Читать книгу In gesprek met God - Milanie Vosloo - Страница 13
ОглавлениеMosterdsaadjie
Dis so maklik om van U te vergeet.
Die wêreld hou ons so besig. Ons hardloop almal in sirkels; probeer ons lewe vol maak met besigweesgoed …
soek plesier, mag, status, geld, blink goed –
en dan bly ons dolleeg … in ons niks-lewe.
Ek is moeg gesoek, Here!
Ek erken vandag dat ek U nodig het.
Vul my hele wese met U.
U gee genade, vrede, wysheid, liefde … U gee lewe.
Ek is maar ’n klein saadjie in u groot heelal.
Maar ek bly van nou af in die rykdom van u grond en wag dat U my sterk sal maak,
sal laat groei in my liefde vir U.
Laat my régtig leef:
nou, en altyd.