Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 15

12

Оглавление

Die Sondag is veronderstel om ’n luilekker dag te wees. Almal slaap laat. Rafaella en haar ouers gaan eet saam ontbyt, maar die ander mense is nog nie daar nie. Sy stap na die nuwe gebou om die tyd om te kry. Daar is nie bouers op die rusdag nie en sy gaan binne.

Iemand kom by ’n binnedeur uit en sy skrik. Dit is Giulio. Haar hart gaan wild aan die bons.

“Hallo, wat doen jy hier?” vra hy glimlaggend.

“Ag, ek verwyl die tyd. Kom kyk hoe ver die mense gevorder het sedert ek laas hier kom kyk het.”

“Kom kyk na die nuwe suites, ek hou hulle nou gesluit. Alles is uiteindelik daar klaar. Die mense werk nog net aan die kombuis en die binnenshuise swembad.”

Sy volg hom en hy wys haar die een weelderige kamer met en suite-badkamer ná die ander. Sy vermoed verblyf hier gaan allesbehalwe ’n appel en ’n ei kos.

“Wat dink jy daarvan?” vra hy.

“Baie mooi en uiters gerieflik. Gaste sal alte heerlik hier bly.” Haar stem kom heserig uit, want hy staan so naby aan haar dat dit voel asof haar vel elektries reageer.

Hy gaan staan direk voor haar. Sy kyk op in sy oë, haar hele lyf gespanne, wagtend.

Sy een hand vou warm om haar wang. Sy gesig kom nader. Haar mond gaan onwillekeurig effens oop. “Ek is so bly jy het hierheen gekom, dat jy dit ook kon sien. Gister was so lekker saam met jou. Ek het lanklaas ’n uitstappie met iemand so geniet. Jy is in alle opsigte …”

Die skril gefluit van sy selfoon laat haar wip van die skrik en hy trek terug, sug en haal sy selfoon uit sy sak. Die toweroomblik is gebreek, dink sy spytig. Hy wou iets oor haar sê. Wat was dit?

“Ja, Violetta? Jy bel vroeg op ’n Sondag. Hoe gaan dit daar?” Sy stem is lig, tergend.

Rafaella draai weg, wil nie hê hy moet sien sy sterf van nuuskierigheid om te hoor wat Violetta vir hom sê nie.

“Ek is besig om die nuwe gebou te bekyk … ek en Rafaella.”

Rafaella hoor die opgewonde gepiep van die vrouestem, maar kan nie uitmaak wat sy sê nie. Sy beweeg verder weg en wag, probeer onbetrokke lyk.

“Liewe hemel, Violetta, sy is ons gas en ’n dokter. Waarom moet ek nie vir haar wys wat ons hier beoog nie? Kalmeer asseblief.” Sy stem word streng. “Ek laat nie vir my voorskryf nie. Jy gedra jou soos ’n jaloerse bakvissie.”

Weer hoor Rafaella die gepiep van die stem. Hy is darem baie streng met Violetta, hoe lekker kry sy nou!

“Moet om vadersnaam nie huil nie! Dis onnodig … jy kan enige tyd weer kom kuier … ciao, Violetta.”

Rafaella is verleë, ongemaklik. “Is iets verkeerd?”

Giulio sit sy selfoon terug in sy sak en sug. “Iets is seker verkeerd as Violetta so jaloers is as ek jou rondwys, dat sy begin grens. Sy wil my met trane manipuleer, maar sy gaan dit nie regkry nie. Vanessa het ook so probeer maak, tot haar skade.”

“Jy is hardvogtig. Hulle is … was … tog lief vir jou.”

Sy staan met haar rug teen die muur en hy kom staan voor haar. Druk met sy hande teen die muur weerskante van haar kop. Sy word gedwing om op te kyk in sy oë en voel haarself liggies bewe.

“Ek is moeg vir vroumense wat rasend word van jaloesie,” sê hy sag, bykans sissend. “Ek is moeg vir vroumense wat oorreageer en verwag ek moet soos Maria se skoothondjie agter hulle aanloop. Ek verkies ’n vrou wat op haar eie voete kan staan en wat beheers is, soos my Engelse ma. Ons Italianers is gans te opvlieënd en emosioneel.”

“O?” vra Rafaella floutjies, want sy mond is darem baie naby hare. Sy voel sy asem op haar gesig en maak amper haar oë toe in afwagting van ’n soen.

“Die probleem met jou is dat jy te mooi is.” Sy mond raak-raak aan hare. “Te verleidelik. Ander vroumense vrees jou en my broer is gek na jou. Jy is nie goeie nuus nie.”

“Dan moet jy my liewer uitlos,” kry sy uit.

Sy mond sluit egter oor hare en sy arms gaan om haar lyf en druk haar styf teen hom vas. Eers probeer sy haar teësit, maar naderhand smelt sy en soen met oorgawe terug.

Toe hy haar los, is sy uitasem.

“Ek het myself belowe ek kompeteer nie weer met Luigi vir enige vroumens se aandag nie,” sê hy sag.

“W … waarom soen jy my dan?”

“Sodat Violetta regtig iets kan hê om oor jaloers te raak,” spot hy.

Rafaella ruk los uit sy omhelsing. “Jy is nou net so kinderagtig soos jou broer. En ek het gedink jy ag my darem min of meer jou gelyke, nie iemand veerlig en oppervlakkig nie. Jy kan nie met my speel nie, Giulio. Jy en jou broer kan wat my betref albei gaan vlieg! Dit lyk asof julle albei soveel van julleself dink, en oortuig is dat julle so mooi en gesog is, so ’n gawe vir die vrouegeslag, dat almal net voor julle voete moet val. Wel, los my uit. Ek gaan nie val nie.”

Woedend, verneder, storm sy by hom verby.

“Rafaella! Wag! Ek het dit nie so bedoel nie,” hoor sy agter haar, maar sy draai nie om nie en stop nie.

Hy probeer nie weer om haar te keer nie. Trane brand in haar keel. Nou moet sy net in haar kamer kom sodat niemand kan sien hoe ontsteld sy is nie.

Sy is só ontnugter. Sy het Giulio bewonder. Gedink hy is verhewe. En toe is hy eintlik maar net soos Luigi.

Rafaella gaan eers weer uit net voor ete, want sy weet hulle gaan almal op die terras onder die groot kastaiingboom byeenkom om aperitiewe te drink en te eet. Eers maak sy seker dat daar geen spoor van trane op haar gesig te bespeur is nie en dat sy koel en rustig lyk. Sy borsel haar hare uit en smeer liggies lipstiffie aan.

Almal is al daar toe sy oor die terras stap. Die hondjie Verdi hol na haar en spring teen haar op. Sy buk en tel die dingetjie op, troetel hom. Dit help nogal dat sy nie selfbewus onder al die blikke, veral dié van Giulio, naderstap nie.

Hy is besig om haar met geskreefde oë te bekyk, asof hy vir haar kwaad is. Ja, sy ego is seker net so groot soos sy broer s’n. Hy steek dit net beter weg. As ’n vrou hom verneder, dra hy ’n wrok. Die Italianers is bekend daarvoor dat hulle wrokke dra en vetes jare lank aan die gang hou. Prinse en die aristokrasie het mekaar eeue lank uitgedelg voordat Italië ’n eenheid gevorm het. Hy en sy broer gedra hulle juis soos Renaissance-prinse. Wel, nou weet hy presies waar hy met haar staan. Sy het haar trots en sy laat háár nie manipuleer nie.

Luigi is die een wat naderstaan en vir haar ’n drankie gee. “Jy lyk mooi in jou roomkleurige uitrusting,” komplimenteer hy.

Sy sit Verdi neer. “Dankie.” Liewe hemel, Maria gluur haar ook aan. Wat is dit met dié mense? Is dit dan vir hulle moeilik om in vrede te lewe?

Sy gaan sit langs haar ma. “Hoe voel Mamma vandag?”

“Ek voel goed, dankie, my lief. Wat het jy heeloggend gedoen?”

“O, rondgeloop en toe weer kamer toe gegaan om my boek klaar te lees.”

Sy sien Giulio kyk na haar. Hoor haar geselsies. Hy praat met niemand.

Die lang tafel is fleurig gedek. Die personeel kom uit met bakke kos.

“Kom ons sit aan, mense,” roep Louisa. “Sit net waar julle wil.”

Toe Rafaella weer sien, sit die broers weerskante van haar. Hier is sy tussen die hamer en aambeeld, dink sy, aanvanklik benoud. Maar dan: Nee, sy gaan haar nie deur dié twee egoïste laat onderkry nie. Sy is ’n sterk vrou!

Luigi gee ’n bak antipasti aan en sy skep vir haar. “Wil jy nie graag een van die dae Rome toe gaan nie?” vra hy. “Ons kan ’n plan maak.”

“Dis ’n bietjie ver, ek wil nie nou so ver weg gaan nie.”

“Sy wil eerder Florence toe gaan,” hoor sy Giulio stuurs sê. Hy kyk nie na haar nie, maar eet sy kos onbelangstellend.

“Goed, eers Florence, dan Rome, dan miskien Venesië,” grinnik Luigi. “Om jou onthalwe sal ek alles weer gaan sien.”

“Maar die mense herken jou dan en storm op jou af. Ek kan nie sien hoe jy sommer in die publiek kan rondreis nie.”

Hy sug teatraal. “Dis waar, maar ek is mans genoeg.”

“Ek weet nie of jy dit moet waag nie, caro,” kom Maria se skerp stem van sy ander kant af. “Jy is werklik nou te bekend.”

Rafaella voel meteens Giulio se voet teen hare. Sy kyk hom tersluiks aan, haar hele lyf tintelend.

“Ek vra om verskoning dat ek my vroeër soos ’n idioot gedra het,” fluister hy. “Jy is die laaste vrou wat ek sou geringskat of mee speel.”

Soos water op droë, dors grond sink dit by haar in dat hy probeer vergoed. Sy knik, aansienlik getroos. Hy is sekerlik nie regtig soos sy broer nie. Sy het dit gewéét!

Hy neem ook nie sy voet weg nie, maar hou dit lank teen hare. Verbeel sy haar of sit hy sommer ook nader? Hy gee vir haar bakke kos aan en hulle hande raak. Hy is naby. Haar hart is geheel en al oorstuur.

Die ete duur tot diep in die middag. Almal het baie geëet en heelwat wyn gedrink en word lui. Rafaella se ouers verskoon hulle vir ’n middagslapie. Louisa doen dieselfde en die teruggetrokke Mimi gaan ook in met die hondjie.

Sou dit nie wonderlik gewees het om saam met Giulio iewers te kon gaan rus nie, dink Rafaella. Om in sy arms te lê. Maria is besig om swaar op Luigi se skouer te leun, vryerig, koketterig.

“Kom ons gaan lê bietjie, caro,” nooi sy heserig.

“Nie nou al nie, Maria.”

Hy skink uit ’n halfbottel nog eers vir hom ’n vol glas wyn en drink dit tydsaam uit. Giulio staan op en gee Rafaella sy hand, trek haar op. “Kom ons gaan lê daar anderkant op die lêstoele. Hierdie swaar middagetes maak ’n mens so vaak.”

Sy loop verheug langs hom, gaan lê op ’n stoel, haar bene uitgestrek. Hy trek sy stoel nader, tot byna teenaan hare, en gaan lê. Sy hand skiet uit en druk hare. Sy druk terug. Maar hy neem weer sy hand weg, vou sy hande oor sy maag, sug en lyk asof hy aan die slaap raak.

Liewe hemel, dis nou nie baie romanties nie, dink sy verontwaardig. En dit ná die oggend se drama.

Luigi sit buierig en drink by Maria, sien sy. Naderhand staan hy op en hulle loop huiswaarts. Maria hang swaar aan sy arm. Rafaella wil nie eens dink aan wat hulle nou gaan doen nie. Sy en Giulio bly alleen agter, behalwe dat die bediendes uitkom en vinnig die tafel opruim.

Rafaella kyk om haar rond. Kyk na Giulio wat blykbaar slaap. So rustig, asof niks hom pla nie. Sy wens sy kan aan hom vat, maar hou haar in. Sy kan net kyk na die mooi gesig, die blou van die baard onder sy soel vel, die lenige lyf. Enige toenadering moet van hom af kom. Sy gaan haar nie blootstel ná wat hy vanoggend gesê het nie, al hét hy om verskoning gevra.

Toe dit stil word en hulle weer alleen is, maak hy sy oë oop.

“Ek is gewoond daaraan om power naps te vat,” grap hy. “Dan is ’n mens weer helder wakker. Is jy moeg, of wil jy gaan stap tot daar by die bruggie oor die rivier?”

“Ek wil gaan stap.”

Hy staan op, help haar op en hou haar hand vas terwyl hulle voor die terrasse verbystap na die pad. Hy neurie ’n deuntjie en sy praat nie, te tevrede vir woorde. Hulle het al ’n ent ver gestap voordat hy haar vra wat sy besluit het oor haar verdere studie.

“Ek het nog nie besluit nie. Miskien sal ek tydens die vakansie helderheid kry, of as ek weer met Aldo gesels het. Of miskien moet ek net weer iewers gaan werk en dit eers later doen.”

Hy verwys nie weer daarna nie. Hulle gesels oor alles en nog wat. Sy geniet dit intens om hand aan hand met hom te loop, maar wens hy wil haar weer soen.

Toe hulle by die huis terug is, sê hy vir haar: “Wat ek vanoggend gesê het, is waar. Ek gaan nie weer met my broer wedywer om ’n vrou se hand nie. Hy het my vertel dat jy hom hoop gegee het.”

Sy vererg haar. “Hoop? Watse hoop? Die man het ’n vuurwarm verbeelding.”

Giulio kyk haar egter net skepties aan, asof hy nie kan glo dat enige vrou sy broer werklik kan weerstaan nie.

“Ek het werk om te doen,” sê hy. “Verskoon my, asseblief. Ek sien jou later.”

Sy gaan verdwaas na haar kamer, oortuig dat Giulio haar net vir ’n hand-aan-hand-stappie geneem het om haar as hul huisgas te vermaak. Sodat sy darem nie moet kwaad bly nie. Hy staan gans te gewillig terug vir sy broer! Dalk is hy eintlik net bang om hom te verbind en gebruik hy al die tyd sy broer as verskoning?

Sy was nog nooit so afgehaal nie.

Die Maandag bring Giulio ’n koerant huis toe en wys dit vir almal.

“Die geel pers het ’n storie uitgesnuffel,” spot hy wrang.

Rafaella bloos bloedrooi toe sy die opskrif sien: “Wie is Luigi di Mareneschi se blondine?”

En daar is sowaar ’n foto van haar, met Luigi se arm om haar skouers, op Arezzo se Piazza Grande.

Luigi lag, lyk ingenome. Ja, jy het dit met opset gedoen om Giulio af te sit, dink Rafaella verontwaardig. Maria lyk kwaad. Al die ander lyk effe verbyster.

“Praat nou van ’n storie probeer vind waar daar nie een is nie,” sê Rafaella hard en beslis.

Sy wil regtig nie hê enigeen moet onder ’n wanindruk geplaas word nie. Hopelik sal Giulio die berig as verspotte verdagmakery beskou. Al sê sy wat, vrees sy, gaan hy hom egter deur die “kompetisie” laat afsit. En dalk dink hy ook nog: the lady doth protest too much.

Rafaella sien Giulio die volgende dag en aand glad nie en bekommer haar dood oor sy reaksie op die foto. Sy sien wel die aand vir Louisa voordat haar ouers en die ander voor ete bymekaarkom.

“Ek hoop nie daardie simpele foto in die koerant het julle te veel in die verleentheid gestel nie,” sê sy, eintlik om te vis oor Giulio.

Louisa frons. “Nie vir my nie, ook nie vir Luigi nie. Maria is wel vies daaroor en Giulio ook.”

“Is Giulio regtig vies?” hou Rafaella haar dom, maar met ’n sinkende gevoel in haar maag.

“Rafaella, moenie dink ek het nie raakgesien in hoe ’n mate albei my seuns in jou belangstel nie. Jy weet van Vanessa. Luigi het haar onopsetlik by Giulio afgevry. Dis wat hy in elk geval beweer. Giulio sê hy probeer homself verniet verontskuldig, want hy het gesien hoe Luigi uit sy pad gaan om haar te sjarmeer. Dit het kwade gevoelens tussen hulle veroorsaak. Hulle het ’n jaar lank nie met mekaar gepraat nie. Eers nadat ek baie gesmeek het, het hulle versoen geraak. Ek sien my kinders se foute raak, al is ek baie lief vir hulle. Luigi se talente het gemaak dat hy bederf is. Hy is ongelukkig ydel, vreeslik trots en maklik gekrenk. ’n Regte Italianer. In die ou dae sou hy tweegevegte geveg het. Tog is sy hart baie goed. Hy is een van die vrygewigste mense wat daar is. Eintlik ’n bietjie spandabel, soos sy oorlede pa. Lief vir hul luukshede. Giulio is ewe trots, maar hy is meer verdraagsaam én meer verstandig. Meer geneig om albei kante van ’n saak in te sien. As dit by die liefde kom, is mans egter nie so verdraagsaam nie. Giulio kan sien dat Luigi jou wil hê en ek weet dit maak hom kwaad. Hy dink nie Luigi en jy pas bymekaar nie. Daar het jy dit. Jou goeie oordeel en verstand sal die deurslag moet gee.”

“Ek weet nie wat om te sê nie, signora. Dis nie asof enigiets regtig tot ’n punt gekom het nie. Ons is almal net oppervlakkig vriende.”

Louisa sug. “Ag, soms wens ek albei van hulle was al veilig getroud, en tog … is getroud-wees regtig veilig? Mense skei deesdae so maklik, loop so maklik rond. In ons dae het jy uitgehou, vergewe en probeer vergeet. Vroue het hulle blind gehou vir hul mans se verhoudings met ander vroue. En die vroumense kán tog so agter Luigi aanloop. Die Italianers is warmbloedig … ag, ekskuus, jy is tog ook Italiaans …”

“Half-Italiaans,” korrigeer Rafaella. “Mamma is Afrikaans. Ons warm bloed is seker verdun.” Sy glimlag vir Louisa, wat haar kop skud en ook glimlag.

“Wat ook al, ek dag net jy moet weet dat ek verstaan wat aangaan.”

“Ek sal baie versigtig wees,” belowe Rafaella. “Ek wil niemand seermaak of te na kom nie.”

As Luigi terug is in sy glanswêreld, besig om te repeteer, verloor hy dalk belangstelling in haar. Dan is die saak opgelos, só moet sy maar hoop.

Want as Giulio se ma dink hy stel werklik in haar belang, dan moet dit tog so wees, al hou hy hom so koel en blasé? Nou is die tyd vir hoop kry, Rafaella! sê sy vir haarself. Sy moet kophou en uithou.

Hartklop Omnibus 4

Подняться наверх