonder enige respek.”

Gabriël kyk hom in die oë. “Sommige … nee, baie van die mense wat hier gesterf het, was helde.” Hy beduie na die twee en vyftig trappe. “Daar is nou plaatjies wat die politieke gevangenes vereer. Diegene wat daardie trappe moes klim, het dit dapper gedoen, met die trots van mense wat weet hulle sterf vir iets groters: vryheid. En selfrespek en ’n nuwe toekoms vir almal in hierdie land.”

“Hoe weet jy dit, pastoor – was jy hier?”

Gabriël gaan staan, draai na die forsgeboude man. O ja, gewis, hy is deel van die plan.

“Ja, ja, ek was hier. My naam is pastoor Bendt. Mag ek vra wie jy is?”

“Karl Marx Moegeng.” Hy reik Gabriël sy hand, beduie dan na die trap. “My oupa se naam is op een van daardie plaatjies. Peter Musinga Moegeng. Ons het eers verlede jaar die graf gekry waar hy begrawe is. Ons het hom herbegrawe op ons eie grond by Mokopane.”

“Is dit waarom jy hier is, Marx?”

Die man huiwer. “Dit is al die derde keer dat ek hier is. Die eerste keer was met die opening van die museum. Toe was daar baie van die kleinkinders en selfs van die ander familielede teenwoordig. Ek het lank weggebly, toe kom ek weer. En nou wéér. Ek weet nie hoekom nie. Dit was of iets my gedryf het …” Hy kyk na die gaste wat op die gids se bevel die trappe na bo klim. Party kyk na die foto’s en plaatjies van die mans wat hulle lewens vir ’n saak gegee het, terwyl ander verbyloop. “Ek ken die gids se teks al uit my kop. Ken alles – die Pot, die trap, die galgstellasie met die sewe toue. So hoekom ek weer hier is, weet ek nie.” Hy glimlag breed. “Miskien kan die pastoor my sê?”

“Ek glo ek kan,” antwoord Gabriël en plaas sy hand op Marx se voorarm. “Nie een van ons het hierdie toer nodig nie. Sal jy saam met my gaan koffie drink?”

Dit was asof Gabriël sy vingers geklap het en Marx word sy toegewyde volgeling. Asof die jonger man leiding gesoek en dit binne oomblikke by hom gevind het.

Karl Marx Moegeng, hoor Gabriël oor koffie in ’n restaurant, was ’n vierdejaar- mediese student by Wits, maar kon nie kop bo water hou nie. Ná sy oupa se dood is die familie in armoede gedompel. Sy pa is een nag doodgesteek toe hy van die myn af gekom het. Party mense glo dit was ’n groep wit manne. Ander sê dit was zamazama’s. Marx was toe veertien en meteens hoof en broodwinner van die huis. Nou, op die ouderdom van dertig, het hy alle hoop laat vaar om ooit sy studies te voltooi.

Gabriël gaan wys hom die Tabernakel. Maak later vir hom kos. Die ou pastoor slaap al. Hulle gesels tot kort voor middernag.

“Ons stem dus saam,” som Gabriël op, “dat ’n skreiende onreg jare lank gepleeg is, ’n onreg wat nou nog nie reggestel is nie?”

Marx frons. “As ek enigiets daaraan kan doen …”

“Jy kán. Die Tabernakel predik die genade van God – maar eers moet daar boetedoening wees. Dán kan die genade van vergifnis kom. Teregstelling, regstelling – dan genade. Begryp jy?” Hy kan sien Marx snap dit nog nie. “Die sondes van die vaders word besoek aan die kinders, tot in die derde en vierde geslag. Hoe goed ken jy jou Bybel?”

“Dis vir kinders, pastoor. Ek glo in niks meer nie. Ek was ’n kaartdraende kommunis, maar die spul het my ook maar teleurgestel. Miskien glo ek nog net in my eie oorlewing.”

“Dan het dit tyd geword dat jy weer opreg begin glo; ’n saak kry waarin jy jou energie kan stort.”

Gabriël praat op dieselfde manier as waarop hy met sy gemeente praat, al is hy nooit dán so direk nie. Hy sou dit nooit waag om die konsep van vergelding so duidelik te verkondig nie. Maar in Marx het hy die regte gehoor en op sy stil manier, weet hy, spreek hy tot die man se siel.

“Sewe seuns is aan Samuel bekendgestel. Sewe, en nie een was uitverkore nie. ‘Maar is al jou seuns hier?’ was die vraag. Nee, daar was nog een – Dawid, die jongste, wat na die skape omsien … Daardie jong man was die gesalfde, Marx, geoormerk om koning te word. En jy, Marx, net so is dit met jou. Jy is gekies om ’n Dawid te word. Jý is die gesalfde.”

Die jong man lag. Word dadelik weer ernstig. “Wat moet ek doen, pastoor?”

“Beide ek en jy sal leiding daaroor ontvang.” Gabriël hoef egter net ’n paar sekondes na te dink. Geen stem hoef meer na hom te kom nie, hy vind die antwoord self. Want, weet hy tog, hy het God se stem geword. “Ek weet wie perfek vir jou sal wees – al woon hy in die Kaap, al kan ons nie nou al by hom uitkom nie … Weet jy wie die man was wat destyds die bloudruk vir die galgkamers uitgewerk het? Wat die riglyne neergelê het om mense vinnig en doeltreffend om die lewe te bring?”

“Was sy van nie Vermeer nie?”

“Korrek, Marx. Hy was die regterhand van premier Du Toit.” ’n Laggie. “Du Toit is ongelukkig mos dood in ’n motorongeluk sonder om ’n nageslag agter te laat … maar die goeie Vermeer het wel kinders gehad. En hulle op hulle beurt ook. Een van Vermeer se kleinseuns maak al ’n ruk lank groot opgang in die ANC. Jong Anton Vermeer is ’n week of twee gelede aangestel as nuwe verteenwoordiger van die Wes-Kaap. Hy mag selfs ’n adjunkpos kry. Verstaan jy, Marx?”

Marx se blik is intens. “Sy oupa kan nie meer boet nie. Maar sy kleinseun kan boete doen namens hom.”

“Korrek.”

“En,” die swart man kyk hom in die oë, “jy wil hê ek moet dit doen.”

“As jy kans sien. Want weet jy wat dit behels om die laksman te wees; die laaste lig uit iemand se oë te doof?”

Marx is verby twyfel en haal sy skouers op. “Wie bars ooit in trane uit as hy op ’n kakkerlak trap?”

“Dis nie dieselfde nie. Ek moet absoluut seker wees jy is opgewasse hiervoor. Dat jy dit sal deurvoer en nie op die nippertjie –”

Marx lag saggies. “Pastoor, gaan ek jou skok as ek sê ek mag dit miskien geniet? So, al wat ek nog wil weet, is wánneer?”

Gabriël sit ’n oomblik in stilte. Dan glimlag hy. “Nie meer lank nie, my vriend. Op die internet is daar lankal gerugte oor Anton Vermeer se seksualiteit – en dat hy veral tot ’n sekere soort man aangetrokke is. ’n Man soos jy … Maar hy is vir die toekoms. Eers het ek vir jou ’n ander teiken.”

Sondes van die vaders

Подняться наверх