Читать книгу bladspieël - Marlise Joubert - Страница 17
ná die slaap
Оглавлениеverdwyn die gedig
en daglig verskerp met elke tree
as ek gisteraand se solder ingrawe
was die gedig iets oor leeftye om op te teken
iets oor al die bokse bultende briewe
en flenters dagboek om
op die eetkamertafel uit te pak
pakkies woorde verseël in linte en rekkies
vir die moontlike maaltyd aan geliefdes
maar toe die besef dat die tafel te klein is
vir al die kom en gaan van jare heen
en wie sou eet en wie sou weet
waaraan om eerste te proe
helaas, ek was nooit moordlustig nie
nog minder was daar enige
gevaarlike reise en niks aardskuddends
om te verorber vir die leser nie
die papier is uitgedroog
en wyn vir die dors het ek ook nie
dit sal beter wees om alles
dadelik van die geheue se tafel af te vee
in gister se swartsakke te gooi
en op die sypaadjie staan te maak
as misvormde, onsigbare gedig