Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 14
11
ОглавлениеLuigi kom wel dié aand af vir aandete, maar steeds met die serp om sy keel gedraai. Maria maak ’n ophef van hom, streel sy wang en maak hennerige geluidjies van simpatie, asof hy ’n siek kind is wat gepamperlang moet word. Giulio lyk weer glad nie bekommerd oor sy broer nie. So asof hy dink dis sommer aansit. Rafaella hou haar baie ongeërg.
Sy bevind haar vir ’n verandering langs Giulio aan tafel. Terwyl die wyn geskink word, leun hy sameswerend oor na haar. “As my broer nie in die nag vir jou kom sing nie, sal hy ook nie siek word nie.”
Hy weet! Sy bloos van verleentheid, wat moet sy tog sê?
“Ek het hom geensins aangemoedig om so ’n verspotte ding te doen nie, Giulio.”
Hy grinnik egter goedig vir haar ongemak. “Nee, dit is juis dáárom dat hy dit doen. Hy is so gewoond dat almal voor sy voete val dat hy die een wat dit nié doen nie, eenvoudig móét oorhaal.”
Sy maak haar mond oop om te antwoord, maar sien betyds dat die ander mense na hulle kyk.
“Wat fluister julle daar?” wil Luigi stuurs weet.
“Ons bespreek jou simptome,” terg Giulio.
Luigi is rooi in die gesig en lyk asof hy hom vererg, maar hy sê niks.
Louisa verander taktvol die onderwerp. “Het julle lus om Lucca se Luminara te gaan sien? Dit is ’n maanligfees waartydens slegs kerse in die stad gebrand word. Daar is ’n groot optog met musiek, kostuums, vlae, en mense stap of hardloop om die mure en deur die strate en piazzas. Siena se beroemde Palio is ongelukkig al verby.”
“Julle kan gaan, maar ék gaan nie in die nag rondloop nie,” sê Luigi. “Maria moet ook nie. Ons sal net koue vat.”
“Wil jy nie Cortona behoorlik besigtig nie?” vra Giulio vir Rafaella. “Jy het nog nie juis kans gehad om dit te doen nie.”
“O ja, daar is baie om te sien. Ek was al voorheen in Cortona, maar op ’n haastige toer.”
“Wil jy San Gimignano ook besoek?”
“Daar was ek ook al, ek wil eintlik die graagste na Arezzo gaan,” sê Rafaella. “Ons was nog nie daar nie. Daar is skilderye deur Piero della Francesca wat ek graag wil sien.”
“Dit was ook die tuiste van die digter Petrarca, wat al sy gedigte aan ene Laura opgedra het,” sê Giulio, en glimlag vir haar. “Baie romanties. Een van die grootste liefdesverhale van alle tye.”
“Ja, ek ken die verhaal. Die hele omgewing is byna té romanties en ek kan dink dat dit ’n digter sal inspireer. Die Middeleeuse geboue in Arezzo is glo so goed bewaar dat ’n mens voel asof jy in ’n timewarp is.”
“Die Piazza Grande is besonder mooi,” sê Louisa. “Julle móét dit eenvoudig gaan sien.”
Rafaella hoor haar vaagweg praat, maar sy en Giulio kyk mekaar nog diep in die oë nadat hulle van Petrarca en Laura se liefde gepraat het, en haar hart klop heelwat harder as normaalweg.
“Ons kan Arezzo oormôre, Saterdag, besoek,” sê Giulio, en verbreek oogkontak.
“Ek en Maria sal saamkom,” sê Luigi. “Dis mos ’n dagtoer.”
“Is julle seker?” vra Giulio. “Wat as iemand julle herken?”
“Ons sal ons vermom sodat ons bewonderaars ons nie oorval nie,” belowe Maria en glimlag koketterig vir Giulio.
Rafaella wonder of hulle dan regtig so beroemd is dat hulle nêrens kan gaan sonder om ongewenste aandag te kry nie.
“Ons twee sal Arezzo later besoek,” sê Jacopo. “My vrou is hier om te rus, nie deur stede te wandel nie. Volgende week gaan ek mense in Florence besoek wat vir my inligting vir my boek oor die krygsgevangenes kan gee, en ek neem haar liewer nie saam nie. Sy is nog te broos.”
“Voel Mamma oukei?” vra Rafaella besorg.
“Ja wat. Ek het mos gekom om te rus, nie waar nie? Nou rus ek. Daar sal altyd later tyd wees om die toeriste-ding aan te pak.”
“Ek gaan ook streng wees met die voorskrif dat u liewer moet rus as rondloop,” glimlag Giulio.
Toe die vier van hulle dié Saterdagoggend vroeg in die voorportaal bymekaarkom, gaap Luigi asof hy sy slaap vreeslik moes inkort. Hy en Maria is modieus dog fleurig geklee. Giulio en Rafaella is in ontspanningsdrag, maar sy dra darem ’n mooi linnebroek eerder as jeans, aangesien sy daarop bedag is dat dié klomp nogal swierig aantrek. Maria het ’n geel sonrok, ’n hoed, ’n groot sonbril, ’n reuse goue sak en goue skoene aan. Sy lyk na ’n filmster op vakansie by die see. Luigi is stylvol in ’n ligte pak met oopnekhemp, duur leerskoene en ook ’n donkerbril – Dolce & Gabbana, lees Rafaella op die raam.
Sy merk op dat Giulio hulle skepties aankyk, asof hy dink ’n paar kleurryke poue soos dié gaan onnodig aandag trek, al verbeel Maria haar dat hulle kastig vermom is.
Luigi en Maria klim agter in die viertrek en sy sit styf teen hom. Giulio laat Rafaella voor langs hom sit. Sy geniet dit weer om hom skelmpies dop te hou – die mooi hande, sy profiel. Sy gaan elke oomblik van die dag indrink en geniet, vertel sy haarself met die borreling in haar bloed asof sy heelwat sjampanje gedrink het. Sy raak dit nou al gewoond om dít naby hom te ervaar.
Die sonskyn en die landskap is besonder mooi. Arezzo lê op ’n heuwel bo die vallei van die Arno-rivier en hulle kan dit van ver af bewonder. Giulio tree soos ’n wafferse toergids op.
“In die boonste deel van die dorp moet ons die katedraal, die stadsaal en die Fortezza Medicea – die Medici-vesting – gaan besigtig. Rafaella wil die fresko’s van Piero della Francesca sien en dit is in die kerk van San Francesco di Arezzo, daarom gaan ons soontoe. Daar is ook werke van Cimabue in die kerk van San Domenico.”
“Ek wil asseblief nie na kerke gaan kyk nie,” kla Maria pruilmond. “Dit is al oorbekend. Ek wil iewers lekker gaan eet en op die Piazza stap.”
Giulio kyk na haar in die truspieël en dit lyk vir Rafaella asof hy nogal geïrriteerd is. “Ek en Rafaella sal die kerke gaan kyk, want sy wil dit graag sien. Sy het al die pad uit Suid-Afrika gekom om ons kunswerke te sien. Julle kan jul eie gang gaan. Ek sal parkeer by die Delmonico-restaurant, en dan stap ons van daar af. Dis naby die Piazza. Ons kan mekaar weer by die restaurant kry.”
Die dorp met sy antieke en Middeleeuse geboue fassineer Rafaella toe hulle inry, maar Maria gesels land en sand met Luigi oor operavriende en kyk nie eens na die besienswaardighede nie. Giulio ry by die parkeerarea van die restaurant in, betaal ’n wag en hulle klim uit. Rafaella kyk verwonderd om haar rond. Hier in Italië is eenvoudig alles vir haar mooi. Sy raak skoon sentimenteel daaroor. Seker deels oor sy dit met Giulio assosieer.
Die Delmonico-restaurant is van die groot, blink, duur soort. Nie ’n plek waar sy wil kuier nie. Sy dink aan die gawe trattoria in Cortona waar sy en Giulio gaan eet het. Dit is die soort plek wat sy verkies, maar sy gaan nie veeleisend wees soos Maria en aandring om eerder by so ’n plek te eet as die ander hier wil wees nie.
“Kom ons gaan drink eers koffie,” stel Maria voor.
Giulio skud sy kop. “Nee, dit gaan net ons kosbare tyd mors. Ek en Rafaella gaan reguit na die Piazza. Jy en Luigi kan koffie drink.”
Luigi is egter steeks. “Nee, ek gaan saam met julle.”
Maria is verplig om die koffie te los en saam te kom, maar sy lyk dikbek. Hulle loop van die restaurant af met een van die smal ou straatjies langs. Daar is baie mense en voertuie beur ook deur die massas. Die groot, skuins Piazza vou ruim voor hulle oop, omring deur pragtige ou geboue.
“Oe, is dit nie wonderlik nie!” roep Rafaella verruk uit. “Die toeristebrosjures kan skaars reg laat geskied hieraan. ’n Mens moet dit met jou eie oë sien om dit regtig te waardeer.”
Terwyl hulle oor die Piazza wandel, kom Rafaella agter dat mense in hul rigting kyk. Nee, hulle kyk net na Maria en Luigi, besef sy.
“Is ons twee operasterre so bekend dat mense hulle oral sal herken?” vra sy vir Giulio.
Hy kyk oor sy skouer na sy broer en Maria. “Ja, mense herken hulle ongelukkig. In elk geval hier in Italië. Ons moes al relletjies deurmaak, want mense wil met hulle praat en vra handtekeninge. O nee, ek sien al klaar kameras te voorskyn kom. Fotograwe kan hier baie vinnig iewers uitpeul. Die paparazzi spioeneer altyd op mense soos hulle. My pa het ook op sy dag goed deurgeloop. Jy weet dit nie, maar hulle hou ons landgoed ook dop. Hulle is baie skelm en kruip goed weg, maar as ons die foto’s in die koerant sien, weet ons hulle het ons afgeloer.”
Daar is reeds ’n klein groepie mense om Luigi en Maria. ’n Fotograaf het ook nadergedraf en neem druk foto’s.
“Dis ook maar swaar om ’n glanspersoonlikheid te wees,” grap Rafaella.
Giulio vat haar hand – vir die eerste keer. Dit is so lekker dat sy haar net staan en verlekker terwyl die skare aangroei.
Luigi beur deur die mense na hulle. “Ons sal ons uit die voete moet maak, dit gaan te erg word.” Hy lyk half ergerlik, half gevlei.
“Ja, roem ís maar swaar om mee saam te lewe,” spot Giulio. “Ek het jou gewaarsku dat dit weer soos laas gaan gebeur, maar jy wou nie luister nie.”
Rafaella sien mense om hulle saamdrom en voel meteens effens benoud. Die mense roep Luigi se naam en ’n vrou druk ’n pen en papier onder sy neus. Hy deins terug, maar glimlag. Duidelik geniet hy die aandag, en tog irriteer dit hom.
“Gaan red vir Maria, asseblief, Giulio,” vra hy.
Giulio los Rafaella se hand en beur deur die mense. Tot Rafaella se afgryse sit Luigi sy arm om haar skouers en trek haar teen hom aan. Kameras flits in haar gesig. Sy voel asof sy moet koes, maar staan tog roerloos en kners op haar tande. Het hy dit nou met opset gedoen om aandag te trek? Sy gaan in koerante verskyn! Langs hóm!
Giulio kom teruggehaas met Maria aan die hand. “Gaan julle twee operasterre liewer weg na ’n stil plek,” hyg hy. “Ek en Rafaella, wat anoniem is, sal op ons eie Arezzo besigtig.”
Hy wink vir iemand en Rafaella draai om. Daar is twee polisiemanne. Hulle kom nader, maar die een herken skynbaar vir Maria en grinnik breed.
“Sal julle asseblief dié twee mense beskerm en hulle hier wegkry?” vra Giulio. “Ons kry julle later waar ons geparkeer het,” sê hy vinnig vir Luigi.
Die twee beamptes is glimlaggend inskiklik. Met baie scusi’s en handegebare dryf hulle die mense terug, open ’n pad en lei die twee operasterre na waar ’n voertuig staan. Terwyl die mense agternabeweeg, gefassineer deur die twee beroemdes, vat Giulio weer Rafaella se hand en haas met haar weg, in die rigting van ’n kerk. Hulle draf naderhand. ’n Fotograaf agtervolg hulle sowaar.
Giulio trek haar vinnig by die deur van die kerk in, na ’n donker hoek, neem haar in sy arms en druk haar teen hom vas.
“Hulle sal dink ons is twee verliefdes en ons uitlos,” lag hy in haar nek.
Rafaella verlustig haar in die omhelsing, lig haar gesig na syne. Sy mond kom soet, heerlik op hare neer. Die soen … duur en duur …
Toe hy terugtrek, is sy skoon lighoofdig.
“Soeter as wyn en meer bedwelmend,” fluister hy in haar oor.
Sy ruik sy heerlike geure, voel die volle lengte van sy lyf teen hare. Sy is verlore. Drink alles in. Die wêreld het gaan stilstaan en net hý is die eiland van realiteit in die stroom.
Naderhand los hy haar weer. “Ek skat ons is nou veilig. Kom ons besigtig die kerk, maar ons moet oppas vir fotograwe. As ons een sien, kruip ons weg of ons vlug. Hulle sal ons gou los. Dis tog nie ons wat beroemd is nie. Solank hulle jou nie met Luigi assosieer nie.”
Vir wat het die ellendige Luigi haar tog omhels, dink sy. Dit is sý skuld dat die fotograwe enigsins aandag aan haar skenk. Sy is bitter spyt toe Giulio haar los, maar hy hou steeds haar hand vas. Soos in ’n droom loop sy saam met hom. Sy geniet die aanraking, sy stem, die manier wat hy lag, beduie en goed beskryf – alles aan hom is perfek.
Sy wens die dag wil nooit verbygaan nie. Sy ry ’n golf wat nog nie breek nie, maar breek sal dit een of ander tyd moet, en haar dan op die sand uitspoel.
“Ek en jy gaan nie saam met Luigi-hulle by die restaurant eet nie,” sê Giulio. “Ons gaan vir ons ’n oulike klein plekkie vind waar niemand ons pla nie.”
“Ek voel presies soos jy,” stem sy uitgelate saam.
Hulle bekyk die kerk en paleise, eet gelato wat Giulio vir hulle koop, lek laggend die gesmelte roomys van hulle vingers af, drink koeldrank en vergeet heeltemal van die ander twee.
“Is jy al honger?” vra Giulio nadat hulle baie rondgedwaal het.
“Ja, eintlik vreeslik.”
Hulle loop by een van die smal straatjies op en onder ’n bord met die naam Reggino’s gaan hulle by ’n deur in. Dit is ’n fraai klein restaurantjie met ou tafels en stoele en enorme plakkate van Canaletto se skilderye van Venesië teen die mure. Giulio lei Rafaella na ’n hoektafel van waar hulle op die straat kan uitkyk.
’n Lywige vrou met ’n voorskoot bring heerlike varsgebakte brood, olyfolie en huiswyn in kraffies. Hulle doop die brood in die olyfolie en smul daaraan.
“Dit is die lekkerste olyfolie wat ek nog geproe het,” sê Rafaella.
“Ja, dié streek is bekend vir sy olyfolie.”
Sy kyk hoe Giulio die sagte brood in die olie doop en dit in sy mond sit. Hy kyk af, sy wimpers swart en lank. Sy verlustig haar in hom. Sou sy ooit daaraan gewoond kon raak om na hom te kyk? Hy is so besonders. Daardie mooi mond het haar in die kerk gesoen. Sy gloei as sy daaraan dink. Sy gaan dit weer en weer in haar drome ervaar. Dié man maak allerhande emosies in haar wakker. Hy wek begeerte, maar hy gesels ook stimulerend en intelligent. Hulle bespreek mediese sake, gesels oor allerlei dinge op dieselfde golflengte. Albei waardeer kuns en musiek en stel in die geskiedenis en ou dinge belang. En die beste van alles is dat hy so ’n simpatieke mens is.
Soos sy hom in Suid-Afrika aan die plaaslike kos voorgestel het, doen hy met haar in Italië. Sy eet wat hy eet en alles is heerlik.
“Ons kook tog Italiaans by die huis,” sê sy. “Maar hier smaak alles vir my anders, soveel beter.” Sy verbeel haar seker dat dit lekkerder is, net oor sy by hom is en sien hoe hy dit geniet om te eet.
“As alles vir jou hier lekker is, hoort jy seker hier,” glimlag hy.
Sy hoort hier. Ja, sy sou hier kon hoort.
Dit hang van hom af.
“Ek wonder wat doen daardie ander twee.” Hy glimlag ondeund. “Mens kan hulle nêrens heen neem nie. Hulle veroorsaak ’n toeloop en beroering. Die vroumense dam Luigi sommer by en soen hom.”
“Die twee is dus regtig groot name, soos filmsterre in Amerika.”
“Ja, nogal. Ons leef daarmee saam van my pa se tyd af, dus is dit vir my niks snaaks nie, maar ek kan dink dat dit jou nogal sal ontstel.”
Sy skud haar kop glimlaggend. “Nee wat, dis nie ontstellend nie, net … vreemd. Ek hou nie van so baie aandag nie.”
“Ek ook nie. Mense kan baie opdringerig wees. Maria beweer sy haat dit om so oorval te word, maar eintlik geniet sy dit om beroemd te wees. Sy het arm grootgeword en nou maak sy sulke goeie geld dat sy koninklik lewe.”
Hulle is nog heerlik aan die kuier toe Giulio se selfoon lui. Hy antwoord fronsend.
“Ons eet hier by ’n klein trattoria. Nee, ek het nog nie vir Rafaella die helfte gewys van wat sy moet sien nie. Julle moes liewer nie gekom het nie. Ja, ek kan haar weer anderdag bring, maar julle bederf nou ons dag. Wel, julle sal eers moet wag totdat ons hier klaar is.”
Hy lyk vies toe hy aflui. “Nes ek voorspel het. Die twee operasterre wil huis toe gaan. Nou moet ons ook gaan, maar ek belowe jou ek bring jou weer. As dit net ons twee is, sal dit veel makliker gaan. Ek het nog nie eens vir jou die Etruskiese goed gewys nie.”
Teleurstelling spoel deur Rafaella, maar sy steek dit weg. Die twee bedorwe, veeleisende sterre knip regtig nou een van die beste dae van haar lewe kort.
“Toemaar, moenie sleg voel nie,” sê sy. “Ons moet hulle maar huis toe neem. Hulle dag is ook bederf.”
Giulio sit sy hand oor hare. “Jy is onselfsugtig. Die teenoorgestelde van iemand soos Maria.”
En Violetta? wonder sy. Hoe sou sy werklik wees? Geduldig? Veeleisend? Selfsugtig? Of inskiklik? In al hul gesprekke het Giulio nog nie weer na die contessa óf Violetta verwys nie.
Rafaella drink die laaste van die wyn wat Giulio vir haar geskink het en vee haar hande vir oulaas met die servet af. Hy drink rustig klaar en betaal die groot vrou, vat Rafaella se hand en loop met haar uit.
“Ons hoef ons nie te haas nie. Hulle kan nog ’n rukkie wag. Ek loop ook nie die kortste roete na hulle toe nie.”
Sonder om veel te praat loop hulle in ’n kokon van intimiteit. Rafaella verlustig haar in elke oomblik, want binnekort is die samesyn verby. Sy wil dit uitrek. Hy is besig om dit uit te rek! Is hy net so spyt soos sy dat dit besig is om ten einde te loop?
Môre is nog ’n dag. Anderdag neem hy haar weer uit, troos sy haarself. Dit gaan net so lekker wees soos dit tot dusver vandag was.
Teen die tyd dat hulle by die restaurant kom, maal daar fotograwe en mense buite rond. Binne sit Luigi en Maria omring deur bewonderaars. Maria gedra haar soos ’n ware diva – die middelpunt van die aandag. Luigi lyk egter ongeduldig.
“Julle het lekker jul tyd gevat, nè?” merk hy suur op en kyk pertinent na hul ineengestrengelde hande.
Giulio trek sy mondhoeke af. “Julle wou mos saamkom. Nou bederf julle Rafaella se dag.”
“Nee, dis niks,” protesteer sy, net om ordentlik te wees.
“Ek sal opmaak daarvoor,” sê Giulio. “Toe kom, dat ons teruggaan huis toe.”
Maria volg laaste, want ’n middeljarige man in ’n blink pak, met ’n boepmaag en goue juwele, skynbaar die eienaar van die restaurant, wil vir oulaas nog haar hand soen. Hy is skoon kruiperig, vergesel haar tot by die motor en maak gedienstig vir haar die deur oop. Sy klim soos ’n vorstin in en sug liggies, asof sy te kenne wil gee dat sy dié bewondering slegs verduur.
Op pad uit die dorp, by die heuwel af, vertel Maria en Luigi met groot drama en handgebare hoe hulle lastig geval is. Giulio sê niks, konsentreer net op die pad. Rafaella kyk terug na die hoë mure van die heuweldorp en onderdruk ’n sug oor sy dit so gou moes verlaat. Was dit nie vir Luigi-hulle nie, sou hulle nog ure daar kon deurgebring het.
“Ons word agtervolg,” sê Giulio meteens, en begin baie vinniger ry.
Die ander kyk om. Daar is ’n motorfiets met twee mans en die passasier het ’n kamera in sy hande.
“Moenie dat hulle ons inhaal nie, asseblief,” smeek Maria, en klou aan Luigi se arm asof gevaar dreig.
Hy lyk geïrriteerd. “Peste! Mens kom mos nie van die paparazzi weg nie.”
Giulio ry so vinnig dat Rafaella aan die sitplek vashou, al wil sy nie wys hoe senuagtig sy voel nie. Hulle ry ver en vinnig, maar die paparazzi bly op hul hakke. Dit is ’n groot verligting om uiteindelik by die hekke van La Renza te kom. Giulio maak dit met afstandbeheer oop en jaag deur. Die hekke sluit agter die motor en los die twee mans op die motorfiets buite.
“Nou gaan hulle ons heeltyd op ’n afstand met ’n langlenskamera bespied,” kla Luigi.
Giulio skud sy kop. “Nee wat, ek twyfel of hulle oornag hier buite sal kamp op ’n koue herfsaand.”
“Hulle moet maar kamp as hulle wil kamp,” sê Maria smalend. “Ek het vrede met hulle solank hulle nie te naby aan my kom nie.”