Читать книгу Apocrypha - M. M. WALTERS - Страница 12
ОглавлениеAPOCRYPHA VIII
Ook had de Heere God gesproken: Het is niet goed
dat de mensch alleen zij; Ik zal hem eene hulpe
maken. – Genesis 2:18.
Hy weet nie waar sy gedagtes was,
maar toe hy sy oë opslaan, kyk hy vas
in die voltooide hoof en hare
en merk hy hoedat Elohim se hand
die nek masseer, dit dun en slank
vasheg aan die ronde skouers.
Eers toe die hand die borste koepel
en puntig afrond, fris en soepel,
het hy gesug en later,
onstuimig met elke hyg,
die ongeduld in hom voel styg.
Toe die sagte buik sy rondings kry,
rol sy oë wild,
maar toe die vingers van die god
vormend druk en vrywe
oor die heupe en die dye,
grawe hy diep slote in die grond
en pluk hy aan die nuwe gras
baldadig soos ’n hond.
Elohim, die kastyer,
het hom laggend laat begaan
en vir Eva skielik onvoltooid laat staan.
Adam het teen die rotse geskop,
aan die bome geruk, gestamp met sy kop,
radeloos gesoebat dat sy goeie heer
tog moes stuur na Moria vir nog meer
rooi klei uit daardie heilige nawel van die aarde.
En toe die begeerlike driehoekpit
swart en aanloklik tussen die rondings sit,
staar sy oë blind:
Onverbiddelik het hy reeds geweet
dat hy die verbode vrug sou eet.