Читать книгу In gesprek met God - Milanie Vosloo - Страница 11
ОглавлениеVerdor
In my, Here, het die droogte kom woon.
Kyk, my hart se grond is vol barste
soos die kloue van ’n roofvoël.
My lofprysing verwelk
soos ’n veldlelie.
My wortels is verwronge
in my aardse bestaan;
hulle anker my nie meer in U nie.
Eintlik is ek
verdor, verlep, verwelk
bidloos, woordloos, geesloos –
dood.
Stuur asseblief u waters wat lewe gee
sodat dit my gees weer verfris.
Syfer deur my wese
totdat ek opbruis in u fontein van liefde.