Читать книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach - Страница 8
5
ОглавлениеRafaella se Sondagmiddagete word ’n klompie maande later met ’n verrassing onderbreek.
“Dit is tog al Julie en ek voel regtig sterk,” sê haar ma. “Ek sien beslis kans om die Europese herfs in Toskane te gaan aandurf.”
“Net sewe, agt maande ná die operasie?” vra Rafaella, heimlik baie bly. Sy hét opgelet dat haar ma goed herstel en die uitdagings dapper oorkom.
“Mamma reken sy is nou al sterk genoeg en sy het gister ’n oorredende brief van Louisa di Mareneschi ontvang wat haar uitnodiging nog ’n keer herhaal,” sê Jacopo. “Mamma het haar natuurlik op hoogte gehou van alles wat hier aangaan en haar verseker dat sy aan die herstel is.”
Rafaella kan die blydskap nie van haar gesig afhou nie. “Nou toe nou. Kan ek saamkom?”
Rachel lag. “Natuurlik kom jy saam, weg van daardie hospitaal waar jy jou so doodwerk. Ek wil begin September gaan. Jy moet net sien hoe skryf Louisa oor die herfs in Toskane. Dit klink absoluut verruklik. Ek sal jou die brief laat lees.”
Ná ete gaan hulle in die sitkamer koffie drink. Rafaella verslind die brief:
Die baie toeriste word minder hier teen September-Oktober. Dan vier ons mense fees, voor die winter toeslaan. Julle sal nie glo hoe mooi dit dan hier kan wees nie. Die bosse en wingerde verkleur goud en rooi. Elke dorp het in dié tyd sy voedselfees. Ons noem die feeste sagres, en dit bestaan al eeue lank. Dit is ook die oestyd van olywe en kastaiings. Druiwe word gepars vir rooiwyn. Ons het ook wingerde, olyfboorde en kastaiingbome op La Renza, en in die herfs oes spanne werkers wat jaarliks vir ons kom help. Dis ’n vrolike tyd van die jaar, en terapeuties vir mense wat opbeuring nodig het. In Lucca en Florence word feeste van lig gehou. In Oktober, as die kastaiings geoes word, is daar kastaiingfeeste in Cortona and Arcidosso. Dan eet ons kastaiing-pizzas, -pasta en -polenta. Cortona en Arezzo se groot spesialiteit is ook porchetta – geroosterde varkvleis – en die beste beesvleis in Italië kom van die Chiana-vallei naby Cortona. Dus, as iemand ’n eetlus het, hiér kan dit bevredig word.
Luigi kom ’n rukkie rus en vakansie hou ná ’n besonder besige operaseisoen, dus kan julle hom ook ontmoet. Met Giu-lio gaan dit baie goed. Die contessa wil hê hy moet met haar kleindogter afhaak, maar hy hou nog uit.
Ek stel voor dat julle in September kom, indien dit moontlik is. Die rusoord is so te sê voltooi. Julle bly egter by ons in die villa. Sal dit nie lekker wees nie?
Rafaella voel ’n lamheid deur haar trek toe sy van dié contessa-kleindogter lees. Haar ma hou haar stip dop.
“Ek sien jy skrik,” sê Rachel. “Ek dink dis regtig hoog tyd dat ons na Cortona gaan, voordat iemand anders daardie hubare beeld van ’n jongman opraap. Ek dink eintlik dat Louisa ons in der waarheid waarsku dat ons nie te lank moet uitstel nie. Sy het al genoem dat sy hoop Giulio kry ’n vrou soos jy en nie ’n oppervlakkige vlinder wat sy werk nie ernstig kan opneem nie. Hy het skynbaar in die verlede so ’n meisie gehad, en die hele affêre het baie sleg uitgedraai.”
“E … ja. Giulio het my iets van haar vertel,” sê Rafaella. “Sy het blykbaar op sy broer verlief geraak en sy is toe dood in ’n motorongeluk.”
Rachel maak ’n snorkgeluidjie. “Die broer moet darem erg uitsonderlik wees as ’n meisie iemand wat so aantreklik en intelligent soos Giulio is vir hóm los. Maar nou ja, ’n operaster is seker iets uitsonderliks …”
“The matchmaker strikes again,” spot Jacopo. “Maar ek stem saam. Dis nou in alle opsigte die beste tyd om te gaan.”
Rafaella kry sterk die gevoel dat geen tyd verspil moet word nie. Net môre bedank sy. Net môre.
“Hoe lank beoog julle om te bly?” vra sy.
“Dit hang af,” sê haar pa. “Miskien selfs tot einde Desember. Ek het langverlof wat my toekom. Ons sal natuurlik nie heeltyd by die Di Mareneschi’s bly nie. Ons kan ook by die familie in Pisa gaan kuier en daarna ’n rukkie in Milaan vertoef. Die winter daar is koud, maar die operaseisoen van La Scala begin vroeg in Desember en ons wil ’n paar vertonings gaan sien, veral natuurlik dié waarin Luigi sing.”
“Louisa het my vertel dat hy in die nuwe seisoen onder meer die rol van die Duca di Mantova in Rigoletto gaan vertolk,” vertel Rachel opgewonde. “Ons wil hom so graag hoor sing en La Scala is só mooi. Hy studeer glo sy rol in wanneer hy tuis is. Dalk kan ons gaan luister, as hy nie sou omgee nie.”
Rafaella glimlag vir haar ma se geesdrif. “Ek twyfel of hy daarvoor te vinde sal wees om tydens sy rustyd vir ons konsert te hou. Julle moet maar die operas gaan bywoon.”
“Maar dis nie ál goeie nuus nie,” sê Jacopo. “Toe ons vir Aldo van ons voornemens laat weet, het hy ons vertel dat hy vanaf November ’n tyd lank by die Istituto Europeo di Oncologia in Milaan wil gaan navorsing doen. Hy ken glo ’n dokter Massimo Veronese met wie hy al heelwat gekorrespondeer en saamgewerk het. Dié het hom uitgenooi. René en Bennie gaan saam. Daar is ’n Amerikaanse skool in Milaan waarheen diplomate hul kinders stuur en Bennie kan in die nuwe skooljaar daarheen gaan. Gelukkig is hy nog klein en Aldo meen die aanpassing sal nie so erg wees terwyl hy nog jonk is nie. Dis veel erger teen hoërskoolouderdom, daarom wil hulle nóú die geleentheid aangryp. Aldo sê hulle kry ’n eie wooneenheid om in te bly en hy sal vir ons ook blyplek in Milaan reël as ons Desember soontoe kom.”
“Verrassing op verrassing,” lag Rafaella. “Sal dit nou nie lekker wees as ons almal daar in Italië kan wees nie? Mamma moet haar net nie gaan uitput nie. Sy is daar om te herstel en gepamperlang te word.”
Jacopo se gesig versomber. “Maar natuurlik, dis ons eerste en belangrikste oorweging. Die res, hoewel dit lekker klink, is bysaak. Buitendien sal dit goed wees om vir Aldo, en vir jou, naby te hê, met jul mediese kennis.”
“En Giulio,” voeg Rafaella by, met ’n hart wat sommer lig raak in haar binneste by die vooruitsig om hom weer te sien.
“Moenie julle oor my bekommer nie, ek is goed aan die regkom,” verweer Rachel. “Ek gaan nie heeltyd net sit of in die bed bly nie, beslis nie.”
Rafaella kyk vol liefde na haar ma. Rachel was nog nooit ’n pretbederwer nie. Sy wil hê die besoek aan Italië moet vir almal lekker wees, en sy sal nie kla nie, selfs as sy olik voel.
“Ek sal Mamma streng monitor,” sê Rafaella beslis. “Dis nie net ’n vakansie vir die lot van ons nie.”
“Ek wens tog Aldo en René kon daar in een van die pragtige kerkies getrou het, maar nou gaan hulle sommer voor die magistraat afhaak,” sug Rachel. “Natuurlik is sy nie Katoliek nie.”
“Geloof is nie vir hulle twee ’n onoorkomelike probleem nie, Mamma. Hulle is gelukkig dat hulle mekaar gevind het. Dit sal vir Aldo lekker wees om ’n gesin te hê as hy oorsee gaan werk, dan is hy nie alleen nie.”
* * *
Rafaella bestuur vanaf die Galileo Galilei-lughawe in Pisa reguit na Cortona. Hulle gaan nie eens eers by die familie in Pisa aan nie, want Rachel is moeg ná die vlug. Jacopo sit voor langs Rafaella en speel navigator met ’n kaart van Toskane op sy skoot.
“Dis darem een van die mooiste streke ter wêreld,” sug Rafaella, wat die landskap van olyfboorde, rye sipresse en wingerde wat aan golwende heuwels vasgelap is, intens geniet. Soos Louisa beskryf het, verkleur alles inderdaad tot herfskleure. Maar die beste van alles is dat Rafaella al nader kom aan Giulio. Sy kan skaars wag om hom weer te sien. Louisa het baie hartlik geantwoord op hul versoek om te kom en sy het gesê dat Giulio ook daarna uitsien om hulle te sien. Rafaella weet egter: So gretig as wat sy is om hom weer te sien, kan hy onmóóntlik wees!
Uiteindelik bereik hulle Cortona, met sy enorme Middeleeuse mure, maar hulle gaan nie die stad binne nie en draai dadelik af in die rigting van La Renza. Rafaella se hart trek met ’n punt na Cortona, waar sy vermoed Giulio hom tans by sy praktyk bevind, maar haar ma lyk te uitgeput om daar ’n draai te maak.
“Toemaar, Mamma, ons is nou naby Louisa-hulle,” sê sy, en kyk besorg in die truspieël.
Rachel glimlag vir haar, maar sy is bleek.
Jacopo steek sy hand tussen die sitplekke deur en druk sy vrou se knie. “My dapper cara. By La Renza gaan jy lekker rus.”
“Ek sien al hóé lank daarna uit. Dit gaan heerlik wees.”
Die pad na La Renza loop tussen hoë sipresse, deur boorde en wingerde en by ’n steil heuwel op. Rafaella sien van ver af die okerkleurige huis wat fortagtig tussen die plante uitsteek. Dit lyk soos die Middeleeuse geboue waarin die Renaissance-prinse van ouds gewoon het, gekanteel en met ’n toring.
“Dit moet die villa wees,” roep sy opgewonde uit, en wys vir haar ouers.
“Sjoe, maar dis groot,” sê haar ma.
“Ek kan net aflei dat Francesco se familie ryk moes gewees het voordat hulle verarm het en dat hy báie geld uit sy operasingery moes gemaak het om te kon bekostig om dit weer te koop,” sê Jacopo beïndruk. “Dis natuurlik duur om in stand te hou, maar La Renza is glo deels ’n boerdery ook.”
“As die Di Mareneschi’s by só ’n mooi plek ’n rusoord het, gaan dit ook ’n inkomste inbring,” sê Rafaella.
Sy ry met die steil pad op na die villa. Hulle laat die sipresse agter en ry onder reuse verkleurende kastaiingbome deur. By ’n groot hek van gegote yster waarop die naam La Renza staan, druk Rafaella die interkomknoppie, kondig hulle aan, en die hek gly oop. Sy volg ’n geplaveide pad verby terrasse, ry om ’n draai en dan is hulle voor die huis. Van naby is dit werklik reusagtig. Oral op die terrasse groei struike en blomme, en rankplante klim teen mure op.
“Dit lyk so romanties, paradysagtig, eintlik,” sug sy. “Dit kan net heerlik wees om in so ’n plek te bly.”
Toe hulle stilhou, kom ’n kort, fris man nadergedraf, gevolg deur ’n kort, fris vrou in ’n uniform, en twee jong mans. Rafaella klim behaaglik uit en rek haar stywe spiere ná die lang rit. Haar pa help haar ma agter uit die motor.
“Buongiorno,” groet die man. “U is seker die Continari-gesin?”
“Ja, dis ons,” bevestig Jacopo.
“Welkom signor, signora, signorina. Ek is Giuseppe, die hoofbediende, en dis my vrou Natalia, die hoofhuishoudster. Beppi en Sylvio is ons handlangers in die huis en tuin. Signora Louisa is nie tans hier nie. Sy het gesê ons moet u na u kamers neem en u tuis maak indien u aankom voordat sy terug is.”
Die vier help hulle afpak en neem Rafaella-hulle in by die huis, deur ’n reuseportaal, by trappe op. So ver soos hulle loop, sien Rafaella pragtige skilderye, mooi meubels, veelkleurige matte, beeldjies, blomme in vase. Sy kyk eers na die slaapkamer wat haar ouers s’n sal wees. Dit is groot, met ’n hoë, versierde plafon, twee groot beddens en hul eie badkamer langsaan.
Rafaella verwonder haar aan alles. “Dis soos om in ’n luuksehotel te bly. Hierdie plek is regtig soos ’n Renaissance-paleis.”
Daarna wys Natalia vir Rafaella haar kamer. Dit is byna net so groot soos haar ouers s’n, maar daar is slegs een bed. Die hangkas is groot en Natalia help haar gou uitpak en klere wegbêre. Die badkamer langsaan is klein, maar modern ingerig, met bad en stort en dik wit handdoeke oor relings, geurige seep, badmiddels en mure beskilder met visse en skulpe. Die slaapkamer het fresko’s van wingerde en sipresse en blomme. Rafaella verstom haar aan alles. Daar is selfs ’n deur wat uitloop op ’n klein balkon met gegote-ystertraliewerk. Die kamers is skynbaar aan die voorkant van die huis, want sy sien die kronkelpad waarmee hulle opgery gekom het. Van haar balkon af kyk sy uit oor die tuin en die vallei, tot by die ommuurde heuweldorp Cortona.
Sy gaan weer in na waar Natalia werskaf, en sug verruk. “Jinne Natalia, dis darem mooi hier.”
Die vrou glimlag. “Ja, dis baie mooi. Julle sal lekker bly. Verskoon my, ek gaan maak net seker of signora Continari iets nodig het. Ek hoor sy was baie siek. Maak u tuis, signorina.”
“Dankie. Ja, my ma was baie siek. Sy is hier om te rus en te herstel.”
Nadat die huishoudster weg is, stort Rafaella gou en trek skoon klere aan. Daarna bestudeer sy elke skildery, elke mooi ding, in haar kamer. Sy gaan weer uit op die balkonnetjie om in die rigting van Cortona te tuur. Haar Romeo-en-Juliet-balkonnetjie, dink sy geamuseer. Sy sien in haar verbeelding hoe ’n minnaar ’n vrou van onder af in die maanskyn die hof maak.
Nou sien sy ook ’n motor in die verte aankom en hoor sy vaagweg die dreuning. Dit is seker Louisa. Sou Giulio by wees? Die motor word meteens verbygesteek deur ’n rooi sportmotor wat opjaag tot by die oop hek. Dit ry soos blits by die kronkelpad op en hou voor die huis stil. Die groot motor verskyn ook en parkeer langs die rooie. Rafaella hou die motors nuuskierig en gespanne dop. Die man wat uit die sportmotor klim, is nie Giulio nie. Dié man het ligte hare, hoewel die postuur baie na Giulio s’n lyk. Meteens besef sy – dit moet Luigi wees, die operaster. Sy is erg nuuskierig om dié fenomeen te ontmoet.
Die groot motor, ’n model wat sy nie ken nie maar wat sy veronderstel Italiaans is, het statig en stadig aangery gekom. ’n Vrou klim nou uit. Louisa is herkenbaar, al het sy ’n groot strooihoed op wat haar gesig wegsteek. Niemand is by haar nie. Rafaella kan die teleurstelling nie onderdruk dat Giulio nie ook tuis is nie. Moenie verspot wees nie, die man werk seker, berispe sy haar. Waarom sou hý juis hier wees om hulle te ontvang?
Sy gaan klop aan haar ouers se deur en haar pa maak oop. “Papà, die mense is hier – Louisa en iemand wat seker Luigi is.”
Oor sy skouer roep hy: “Cara, kom jy? Ons moet ons gashere gaan groet.”
Hulle stap in die gang en by die trappe af na die portaal waar Louisa, nou sonder hoed, met Natalia staan en praat. Die jong man staan eenkant en lyk of hy deur posstukke kyk.
Louisa kyk op en sien hulle by die trap afkom. “Aha, hier is julle! Welkom, Continari’s. Ek is verheug om te sien jy lyk so goed, Rachel. Ek was só bekommerd oor jou. Jammer ek was nie hier toe julle aankom nie, maar ek moes dringend Cortona toe gaan. Ek het gedink Luigi sal voor my by die huis wees om julle te verwelkom, maar toe kom ons gelyk hier aan. Kom ek stel julle voor.”
Tydens die gegroet en voorstellery bestudeer Rafaella vir Luigi. Aantreklik is hy gewis, op ’n gesofistikeerde, geboetseerde manier. Sy klere en skoene is van die duurste en beste. Sy dik, ligte hare is deur ’n meesterkapper gesny. Hy lyk gemanikuur, gepamperlang. Met blou oë soos sy ma s’n bekyk hy Rafaella van kop tot tone, talmend, opsommend, en toe glimlag hy. Kyk te lank in haar oë. Dié man is seker dat hy al wat vrou is aan sy voete kan laat val, dink sy. Arrogant. Bedorwe. Té selfversekerd. Vir hom moet mens oppas. Hy is jakkals en wolf in een. Waar Giulio haar onmiddellik aangetrek het, stoot Luigi haar eerder ligweg af.
“Dit is ’n voorreg om ’n beroemde sanger soos jy te ontmoet,” sê sy, want sy glo hy verwag bewondering.
Hy soen haar hand. “Dit is ’n plesier om so ’n skoonheid uit Suid-Afrika te ontmoet.” Sy stem is welluidend, asof hy sing. ’n Geoefende vleier, dink Rafaella geamuseer.
“Giulio kom eers later vandag huis toe,” sê Louisa. “Sy praktyk is nogal besig. Kom ons gaan sit op die terras en drink iets. Dan kan ons inhaal.”
Op die terras word hulle met eet- en drinkgoed bedien deur Natalia en ’n jong meisie in uniform. Deurentyd is Rafaella bewus van Luigi se takserende blik op haar. Sy maak asof sy onbewus is daarvan en gesels met Louisa oor haar ma se behandeling.
“Luigi, ek hoor jy gaan die rol van die Duca di Mantova in Rigoletto in La Scala sing,” hoor sy haar pa sê. “Ons sal dit graag wil kom kyk.”
“Ja, een van my gunstelingrolle,” antwoord Luigi. “Julle kan gerus kom. In Suid-Afrika het julle seker nie die gehalte van opera wat hier te sien is nie.”
“Die beroemde sopraan Maria Vallerta neem die rol van Gilda,” sê Louisa. “Hulle twee sing dikwels saam. Julle moet hoor hoe sing Luigi ‘La donna è mobile’. Mens kry skoon hoendervleis.”
Hy glimlag asof die lofprysing hom toekom, dink Rafaella afkeurend. Sy ma behoort nie so voor hom met hom te spog nie, maar sy is natuurlik vreeslik trots op dié talentvolle kind van haar.
Hy gaap liggies. “Ek sou eintlik Teresa Simoni as sopraan verkies het, al is sy minder ervare. Maar nou ja, ek kan ook nie in álles my sin kry nie.”
“Hoekom sou jy Teresa Simoni verkies het bo die sopraan wat as een van die bestes in die wêreld beskou word?” vra Jacopo.
“Ag, sy is jonger, mooier, maerder en minder temperamenteel. Maria is so veeleisend.”
Rafaella onthou iets wat Louisa of Giulio in Pretoria gesê het – Maria en Luigi is ’n item. Hy het nou seker moeg geword vir haar; sy oog dwaal in elk geval. Sy hou nie van die manier waarop hy haar heeltyd van kop tot tone beskou nie. Hy maak haar selfbewus en sy haat dit. Sy wens dit was eerder Giulio wat hier was, al gee dit haar pa skynbaar groot plesier om dié operasanger te leer ken. Vir Luigi sal sy liefs op ’n afstand hou.
Hy fokus egter sy aandag op haar. “Ek hoor jy is ook ’n dokter.”
“Ja.”
“Waarom kom werk jy nie in Italië nie? Dit sal dalk vir jou lekker wees om hier te bly. Ek hoor dit gaan maar rof in Afrika.”
“Ek dink eintlik aan verder studeer,” sê sy op die ingewing van die oomblik.
“Mooi vroue behoort nie te geleerd te wees nie,” grinnik hy.
Rafaella vererg haar vir dié manlike chauvinisme, maar sy sê niks. Draai net haar kop weg en kyk in die rigting van Cortona.
“Sal julle my asseblief verskoon?” vra hy. “Ek moet gaan repeteer.”
“Natuurlik,” sê Jacopo dadelik.
Rafaella kyk hom vlugtig agterna – die arrogante houding, die een hand in die broeksak. Die man wat sy broer se meisie afgevry het en haar nie eens regtig wou gehad het nie.