Читать книгу Sondes van die vaders - Lerina Erasmus - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

November 2014, Stilbaai

Dis verstommend dat ’n mens se vrede só vinnig tot ’n einde kan kom. Een oomblik was die vier van hulle nog saam aan tafel, met ’n lieflike uitsig en die geur van kos en sagte musiek op die agtergrond. Toe kom die oproep op haar selfoon.

Sy moes nooit buitentoe gekom en geantwoord het nie. Maar dan het sy tog net die onafwendbare uitgestel.

Die oomblik toe sy die stem herken het, het die werklikheid haar ingehaal.

Watter seën was die afgelope tien dae of wat nie. Hier op Stilbaai in Eric se huis, ver van die senutergende gebeure wat in Johannesburg afgespeel het. Danny was weer besig om haarself te vind – want as jy met ’n moordsaak besig is, verloor jy jouself. Dan kan jy nie bekostig om net mens, net vrou te wees nie. Dan is jy voluit speurder.

Daardie saak het geëindig toe sy die reeksmoordenaar skiet. En, op ’n emosionele vlak veel belangriker, sy het Harm Hasslau gevang. Die man wat vir haar pa se dood verantwoordelik was. Daarna verdien jy tog om te rus, nie waar nie? Al was dit vir haar moeilik om af te skakel, al het die rustigheid haar op ’n vreemde manier soms juis onrustig laat voel, was dit nou die tyd om te ontspan, saam met haar ma en kind. Ja, ook saam met Eric. Sy staan hier met die foon teen haar oor en dink aan hoe Eric net ’n minuut gelede hier in die Press Room-restaurant vir haar geglimlag het: nie die briljante kriminoloog nie, net ’n man wat op ’n sekere manier na ’n vrou kyk.

Danny het geglo daar sal nog ’n hele klomp dae soos die laaste tien wees. Dae soos gister, toe haar ma haarself oortref het met die aandete. Rachel het iewers ’n vars kabeljou bekom. Krokante slaai en groentes en pietersielie-aartappels daarmee saam voorgesit. Nadia het met verstomde dogtertjie-oë na die kos gekyk, al behoort sy reeds aan haar ouma se toorkunsies gewoond te wees. En hy het gelag, die skaam en teruggetrokke professor Eric Strauss wat Danny aanvanklik as hooghartig en chauvinisties ervaar het. Sy kan nie onthou of sy al ooit ’n vakansie meer geniet het nie; haar normaalweg bleek vel het selfs ’n bietjie kleur gekry.

Stilbaai en Eric se huis by die see – omtrent ín die see – was te goed om waar te wees. Ja, voor Nuwejaar sou hulle moes teruggaan huis toe, sy en Rachel en Nadia. Maar Nuwejaar was nog ’n bietjie meer as ’n maand ver. Sy het Nadia reeds voor sy weg is uit Johannesburg by ’n nuwe privaatskool in die Kaap ingeskryf. Nadat een van die kind se onderwysers hulle verraai het, moes sy seker maak so iets kan nie weer gebeur nie – en dat Piet Hector …

Nee, sy sal nie weer aan hom dink nie. Of nie nou al, gedurende haar tydjie van rus nie. Piet Hector mag ook nooit in die pad van enige moontlike verdere geluk staan, sodat sy nie weer iets vir ’n man kan voel nie. Danny was huiwerig om dit teenoor haarself te erken, maar Eric beteken elke dag meer vir haar. Of dit liefde is? Sy is bang vir daardie woord.

Dit was die perfekte aand – en nou voel gisteraand so ver.

“Niemand kan fout maak met so ’n vis nie,” het Rachel gesê. “Die visserman het my verseker dit het ure tevore nog geswem.”

“Ouma!” Nadia se oë het vol trane geskiet. “Toe maak Ouma die arme vis dood!”

“Ouma het net die vis gaargemaak, kind. Die visserman het dit gevang en dis sy werk.”

“Maar wat daarvan as die vis kindertjies het?” Die gedagte het te veel geraak vir die dogtertjie. “Ek wil nie meer eet nie!”

“Toemaar,” het Eric gepaai, “môre neem ek julle uit vir middagete.” En toe die twee vroue protesteer: “Dis die laaste Sondag van die maand. Dis my verskoning.”

En hier is hulle nou, en hier staan sy op die veranda en kyk uit oor die olyfboorde om die restaurant. Met kommissaris Bongani Mbulu se stem in haar oor.

“Danny, Harm Hasslau het uit die hospitaal verdwyn.”

Die einde, weet sy. Hierdie onwerklike vrede is op ’n einde.

“Wat? Maar hy was tog onder die strengste polisiebewaking!”

“Korrek, ja. Maar die man het kontakte, en nou is hy spoorloos.”

Sy wil antwoord, maar dit voel of haar brein vasgevries het.

“Danny … Danny, is jy daar?”

“Ja, kommissaris,” mompel sy ná ’n oomblik.

Sy weet wat gaan kom.

Sondes van die vaders

Подняться наверх