Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 6
3
ОглавлениеRafaella is nog skaars wakker toe haar pa stilletjies by haar kamer inkom.
“Oupa Pietro is in sy slaap oorlede.” Sy stem is hees van hartseer.
“Ag nee, Papà!”
Sy spring uit die bed en omhels haar pa. “Ek het ’n voorgevoel gehad hy gaan nie meer lank hou nie. Toe ons by die gedenkdiens was, het ek gedink hy sê vir oulaas totsiens. Nou is ek baie bly ons het hom geneem.”
Was dit nie vir haar oupa wat Zonderwater toe wou gaan nie, het sy Giulio di Mareneschi ook nooit ontmoet nie.
Die volgende week is vol begrafnisreëlings. Aldo laat tot hul ontsteltenis uit die Kaap weet dat hy dit nie sal kan bywoon nie, want hy het die ergste griep in jare opgedoen.
Rafaella is baie hartseer by die diens. Sy was so lief vir haar oupa en hy het voor hul oë weggekwyn. Al het hulle gereeld gekuier, soveel na hom omgesien soos hulle kon, was hy maar nie dieselfde ná sy vrou se dood nie. Hy wou nie by haar ouers aan huis bly om ’n las van homself te maak nie, het hy gesê, en homself geleidelik onttrek. Die dag by Zonderwater was ’n buitengewone oplewing.
Hulle is nog aan die rou toe die volgende ramp hulle tref.
“Rafaella, ek wou nie ’n ophef oor niks maak nie, maar ek dink daar is ’n knop in my bors.”
Rafaella skrik vir haar ma se bleek, strak gesig.
“Ag hemel, is Mamma seker?”
“Doodseker, teen dié tyd. Ek het nog nie vir jou pa vertel nie. Dit sal hom onnodig ontstel. Ek wou eers hoor wat jý sê.”
Rafaella probeer klinies onbetrokke wees, voel of sy ook die knop kry. Ja, dit is onmiskenbaar.
“Dis glad nie noodwendig kwaadaardig nie,” paai sy. “Dis nie te sê dis kanker nie.” Hoe wens sy Aldo was nou hier, met sy groter kennis. “Die meeste sulke dinge is op die ou end nie kanker nie. Ons hoop dis ’n fibroadenoom. Die eerste ding wat ons moet doen, is om vir Mamma ’n biopsie te laat kry. Ek sal dit dadelik reël.”
“Hoe dankbaar is ek nou dat my dogter ’n dokter is.”
Rafaella kry trane in haar oë en omhels haar ma. Dis ’n geweldige skok, maar sy wil nie haar ma nog banger maak met ’n gehuilery nie. Eers as hulle die toetsuitslae het, kan hulle die volgende brug oorsteek. Sy sal dokter Ngwenya vra of sy nog by die Masondo-hospitaal kan aanbly. In so ’n tyd kan sy mos nie weggaan nie.
“Ek gaan elke tree van die pad hier by Mamma wees.”
Snaaks hoe so ’n krisis alle ander oorwegings sekondêr en onbelangrik maak. ’n Dokter dink mos dit gebeur met ánder mense, met pasiënte. Jy sien siekte meestal objektief.
Haar ma was altyd blakend gesond. Hulle hele gesin is nog altyd geseën met goeie gesondheid en stamina. Sy moet net dadelik vir Aldo laat weet.
“Aldo, moenie skrik nie, maar daar is ’n knop in Mamma se bors.”
Rafaella hoor hoe haar broer sy asem geskok intrek. Toe sy hom verseker het dat sy die knop self kon voel, begin hy dadelik planne maak.
“Oukei, ek vlieg op. Gelukkig is dit al Desembervakansie en die studente is klaar met eksamens. Ek sou in elk geval binnekort vir Kersfees gekom het. Ek sal Mamma na dokter Justus Havenga neem. Ek en hy het saam gespesialiseer. Ek was nou eintlik van plan om vir René saam te bring om haar aan julle voor te stel. Ek dink aan verloof raak.”
“Wat? Ons weet dan niks van haar af nie!”
“Nee, ek weet, dit het ’n bietjie vinnig gegaan. Sy is ’n teatersuster en ek het haar onlangs ontmoet. Sy is fantásties, my sus. Jy gaan van haar hou. Ek hoop in elk geval so. Sy is mooi en intelligent, sommer alles wat sy moet wees. Maar nou dink ek ek moet haar eerder later bring. Laat ek eers Mamma se krisis hanteer.”
Rafaella sug van verligting. “Dankie tog. Ek wou weggaan, maar nou sal ek vir eers by Masondo aanbly, totdat ek gerus is oor Mamma, of …” Sy sluk haar woorde. Amper het sy gesê “dat ek niks kan verander deur te bly nie”. Meteens wil sy huil, en snuif hard.
“Moenie huil nie, sus. Ons sal die wa deur die drif trek,” kom Aldo se troos. Hy wat so goed weet wat die verloop van kanker is. Hoe dit so dikwels ’n uitgestelde doodsvonnis is.
“Hoe gou kan jy hier wees?”
“Seker al teen oormôre. Hou jy en Pa nou net moed. Kan ek gou met Mamma praat? Ek moet haar probeer gerusstel.”
“Het Aldo verduidelik wat hulle tydens die biopsie gaan doen?” vra Rafaella haar ma.
“So half en half. Hy sê hy sal meer volledig verduidelik wat al die moontlikhede is as hy hier aankom. Ek is só bly hy kom.”
Rachel sit verwese op die rand van die dubbelbed in haar nagklere en japon. Vanaand is Jacopo by ’n vergadering van ’n gespreksgroep. Rafaella weet dat hulle die nuus sal moet bekend maak sodra hy terug is.
Rafaella gaan sit langs haar ma en neem haar hand. “Ons kry die beste spesialis moontlik om na Mamma te kyk – dokter Justus Havenga, het Aldo gesê.”
Rachel sug sidderend. “Ag my kind, jammer dat ek nou so ’n ou papbroek is. Dis net dat ek nooit juis siek was nie. Vertel jý maar vir my wat hulle alles by die biopsie gaan doen sodat ek my kan voorberei.”
“Dit word gewoonlik onder plaaslike verdowing gedoen, Mamma. Maar ons sal Mamma aan die slaap maak om dit minder erg te maak. Die chirurg maak ’n klein snytjie so naby aan die knop as moontlik, en verwyder ’n klein stukkie weefsel, wat getoets sal word. As die knop baie klein is, haal hy sommer die hele ding uit. Dit behoort nie langer as ’n uur te duur nie. Maar Aldo sal alles weer verduidelik.”
“Dankie, my liefling, dat jy my so bystaan. Dis ’n groot troos. O … daar hoor ek Papà se motor.” Sy kyk verskrik na Rafaella. “Kom ons gaan vertel hom maar.”
Hand aan hand loop hulle na die voorportaal. Die motorhuisdeur kraak toe en die deur daarvandaan gaan oop. Jacopo kom al fluitende in, aktetas in die hand. Hy gaan staan stokstil en kyk fronsend na hulle.
“En nou? Wat lyk julle twee so verskrik? Wat het gebeur?”
Rafaella los haar ma se hand sodat haar ma haar pa kan gaan omhels. Hy kyk bekommerd oor Rachel se skouer na Rafaella.
“Kom ons gaan sit in die sitkamer, dan vertel ons vir Papà,” stel sy voor.
Jacopo is papierbleek geskok ná die nuus. Hy sit op die bank met sy arm om sy vrou, wat nou kalm is, maar ewe bleek.
“Dankie tog ons het twee kinders wat medies gaan swot het,” prewel hy. “Nou kan hulle jou darem help, cara.”
“Aldo is binne twee dae hier,” sê Rafaella. “Mamma moet maar net geduldig wag, dan sal hy alles kom hanteer.”
Rachel sug bewerig en leun haar kop teen haar man se skouer. Rafaella weet maar alte goed dat dit Job se geduld gaan verg om te wag. Dit gaan twee swaar dae wees.
* * *
Aldo kom twee aande later daar aan in sy huurmotor, met ’n groot tas wat wys dat hy nie beplan om gou na sy Kaapse tuiste terug te keer nie. Al drie wag hom by die voordeur in. Rafaella kyk met trane wat vlak lê hoe haar ma hom om die hals val en hoe mooi hy met haar praat. Aldo word vroeg kaalkop, nes sy pa, maar hy is steeds lenig en aantreklik. Haar beste, liefste broer, met sy uitstekende mensvaardighede.
Met sy arm om sy ma en sy ander hand wat sy tas sleep, kom hy nader. Die glimlag waarmee hy Jacopo en Rafaella groet, is baie geforseerd. Rafaella weet dat hy diep bekommerd is. Hy weet te veel van kanker om enige tekens ligtelik op te neem.
“Ai, lekker om julle weer te sien,” sê hy, los sy tas maar nie sy ma nie, en soen hulle om die beurt.
“Ons het jou gunstelingeetgoed gemaak. Ons kan alles bespreek terwyl ons eet,” sê Rafaella met valse vrolikheid. Heeltyd dink sy dat swaarmoedigheid van haar kant haar arme ma net somberder sal laat voel, en sy probeer hard om almal op te beur. Tot dusver tevergeefs.
Sy en haar pa skink drankies terwyl haar ma Aldo na sy slaapkamer vergesel. Hulle hoor hoe hy gemaak-vrolik hard praat en sê dat hy vinnig gaan opfris, dat hy verlang het en dat hulle baie het om oor te praat. Rachel se moeë voetstappe klink in die gang en gaan na die kombuis. Rafaella vermoed sy gaan trane afvee waar hulle dit nie kan sien nie.
“Ag, árme Mamma,” sug sy.
Haar pa knik, sy gesig stroef. Hulle wag in stilte en luister na die opera-CD wat Jacopo onlangs gekoop het. Luigi di Mareneschi sing saam met ’n sopraan. Die pragtige klanke van die lied uit La Bohème laat Rafaella net nog treuriger voel. Natuurlik moet sy ook al weer aan Giulio dink, met hopelose, sentimentele verlange. En vies vir haarself dat sy selfs in hierdie tyd so aan hom bly dink. Wanneer sal sy hom ooit weer sien? Nou kan sy ook nie Italië toe gaan nie. Sy wens sy kon hul leed deel met dié man wat self ’n ouer aan kanker verloor het. ’n Man wat ook ’n geneesheer is en wat sal weet hoe hulpeloos jy ten spyte van jou kennis voel.
Aldo kom in en lyk verfris. “Wie sing daar?” vra hy. “Dis een van die mooiste tenoorstemme wat ek nog gehoor het.”
“Dis Luigi di Mareneschi, wie se mense ons onlangs ontmoet het toe hulle na die gedenkdiens by Zonderwater gekom het,” vertel Jacopo. “Die seun van die groot bariton Francesco di Mareneschi.”
Aldo gaan sit swaar in ’n leunstoel. “Ek ken die bariton, ja. Ek moet sê, die seun is net so talentvol soos die pa. Sing Francesco nog? Hy kan nie meer so jonk wees nie.”
“Nee, hy is onlangs dood. Aan keelkanker,” sê Jacopo stroef.
Die woord maak hulle almal ’n rukkie heeltemal stil. Aldo vra verder uit oor die Di Mareneschi’s. Rafaella vertel met smaak.
“Giulio wil ’n rusoord op hul landgoed begin. Hy is seker al besig om sy planne uit te voer, hy was vasbeslote.”
Sy sien Aldo kyk haar ondersoekend, agterdogtig, aan, en sy bloos warm. Wat hoor hy tog in haar stemtoon? Kan sy dan níks wegsteek nie?
“Dié Giulio klink na ’n agtermekaar kêrel,” merk Aldo droog op.
“Dít is hy gewis,” sê Jacopo. “Kom ek skink vir ons wyn. Dit sal ons goed doen.”
Aan tafel heers die intimiteit van ’n hegte gesin in ’n verdrukking wat hulle saam moet deurleef. Aldo smul aan sy ma se heerlike kos, maar dit lyk tog vir Rafaella asof hy dit ’n bietjie oordryf om Rachel te troos.
“Ek het reeds alles met Justus Havenga gereël,” sê hy toe hulle by die tiramisu-nagereg trek. “Môreoggend om tienuur het ek en Mamma ’n afspraak by hom. Hy het sy spreekkamer by die kliniek en die biopsie word sommer daar gedoen. Hy’t vir ons ’n chirurg gekry, een van die bestes, Erik Taljaard.”
“Ek kom saam,” sê Jacopo. “Dis vakansie, die eksamens is verby. Ek is heeltyd tot jou ma se beskikking.”
“As Papà wil.”
Rafaella sou ook graag wou gaan, maar al vier van hulle is darem te veel. Sy sal eerder gaan werk.
Rafaella kom by die huis en tref haar mense met koffie in die sitkamer aan. Sy staal haar om die uitslag van die toetse te hoor. Haar ma lyk heeltemal verwese, haar pa probeer verbete dapper wees en Aldo het ’n sombere saaklikheid.
“Kom sit, sus,” sê Aldo.
Haar ma vra sag of sy wil koffie hê en skink vir haar. Sy neem die koppie en sluk dit so vinnig af dat dit haar keel brand. Sy sit die koppie en piering rinkelend neer, en kyk gespanne na Aldo.
“Mamma het ’n fillodetumor in haar linkerbors,” sê Aldo in sy dokterstem. Rafaella haat dit! “Dit is ’n snelgroeiende massa wat in die periduktale stromale selle van die bors vorm en minder as een persent van bors-neoplasma uitmaak. Dit kán niekwaadaardig wees, maar in dié geval is dit grensgeval-kwaadaardig. Alle vorme van fillodetumors word as kanker beskou, want selfs die niekwaadaardige soort het kwaadaardige potensiaal. Dit groei baie vinnig en moet dadelik verwyder word.”
“En die beste behandeling daarná is …?” vra Rafaella deur lippe wat styf geword het van skrik.
“Chemoterapie en bestraling word nie as effektief beskou nie, dus is chirurgie die enigste behandeling,” sê Aldo. Hy kyk na sy hande, en weer op na Rafaella. “Justus en ek is dit eens dat ’n volledige mastektomie meer effektief sal wees as gedeeltelike verwydering.”
Rafaella kyk vlugtig na haar ma, wat styf teen haar pa sit en net een keer saggies snuif. Hulle lyk albei asof hulle trane inhou.
“Volledig?” vra sy. Hoe moet haar arme ma, enige vrou, voel by die vooruitsig dat haar hele bors afgesit moet word?
Aldo se oë blink verdag en sy sien hy sluk. Klinies korrek kan hy nie wees as sy ma die een is wat met die gevreesde siekte moet worstel nie.
“Wye chirurgiese eksisie verseker nie dat daar nie vrye rande sal oorbly nie. Mastektomie is veiliger.” Aldo druk-druk aan een oog.
Rafaella staan op en gaan druk haar ma, voel hoe sy ingehou bewe. Sy voel self heeltemal wankelrig toe sy weer gaan sit.
“Dan moet ek maar die bors verloor,” sê Rachel dapper. “Al lyk dit hoe sleg.”
“Dit gaan geen verskil maak nie,” sê Jacopo vurig. ” Jy sal nog net so mooi wees soos altyd, cara.”
“Net ’n bietjie windskeef,” spot Rachel, maar haar stem breek.
Rafaella wissel ’n blik met haar broer en vee haar oë en neus met ’n snesie af. “Mamma kan die bors mos laat heropbou,” troos sy. “Die mediese wetenskap skrik nie meer hiervoor nie.”
“Jy sal kry net wat jy wil hê, cara, net wat jy dink is nodig en die heel beste,” troos Jacopo en soen Rachel se wang.
“Hoe werk so ’n heropbou dan?” vra Rachel, en Rafaella sien hoop ná die vrees in haar oë flikker. Haar ma was nog altyd ’n optimis, dink sy deernisvol, en voel beter as sopas.
Aldo verduidelik. “Dit word deur ’n plastiese chirurg gedoen. Die bors kan opgebou word om dieselfde vorm en grootte van die … e … verwyderde bors te hê. Dis met ’n inplanting, ’n silikoondop gevul met soutwater of ’n spesiale jel. Dit kan selfs saam met die mastektomie gedoen word, Mamma, of, direk daarna. Ons kan dit alles met Justus en Erik Taljaard bespreek. Moenie wanhoop nie, Mamma. Alles gaan regkom.”
“En ek is in die beste en liefdevolste hande,” sug Rachel. Sy glimlag bewerig.
Aldo staan op. “Ek en Jwana het aandete gemaak. Julle kan kom aansit. Sy het tafel gedek voordat sy ge-tjaila het.”
“En jy kán so lekker kook,” grap Rafaella. “Ek gaan maak my net weer fris, vars en mooi, dan kom kyk ek of jy nog my komplimente verdien.”
Sy glimlag vir haar ouers wat styf teen mekaar op die rusbank sit, en haas uit, sodat hulle nie haar trane moet sien nie.
Hopelik kry sy ook eendag ’n man so liefdevol en ondersteunend soos haar pa. So slim en betroubaar soos hy en haar broer.
Rafaella neem die dag van haar ma se operasie af. Sy weet sy sal nie op haar werk kan konsentreer as sy so bekommerd is nie, al is Aldo daar. Hulle gaan almal saam na die kliniek. In die motor is hulle tjoepstil. Aldo het vooraf die prosedures verduidelik, maar Rafaella weet dat haar ma haar vrees wegsteek. Sy is nie vertroud met hospitale nie, want in haar lewe is ’n kleintydse mangeloperasie al wat sy ervaar het. Sy het ook maklik haar babas gekry. Rafaella kan haar egter die hele verloop in al sy fases voorstel, van die narkose tot by die bykom met die operasie agter die rug en die gevolge duidelik aan die lyf te voel. Haar ma gaan pyn hê, maar daarvoor is daar medisyne. Dis die geestelike aanpassing by haar vroulike liggaam wat vermink moet word, wat vir Rachel die ergste sal wees. Die littekens op die siel neem lank om te verdwyn. Die eerste jaar gaan swaar wees.
By die kliniek neem hulle Rachel op, Jacopo vul vorms in en help met administrasie. Aldo stel Rafaella aan dokter Justus Havenga en die chirurg, dokter Erik Taljaard, voor. Aldo gaan bystaan. Rafaella het vir hom gesê dit is baie dapper van hom, maar sy sien nie vir so iets kans nie. Haar ma is nie bloot ’n pasiënt nie. Sy sal liewer haar pa bystaan. Hoe kan sy haar ma nou so sien lê op die operasietafel!
“Ek check net op dat die ouens alles reg doen daar binne,” het Aldo gegrap, maar sy weet dit is regtig so. Hy sal waak oor hulle ma, kom wat wil.
Voordat haar ma narkose kry, druk Rafaella haar hande vir oulaas styf vas. Haar ma lyk so vreeslik kwesbaar in die hospitaaljurk, haar kop so klein op die wit kussing.
“Moenie bang wees nie, liewe Mamma,” troos sy. “Aldo is heeltyd by.”
Sy kyk hoe haar pa haar ma soen voordat die verpleegsters die trollie wegstoot na die operasiesaal. Haar pa lyk verwese en sy sit haar arm knus deur syne.
“Kom ons gaan drink iets in die kafeteria,” stel sy voor. “Dit help nie ons sit hier rond en verknies ons nie.”
Ná die lang ure van die operasie en haar pa se ongedurigheid ten spyte van ’n kalmeermiddel, kan hulle gaan na die privaat kamer waar haar ma lê. Soos Rafaella verwag het, is sy steeds aan die slaap, gekoppel aan allerlei pypies en ’n drup, haar gesig bleek en doodstil. Vol verbande om die bolyf. Jacopo gaan sit langs sy vrou en staar na haar gesig asof hy dink sy gaan enige oomblik wakker word.
Aldo kom in. Hy lyk moeg maar tevrede.
“Dit het goed gegaan. Ons kan dankbaar wees die tumor is gou ontdek, nie eers nadat dit kans gekry het om te groei nie. Sy moet minstens vyf dae hier bly sodat die wonddreinering goed gedoen kan word. Daarna kan ons by die huis help daarmee, en met pynmiddels. Al is sy sterk en gesond, gaan dit tot twee maande neem om te herstel. Die swelsel en kneusing gaan stadig genees. Ons sal haar moet stil hou. Geen oefening nie. Sy gaan nie tuinmaak en kook nie, al is sy hoe lief daarvoor. Julle sal streng moet wees.”
“Die emosionele aanpassing …” sê Rafaella. “Moet ek solank maar ’n sielkundige reël?”
“Kom ons kyk eers hoe hanteer Mamma dit. Sy’s so ’n moedige vrou, en privaat.”