Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 7

4

Оглавление

Rafaella gaan haar ma elke dag besoek, ná die eerste twee dae dat sy pal by die hospitaal was en haar pa ondersteun het. Al is dit net vir ’n halfuur of so, en gewoonlik eers in die aand. Ander besoekers – familie, vriende en kennisse – word teen die tweede helfte van die week in die hospitaal toegelaat. Die saaltjie loop oor van die blomme en strome ruikers word ook na die huis gestuur.

Rachel word ná die week van intensiewe sorg ontslaan, en toe Rafaella die aand by die huis kom, is haar ma daar in die bed met Aldo wat haar versorg en Jacopo wat troos en aandra. Rachel dra nuwe kantversierde nagklere wat Jacopo spesiaal gaan koop het, en haar hare is netjies gekam.

“Mamma lyk soos ’n blom tussen die blomme,” sê Rafaella bly. “Die hele huis ruik na lente, nes die hospitaalsaal.” Sy soen haar ma, haar hart vol deernis. Rachel lyk half verwilderd, half verlig. “Hoe gaan dit, liefste Mamma?”

“My lief, as ek soveel liefde en aandag kry en so bederf word, kan dit mos net goed gaan.”

“Het Mamma pyn?” Rafaella kyk vlugtig na Aldo.

“Ja, ons probeer dit onder beheer hou sonder dat sy heeltyd slaap,” sê hy.

Elke dag gaan dit ’n bietjie beter met Rachel. Almal dra haar op die hande. Jwana het ’n spesiale koek gebak om haar te verwelkom en sy en Aldo maak gedurig hope kos. Kersfees is voor die deur, maar hierdie keer sal dit nie so rumoerig gaan soos vorige jare nie. Familie het altyd kom kuier om saam om die Kerstafel te sit. Nou nooi Jacopo niemand – sy vrou is nog gans te broos, verduidelik hy.

“Wou jy jou vriendin vir Kersfees genooi het?” vra Rachel, toe hulle almal vier dae voor Kersfees in haar kamer sit. Rafaella het pas ’n lang skof agter die rug en sy voel nogal moeg, maar sy wil saamkuier.

“Ja, ek wou haar kom voorstel, maar dit kan wag,” sê Aldo. “Ek het julle nog nie alles omtrent haar vertel nie. Sy is geskei, met ’n sesjarige seun. Sy’s dertig. Een van die minsaamste mense wat ek nog ooit ontmoet het. Haar naam, maar julle weet mos al, is René Odendaal. Sy’t haar nooiensvan teruggeneem. Haar seuntjie is Bennie Matthee.”

“Waarom nooi jy haar en die outjie nie tog vir Kersfees nie?” vra Rachel. “Hulle is so welkom, dit sal mý nie pla nie. Sy is mos ’n verpleegster, dalk kan sy selfs van hulp wees.”

“Cara, ek weet darem nie …” begin Jacopo onseker.

“Dis baie gaaf van Mamma, maar sal Mamma die laaitie kan hanteer?” sê Aldo. “Kinders is nie stil nie, al probeer mens hulle rustig hou.”

“Hy kan nog nooit so woelig wees soos jý was nie,” glimlag Rachel. “Dit sal die Kersfees opvrolik. Anders gaan ons te stil wees, en dis nie vir ons normaal of lekker nie. Wat sê jy, Rafaella? Sal ons hulle nooi?”

“Ek sien glad nie waarom nié. René kan Aldo help met die kosmakery en ek sal help om vir Bennie besig te hou. In elk geval is ek nuuskierig om te sien watse soort vrou dit regkry om my geswore oujongkêrelbroer vas te trek. Sy móét iets besonders wees.” Aldo glimlag breed om te sê: Ja, sy is!

Jacopo frons egter. “Sal sy ooit plek op ’n vliegtuig kry? Dis mos baie vol dié tyd van die jaar. Mense wil almal by familie uitkom.”

“Ons kan voorgee daar is ’n noodgeval,” sê Aldo, wat steeds breed glimlag. “Daar is mos? Ons het haar nodig.”

Rachel lag, maar kry gou ’n pyntrekkie om haar mond. “Gaan bel haar dadelik.”

Glimlaggend haas Aldo hom daar uit.

“Ek het vandag ’n brief van Louisa di Mareneschi gehad, binne-in die Kerskaartjie wat sy gestuur het,” sê Rachel dan. “Jy kan dit lees, Rafaella. Kyk daar op die kas. Ek het die brief in die koevert teruggesit.”

“Skryf julle nog gereeld?” Sy probeer haar stem bedaard hou – nie nou kop verloor nie!

“So af en toe. Hulle is mense met wie ’n mens nie kontak wil verloor nie. Ek het aan haar geskryf in die twee dae wat ons vir Aldo gewag het. Ek het haar vertel dat ek waarskynlik kanker het, maar nie dat ek ’n mastektomie moet kry nie. Ons het mos nog nie geweet nie.”

Rafaella kyk na die Kerskaartjie van sneeu op die Alpe. “Aan al die Continari’s van al die Di Mareneschi’s” lees sy. Weet Giulio dat sy ma ook namens hom ’n kaartjie gestuur het? Rafaella vat die koevert, met pragtige Italiaanse seëls met Renaissance-kunswerke daarop, haal die brief uit en lees die vloeiende, netjiese handskrif. Briefskryf is so ouwêrelds, so beskaafd, dink sy.

Beste Rachel

Wat ’n skok was dit vir my om te hoor wat oor jou pad gekom het. Jy sê jy is oortuig dat jy borskanker het? Ai, dit tref ook altyd mense wat dit nooit verwag nie. Vir ’n vrou is kanker van die bors natuurlik veral traumaties en ek dink met groot, groot medelye aan jou. Toe ons Francesco so siek was en so gely het, het dit ons lewens onderstebo gekeer. Die feit dat sy operaloopbaan verby was, dat hy nie meer met daardie goue stem wat die wêreld so betower het, kon sing nie, het dit soveel vererger. Ons arme Luigi het ’n fobie ontwikkel dat dit hom ook kan oorkom.

Ek hoop die verwydering van die groeisel verloop goed en dat jy vinnig sal herstel. Sal jy chemoterapie kry? Ek is seker jy wil nie jou mooi hare verloor nie, maar deesdae is pruike ook soveel beter as voorheen. Laat my gereeld weet hoe dit gaan!

Hoe gelukkig is ons nie om kinders te hê wat geneeshere is nie. Hulle kan ’n mens so wonderlik bystaan. Dat jou seun juis ’n onkoloog moet wees, is eintlik werklik ’n seën. Dan is jou pragtige dogter ook medies bekwaam.

Giulio stuur sy groete en simpatie. Sy planne vir die rusoord is goed op dreef. Ons bou tans ’n afsonderlike gebou. Ons eie tuiste kan nie deel van die rusoord wees nie, ons moet darem ons privaat woning hê. Die baie ryk ou contessa Di Giordani, ’n pasiënt van Giulio, het ’n groot finansiële bydrae gelewer, want sy wil hier kom vertoef sodra die bouwerk en inrigting voltooi is. Haar hart klop nog net op genade, beweer sy. Dus sal sy ons eerste rus-gas wees.

Jy kan natuurlik nie nou reis of jouself ooreis nie, maar later, as jy daarvoor kans sien, kan jy dit gerus oorweeg om hier tussen die Toskaanse heuwels te kom aansterk. Dis so mooi hier dat dit terapeuties móét wees. Giulio sê ons is nog nie gereed vir gaste nie, die bouery is lawaaierig en dis te vuil. Die tuine waar daar gebou word, lyk tans betreklik verwoes en daar word ’n groot gat vir ’n swembad uitgegrawe. Ons sal die tuin moet herstel en weer van voor af beplant. Die plek moet tog aantreklik lyk en juis nie te strak nie. Giulio sê jy sal oor ongeveer ses maande welkom wees om hier te kom vertoef, as jy dan al lus het. Jy en jou man en wie ook al wil saamkom, natuurlik ook die fraaie Rafaella. Julle sal ons persoonlike gaste in ons eie huis wees, beslis nie in die nuwe gebou nie.

Ons dink voortdurend aan jou en jou mense in hierdie swaar tyd.

Groete van jou vriendin

Louisa

Rafaella onderdruk die diep sug wat haar keel vol lê. Giulio en sy ma dink aan hulle, sal hulle selfs verwelkom. En haar eie naam is darem ook genoem! O, om hom net weer te kan sien! Sy lewe in vrees dat ’n ander vrou hom gaan gaps, of reeds vasgetrek het. Die Italianers is dan ook so sjiek en vol passie …

Sy kyk na haar ma. “Dis ’n wonderlike uitnodiging. Ek dink julle moet dit opneem sodra Mamma in staat is om te reis.”

Rachel glimlag. “Jy moet saamkom om my te help versorg,” sê sy ondeund.

“Jou ma wil tog te graag matchmake,” terg Jacopo. “Ons sal die een of ander tyd móét gaan. Miskien oor ’n jaar.”

“Eers oor ’n jaar?” vra Rafaella afgehaal.

“Miskien al vroeër.” Haar pa het ’n reusevonkel in sy oog. “Ek wil tog juis gaan navorsing doen vir my boek, hoe gouer, hoe beter. Ons kan net nie die Di Mareneschi’s gaan verontrief voordat hulle gereed is vir ons nie. Bouwerk krap tog ’n mens se ruimte vreeslik om.”

“Sê my net betyds wanneer julle wil gaan sodat ek kan reëlings tref. Ek dink dis nou tyd dat ek ook vakansie neem. By Masondo gaan dit nie juis rustig nie en die wye wêreld wink.”

“O, is dit net die wye wêreld wat wink?” terg haar ma uitgelate.

Rafaella voel haar wange gloei. Sy lag verleë, maar dis lekker om haar ma so vrolik te sien.

Op die dag voor Kersfees kom René en Bennie aan en Aldo gaan haal hulle by die O.R. Tambo-lughawe. Rafaella het twee dae verlof geneem en kan darem Kersfees saam met die familie deurbring. Jwana neem soos altyd verlof tot twee weke ná Kersfees en Rafaella spring in om te help met die kos- en skoonmaak en haar ma se versorging. Sy gaan doen Kersinkopies saam met haar pa, maar hy verdwyn op sy eie ekspedisies, soos hy elke jaar maak. Hy wil nie hê iemand moet by wees as hy geskenke koop nie.

Vanjaar sou hulle nie ’n Kersboom gehad het nie, maar toe Jacopo hoor die seuntjie kom, het hy by ’n kwekery oos van die stad ’n kleintjie in die hande gekry.

“Dit sal die outjie mos nou besig hou om die boom te versier,” het hy gesê toe hy dit in die sitkamer staanmaak.

Rafaella is uiters nuuskierig om haar broer se geliefde te ontmoet en kan nie wag dat hulle aankom nie. Toe sy die motor by die hek hoor, los sy eers die pasta wat sy besig is om te berei, was haar hande en gaan voordeur toe. Haar pa is pas terug van een van sy koop-ekspedisies en probeer maak asof hy nie ook sterf van nuuskierigheid nie. Hy sit kastig rustig in die sitkamer met ’n koerant.

Die vrou wat uit Aldo se huurmotor klim, is betreklik lank en mooi gebou, met donker hare. Sy dra ’n blou langbroek, ligblou hemp en sandale. Die seuntjie wip agter uit die motor. Hy is klein en skraal in sy kortbroek en T-hempie en het bruin hare. Hy kyk gefassineer na die groot huis. Rafaella se hart vul met deernis. Daar is iets kwesbaars aan dié oulike kind. Iets wat enige vrou se moederinstinkte sal roer.

Aldo en René haal saam die bagasie uit, en toe hy haar voordeur toe bring, sien Rafaella dat sy ’n aangename gesig het, hoewel nie uitsonderlik mooi nie. Wat wel baie mooi is, is haar helderblou oë.

“Hallo, ek sien Aldo het vir hom ’n Irish beauty gevind,” grap Rafaella goedig.

René lag, lyk verleë. “Nee, ’n beauty is ek nou nie, maar jý is! Aldo het vertel sy sussie is mooi, maar hy moes gesê het beeldskoon. Dis so lekker om jou te ontmoet, Rafaella.”

Rafaella besluit dat sy baie van René gaan hou, en nie oor die kompliment nie, maar oor wat sy intuïtief kan aanvoel – haar warmte, menslikheid.

“Ek is baie bly julle kon kom. Julle is baie welkom. Ons Kersfees word sommer opgehelder.”

René glimlag breed. “Dankie. Bennie het baie daarna uitgesien. Gaan groet tannie Rafaella, my ding.”

Hy kom skamerig nader, gee Rafaella formeel die hand. Sy skud dit en kyk in twee groot bruin oë.

“Aangename kennis, Bennie. Ons is bly jy het kom kuier.”

“Aangename kennis, tannie. Is tannie regtig ’n dokter?”

Almal lag. “Ja, ek is, maar nie so ’n grote soos oom Aldo nie.”

“Hallo, hallo, hallo,” hoor sy haar pa se hartlike stem agter haar. Kon seker nie meer ’n oomblik langer wag nie! “Welkom, welkom hier by ons.”

Rafaella kyk hoe hy belangstellend groet, hoe hy sy seun se vriendin opsom. Sy sien dat hy ook sommer dadelik van René hou. Hy het ’n slag met kinders, en die seuntjie reageer daarop.

“Kom ons maak julle tuis en drink iets lekkers,” sê Jacopo. “Ek het vyf soorte koeldrank vir Bennie gekoop, en ’n hele pak lekkers.”

“Ek sal dít moet rantsoeneer,” sê René kastig streng. “Ons wil nie met ’n kind met maagkrampe sit nie.”

Rafaella kyk na haar broer, wat behoorlik blom. Sy kry eintlik lag om hom so te sien. Hy kom natuurlik agter dat René en Bennie dadelik ’n goeie indruk op sy familie maak, en die familie op hulle.

“Jong, jy sal ons dadelik moet help om die boom te versier,” sê Jacopo vir Bennie. “Dit moet reg wees as Vader Krismis vanaand kom.”

Die outjie lag en klap sy hande. “ ’n Boom! Mamma, ’n Kersboom!”

“Ja, my liefding, ons het lanklaas ’n Kersboom gehad.”

Dié Kersfees gaan vir almal lekker uitdraai en boonop vir Rachel troos, dink Rafaella ingenome.

“Kom ek maak julle tuis en dan gaan stel ek julle aan Mamma voor,” sê Aldo, breëbors-trots.

Terwyl Rafaella en Aldo kos maak asof hulle twintig gaste ontvang, is Jacopo en Bennie hard aan die werk om die boom te versier. Hulle het helderkleurige, blink balle, tooisels van alle soorte, ’n groot goue engel vir bo-op en verskeie sjokoladetjies met hanglussies. Hier en daar help Rafaella kastig, maar net om belangstelling te toon. Die geskenke word onder die boom gesit. Sy vermoed dié kind met ’n enkelma het lanklaas sowat van ’n familie-Kersfees ervaar, en sy kry lekker om te sien hoe hy dit geniet, en hoe Jacopo hom soos ’n liefdevolle oupa gedra.

René het dadelik, verpleegster wat sy is, oorgeneem met die versorging van Rachel en het aangebied om haar vir die aand mooi te klee. Rafaella vermoed die twee vroue het heelwat om oor te gesels. Haar ma sal natuurlik alles omtrent dié toekomstige skoondogter wil uitvind.

Toe alles gereed is, die kos en drinkgoed reg, die boom versier, almal aangetrek is vir die geleentheid, bring René vir Rachel uit.

“Tadaaaa, klap hande vir die eregas!” roep sy vooruit.

Rachel loop stadig in, versigtig, geklee in een van haar mooiste rokke. Almal juig.

“Dankie, René, my vrou lyk soos ’n bruid,” glimlag Jacopo.

Rafaella sien hoe hy skelmpies ’n traan wegvee. Haar hart loop oor. Haar ma sou vir iemand wat nie weet wat sy makeer nie, heel normaal gelyk het. René, in ’n mooi blou rok wat wyd uitklok, is vanaand nogal treffend. Aldo lyk verlief. Bennie lyk opgewonde.

Ons is gelukkig om te hê wat ons het, en dat ons genade ontvang, dink Rafaella. Vanaand sal hulle nie na die middernagmis van hul Katolieke kerk kan gaan nie. René is ook nie Katoliek nie, maar wat maak dit saak?

Sy dink aan hul mooi katedraal met sy gewyde atmosfeer, die pragtige katedrale van Italië met hul kunswerke, waar mense vannag die mis sal bywoon. Op daardie oomblik ervaar sy ’n intense steek van verlange na Giulio. Wat doen sy gesin vir Kersfees? Gaan hulle dalk na die Duomo in Milaan? Na die kerk in Cortona waar daar van Fra Angelico se kunswerke is? Moet Giulio werk? Mense word op Kersfees ook siek. Die operasterbroer is seker by hulle, dalk met ’n vrou of twee by. Bewonderaars … Wie is aan Giulio se sy?

Wat help dit tog om daaroor te tob, berispe sy haar. Hulle sit aan die ander kant van die aardbol. Maar … daar gebeur dalk iets goeds in die toekoms …

Die aand verloop vrolik, met heelwat geëet en gedrink.

“Dis die lekkerste kos wat ek nóg geëet het,” roep Bennie, toe hy sy tweede bak nagereg aanpak. “Dis die lekkerste Kersfees ooit!”

Rafaella kyk na haar ouers wat knus bymekaar sit. Haar ma moet voel dat sy ’n begenadiging ontvang. Aldo en René in hul kokon van liefde lyk dolgelukkig, ten spyte van die tragedies van die lewe wat hulle heeltyd aanskou. Net sý, Rafaella, het niemand, maar sy wou dit so gehad het. Vandat sy Giulio ontmoet het, kan sy net geen belangstelling in ander mans opbou nie. Sy weier ferm alle versoeke om afsprake. Liewer alleen as om voor te gee sy kuier lekker saam met ’n man in wie sy nie regtig belangstel nie. ’n Man wat haar sal wil soen en waarskynlik vatterig sal raak.

“Oom Aldo sal vir jou lekker kos maak in Kaapstad, my ding,” belowe René haar seun, en kyk laggend intiem na Aldo.

“Ek sal moet, lyk dit my,” sug hy kastig moedeloos. Hy kug hard, asof hy aandag op homself wil vestig. “Ek het ’n aankondiging om te maak.”

Almal kyk afwagtend na hom. Rafaella dink sy weet wat kom.

“Ek het René gevra om met my te trou en sy het ja gesê.”

Hul ouers klap spontaan hande, en Rafaella gee Aldo ’n stywe druk, dan vir René.

“Dis die mooiste Kersgeskenk wat ek nog ooit gekry het,” sê René bewoë.

Bennie kriewel van sy stoel af en hardloop na sy ma. Sy fluister iets in sy oor. Hy werp hom op Aldo, wat hom ’n klapsoen gee en hom op sy skoot tel.

Rafaella is verheug. Haar ma vee haar oë met ’n snesie af.

“Ons is darem ’n sentimentele lot,” snuif Rachel. “Kyk hoe grens ons van blydskap.”

Die volgende oggend word geskenke uitgedeel. Een is ’n rooi fiets, van Aldo vir Bennie, wat histeries van blydskap is.

“Aldo het my gestuur om dit te gaan koop,” bely Jacopo. “Ek moes dit eers wegsteek in die motorhuis.”

Aldo gee vir René ’n verloofring met ’n peervormige diamant. Sy lyk so gelukkig dat Rafaella haar kliphard beny.

“Eendag kom jou beurt ook,” hoor sy haar oplettende ma sê, en Rafaella kyk skuldig na haar.

“En waarskynlik vroeër eerder as later, as ek reg lees hoe die wind waai,” grap René. “Ek en jou ma het dik stukke gesels.”

“Julle is ooroptimisties en voortydig,” sê Rafaella. “Ek wonder darem wie julle in gedagte het. Iemand moet my nog eers die hof kom maak, en daar is niemand op die horison nie.”

“O, daar is iemand op die verre horison,” beweer Rachel. “ ’n Dokter van ver.”

“Ag nee, Mamma! Dis net wensdenkery,” protesteer Rafaella verleë.

Maar sy gaan aan die hoop vashou, dit ’n werklikheid probeer maak. Sy wil ook eendag geluk hê soos dít wat sy voor haar sien. Daar gáán nog ’n lig skyn wat haar skaduwees verjaag.

Hartklop Omnibus 4

Подняться наверх