Читать книгу bladspieël - Marlise Joubert - Страница 16

’n snit uit sappho de mytilene

Оглавление

soms wil ek ’n gedig skryf

vroeg op ’n saterdagoggend

terwyl verbeelding nog onder

lakens vasgepen lê en my erf

klipwit ’n eiland word

waar ionatos haar lirieke skryf

teen kobaltspieëls van see en lug

wanneer die son eenoogruite

in ou mure kaats

daarom ’n gedig oor die rietbos

wat uit sy ledemate knak

net langs die denneboom

hierdie gedig sou dit na buite

kon waag selfs al is die traliedeur

met slot en ketting daar

om elke dief glo af te weer

dan weer, wil ek soms nié

’n gedig skryf

vroeg op ’n saterdagoggend nie –

bladspieël

Подняться наверх