Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 10

SOPHIA, DRIE DAE VOORDAT MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Maandag 10 Julie, Stellenbosch

Sophia staan saam met Jackson en Lynette voor BoekWeb se kombuisvenster en staar na binne. Op die vensterbank, met sy rug half na hulle toe, sit ’n man in ’n verblindende wit sweetpak. Sy hare is so kort geskeer dat ’n litteken op sy agterkop deurskyn. Teenoor hom staan Trouw met ’n gesigsuitdrukking wat Sophia nie kan kleinkry nie. Sy frons vir hom, maar haar oë is begrypend. Sy lyk gespanne, maar ook of sy na hom luister.

Die skelm het by hulle kantoor ingebreek, wat ís dit met haar?

Lynette pluk-pluk aan die losgeskroefde diefwering.

Sophia dink eensklaps hoe Diederick sou geredeneer het. “Moenie daaraan raak nie, Lynette …”

Die vrou steur haar nie aan die teregwysing nie. Sy is beslis ook nie bang dat die man iets sal aanvang as hy bewus raak van hulle hier by die venster nie. Toe hy nie gou genoeg reageer nie, slaan sy met haar plathand teen die ruit. Die baie ringe aan haar vingers klap-klap aggressief teen die glas.

Maar dis Jackson wat skree: “Haai, jy!”

Die man op die vensterbank spring orent en kyk om, sy oë groot.

Trouw se reaksie verbaas Sophia nog ’n slag, want nou kan enige swaap sien wat sy dink. Sy beduie met haar hande, groot swaaibewegings, en haar vlegsel swaai dramaties saam met haar lyf.

“Jy’s seker mal!” roep Lynette vir Trouw. Haar rooi naels sny in Sophia se arm in soos wat sy haar saamsleep. “Kom, vrou.”

Vrou-Sophia kom. Sy het nie ’n keuse nie; as hierdie vrou vir jou sê kom, dan maak jy so. Die meeste mans sou tog te bly wees as so ’n vrou hulle pad kruis.

Terug verby die kantoor se voordeur. Dis een groot dowwe waas waarin Sophia haar bevind, soos verfkwashale wat oor haar dag vee sodat tyd en ruimte en spoed ineenvloei.

Die kelners drom in ’n onseker troppie op die restaurant se voorstoep saam toe sy en Lynette daar aankom.

“Ek het die polisie gebel,” sê ’n kelnerin in wie se brillense die wit winterlug en die naaste boom se takke weerkaats. Sophia sien ook haar eie weerkaatsing. Klein soos wat dit is, sy lyk onwillig. Kon sy tog maar net hier op die stoep bly staan. Sy sal enigiets doen om nie terug te gaan kantoor toe nie.

“Maar almal van julle stáán ook net hier!” baklei Lynette.

“We didn’t know if it would be safe to go in there,” maak ’n kelner beswaar.

“Safe se gat, laat ek daai stuk gemors …”

Niemand anders nie as Jackson. Dis hy wat by BoekWeb se kantoordeur instap – die eerste keer in sy hele bestaan – en toe het Sophia en Lynette ook nie meer ’n keuse nie.

Jackson is vooruit die kombuis in en teen die tyd dat sy en Lynette in die kombuisdeur staan, het hy reeds die sweetpakman beet. Die man grom uit sy keel en mik met die vingers van een hand na Jackson se oë. Net toe dit lyk of hy iets met sy ander hand in sy sak beetkry, bring Jackson sy knie tussen die man se bene op en hy sak vooroor van die pyn.

Alles gebeur so vinnig dat niemand kans kry om te reageer nie. Trouw is die een wat hoog gil: “Los hom, los hom uit!”

Terwyl ’n blok van ’n man – ’n wildvreemdeling – by die kombuis inbars met ’n botteltjie pepersproei in sy hand waarmee hy na die sweetpakman mik terwyl dié orent kom, besef sy dat dit Jackson is op wie Trouw so skreeu. Sy het haar verstand verloor.

“Hande uit jou sakke, hande waar ek dit kan sien …” beduie die man met die pepersproei vir die sweetpakman.

Toe steek die sweetpakman en Jackson gelyk hulle hande in die lug. Die sweetpakman vir die man met die pepersproei en Jackson vir Trouw, wat lyk of sy Jackson te lyf wil gaan.

“Haai, hallo, vroumens!”

Dis sweetpakman wat Trouw se aandag wil trek, terwyl hy sy oë hou op die man met die pepersproei. Agter haar hoor Sophia nog voetstappe – kelners en voetgangers kom BoekWeb se kantoor binne, want hulle het agtergekom dinge is nie meer lewensgevaarlik nie, net opwindend.

Trouw draai haar kop na die sweetpakman.

“Sê hulle, vroumens … sê vir hulle …” pleit hy by haar. Ook toe drie polisiemanne by die kantoor instap: “Hulle is agter my aan … sy weet dit alles …”

En dis Trouw wat Sophia aanhou verbaas. Die oomblik toe een van die polisiemanne hom nader, skree sy: “Los hom uit! Hy het net kom skuil. Daar’s ’n hele gang agter hom aan!”

“I work on a farm,” vertel hy terwyl die polisieman hom rof aan die arm beetkry. “They are trying to intimidate and kill me.”

Die polisieman beduie vir een van sy kollegas om hom weg te neem. Sophia sug. Sy ken nie een van die manne nie. Almal nuut, hoë omset in die polisiestasie vanjaar.

Maar dalk is dit ’n bedekte seën as hulle haar nie met Diederick verbind nie. Daar is baie politiek tussen die polisie en die speurders; kleurpolitiek onder meer.

Die sweetpakman stap ontsteld saam met die polisieman by die deur uit.

“I want a lawyer!”

Die laaste wat Sophia sien, is die litteken op sy agterkop.

Die polisieman in beheer gaan sit op ’n stoel by die kombuistafel. “You can go now,” sê hy vir die klomp wat lyk of hulle ’n dieretuin kom besoek het. Met ’n handbeweging beduie hy sy kollega na die venster toe.

“Has anybody touched anything in here?” vra dié met ’n swaar aksent in die vroue se rigting.

Sophia voel soos ’n kind wat ’n storie aandra terwyl sy vertel van Lynette en die diefwering. Die sittende polisieman krabbel iets op ’n papiertjie.

“You two must make a statement.”

Met ’n swaai van sy hand beweeg die gedeelte van die skare wat nie na hom geluister het nie, uit die kombuis. Lynette loop, nadat sy Sophia ’n vuil kyk gegee het, saam met die res na buite. Dis net Sophia en Trouw wat agterbly.

“What happened?”

Trouw sê: “Daar was ’n bende agter die man aan …”

“Het jy hulle gesien?” val Sophia haar in die rede. En toe sy nie vinnig genoeg antwoord nie, sê sy vir die polisieman: “Ons was besig om te werk en het gehoor hoe iemand by die venster inklim.”

Hy hou op met skryf en lig sy hand op.

Sy kan sien dit gaan tyd vat. Hier kom twee verklarings wat afgelê moet word.

Maar dis nie wat hom hinder nie.

“I don’t understand Afrikaans.”

Die ander polisieman praat vanaf die venster met die senior een. Ook in Afrikaans.

“Dit wil voorkom asof die diefwering vooraf losgeskroef is, ons sal sy alibi moet verneem …”

Sophia ken polisietaal; Diederick kan ook so klink as hy die dag wil. Maar ten spyte daarvan sal sy dit nooit gewoond raak nie. Dis soos rekenaar-jargon. Dis ’n soort kode.

Die hoofman-oor-’n-honderd-polisieman maak sy keel skoon. “You two have to come with us to the police station to make a statement.” Dan gaan kyk hy na die vensterraam en diefwering, en merk teenoor sy kollega op: “This seems to have been dislocated at an earlier stage.”

“Ja, soos ek gesê het.”

Die senior maak ’n paar aantekeninge in sy bruin lêer. Dis ’n tydsame proses, hy skryf met groot, baba-agtige letters.

Trouw draai na Sophia. “Hy het op die kombuisvloer gesit sodat die bende hom nie deur die venster kon sien nie …”

Nou versnel Sophia se hartklop weer, maar dis van woede. “’n Bende onsigbare spoke?”

“Hulle het deur die parkeerterrein gevlug terwyl jy gaan hulp soek het.”

“Hy het ons kantoor se diefwering oopgeforseer en ingebreek!”

“Het jy gesien hoe hy bewe?”

Kén Trouw die sweetpakman dalk?

“Can you come over to the police station for me to open the docket?” vra die polisieman, en wag nie regtig vir ’n antwoord terwyl hy die lêer toemaak nie.

“I don’t want you to open a docket, we don’t want to make a case against him!”

We? wil Sophia verbaas reageer. We don’t want to make a case against him? Maar voor sy iets kan sê, lui die telefoon.

Sy wil dit ignoreer, maar Trouw bly die baas. Antwoord, antwoord, beduie sy vir haar.

Die man aan die ander kant van die lyn klink amper oorhaastig: “Kan ek saam met Sophia Stipp praat?”

Sy hoop nie hy wil iets verkoop nie.

“In verband waarmee, as ek mag vra?”

“Crime. Misdaad.”

Sy kan nie die noukeurigheid glo nie. En die snelheid, die vlugvoetigheid!

“Die polisie is klaar hier, dankie.”

Die man bly ’n oomblik stil. “Is ek nou by BoekWeb?”

Sy maak ’n afleiding. “Is dit oor daardie tweetalige boek?”

“Einste, juffrou.”

Die naam kom by haar op, dalk omdat dit vir haar ongewoon was in sy e-pos.

“Nikodemus van Wyk?”

“Dis korrek, ja.”

Oorgretigheid is nie die woord nie. Kan hy nie ’n bietjie uitstel om te reageer soos normale mense nie?

Amper-amper vertel sy hom van die inbreker, maar sy keer haarself. Dit het niks met hom te doen nie. Eerder die oproep hanteer soos wanneer daar ’n krisis met die kinders is: handel dit so gou moontlik af en gaan aan met die lewe. Voor die volgende ramp.

“’n E-pos-onderhoud is dalk die maklikste …” begin sy voorstel.

“Nie vir my nie. Ek het nodig om in persoon meer info te gee.”

Meer info waaroor?

“Is jy ook die skrywer van die verhale?”

Hy bly ’n oomblik stil. “Is jy Sophia, juffrou? Kan ons môre ontmoet?”

Trouw trippel in die deur, die polisiemanne is al buite.

“Asseblief, stuur vir my ’n e-pos dat ons ’n tyd kan afspreek?” vra Sophia. “Hier het ’n dringende saak opgeduik waaraan ek moet aandag gee.”

En sy sit die gehoorbuis neer.

“Ek wil nie ’n saak maak nie,” benadruk Trouw. “Hier is niks beskadig nie.”

Kort gelede het Sophia vir die polisieman vertel dat Lynette aan die diefwering geraak en die misdaadtoneel gekontamineer het. En nou, vir die tweede keer op een dag, besef sy dat sy soos Diederick dink.

“Die inbreker het ’n gebou beskadig wat nie sy eiendom was nie.”

“Ek sal ’n handyman kry om die ding weer vas te skroef.”

Sophia voel of ’n aar in haar kop wil bars.

“Hy het dit beplán. Dis ’n proses, met voorbedagte rade, om diefwering los te skroef!”

Sy luister na haarself, na die polisietaal wat sy praat.

Trouw trek haar skouers op. Toe die Afrikaanse konstabel inloer om hulle aan te jaag, herhaal sy dat sy nie ’n saak wil maak nie.

Sophia wag vir ’n reaksie van hom. Hy, dienaar van die gereg, sal sekerlik wil sien dat die skurk opgesluit word. Of minstens wil seker maak dat die ou gevang word, want anders veroorsaak die man net weer vir hulle werk en moeite as hy volgende keer by ’n ander gebou inbreek.

Maar daar is niks. Nie woorde wat Trouw aanmoedig om ’n saak te maak nie. ’n Mombakkies. G’n mens weet wat hy dink nie. Seker al so afgestomp deur alles wat hy elke dag in hierdie land beleef en sien, sê hy bloot, en nou met heelwat minder klem op suiwer taal: “Ek moet anyway ’n incident report aanteken. Julle sal ons moet vergesel na die polisiestasie toe, asseblief.”

Trouw stem teësinnig in.

Die twee vroue gaan saam polisiestasie toe, met verskillende weergawes van dieselfde gebeure.

Web

Подняться наверх