Читать книгу Apocrypha - M. M. WALTERS - Страница 19
ОглавлениеAPOCRYPHA XV
Toen zeide hij: Wat pand is het dat ik u geven zal. –
Genesis 38:18.
In die skemer het ek haar by die poort gevind,
en lafenis was sy vir een wat nie fonteine ken nie.
Maar altyd was die oë skigtig agter skuilings,
die vrouehart voortvlugtig soos die wind.
In die donker het ons stil uiteen gegaan
met alles nog verborge en elkeen onbekend –
eers later in die dunner lug van dink en plig
het ek die windsels en die wand verstaan.
Maar ek’s ’n man van drome en ek kan
haar langs die pad na Timna weer ontmoet,
’n pad met baie soet fonteine
wat al die wrewel uit die werklikheid verban.
Dan sien ek helder heen deur die gemis,
en weet ek wie die vrou agter die sluier is.