Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 12
9
ОглавлениеRafaella is vroeg op, eet eerste van almal in die eetkamer, sommer ’n broodjie en koffie, en gaan staan voor die ingang om vir Giulio te wag. Sy is ’n bietjie meer formeel aangetrek en het haar hare in ’n Franse rol gestileer om professioneel te lyk. Sy’s darem nie ’n bakvissie nie! Sy het skaars gaan staan en wag toe Giulio se voertuig om die draai van die motorhuise af aankom. Hy klim uit toe hy voor haar stop.
“Môre, jy lyk eksie-perfeksie. Soos ’n ywerige jong dokter.” Hy maak vir haar die deur oop, vra of sy gemaklik is, en maak toe. ’n Ware heer, sug haar hart.
Terwyl hulle Cortona toe ry, is dit asof sy dinge helderder raaksien as voorheen. Al haar sintuie is opgeskerp. Sy ruik vars naskeermiddel en kyk na Giulio se mooi hande op die stuurwiel. Hy is vreeslik netjies en skoon. Lyk asof hy pas onder die stort uitgeklim het. Sy hare is nog klam. Om by hom in die geslote ruimte van die viertrek te sit, is opwindend en onthutsend. Hy gesels oor sy praktyk en die mediese stelsel in Italië terwyl hy deurentyd ook op die draaie in die pad konsentreer.
Die kleurryke dorp met sy groot mure doem voor hulle op. Dit is so ’n ongelooflik romantiese plek, dink Rafaella. Die straat waarin Giulio opdraai, is modern-besig, maar die geboue eeue oud. Soos ’n plek in ’n skildery. Hy ry deur ’n oop booghek, by ’n geplaveide agterplaas in waar ander motors ook geparkeer staan.
“Ek neem jou by die agterdeur in,” sê hy. “Die spreekkamer het egter ’n straatfront, om dit vir die pasiënte makliker te maak. Ek wil nie hê hulle moet met trappe en lang gange sukkel nie.”
Die gebou is oud, maar vol kantore en suites. Hulle kom by ’n deur waarop daar staan: Dottore Giulio di Mareneschi, met kwalifikasies agterna. Hy maak oop en laat haar ingaan. Verbaas kyk sy rond na die gerieflike sitkamer. Sy staan op ’n dik, donkerblou mat. Die leunstoele is van ligte leer, baie gemaklik. Die mure is ligblou, met afdrukke van skilderye deur die ou meesters daarop. Glanstydskrifte lê in netjiese hopies. Daar is ’n tafel met ’n espresso-masjien, koppies, suiker, klein koekies. Teenoor die ingang is daar ’n toonbank met ’n rekenaar en telefone, maar dis steeds stylvol.
Die deur langs die toonbank gaan oop en ’n aantreklike meisie in ’n ligblou uniform kom uit.
“Buongiorno, dottore,” groet sy, en kyk Rafaella nuuskierig aan.
“Gina, hierdie is dokter Rafaella Continari van Suid-Afrika,” stel hy voor. “Gina Raoli is my ontvangsdame.”
Die meisie groet vriendelik en tog behoedsaam. Rafaella kan net aflei dat sy nie vooraf gewaarsku is nie en dat sy nie mooi weet wat Rafaella hier kom maak nie.
“Sylvia Berni is die administratiewe beampte, maar sy kom eers om tienuur, want sy moet soggens haar klein kindertjies versorg kry,” sê Giulio. “My verpleegster sal agter wees. Ons het ’n klein kliniek.” Hy kyk na die afspraakboek. “Die eerste pasiënt kom oor tien minute. Kom ek gaan wys jou gou verder voor hy kom.”
Hulle loop deur sy kantoor, wat klinies en minder swierig gemeubileer is, na waar ’n verpleegster in ’n kraakwit uniform besig is om ’n boks medikasie uit te pak.
“Dit is suster Monti,” stel Giulio voor. “Suster, dis dokter Rafaella Continari van Suid-Afrika. Sy het my toe ek daar was die hospitaal gaan wys waar sy gewerk het, nou wys ek haar hoe ons dit hier doen.”
Die vrou, wat in haar dertigs is, is nie so mooi soos die ontvangsdame nie en ook vriendeliker.
“Suster, leen asseblief vir dokter Continari een van jou wit jasse,” sê Giulio. “Sy moet darem lyk na ’n dokter en nie ’n toeris nie, anders neem die pasiënte dalk aanstoot. Ek wil hê sy moet by wees as ek konsulteer.”
Die suster lag goedig en gaan haal ’n netjies opgevoude wit jas uit ’n kas. Rafaella sit haar handsak op ’n kas neer en trek dit aan.
“Dankie,” sê sy en kyk vaagweg beteuterd na die moue wat sy ’n slag moes omvou. Sy het gedink sy gaan net kom kyk hoe dit lyk, maar nou gaan sy Giulio se pasiënte sien! Skielik voel sy onder druk.
Die oggend word baie besig. Die spreekkamer is vol. Rafaella sit meestal by en kyk hoe Giulio sy pasiënte hanteer. Hy laat haar op haar gemak voel deur haar mening nou en dan te vra.
Die administratiewe beampte, Sylvia Berni, wat om tienuur haar opwagting maak, is net so mooi soos die ontvangsdame. Sy kyk Rafaella met openlike agterdog aan. Sy is ook die een wat vir hulle tee aandra.
“Sylvia, maak asseblief vir ons ’n ete-afspraak by die trattoria,” vra Giulio toe sy weer met ’n skinkbord inkom. “Ons sal tussen een en twee daar wees. Ek het Gina gevra om daardie uur oop te hou.”
Eenuur trek hulle hul wit jasse uit en glip by die agterdeur uit om met ’n draai na die trattoria te gaan. Dit sit vol rumoerige mense en die kosgeure is heerlik. Giulio kry ’n tafel wat hy skynbaar gereeld beset en word gul verwelkom deur die eienaar, ’n lywige Italianer met die naam Dino.
Giulio stel Rafaella voor en Dino glimlag breed. “Kom u hier werk?” vra hy.
“O nee, ek is net ’n besoeker. Eintlik is ek met vakansie.”
Hulle eet op Giulio se aanbeveling ’n heerlike lasagne en saltimbocca wat hy beweer die beste is wat sy ooit te ete sal kry.
“Cortona is een van die fassinerendste dorpe van Italië,” sê sy. “Dit moet baie lekker wees om hier te woon.”
“Ja, ons het ’n baie lang en interessante geskiedenis. Kom ek vertel jou die een en ander van die plek.” Gretig knik Rafaella. “Keer my as ek jou iets vertel wat jy reeds weet. Hier naby is Lago Trasimeno, een van die groot mere wat jy van Cortona af kan sien. Weet jy dat Hannibal die Romeine hier verslaan het nadat hy met ’n draai met sy troepe en olifante oor die Alpe gekom het en die land van die noorde af ingeval het?”
“Ek weet van sy tog deur die Alpe, maar ek het nooit geweet dat sy grootste veldslag hier naby was nie.”
“O ja. Hier by Cortona is ook al verskeie flieks gemaak. Ek weet nie of jy Roberto Benigni se La vita è bella gesien het nie? Dit is deels hier verfilm.”
“Ja, ek het dit gesien. Dit was pragtig. So roerend.”
“In September 2002 het hulle ook Under the Tuscan Sun hier verfilm.”
“O, dit was ’n wonderlike fliek! Ek is seker mense het daarna hier ingestroom om die plekke te sien waar dit afspeel.”
“Ja, hulle het tydens die verfilming én daarna behoorlik hierheen gestormloop. Die heldin, Frances, was mos Diane Lane en die held is gespeel deur ons Italiaanse akteur Raoul Bova. Twee besonder aantreklike mense.”
Sy lag. “Ja, veral hý.” En jy lyk baie na hom, sê sy amper, maar net-net nie.
“Ek het net een keer vir Diane Lane in lewende lywe gesien. Sy het letterlik weggekruip, veel meer kamera-sku as my broer en Maria. Haar karavaan was op die Piazza del Duomo. Sy het heen en weer geglip en nie in die dorp rondgeloop nie.”
“Is sy regtig so mooi soos in die film?”
“Ja, en ek sou sê jy is enige dag net so mooi.”
Rafaella lag maar, met hoop wat vlam vat dat hy dit tóg moet bedoel.
“Die huis, Bramasole, bestaan regtig. Ek moet dit vir jou gaan wys. Hier in die Piazza Signorelli het hulle ’n tydelike Florentynse fontein opgerig vir daai toneel waar die een aktrise ’n dip vat, en op die Piazza della Repubblica het hulle weer ’n Kersfeestoneel geskiet. Die hele besigheid het vir die kommune van Cortona vyfhonderdduisend Amerikaanse dollars verdien. Dis ’n groot voordeel as die plek waar jy woon, so verfilmbaar is.”
Rafaella geniet die kos en geselskap vreeslik. Giulio is ontspanne en interessant. Mense kom praat met hom en hy stel haar as sy Suid-Afrikaanse vriendin voor. Hier is hy gemoedelik, laggend, duidelik die gewaardeerde kliënt en geneesheer.
“Ek hoop ek kry ook eendag so ’n lekker nis soos jy,” sê sy terwyl hul borde weggedra word.
“Jy sal nog.”
Rafaella is spyt toe die dag by die spreekkamer verby is en hulle huis toe ry.
“Dankie, dit was regtig baie leersaam en interessant,” sê sy. “Jou stories was ook so lekker om na te luister.”
“Ek is bly. Ek het dit ook geniet om jou daar te hê. Gelukkig was daar nie vandag noodgevalle nie.”
Sy wil vra of sy weer sy spreekkamer kan besoek, maar hou haar in. Hy sal vra as hy weer vir haar kans sien. Vandag het hy haar ’n groot guns bewys. Sy dink nie al die pasiënte het daarvan gehou dat daar ’n vreemde dokter by was wat hul probleme aangehoor het nie, maar hy het dit so taktvol en professioneel hanteer dat sy self nooit ongemaklik was nie.
“Ag nee,” hoor sy hom vies sê toe hulle die laaste draai by die pad op na die villa neem. “Die contessa en Violetta het kom kuier.”
Waarskuwingsklokkies lui dadelik in Rafaella se kop. Dit kan net die ou contessa wees wat geld vir die oord geskenk het en wat wil hê Giulio moet met haar kleindogter trou!
Daar staan ’n groot, goudkleurige motor voor die huis, duidelik baie duur. Rafaella is oortuig dis ook die soort wat deur ’n chauffeur bestuur word. Sy ken nie die handelsmerk nie, maar hier sien sy baie motors wat sy nie in Suid-Afrika ken nie.
“Is Violetta die contessa se kleindogter?” vra sy.
“Ja, haar gunstelingkleindogter, wat skynbaar groot gaan erf. ”
Hy sê niks verder nie, maar laai haar af. “Ek gaan bêre die voertuig. Sien jou nou-nou, Rafaella.”
Sy gaan by die huis in en hoor stemme van die sitkamer se rigting kom – haar pa se bas, ’n bejaarde vrou se heserige stem. Sy besluit om eers gou na haar kamer te gaan en op te fris voordat sy die mense ontmoet. Tog is sy erg nuuskierig om dié Violetta te sien wat ryk gaan erf en sekerlik vir Giulio as ’n goeie vangs voorgehou word.
Die eerste ding wat Rafaella in die sitkamer sien, is ’n vrou met golwende wit hare. Sy lyk waardig waar sy in haar rolstoel sit en skitter van juwele. Haar ouers en Louisa is daar, en ook Luigi, wat met ’n besonder mooi meisie gesels. Sy is klein en slank, met ’n pikante gesig en lang swart hare. Haar jeans en rooi bloes kleef aan haar perfekte klein figuurtjie. Is al die vroue wat die Di Mareneschi’s omring dan beeldskoon? dink Rafaella wrewelrig.
“A, hier is ons dogter,” sê Jacopo. “Sy het vandag by Giulio in sy spreekkamer deurgebring.”
“Kom dat ek jou voorstel, Rafaella,” sê Louisa.
Sy stel haar as dokter voor, en Rafaella gaan skud die ou contessa se koue, maer hand waarop diamantringe blits. Die ou vrou kyk haar met geskreefde, vyandige oë aan. Waarom so vyandig, wonder Rafaella ongemaklik. Dink sy ek kan kompetisie vir haar kleindogter wees?
Die meisie is kil, bykans kortaf, en doen haar ongeërg voor. Sy hou ook met die eerste oogopslag nie van my nie, dink Rafaella, wat besluit sy het ook geen erg aan dié mense nie. Sy gaan fyn oplet hoe Giulio teenoor Violetta optree.
Luigi roep die man wat onopvallend eenkant teen ’n muur staan nader sodat Rafaella iets kan bestel om te drink. Die ander sit almal met drankies.
“Lekker dag gehad?” fluister hy met ’n grynslag. “Violetta is glad nie bly dat jy so onder Giulio se vlerk inkruip nie.”
Rafaella vererg haar, maar sy probeer hard om dit weg te steek. “Dit was leersaam, dankie. En ja, dit was lekker ook. Ek kruip nie onder jou broer se vlerk in nie, Luigi. Dit was ’n professionele besoek.”
“O ja, uiters professioneel,” sis hy.
Rafaella kyk in sy oë en sien jaloesie. Hy, die ewige middelpunt van aandag, die ster, is sowaar jaloers op sy broer.
“Waar is Maria?” vra sy.
“Sy rus nog. Vandag het ons bietjie gerepeteer, nou is sy moeg.”
Rafaella kom agter dat Violetta, wat voortdurend met Luigi flankeer, haar kort-kort vyandig bekyk. Toe Giulio inkom, spring Violetta op, gaan soen hom op die wang en word die stroperigheid self.
“Ons het gaan kyk na die nuwe gebou. Een van die dae trek Ouma by haar eie suite in, dan sien ons veel meer van jou.”
“Die suites is nog nie naastenby klaar nie,” sê hy.
Rafaella kyk suur hoe die meisie aan sy arm hang. Sy is so klein dat sy net-net tot by sy skouer kom en sy kyk na hom op met openlike bewondering. Hy glimlag terug, maar maak naderhand sy arm los en roep die jong man wat vir die aand kelner speel. Hy gaan buk oor die contessa en praat sag met haar. Sy hou met een beringde hand syne vas. Naderhand gaan sit hy langs Violetta, wat haar oë nie ’n oomblik van hom wegskeur nie. Rafaella besef tot haar afgryse dat sy groot jaloesieksteke ervaar. Dis nie iets waaraan sy gewoond is nie.
Maria Vallerta kom in asof sy beplan het om ’n entrance te maak. Haar sekretaresse volg skroomvallig.
“Hallo almal,” groet sy. “A, liefste contessa! Dis so goed om my weldoener weer te sien.”
“Die contessa is ’n groot operaliefhebber,” fluister Luigi vir Rafaella. “Maria was eers ’n arm fabriekswerker en die contessa het betaal vir haar musiekopleiding.”
“Dis baie vrygewig van haar. Maria is seker baie dankbaar.”
“O ja, sy is. Dit is ook sy wat die contessa aan ons voorgestel het. Giulio kan net goed doen deur met Violetta te trou.”
Dit voel of daar ’n vlaag koue deur Rafaella trek. Hierdie mense is soos ’n tapisserie aanmekaargeweef. Hulle deel belange. Hulle is goed aan mekaar verskuldig. Sy en haar ouers is totale buitestanders.
“Ek voel ’n bietjie olik,” sê die contessa. “Toe besluit ek om jou te kom sien, Giulio. Jy kan my tog so gerusstel.”
“Sy ly aan ipekonders en is te vernaam om na sy spreekkamer te gaan,” fluister Luigi vir Rafaella – met sy ou grynslaggie.
Giulio staan op. “Kom saam met my. Ek sal u gou ondersoek.”
“Ja, asseblief. Kom saam, Violetta.”
Giulio stoot die rolstoel en Violetta draf saam, styf en ontspanne aan sy sy.
Rafaella vang haar ma se oog. Rachel frons liggies en kyk betekenisvol na haar. Rafaella haal haar skouers effentjies op, om te kenne te gee dat die kompetisie dalk te sterk is.
Maar net gou ruk sy haar reg. Waarom moet sy agteruitstaan en sommer ingee? All is fair in love and war. As Giulio vir Violetta lief is en haar verkies, sal sy dit met grasie aanvaar. Maar as hy nié is nie …
Nee, sy gaan nie sommer lê sodat ongeskikte Italianertjies oor haar moet loop nie!