Читать книгу bladspieël - Marlise Joubert - Страница 12
dagleef
ОглавлениеEach of us is alone on the heart of the earth
pierced by a ray of sun:
and suddenly it’s evening.
– Salvatore Quasimodo
ná al die reise deur verskeie wonings
die loutering deur stede en afskeid van vriende
is ek weer tuis en ingebed soos ’n mangopit
in sy goue vlees
my hele haard tregter ’n vertroude skil om my
en word met één sonbaan omkring
waar ek is dagleef ek
waar ek dink word ek
waar ek asem is ek
terwyl die eekhorings oor die teëldak
opnuut fabels dikteer en afrond in ’n neutedop
terwyl die verdwaalde spinnekop die plafon betree
om sy rubriek tot stand te bring en die vinke
hulle haikoes saad vir saad weglê in die krop
hoe is dit dan dat die vertes so kan lok
die gesig ongesiens skoon kan lek
jou dan meteens sonder vel verloor
asof jy eintlik nêrens hoort
behalwe hier
waar slakke strofes teen ’n muur vleg
die mierkolonie lang swart reëls loslittig
oor die tuinpaadjie verf
my skelet verbleik tot vraag en tekens
en op dié manier bly ek hoopvol leef
dat die vlees van hierdie gedig
nog ’n dag sal herhaal
voor die einde van die reis