Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 4

1

Оглавление

Rafaella kyk om haar rond. Baie mense is hier by die militêre begraafplaas van Zonderwater vir die jaarlikse gedenkdiens vir Italiaanse krygsgevangenes. Dit word altyd op die eerste Sondag van November gehou, en dit is snikheet. Sonder haar hoed sou sy sekerlik sonsteek gekry het. Haar wit rok se dun bandjies stel haar reeds sonbruin skouers aan die brandende strale bloot.

Tweehonderd vier en sestig Italianers is hier dood, so weet sy. Die rye wit kruise getuig daarvan. Vanjaar het haar oupatjie Pietro, wat al sewe en tagtig is en agter wie se rolstoel sy staan, aangedring daarop om weer te kom ná ’n afwesigheid van vyf jaar. Sy wonder met ’n steek in die hart of hy die dood voel naderkom en nou vir oulaas sy broer Giacomo, wat in 1945 hier aan koors dood is, wou kom groet. Oupa Pietro is so verswak dat hy in ’n aftreeoord met ’n kliniek, naby Rafaella se ouerhuis, opgeneem is.

Daar word al beweeg na die sitplekke, maar haar pa en ma staan en gesels in Italiaans met mense wat sy nie dadelik herken nie. Rafaella kyk of sy hulle kan eien, maar dit is vreemdelinge – ’n middeljarige vrou met ligte hare en ’n langerige man van in die dertig. Die vrou is elegant geklee in ’n sagte poeierblou rok met bypassende skoene en hoed. Die man het die soort elegansie wat Italianers dikwels besit. Lyk asof hy in ’n ligte Armani-linnepak geklee is, een wat nét reg aan hom sit. Hy kom verbasend koel voor, asof hy nie soos die mense om hom die hitte voel nie.

Hy draai om, en nou kan Rafaella hom van voor beskou. Haar asem slaan iewers vas. Sy kan nie ophou om na hom te staar nie. Dit is eenvoudig die uitsonderlikste man wat sy nog gesien het! ’n Mens sou hom beslis besonder aantreklik kon noem. Sy vel is soel, sy hare pikswart, sy oë ook. Hy is lank vir ’n Italianer, lenig en breedgeskouer. Die selfbewustheid wat mooi mans maar te dikwels het, ontbreek egter by hom. Sy gesig is ernstig – maar dan is vandag ook ’n somber geleentheid.

Hy kom agter dat sy staar en draai sy blik op haar. Vinnig kyk sy weg, verleë dat hy haar uitgevang het.

“Rafaella, kom ontmoet dié mense,” roep haar pa.

Sy stoot haar oupa se rolstoel nader, te selfbewus om die mooi man in die gesig te kyk. Sy weet hy kyk na haar.

“Dit is mevrou Louisa en dokter Giulio di Mareneschi,” stel haar pa hulle voor. “Dis ons laatlam, Rafaella, wat ook medies gestudeer het en vanjaar haar gemeenskapsjaar by die Masondo-hospitaal wes van Pretoria voltooi. En hier is my vader, Pietro Continari. Hy kom gedenk sy broer Giacomo, wat hier in die Zonderwater-kamp oorlede is.”

Rafaella skud eerste die vrou se hand, en toe sy die man se hand vat, omvou dit hare en ’n aanrakingskok vang haar skoon onkant. Sy dwing haar om in sy oë te kyk en te glimlag terwyl sy “aangename kennis” sê. Hy glimlag net effens en sy donker oë bly somber.

“Ehh … Di Mareneschi is vir my ’n bekende naam,” sê sy. “Is daar nie ’n operasanger met dié van nie?”

“My seun Luigi is ’n operasanger en sy pa, Francesco di Mareneschi, was ook. Hy is maar twee maande gelede oorlede,” sê Louisa.

Dadelik begin die Continari’s simpatiseer. Die mense rou, dink Rafaella, dís natuurlik waarom dié jong dokter so ernstig lyk. Heel waarskynlik was hy dus baie geheg aan sy pa. Sy kyk na sy neergeslane oë met die dik, swart wimpers. Hy roer haar. Dit moet medelye wees. Waarom anders voel sy asof sy haar ewewig kwytraak wanneer sy na hom kyk?

“Dis darem nou ’n verrassing,” sê Rafaella se pa. “U oorlede man is tog legendaries! Een van die beste baritons van ons tyd. Ons is baie lief vir opera en weet natuurlik ook van u seun, die tenoor. Dis mos in ons Italianers se bloed.”

“My man wou hierheen kom om sy vader, dokter Giulio di Mareneschi senior, te kom gedenk,” sê Louisa. “Hy was een van die krygsgevangene-dokters en is in 1946 dood aan ’n siekte wat hy by ’n pasiënt aangesteek het.” Sy beduie na haar seun. “Giulio is na hom genoem. Ek het gedink ons moet my man kom verteenwoordig. Luigi is egter te besig met repetisies. In Milaan open die operaseisoen van La Scala binnekort. Luigi is vanjaar Rodolfo in La Bohème.”

“Dis indrukwekkend,” sê Rafaella se pa. “Alle operasangers wat hul sout werd is, droom daarvan om eendag daar te sing.”

“Mamma, dit lyk my die verrigtinge gaan begin, ons sal moet gaan sit,” sê dokter Giulio di Mareneschi in sy diep stem. “Ons kan later weer gesels. Verskoon ons, asseblief.”

Hy kyk nie weer na Rafaella nie, maar nadat almal gaan sit het, is sy intens bewus van hom. Sy moet haarself dwing om nie haar kop te draai en hom aan te gaap nie. Wat sal hy van haar dink? Iemand met sy voorkoms en houding is dit seker gewoond dat vroue hom aanstaar. Sy gaan nie ’n gek van haarself maak nie.

Rafaella wys onderlangs vir haar oupa na die konsul-generaal, die ambassadeur van Italië en die verteenwoordigers van die Italiaanse en Suid-Afrikaanse militêre magte, en vertel wie dit is. Haar oupa is so hardhorend dat sy alles vir hom moet oorvertolk en verduidelik.

“Wie is daardie offisier, wat sê hy?” wil hy in ’n harde fluisterstem weet toe een van die hooggeplaastes ’n toespraak lewer.

“Dis ’n generaal, Oupa. Hy praat nou van die bevelvoerder van Zonderwater, Hendrik Prinsloo. Hy sê daar is meer as sestigduisend Italiaanse soldate in Noord- en Oos-Afrika gevange geneem. Hy vertel van die sportfasiliteite en die konserte wat hier gehou is … kolonel Prinsloo het die Bene Merenti van die Vatikaan ontvang, en die Italiaanse Erester … die kamp is mos in 1947 gesluit. Die Italianers is baie goed behandel deur die Suid-Afrikaners, sê hy nou …”

Daar is ’n gedreun en vliegtuie vlieg in formasie oor die groep mense. “Kyk daar, dis die twee lande se lugmagvliegtuie, Oupa,” beduie Rafaella.

Daarna word kranse by die grafte gelê. Rafaella-hulle gaan staan voor die graf van krygsgevangene Giacomo Continari (1920 – 1945). Sy hou haar hand op haar oupa se skouer. Dan besef sy dat die Di Mareneschi’s by die graf langs hulle s’n staan. Sy kyk tersluiks na die dokter wat buk en die krans lê voordat hy en sy ma die teken van die kruis maak. Iemand gaan praat met hulle, maar tot Rafaella se verbasing tree Giulio uit die groepie en kom reguit na haar aangestap.

Sy staal haar behoorlik, dwing haar om die man kalm aan te kyk. Sy hare blink in die fel sonlig. Sy verwonder haar weer dat hy dit regkry om, ten spyte van die hitte, koel te lyk in sy pak.

“Jy is dus ook ’n geneesheer, dokter Continari,” sê Giulio, wat tot haar verbasing met haar Engels praat en dit vlot doen, hoewel hy ’n singerige aksent het. Sy wonder of hy dink haar Italiaans is swak en daarom oorslaan na die taal waarin hy glo sy gemakliker is.

“Ja, maar ek is eintlik pas gekwalifiseer. Jy praat goed Engels.”

“Dankie, maar dit is omdat my ma Engels is, ’n nooi Hammond. Jou pa is professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, verneem ek. Het jy aan dieselfde universiteit gestudeer?”

“Ja, dokter Di Mareneschi.”

“En wat gaan jy doen wanneer jy klaar is met jou gemeenskapsjaar? Beoog jy ’n privaat praktyk?”

Sy glimlag. “O nee, so voortvarend sal ek nie nou al wees nie. Ek dink ek moet eers by ’n hospitaal of kliniek werk totdat ek voel ek het genoeg ondervinding. Dalk wil ek later in iets spesialiseer, maar ek kan nog nie besluit wat nie. Pediatrie, miskien.”

Daar is ’n kort stilte en omdat sy bang is hy loop, praat sy gou-gou weer.

“Waar het jý gestudeer?”

“Aan die Università degli Studi di Firenze, Facoltà di Medicina e Chirurgia, dit wil sê in Florence, by die fakulteit geneeskunde en chirurgie. Nou het ek ’n privaat praktyk as geneesheer in Cortona. Was jy al in Italië?”

“O ja, verskeie kere, by my pa se familie in Pisa en natuurlik ook in Milaan, Rome, Venesië en Florence. Ek het ook al deur die heuweldorpe getoer, San Gimignano en Cortona ook, voordat ek met my studies begin het. Maar ek wil graag weer gaan. Ons vorige toere het maar haastig deur die plekke gegaan. Daar was nooit tyd vir ’n uitgerekte vakansie nie.”

Hy knik. “Ek kan verstaan waarom jy weer wil kom. Dis natuurlik veral mooi in Toskane en Umbrië, waar ons vandaan kom. Ek glo nie ek sal ooit daar weggaan nie. Dis so tragies dat my oupa, ’n chirurg, in die oorlog betrokke moes raak en hier moes eindig. Hy het medegevangenes behandel, en toe is hy self dood in dié verre, vreemde land. Hy het net een seun gehad – my vader – wat maar nege jaar oud was toe sy pa verplig is om in Afrika te gaan weermagdiens doen.”

“Dis tragies, maar baie van die Italianers het tog verkies om ná die oorlog hier te bly.” Rafaella voel sy moet darem haar land verdedig. “My oupa het op my oupagrootjie Saayman se plaas gaan help om ’n nuwe opstal te bou. Hy het daar op my ouma Lettie verlief geraak, sy was sewentien, en met haar getrou. My pa is hul seun. Miskien wou my oupa ook maar hier, naby sy oorlede broer, bly. Hulle was baie geheg aan mekaar …”

Giulio se ma onderbreek hul gesprek. “Dit klink asof julle twee familie uitlê. Maar verskoon ons, dokter Continari, ons moet die konsul-generaal gaan groet.”

“Verskoon my, dokter. Dit was aangenaam om met jou te gesels,” sê Giulio ook.

Rafaella is afgehaal. Sy kyk hoe die twee tussen die mense deurbeur en voel asof sy verlies ly. Sy het sopas die merkwaardigste man ooit ontmoet, en nou gaan hy uit haar lewe verdwyn!

Sê nou hy’s getroud? Daar was nie ’n ring aan sy vinger nie, maar dis nie te sê hy is nie getroud nie. Sommige mans dra nie trouringe nie.

Indien wel, waarom het sy vrou dan nie saamgekom nie? Dalk het sy ander verpligtinge. Kinders?

“Moenie so ongelukkig lyk nie,” hoor sy haar pa agter haar terg, en sy draai om. “Ons het hulle vir ete genooi môreaand. Hulle bly in die Lombardy Boutique Hotel in Pretoria-Oos. Ek sal hulle gaan haal sodat hulle nie sukkel om in Lynnwood uit te kom nie.”

Rafaella is so bly dat sy bloos en haar pa lag. “Dis goeie mense om te leer ken, nè? Ons het baie om oor te gesels.”

“O ja.” Baie!

Jacopo en Rachel Continari doen moeite vir die belangrike gaste. Rachel het haar huishulp, Jwana, ook ingespan om met die bereiding van lekker Italiaanse kos te help. Rafaella is dié aand vroeg tuis.

“Ek en Jwana kook al heelmiddag,” sê Rachel. Rafaella sien die etenstafel is pragtig gedek met die beste linne, silwerkershouers, kristalglase en rose uit die tuin.

“Julle wil die mense beïndruk, nè?” lag sy.

“Wel, hulle is familie van beroemde operasangers,” sê haar pa, wat hom met die voorbereiding van die drankies besig hou. “Ek het die Italiaanse konsul-generaal genooi, maar dit was te kort kennisgewing en hy kan nie kom nie. Dis net ons en hulle twee.”

“Ek is bly. Dan kan ons lekkerder gesels sonder ander gaste wat moet aandag kry.”

Sy gaan stort en trek ’n wit linnebroek aan, met ’n sagte wit bloes daarby. Haar blonde hare is gewas, haar blou oë liggies gegrimeer, en sy spuit parfuum aan. Sy lyk nie Italiaans nie, dink sy. Dis haar ma se familie, die Vosloos, se ligte kleur wat sy gekry het. Anders as haar ouer broer, Aldo. Hy het die donker voorkoms van haar pa se mense. Sy wil graag ’n indruk maak op die aantreklike Giulio, al vermoed sy dat daar minstens een vrou in Italië wag wat aan hom verbind is of op hom verlief is. Dalk is hy selfs al verloof.

Nadat sy in die spieël seker gemaak het dat sy aanvaarbaar lyk, gaan maak sy die voorgereg van prosciutto en bruschetta-broodjies met tamatie, basiliekruid, knoffel en kaas. Sy hou van kook, maar kry deesdae min tyd daarvoor. Die lang ure wat sy werk laat dit nie toe nie.

Toe haar pa teen sononder met die mense aankom, is Rafaella se senuwees al dun geskaaf. Sy berispe haar dat sy nie so verspot moet wees omdat die Italiaanse dokter kom kuier nie – maar sy kan haarself nie help nie.

Hy slaan weer eens haar asem weg toe hy inkom in ’n spierwit hemp en donkerblou broek wat sy soel aantreklikheid beklemtoon. Rafaella groet en verwelkom die gaste net half bewus van wat om haar aangaan, probeer om haar oë van Giulio af te hou en wonder of sy daarin slaag. Hy lyk selfversekerd, enigmaties, ernstig.

“Ons kan eers op die stoep gaan skemerdrankies drink,” stel Jacopo voor. “Dis ’n heerlike aand.”

Hy neem die mense na buite en almal gaan sit op die stoele van gegote yster wat Jacopo onlangs gekoop het.

“So ’n pragtige tuin,” sê Louisa. “Soveel blomme! Daardie bome met die pers is veral pragtig.”

“Jakarandas,” vertel Rachel. “Dis Suid-Amerikaanse bome wat nou hier volop is. Ek is bly dis vir jou mooi. Ek is die een wat die tuin beplan. My man is te besig met sy akademiese werk. Hy is mos professor in geskiedenis en hy skryf tans ’n boek oor sy familiegeskiedenis en die Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika.”

“Dit behoort baie interessant te wees,” sê Giulio. “As daar enige inligting is wat ons kan bydra, help ons graag.”

“Dankie,” sê Jacopo, “ek beplan juis om Italië weer te besoek en van die families van die krygsgevangenes op te spoor.”

“Dan moet u ons gerus kontak.” Giulio haal ’n visitekaartjie uit sy beursie en gee dit vir Jacopo.

“Ek sal beslis, dankie,” sê Jacopo, heel in sy skik.

“Vertel eers, het julle nog kinders, en wat doen hulle?” vra Louisa.

“Ons seun, Aldo, wat vyf en dertig jaar oud is en nog ongetroud, is ’n onkoloog in Kaapstad, verbonde aan die universiteit daar,” vertel Jacopo. “Hy het vir Rafaella beïnvloed om ook medies te gaan studeer.”

“A, ’n kankerspesialis,” sê Giulio. “My pa is dood aan keelkanker. Sy keel moes baie druk verduur met die singery. Ek het in ’n stadium gewonder of ek in daardie rigting moet studeer, maar uiteindelik het ek besluit dat chirurgie en die algemene praktyk my beter pas.”

Terwyl haar pa hul eerste drankies skink, gaan haal Rafaella die voorgereg, bordjies en servette. Sy bied dit vir die mense aan, wag eers dat Giulio een broodjie eet en sy mond en vingers netjies met die servetjie afvee voordat sy begin gesels.

“Sing jy ook?”

Hy glimlag. “Ek is darem nootvas, maar ek sou myself geensins in dieselfde klas as my pa en broer plaas nie.”

“Eintlik sing Giulio ook baie mooi, maar hy het verkies om dokter te word,” sê Louisa. “My seuns is albei musikaal en speel verskeie instrumente. Ek self speel die harp.”

“Ag, Mamma, ek het nou nie soveel talent soos Luigi gekry nie. Ek aard beter in wat ek nou doen.”

Louisa is duidelik trots. “Hierdie kind van my het van kleins af siek diere versorg en gesê hy wil mense gesondmaak. Op ons dorp, Cortona, het hulle groot respek vir hom.”

Giulio kyk na Rafaella. “My droom is om op ons landgoed buite Cortona ’n rusoord te begin. Nie juis vir teringlyers of siekes nie, maar vir allerlei mense wat van siekte moet herstel, of wat sommer net uitgebrand is van oorwerk en wat wil rus. Ons gaan ’n nuwe gebou agter ons villa oprig vir die rusoord. Die landgoed is groot en die landelike omgewing sal sulke mense goed doen.”

Rafaella voel onder sy donker oë asof sy onder ’n kollig is, maar sy reageer bedaard. “Dit klink na ’n uitstekende idee.”

“Ek sal natuurlik personeel moet aanstel en fasiliteite inrig.”

“Gaan jy mediese personeel aanstel?” vra sy.

“Nee, nie by die oord nie. Ons gesondheidswette bepaal dat mense wat mediese sorg nodig het, dit by staatshospitale moet kry. By ons sal mense net kom rus en ontspan. Ek sal hulle verwys, indien nodig.”

Later luister Rafaella hoe Giulio en haar pa Suid-Afrikaanse en Italiaanse wyne vergelyk, en sy kan die dokter lekker dophou. Hy straal iets uit, iets wat sy nog nie by enigiemand anders ervaar het nie. Is dit liefde wat begin ontwaak? Sy sal ’n gek wees as sy val vir dié aantreklike, selfversekerde man wat na sy eie wêreld gaan terugkeer en nie eens aan haar sal terugdink nie. Vir wéér seerkry ná haar onlangse liefdesteleurstelling sien sy beslis nie kans nie. André was ook ouer as sy, een van haar dosente, aangehang deur al die meisies. Haar hoop op geluk met so ’n gesogte man is sommer gou verydel toe sy agterkom sy is nie al een aan wie hy beloftes maak nie. Sy kon darem betyds uit dié hopelose situasie vlug.

Jwana kom kondig aan dat hulle kan aansit vir ete. Rafaella se ma laat haar langs Giulio plaasneem. Dit sou sekerlik die soort skoonseun wees wat Rachel sou kies, maar Giulio is bloot ’n skip wat in die nag verbyvaar. Haar ma het nie van André gehou nie en het beweer dat sy van die begin af regdeur hom gesien het.

Tussen die heerlike ete deur gesels Rafaella se ouers en Louisa oor opera. Giulio is stil en luister sonder kommentaar na die gesprek. Rafaella luister ook maar en hou hom diskreet, so hoop sy, dop.

Louisa se kennis van opera is verstommend. “Luigi het onder meer al in operahuise in Wene, Londen, New York, Parys en Boedapest gesing,” vertel sy trots. “Die operahuise waartoe almal aspireer, is natuurlik die Weense Opera en La Scala. Luigi voel hy het nou regtig gearriveer omdat hy in La Scala gaan sing. Julle moet net hoor hoe sing hy “Nessun dorma”. Net so mooi, indien nie mooier nie, as Pavarotti.”

“Mamma, jy spog vreeslik!” Giulio glimlag vir haar, halfberispend, maar liefdevol.

“Wel, ek is trots op my twee seuns. Julle weet, my man, Francesco, kom uit ’n vooraanstaande maar verarmde familie. Hulle het ’n groot naam, maar sy ma het gesukkel ná sy pa se dood en Francesco was nog klein, toe moet sy die landgoed waarop hulle gewoon het, La Renza, buite Cortona, verkoop. Gelukkig het Francesco genoeg geld verdien met sy sang dat hy dit kon terugkoop, en ons woon steeds daar. Hy kon ook vir ons ’n dakwoonstel in Milaan koop. Luigi het weer vir hom woonstelle in New York en Parys gekry. As ’n mens by operahuise in verskeie stede sing, is dit gerieflik om jou eie plek daar te hê. Soms gaan ons saam en bly by hom. Nie dat Giulio dít dikwels kan doen nie. Hy is te besig met sy praktyk.”

Rafaella wonder oor dié singende broer. Giulio lyk nie afgunstig op die skynbare reusesukses van sy broer nie. Sou Luigi so aantreklik wees soos hy?

Hulle sluit die ete af met tiramisu, Rachel se spesialiteit, en Rafaella let op dat Giulio daaraan smul.

“Kan jý dit ook so lekker maak?” vra hy haar, sy ernstige oë skielik vonkelend.

“Ek weet nie. My ma is die beste kok in die wêreld. Ek het nog heelwat om by haar te leer.” Waarom bloos sy tog nou? Sy’s sommer vies vir haarself. Enige aandag van sy kant af laat haar regop spring soos ’n meerkat!

“Ek en die familie het van my vrou ’n goeie Italiaanse mamma gemaak,” lag Jacopo. “Sy kook net so goed soos my oorlede moeder en sy praat vlot Italiaans, soos julle hoor.”

Almal lag, maar Rafaella kyk na Giulio se egalige, spierwit tande en sug innerlik. Waar gaan sy ooit weer ’n man teëkom wat so uitsonderlik is? Binnekort gaan hy weg wees en slegs ’n herinnering word.

Hartklop Omnibus 4

Подняться наверх