Читать книгу bladspieël - Marlise Joubert - Страница 13
hotel. hermanus
Оглавлениеom ’n gedig te skryf op die balkon
van die windsor hotel reg voor die see
is minder werd as die vlug van ’n meeu
want hoe vertaal jy dié uitgedopte rots
wat branders elke dag trotseer
die skuim soos roomwit lakens
geskeur teen ’n verwronge kus
op die horison is die see ’n swarter ink
en slegs ’n reduksie van land sigbaar
duskant gansbaai in die verte
geen boot te sien nie
kliptande hap na die see
en die uitsig word altyd versteur
soos die groepie toeriste
met rugsakke en pette
al kletterende
om die oggend toe te eien
so is die lewe dan net ’n dag oud
en die digter ’n vlietende woord
wat agterbly, is die afdruk
van ’n vallende vlerkskelet
in sy vlug gestuit