Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 9

6

Оглавление

Die son gaan al onder en almal sit in ’n elegante sitkamer met aperitiewe. Rafaella het moeite gedoen om mooi te lyk – vir Giulio. Luigi het verklee en sy wit hemp is van ’n blinkerige sy. As sy ontvanklik was, sou sy met bewondering na hom gestaar het. Hy lyk besonder aantreklik. En besonder bewus daarvan. Dit is egter nie die soort aantreklikheid waarvan sy hou nie. Dit is soos volroomsjokolade wat te soet smaak, te smelterig is. Hy kom sit langs haar en vra haar uit oor haar werk. Wat sy hom van haar besige en veeleisende werksdag by ’n oorvol hospitaal vertel, vind hy ooglopend afgryslik.

“Ek dink nie so ’n mooi vrou moet so hard werk nie,” komplimenteer hy oordrewe. “Dit sal jou voor jou tyd oud maak.”

“Harde werk het nog nooit iemand doodgemaak nie,” verweer sy.

“Mense soos jy en my broer Giulio sien heeltyd lelike dinge. Gee my liewer die romantiese wêreld van die opera. Daar voel ék weer tuis.”

Hy stel homself darem skaamteloos as die romantiese held voor, dink sy vies. Die vroumense streep natuurlik agter hom aan, hy met sy goue stem, en laat sy kop net ál groter swel. Hy drink sy aperitief met een pinkie gelig. Ook dít sit haar af. Manlike mans lig nie hul pinkies nie. Giulio doen dit nie.

Vaagweg hoor sy ’n voertuig buite en wag in spanning. As Giulio nou by die deur inkom, wil sy nie lyk asof sy nog heeltyd nét vir hóm wag nie. Sy moet nonchalant wees. Haar hart hamer egter ongemaklik hard in haar bors.

Die man wat inkom, lyk moeg, maar soos voorheen laat hy haar asem wegslaan. Sy het so baie van hom gedroom, sy gesig so hard probeer oproep, en hier is hy nou in lewende lywe. Oorweldigend. Sy blink swart hare is effens deurmekaar en sy klere gekreukel, maar sy donker oë is helder, sy glimlag wittand. Eers groet hy haar ouers en toe kom soen hy haar hand.

“Ek is bly jy het saamgekom, Rafaella.”

“Jy moes my gesê het sy is so mooi,” sê Luigi, met ’n wolfagtige glimlag.

Irritasie trek vlugtig oor Giulio se gesig, maar hy draai na sy ma. “Jammer ek is so laat, Mamma, maar ou signora Petti het vanmiddag geval en haar heup gebreek. Foeitog, op daardie ouderdom.”

“Arme ou dier,” simpatiseer sy ma. “Maar vergeet nou eers van haar. Gaan verfris jou en verklee, dan sluit jy by ons aan.”

Die oomblik dat hy die vertrek verlaat, voel dit vir Rafaella asof dit ontvolk, al sit dit vol mense. Hy het dieselfde uitwerking op haar wat hy in Pretoria gehad het. Asof hy die spil is waarom die aarde draai. Sy hoor skaars wat die ander gesels en doen bloot meganies mee totdat Giulio weer verskyn – fris, vars en skoon aangetrek. Hy skink vir hom ook ’n aperitief en kom sit op die oop stoel langs hare.

“Wat het jy toe besluit om met jou loopbaan te doen?”

“Ek het maar liewer bedank, aangesien ek nie van plan is om by die Masondo-hospitaal aan te bly nie. Ek ondersoek ander moontlikhede.”

“Sy wil sowaar verder studeer,” sê Luigi, asof hy dink sy wil sonde doen.

“Regtig?” Giulio se wenkbroue lig. “Waar beoog jy om dit te doen? Daar by die mediese fakulteit in Pretoria waar ek lesings gegee het?”

Rafaella is nou regtig ongemaklik. Sy het vir Luigi gejok en nou moet sy met die leuen voortgaan.

“E … ek weet nog nie. Ek sal besluit nadat ek vakansie gehou het.”

“Jy kan dalk gaan na Kaapstad waar jou broer is,” sê Giulio.

“Hy kom ’n tyd lank Italië toe.” Sy vertel van Aldo se planne en die Istituto Europeo di Oncologia. “Hy en sy nuwe vrou en seun kom begin November. Ons beplan om ook ’n ruk in Milaan te gaan bly om by hulle te wees.”

“A, dis goed. Ons sal jou broer-hulle dan waarskynlik ontmoet as Luigi se operaseisoen weer afskop, want ons gaan altyd soontoe om die opening by te woon en ’n aantal operas te sien.”

Rafaella is nou vol hoop en optimisme dat sy Giulio dáár ook gaan sien.

“Is die rusoord nou heeltemal voltooi?” vra sy.

“Die bouwerk is min of meer afgehandel, maar daar is nog heelwat binnewerk wat gedoen moet word, en dit kort nog meubels. Die nuwe gebou is agter ons huis, daarom sien jy dit nie. Ons wou nie die aansig van die villa bederf nie. Môre kan jy gerus gaan kyk hoe dit lyk. Ons sal nie meer as agt mense op ’n slag inneem nie, anders raak dit te groot en te onhanteerbaar. Agt mense is maklik om te hanteer en te versorg. Daar is ook net agt wooneenhede met badkamers. Ons neem nie mense in wat ernstige behandeling moet ondergaan of regtig siek is nie. Dit is net ’n rusoord.”

Rafaella kyk onderlangs na hom. “Maar julle aanvaar wel mense wat herstel van siekte, wat byvoorbeeld in remissie is van kanker? Die gevaar is tog nooit heeltemal verby nie.”

Hy kyk vlugtig na Rachel, en toe weer na haar.

“Hier op La Renza kan ek nie mediese dienste aanbied nie, soos ek jou al vertel het. Mense kan my wel konsulteer, maar hierdie is nie ’n hospizia nie. Ek gaan nie chirurge en onkoloë hier aanstel nie. As dit ’n mediese fasiliteit is, moet dit onder die nasionale gesondheid ressorteer en dan is daar eindelose probleme en rompslomp. Ek gaan slegs administratiewe personeel, kombuispersoneel en skoonmakers aanstel. Mamma gaan my medebestuurder wees. Ons het ’n wassery ingerig, ’n verhitte binnenshuise swembad, ’n buiteswembad, kombuis en eetsaal. Ons bied hier stilte en rus, nie vermaak nie.”

Sy ma begin hom uitvra oor die ou tannie wat haar heup gebreek het en hy draai weg om met haar te gesels. Jacopo gesels opera met Luigi en sy luister maar na hul gesprek. Haar pa is ’n regte opera-fanatikus. Duidelik kan hy sy geluk skaars glo dat hy met dié operaster kan kuier en sy teaterstories hoor.

Rafaella glimlag vir haar ma. “Hoe voel Mamma?”

“Goed dankie, my lief. Geen klagtes nie. Bly om hier te wees.”

Hulle sit in ’n groot eetkamer aan ’n tafel waarby twaalf mense of meer met gemak kan sit. Die tafel is keurig gedek en die geregte almal heerlik. Rafaella vermoed daar is ’n uitsonderlike kok in die kombuis en geen tekort aan huishulpe nie. Aan tafel word hulle deur Natalia en ’n meisie bedien. Die Di Mareneschi’s lewe beslis ’n bevoorregte lewe, en tog wy Giulio hom aan sorg vir sy medemens. Hy kon maklik ’n playboy gewees het, maar hy beoefen eerder ’n edele beroep.

Giulio sit aan die hoof van die tafel en sy ver van hom af. Sy hou hom diskreet dop. Hy lyk vir haar soos ’n Medici-prins in sy paleis. So … verhewe.

“Luigi, wanneer wil Maria kom kuier?” vra Louisa.

“So oor ’n dag of wat. Ons moet saam repeteer, maar ek dink sy het meer as repeteer in gedagte.”

Vir Rafaella klink hy half vies, half of hy spog. Die beroemde sopraan loop agter hóm aan, wil hy te kenne gee.

“Is daar iemand met wie jy nog baie graag wil saamsing, buiten die soprane wat jy al genoem het?” vra Jacopo.

“O, ek sou saam met Angela Gheorgiu, daardie beeldskone Roemeense sopraan, wou sing. Ek sal nog.”

“Gaan jy darem vir óns iets sing, een of ander tyd?” vra Jacopo skamerig.

Luigi trek sy skouers glimlaggend op. “Miskien, wie weet.”

“Wat van sommer ná ete?” vra Louisa. “Ons sal geduldig wag terwyl jy opwarm, dan kan ons na die musiekkamer kom.”

“My liewe Mamma, jy weet ek sing nie net nadat ek geëet en gedrink het nie.”

“Wag dan ’n uur en probeer,” sê Giulio. “Dis nie ’n saal se gehoor nie, net ’n paar mense. Jy hoef nie uit volle bors te sing nie. Probeer iets ligs. Professor Continari is ’n groot bewonderaar en operaliefhebber en hy is baie gretig om jou te hoor sing.”

Luigi trek weer sy skouers op. “Ag, nou goed dan. Gee my tot tienuur. Ek sal so ’n paar ligte liedjies vir julle sing, maar nie ’n aria nie.”

Louisa kyk verskonend na hulle. “Luigi moet met ’n stem saamleef en ons ook. Hy durf dit nie ooreis of verkoue opdoen nie. Ons kry tydens die toeristeseisoen strepe besoekers wat hom wil hoor sing. Die vroumense is veral lastig. Die foon hou nie op lui nie en ons moet net keer of die stroom word verswelgend. Dis die donker kant van beroemd wees. Dit was net so met my oorlede man. Ek het met die vroulike bewonderaars saamgeleef, en met die versoeke. As mens nie oppas nie, neem dit jou lewe oor.”

“Ek kan my indink dat dit erg moet wees,” sê Rachel en wissel ’n geamuseerde blik met Rafaella, wat haar glimlag agter haar hand moet wegsteek en afkyk. Toe sy weer opkyk, is dit vas in Giulio se oë. Effens geskreefde oë. Dink hy dalk hulle spot? Sy kry baie skaam.

Luigi verskoon homself voordat die ander klaar is. Hulle eet nog nagereg en drink koffie. Daarna gaan hulle terug na die sitkamer.

“Kan ek vir julle grappa vir die spysvertering skink?” vra Giulio toe almal weer sit.

Jacopo aanvaar, maar die vroue sê nee dankie. “Wat van Amaretto, of Frangelico?” vra Giulio.

“Frangelico vir my, dankie,” sê Louisa.

“Vir my ook, dankie,” sê Rafaella.

Rachel wil niks meer drink nie. Giulio skink vir almal by die drankkabinet en gee dit aan. Hy kom sit langs Rafaella en hou sy glas in die lug.

“Salute.”

“Salute.” Sy proe aan die soet likeur, erg bewus van sy nabyheid. Sy ruik die heerlike geur van ’n naskeermiddel of cologne wat hy aangewend het en kyk na sy sterk, bruingebrande hande met lang vingers en skoon, kortgeknipte naels. Die versorgde hande van ’n geneesheer.

“Aan tafel het ek gedink julle moet my hierna verskoon, dat ek nie die konsert sou bywoon nie, maar ek sal tog gaan. Ek het jou darem lanklaas gesien.”

Rafaella glimlag. “Dankie dat jy om my onthalwe bly. Hoe gaan dit met jou praktyk?”

“Geweldig besig. Ek kan deesdae skaars voorbly en dan wil ek nog die rusoord ook van die grond af kry. Jy kan eendag kom kyk na my spreekkamer in Cortona, maar net nie môre nie. Ek het môre eenvoudig te veel wat my aandag gaan verg. Sodra dit ’n bietjie stiller raak, laat ek jou kom. My spreekkamer is ingerig in ’n baie ou gebou, maar pragtig gerestoureer. Ek het die wagkamer ook so gemeubileer dat dit vir die pasiënte lekker en rustig moet wees om daar te sit – sagte kleure, ’n dik mat, mooi meubels en skilderye. Waarom moet wagkamers altyd klinies en strak wees en ruik na ontsmetmiddel? Nee wat, die mens se gees is tog belangriker as sy liggaam. Daar speel sagte musiek en my personeel is mooi en bekwaam. Ek wil nie ou hekse daar hê wat bitsig is en mense aangluur nie.” Hy lag en neem ’n sluk van sy grappa.

Ag tog, hy het nog mooi ontvangsdames ook, dink Rafaella moedeloos. Hy voel vir haar ál minder bereikbaar terwyl sy net ál meer tot hom aangetrokke raak.

“Ek stem saam,” sê sy egter. “As mense ly of swaarkry, kan die dokter maar gerus hul lewe op allerlei maniere aangenamer probeer maak.”

Giulio vra Rachel uit oor haar kanker en luister aandagtig na wat sy vertel.

“Ek is bly dit gaan nou goed,” sê hy vir Rachel. “Maar u lyk vir my moeg. Rus is wat u nodig het. Sit bedags op die terras en vat dit rustig. Moet u nie ooreis nie. Eet gesond.”

Louisa staan op. “Ek gaan net gou hoor of Luigi reg is vir ons.”

Sy kom na ’n kort rukkie terug. “Hy is reg. Kom ons gaan na die musiekkamer.”

Dié kamer is nogal ver van die voorhuis af, in ’n ander vleuel van die gebou. Toe hulle daar kom, is Rafaella verstom. Dit is nie ’n blote kamer nie, maar ’n konsertsaaltjie. Sy het een klavier verwag, maar daar is ’n reusevleuelklavier, ’n gewone klavier, ’n klavichord, rakke bladmusiek, ’n verhogie met ’n mikrofoon, opnametoerusting, musiekstaanders, vyf rye gestoffeerde stoele, ’n hoë plafon en parketvloere, en ’n groot, goue harp. Daar is panele aan die mure wat haar laat glo dat die plek goeie akoestiek moet hê. Almal se stemme klink inderdaad baie duidelik, selfs haar ma se fluistering van “genade, maar dis indrukwekkend”.

“Wat ’n lieflike harp,” sê Jacopo.

“Ja, is dit nie,” sê Louisa. “Maar deesdae oefen ek nie genoeg nie.”

“Mamma speel pragtig,” sê Giulio lojaal. “Papà het destyds gesê dat hy op die engel by die harp verlief geraak het toe hy haar sien. Sy het in ’n simfonieorkes gespeel in Covent Garden, sy’s nie sommer ’n hierjy-harpspeler nie.”

“Ag, toe nou!” lag Louisa. “Kom ons gaan sit.”

Hulle gaan sit in die voorste ry en Luigi kom by ’n deur naby die verhogie in. Hy loop reguit na die vleuelklavier.

“Giulio, jy kan my kom begelei, asseblief,” sê hy.

Rafaella kyk verstom hoe Giulio sorgsaam die vleuel en klawers oopmaak, op die stoeltjie gaan sit en sy hande op die klawers plaas.

“Hy speel goed en begelei soms vir Luigi,” fluister Louisa, wat glimlag vir die verbaasde uitdrukking op die gaste se gesigte. “Ander kere begelei ek weer.”

“ ‘Funiculi funicula,’ ” bestel Luigi, en Giulio begin speel.

Die pragtige tenoorstem is betowerend en hulle sit vasgenael. Rafaella sien dat Giulio inderdaad goed speel. Luigi sing nog twee ligte liedjies ná die bekende een, en buig. Hulle almal klap dawerend. Rafaella kyk na haar pa, wat meegevoer sit. Hoe geniet hy dit nie, dink sy met liefde. Hy roep “bravo” en “encore” toe Luigi klaar is.

“Sing jý nou vir ons ‘Plaisir d’amour’, Giulio,” sê Luigi.

Rafaella is geskok. Hier wil Luigi, wat, as sy dit reg verstaan, Giulio se meisie afgevry het, sowaar hê sy broer moet voor almal sing van liefdesgeluk wat in pyn omsit!

“Nee wat, ek sal te sleg by jou afsteek,” sê Giulio afwysend.

“Ag toe, asseblief,” smeek Louisa. “Jy sing dit só mooi.”

Rafaella sit vasgenael toe hy uiteindelik instem. Giulio se stem is nie die goue tenoor van Luigi nie, maar hy hét ’n mooi baritonstem en sing met gevoel. Trane prik agter haar ooglede, so geroer is sy. Almal klap en roep vir Giulio soos vir Luigi “bravo”.

“Nou sing jy vir ons ‘Der Vogelfänger’ uit Die Towerfluit,” beveel Giulio. “Jy kan dit sonder begeleiding doen, ek sal die tussenin-stukkies fluit.”

“Dis eintlik ’n rol vir ’n bariton, maar Luigi sing dit tog so oulik,” sê Louisa.

Luigi lag en skud eers sy kop, maar toe stem hy in. Hy sing in Duits, lig en pragtig, en Giulio fluit soos ’n voël tussenin. Dit is verruklik. Hul gehoortjie klap en klap.

“Die einde.” Luigi maak sy buiging, hou sy hand na sy broer uit. Giulio staan op en kom maak ook ’n buiging.

Almal lag nou. Rafaella het lanklaas iets só geniet. Die Di Mareneschi’s lyk nou vir haar na ’n gelukkige gesin, ten spyte van die storie van Vanessa. Dit lyk nie asof sy regtig verwydering tussen die broers veroorsaak het nie.

Almal sê nag en Rafaella moet na haar kamer gaan, maar sy sweef nog op Giulio se stem. Sy Frans met ’n Italiaanse aksent, so gevoelvol gesing …

Rafaella skrik wakker en hoor die verruklike klank van ’n manstem wat “La donna è mobile” – die vrou is wispelturig – uit Rigoletto sing. Eers lê sy versteen en luister. Dit kom van onder haar balkon af! Sy vlieg op en gaan maak die deur oop, maar gaan nie uit nie, probeer net loer wie sing daar onder. Dit klink soos Luigi. Sy sien niemand nie. Liewe hemel, serenade hy tog nie vir háár nie? Of oefen hy net sy stuk uit Rigoletto en toevallig kan sy dit in die nagstilte tot hier so duidelik hoor? Sy wag totdat die laaste note wegsterf. Stilte, dankie tog! Naderhand gaan sy terug bed toe en skakel die bedliggie aan om na haar horlosie te kyk. Eenuur in die oggend.

Sy klim weer in die bed; nou’s dit doodstil. Sê nou net die simpel man probeer haar die hof maak? Dink hy dat hy met sy wonderstem háár ook kan verower? Sy moenie oorhaastige gevolgtrekkings maak nie, berispe sy haarself. Ydelheid is sý terrein, nie hare nie. Waarom sou hy, agter wie beroemde vroue skynbaar aanhol, enigsins in háár belangstel? Dis die romantiese balkon wat haar verbeelding op loop sit.

En al sing hy hóé mooi, hy is nie die broer wat haar trek nie. ’n Vrou kan nie vir hom liewer wees as wat hy vir homself is nie. ’n Vrou sal sy geweldige ego gedurig moet pamperlang, en sy wat Rafaella Continari is, is nie die soort vrou wat tot so iets bereid is nie.

Die volgende oggend skrik Rafaella wakker van ’n klop aan haar deur. Sy staan vervaard op en gaan maak oop. Die meisie wat gehelp het om hulle die vorige aand aan tafel te bedien, staan daar met ’n skinkbord met koffie en broodjies.

“Goeiemôre, signorina. Ek bring vir u iets te drinke. Ontbyt word in die eetkamer bedien tot tienuur.”

“Jinne, dis soos ’n hotel. Baie dankie. Ek het skandelik laat geslaap. Gewoonlik is ek baie vroeg op.”

Die meisie glimlag. “Maar u is nou met vakansie.”

“Wat is jou naam?” vra Rafaella.

“Alda, signorina. Ek is Natalia se susterskind.”

“O, is jy? En werk jy lekker hier?”

“Baie lekker, dankie, signorina.”

“Dankie, Alda, ek gaan die koffie geniet.”

Rafaella neem die skinkbord en gaan sit by die stoel en tafel naby die balkondeur. Die koffie is heerlik en die broodjies varsgebak. Terwyl sy eet en drink, dink sy aan die nagtelike sang en die goddelike stem. Moet sy iets daaroor sê? Erken dat sy eenuur in die oggend ’n besoeker gehad het? Nee, besluit sy. Liewer stilbly. Indien Luigi dit met opset vir háár gedoen het, sal hy ’n reaksie wil hê, en sy gaan haarself nie só laat vang nie.

Dit is al negeuur, sien sy op haar horlosie. Vinnig gaan stort sy, was haar hare, trek jeans en ’n wit T-hemp aan. Sy wil eers inloer by haar ouers en dan die plek verken. Honger is sy beslis nie meer nie. Dalk moet sy net weer van daardie fantastiese koffie gaan kry.

Haar ouers is nie in hul kamer nie en sy vermoed hulle is al af na ontbyt. Sy neem haar skinkbord en gaan soek die eetkamer. Sy sien ’n man en meisie in die sitkamer afstof en aan die kant maak toe sy daar verbyloop. Hulle gesels vrolik. Alda kom by ’n deur uit en neem die skinkbord by haar. Rafaella bedank haar, loop by die eetkamer in en tref haar ouers daar by Louisa aan.

Sy groet verleë. “Jammer ek is so laat. Ek het blykbaar verslaap. Dis glad nie my gewoonte nie, hoor.”

“Wees rustig,” sê Louisa. “Julle is mos hier om te rus. Luigi slaap altyd laat. Hy kom gewoonlik nie voor twaalfuur uit sy kamer nie.”

“Ek dink altyd vroegoggend is die beste tyd van die dag. Giulio is seker al vroeg weg?”

“Ja, hý is weer altyd vroeg op en vertrek selde later as seweuur na Cortona. Kom sit en eet iets.”

Rafaella skud haar kop. “Nee dankie, ek is versadig van die lekker broodjies en koffie wat Alda na my kamer gebring het. Ons word bederf. Kan ek net weer van daardie heerlike koffie kry, asseblief?”

“Julle jong meisies eet mos soos voëltjies, en jy is juis so slank. Gaan kry gerus vir jou koffie, dis daar op die buffet by die espresso-masjien.”

Rafaella kry koffie en kom sit aan tafel. “Ek wil vandag alles hier bekyk,” sê sy.

“Luigi sou jou kon rondwys, maar hy slaap nou nog. Julle moet maar self die plek besigtig. Ek is ongelukkig altyd besig in my kantoor. Hierdie landgoed se bestuur verg nogal baie werk. As julle enigiets wil eet of drink, lui net die klokkie. Daar is klokkies in die portaal en hier in die eetkamer. Middagete is altyd so teen eenuur, wanneer Luigi te voorskyn gekom het.”

“Hy bly laat op,” sê Jacopo. “Gisternag het hy ons wakker gesing. Dit was soos ’n engel wat neergedaal het op die aarde.”

Louisa lyk verbaas. “Wat? Het hy daardie tyd gesing? Dis vreemd. My suite is ver van julle s’n af, so ek het niks gehoor nie.” Sy kyk met ’n skalkse glimlag na Rafaella, wat nie weet hoe om te reageer nie. Sou Luigi se ma vermoed dit was ’n serenade?

“Terloops, Maria Vallerta kom môre hier aan,” sê Louisa. “Sy het vanoggend laat weet dat haar agent, Riccardo, haar gaan bring. Sy bring altyd haar sekretaresse, Mimi, saam. Hulle kom met baie bagasie. Ek vermoed sy gaan nog van La Renza haar persoonlike rusoord maak. Daar is ander mense uit die musiekwêreld, sangers ook, wat belangstel om tussen swaar programme hier te kom ontspan.”

“Ons is eintlik hier om Mamma se onthalwe en ons bly hier in jul eie huis soos gaste,” sê Rafaella skuldig.

Louisa lag. “Kyk nou hoe verleë lyk jy. Nee, cara, julle ís ons gaste. Ek het julle mos genooi.”

“Dan kan ons nie langer bly as wat ons welkom is nie,” sê Jacopo.

Louisa glimlag. “ ’n Mens kan sien julle is onafhanklike mense wat gewoond is aan werk en roetine. Ek respekteer dit, maar hier by La Renza is ek al gewoond aan ’n toeloop van besoekers wat soms nogal lank vertoef. Rachel moet rus, jy kan jou navorsing gaan doen, Rafaella kan doen net wat sy wil. Miskien wil sy Giulio bietjie gaan help, net om te sien hoe dinge hier werk, soos hy daar in Suid-Afrika gemaak het. Bekommer julle oor niks. Geniet die Toskaanse herfs, ry rond as julle wil. Gaan besoek Cortona en die omliggende dorpe. Gaan Florence toe, as julle kans sien daarvoor.”

“Dít sal ons nog alles doen, sodra Rachel daarna voel,” sê Jacopo. “Dankie vir jou wonderlike gasvryheid.”

Louisa gee ’n ondeunde laggie. “Julle kan weerligafleiers wees as die temperamentele Maria Vallerta hier aankom. Sy put my uit – en ek put nie maklik uit nie. Giulio vermy haar sover hy kan. Sy is so dolverlief op Luigi dat dit lastig raak. Sy is jaloers ook. Hulle stry gedurig, want hy word kwaad as sy haar kloue so in hom probeer slaan. Hy sê die tyd gaan aanbreek dat hy weier dat sy hierheen kom. Die probleem is net, hulle sing al weer in die volgende operaseisoen saam. Hy moet vriende met haar bly, anders sal dit groot probleme afgee.”

Jacopo glimlag egter ingenome. “Ons sal dié beroemde vrou darem graag ontmoet. Ek hoop sy sing ook vir ons.”

“Wel … ons, oftewel Luigi, kan seker haar arm draai. Sy is baie snoep met haar stem. Ek dink haar weergawe van ‘O mio babbino caro’ is die beste wat ek nog gehoor het. Dit laat mense in trane uitbars.”

“Ons móét haar oortuig om dit vir ons te sing,” sê Rachel. “Ek wil graag sien hoe bars my man in trane uit.”

Almal lag.

Rafaella drink haar koffie klaar. “Sal julle my verskoon as ek op my eie rondloop? Dié plek lyk na die paradys.”

“Gaan gerus,” sê Louisa. “Die tuine is groot en jy moet die nuwe gebou ook sien. Jy is welkom om die hele huis te besigtig.”

“Ons twee sal dit ook op ons eie tyd doen,” sê Jacopo. “Rustig, sodat Rachel haarself nie ooreis nie.”

Hartklop Omnibus 4

Подняться наверх