Читать книгу bladspieël - Marlise Joubert - Страница 7
dagskrif vir die wegland
Оглавление1 [aand]
(a)
uit die lou water beur ek boontoe
silwer druppels hang aan my vel
ek kom uit die swembad aangestap
jy laat my langs jou neerlê op gras
my hare is nat my wimpers waas
in die donkerte sidder sterre
verlate skree ’n pou deur die tuin
jou warm tong gly ’n nawind
oor my lyf van onder na bo
’n maan drup klappermelk
ek kyk verby jou gesig
langs my spat die rose weg
by die dam se goue rietbos
roer ganse en bleshoenders
die sterre staan botstil in ink
ek sien hoe een verskiet
’n padda plons die swembad in
my vel verskans alle organe
blooswit soos ’n wasfiguur
ek is louwarm van purper water
(b)
die nagstilte is die hemel vol
ons lippe stippel sagte vokale
ons kyk hoe klankloos val komete
met lang sterte soos rose
jou lyf saai die aarde nat
en daar is damp onder
my vingers teen jou voorkop
ek druk my vuiste in jou oksels
jy breek skanse af en ek neem oor
sag soos ’n vaandel vou jy my toe
jou kop dryf afgeslote op my bors
uit die roos begin die kleur ontsnap
2. [oggend]
(a)
’n swerm voëls
snak wilde geluide tussen blare
onsigbaar pruttel hulle onder mekaar
wat sou die gesprekke behels
watter stories verg dan soveel
geskinder en twis in die vroeë uur
se sluimerlig
oor ’n reling
hang laas nag se swembroek
om te droog terwyl jy nog slaap
ek sit op die lang stoep
ek luister
ek grendel my tong
ek hoor die gaasdeur klap
en jy loop uit na my toe
jou hare is glad gekam soos ’n glimlag
’n waterdruppel rol teen jou
wangbeen af
(b)
tussen ons op die tafel
roer kolle son weerkaats weg
na ’n kandelaarblom
vlieë draal rond en steur
jy sit gedonkerbril en lees verder
aan ’n mankell-roman
die boer van die plaas se rifrug
kom swaaiend groet
en verdwyn dan net so vinnig
soos wat hy gekom het
wat sou geword het van die paddatjie
in die afvoergeut van die swembad
vra ek jou
sinkgeel lelies knars oop
in klam oggendlig
enkele vroegherfsblare hang
bokant ons in die groen prieel
3. [middag]
(a)
in die kamer
terwyl die dakwaaier
tollend suis en koeltes
oor my blaas
in die kamer
van soveel voorgeslagte
staan die hangkas
met uitgekerfde torings
die deure wyd oop soos ossewaens
kraak asof geraamtes saamgesels
in die kamer
slaap ek die middaguur om
ligkandelare hang stemloos
uit ’n versierde kolonietyd
die bed is hoog
die plafon is hoog
my drome bly hooglands
(b)
laatmiddag swenk die bosluisvoëls
van ruimte na ruimte
soos wit vliegtuigies van katoen
en soek mettertyd die dalende
vertroosting van die skemerte op
ons lê oorhoeks teenoor mekaar
tussen lang stele van taai
kikoejoegras langs ’n dam
ons luister toe-oë sonder taal
na die lekkende vlamme van ’n wind
na ganse en eende wat keelskraap
na voëls wat brom in wolkerige bome
ons luister
asof ons wandelslaap
asof alles behoort aan ons
net soos niks aan ons behoort nie
later loop ons terug met die voetpad
tussen roosbome deur
ons hoor die laaste witringkelkiewyn se roep
onverwags skraap jy jou knie
en ek word droef
omdat jy nooit sal leer van dorings nie
omdat jy so maklik leeg
uit elke oomblik bloei
4 [aand]
(a)
buite stil dit
al hoe stiller nou
in die kamer skakel
ek die bedlig af
in die kamer word dit blind
die donker sien my nie
ek vloei daardeur
asof ek lig is
sonder liggaam
(b)
nooit sluit ons hier ’n deur nie
en die stoep reik wyer
soos hande op ’n klawerbord
hier laat sak die maan
haar swaar klip
in water
sink onsigbaar
saam met ons
dieper
die wegland in
(januarie 2014)