Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 8
SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK
ОглавлениеDonderdag 13 Julie, Stellenbosch
Diederick is so gou op die toneel soos ’n strokiesheld. Mens sou sweer hy’t superkragte. Sophia weet lankal hy het nie, maar sy val hom om die nek toe hy by die motor uitklim asof daar geen vuil beker in die wasbak was vanoggend nie. Hy is nie ewe innig nie. Net ’n oomblik lank laat hy haar toe om in sy arms te staan, dan hurk hy by Mathys.
“Als gaan oukei wees, Boetie,” sê hy en sit sy hand op Mathys se skouer toe hy weer opstaan om met haar te praat. Sophia sien hoe die vyfjarige na hom opkyk; vir hom ís Diederick ’n superheld. Sy groot pappa.
“Wie was vanoggend hier aan diens, Sophia?” vra haar man met waarskynlik dieselfde stem as wat hy gebruik as hy ’n misdadiger ondervra. Sy moet op die vraag probeer reageer en nie op hoe hy dit vra nie. En sy doen haar bes om die frons mis te kyk, daardie onheilspellende keep. Dis omdat hy bekommerd is oor sy dogtertjie, maar ook omdat hy ontevrede is met háár.
“Vakansietyd is ander mense as gewoonlik aan diens. Wat was die naam van vanoggend se juffrou nou weer, Mathys?”
“So jy flippen weet nie eens by wie jy die kinders gelos het nie. En dit was jóú idee dat hulle albei vanoggend hier moes bly.”
Mathys was nog besig om sy skouers op te trek, en sy is oortuig dis Diederick se reaksie wat veroorsaak dat sy gemoed draai. Sy sien sy gesig vertrek soos daardie skildery van Munch, Die Gil.
“Is Magriet dood?” snik hy.
Kyk nou wat het jy gedoen, Diederick.
“Natuurlik nie,” antwoord sy terwyl haar binneste ook skreeu, heeltyd haar dogtertjie se naam roep. “Pappa gaan nou help soek.”
Sy hou Mathys vas en wag dat Diederick ook sy woord spreek. Eerstens bevestig dat hy sal help soek en vind, en sommer ook ’n verskoning ingooi: Ek moes nie nou oorreageer het nie, Mathys, en veral nie vir jou ma verwyt het nie. Sy kon nie anders as om julle vanoggend hier te laat bly nie. Candice het mos gister nie opgedaag nie en ons kon nie aanvaar sy sou vandag kom nie. Ek gebruik jou ma sommer net as slaansak omdat ek self magteloos voel, maar ek weet ek behoort dit nie te doen nie.
Min of meer so iets, maar Ek is jammer sou goed genoeg wees. Hy loop egter na die sekuriteitsdeur en wink ongeduldig vir hulle om hom te volg.
“Laat ek maar self gaan hoor wie aan diens was, Bernadette of Chanté of Sandra …”
Die feit dat hy die name ken, irriteer haar soveel as wat dit haar beïndruk. ’n Oomblik lank is daar weer hoop in haar hart. Maar dit gaan verby, want toe hulle die skool betree, is Magriet nog steeds nie daar nie.
Die kleuterskoolhoof staan hulle en inwag met die personeel om haar. Sy skud Diederick se hand soos ’n begrafnisondernemer en haar ernstige gesigsuitdrukking maak Sophia van voor af woedend. Sy weet sy moet haar in toom hou ter wille van Mathys.
Maar Diederick is ’n pa en hy voel vere vir ’n slegte naam hierso. “Soos jy weet, is ek ’n speurder,” sê hy vir die skoolhoof met dieselfde klank as wat hy teenoor haar aangewend het. “Wie was die laaste persoon wat Magriet gesien het en hoe laat was dit?”
Nou is dit die skoolhoof wat soos iemand op ’n skildery lyk. Of dalk betrap deur lawa in Pompeii. Die oop mond, die versteende oë.
“Wie was in haar klaskamer aan diens?” vra Diederick die volgende vraag.
“Vakansietyd werk verskillend hierso by ons skool.”
“So daar’s nie toesig nie?” vra Sophia. Dit het uitgeglip voordat sy kon dink aan brûe wat verbrand word.
Die skoolhoof se oë spring in haar rigting. “Natuurlik is daar toesig. Vryspel word aangemoedig, en die verskillende klasse se kinders speel … onder die personeel se wakende oë … soveel moontlik in die vars lug.”
Sophia wys haar nie daarop dat die reën dreig nie; waarom het hulle nie in die klas geverf of met klei gespeel, of wat ook al mens in die winter binnenshuis met ’n spul kinders aanvang nie? Hulle betaal immers vir toesig.
“Wie was die laaste persoon wat Magriet gesien het?” dring Diederick ferm aan. Hierdie slag lig hy sy selfoon uit sy sak en wys ’n foto van Magriet, net om seker te maak almal is op dieselfde bladsy. Hulle kyk aandagtig na die bruin dogtertjie se foto op die selfoon se skerm. Nou weet iedereen die dogtertjie wat soek is, lyk nie soos ’n mengsel van hom – lank en met ligbruin oë en donkerbruin hare – of Sophia – gemiddeld wat lengte en gewig betref, met grysgroen oë en ’n bril – nie. Hy móés die foto wys om seker te maak almal weet hoe Magriet lyk, dat sy ’n bruin dogtertjie is en dat dit na haar is wat hulle moet soek.
Teen hierdie tyd sou jy kon hoop almal in die kleuterskool weet reeds. Maar die probleem is jy weet nooit wat ander mense dink nie. Die personeel kyk met ’n soort aandag na Magriet se foto wat Sophia laat dink niemand het al ooit ’n woord oor haar gesin geskinder nie. Die dowwe gesigsuitdrukkings is erger as mense wat agter hulle hande praat.
Hulle het nie ’n clue wie sy is nie, besef sy. Niemand het eens opgekyk toe sy Magriet vanoggend hier afgelaai het nie. En vakansietye het niemand die vaagste benul van wat hier aangaan nie.
“As ek almal so luister, dink ek ek het haar laaste gesien,” kom ’n fluistering uit die groepie en ’n jong vrou loer agter die skoolhoof uit. “Ek is die hulpassistent by ’n ander klas, maar ek het vir Magriet op die speelgrond gesien. Seker so ’n halfuur voordat mevrou haar kinders kom haal het.”
Verligting. Uiteindelik, ja, hulle weet wie sy is. Die foto was tóg deurslaggewend.
“En saam met wie het sy vanoggend gespeel?” Diederick dink nog ’n stappie vooruit. Hy beduie na die kinders op die speelgrond, waarvan sommige nuuskierig na die samedromming van personeel staan en kyk.
Vinnige oogkontak word tussen die personeel gewissel.
“Nee, nie juis iemand nie,” sê die hulpassistent sag. “Sy was so ’n bietjie eenkanterig.”
“Sy wou met niemand speel nie,” sê Mathys onverwags hier van langs Sophia se heup af. “Sy was soos sy altyd was.”
Dit word stil. Die skoolhoof en die personeel luister aandagtig. Wat dié kind sê, kan hulle redding beteken. Iets was verkeerd met die kind wat weggeraak het.
My kind makeer niks, wil Sophia keer. Nou is nie die tyd om haar dogtertjie se psige te ontleed nie.
“Magriet is maar net skaam vir vreemde mense,” sê sy.
“Magriet het mos anyway nie maatjies nie, Mamma.”
Sy kan nie glo wat met Mathys aangaan nie. Die fokus het nou verskuif. Almal kyk na hom en wag dat hy moet aanhou om die gat wat hy grawe dieper te maak.
“Wag nou, Mathys,” sê Diederick. “Dit het niks met die prys van eiers te doen nie. Magriet is weg. Ons almal moet haar help kry.”
Die vrou wat Sophia as Chanté herken omdat Diederick die naam genoem het, tree vorentoe.
“Niemand van ons het agtergekom dat Magriet die perseel verlaat het nie. Niemand het haar kom haal nie, sy was in die sandput en toe daar anderkant op die voet van die klimapparaat …”
“En toe?” vra Diederick.
Stilte.
“Niemand het gesien wat gebeur het nie?” Hy wag. “Ek sal almal by die ganse plek moet ondervra.”
Hulle stribbel nie teë nie.
“Eerste moet jy ’n verklaring by die polisie gaan aflê,” sê Diederick vir Sophia.
Nou is die skoolhoof nie meer so klinies nie; dit moenie ’n storie word nie. “Maar jy is dan ’n speurder,” sê sy hoopvol.
“Daar moet nog altyd ’n saak by die polisiestasie geopen word. Ons speurders werk saam met die gewone polisie.”
Ondanks alles dink Sophia daaraan dat dit tog altyd interessant is om Diederick met iemand anders oor sy werk te hoor praat. Dit klink gestroop van werkspolitiek en onderstrominge.
Hoe Diederick oor sy werk praat, is wel nie iets waaraan die skoolhoof nou dink nie. Sy fokus kennelik op hoe sy haar eie bas gaan red.
“Maar moet iemand nie vier-en-twintig uur lank weg wees om as vermis geklassifiseer te word nie? Magriet was dan nou-nou nog hier …”
“Lyk dit of sy nou nog hier is?” vra Diederick, sy goeie maniere so weg soos hulle dogtertjie. “Elke vyf uur verdwyn ’n kind in Suid-Afrika. Dis ’n mite dat mens vier-en-twintig uur moet wag voor ’n verklaring afgelê word. Die mees deurslaggewende tyd nadat ’n kind wegraak, is die eerste uur.”
Die skoolhoof begryp maar alte goed. As sy nou protesteer, sal dit éérs sleg lyk.
Diederick draai na Sophia. “Jy moet ’n polisieverklaring gaan aflê en dan vat jy vir Mathys huis toe, gee vir hom kos. Hy het jou nodig.”
Hy vat haar aan die arm en lei haar en Mathys weg van die onderwysers. Sy is bewus van hoe sy hand voel, intens warm, maar dis net ’n verbygaande sensasie.
Binne haar kráp dit. “Is almal dan blind hierso?” Dis of sy verby haar derde glas wyn by ’n boekbekendstelling is. Só sal sy ook voel as sy anderkant veertig is, hoop sy, te hel met wat enigeen dink!
“Dis ’n skool,” antwoord die skoolhoof die retoriese vraag. “Hier is honderde kinders vir wie ons elke dag sorg.”
Hy is nou-nou terug, beduie Diederick oor Sophia se skouer, met Mathys nog heeltyd aan haar hand.
“Magriet is bruin,” sê hy toe hulle deur die sekuriteitsdeure is.
Komende van die man wat sy familie wou bliksem as hulle dit aan hom uitgewys het. Maar toe sy vir hom kyk, besef sy hy het nie ’n doodgewone waarneming met haar gedeel nie. Hy bedoel iets anders.
“Mamma, Mamma …”
Mathys pluk aan haar hand. Sy wil hoor wat Diederick te sê het, maar netnou is dit iets dringends. Sy kyk vir die kind.
“Kyk die wolke, Mamma. Daai een is ’n vulkaan.”
Hy het op die parkeerterrein gaan stilstaan en beduie. ’n Wolkformasie het onheilspellend bokant hulle koppe gevorm. Sy voel onredelik geïrriteerd oor die onderbreking en vat weer sy hand sodat hulle by die motor kan uitkom. Hulle moet beweeg.
“Wat daarvan dat sy bruin is?” vra sy vir Diederick.
“Hulle sou na haar opgelet het, die onderwysers … as sy wit was.”
Nou is sy die een wat gaan stilstaan. Sy kyk op in Diederick se bekommerde oë en skud stadig haar kop. Want woorde van drie dae gelede, toe sy vergader het met ’n bruin skrywer van ’n nuwe misdaadroman, het haar so pas getref en dit voel onverwags verdoemend.
Julle sien ons ook net raak as julle ons nodig het, die res van die tyd is ons vir julle invisible.
“Nie ál die onderwysers nie. Net party van hulle het haar totaal misgekyk,” sê sy en ’n koue sak dwarsdeur haar lyf tot by haar voete.
Hy lyk nie of hy verstaan wat sy bedoel nie, maar beduie haar na die motor toe en sy maak die deur vir Mathys oop, wat inklouter.
Hoeveel kere smag sy nie daarna dat hy met haar moet saamstem nie, maar vandag wens sy dat hy nié verstaan wat sy bedoel nie. Daar is soveel mense in hierdie land wat mekaar miskyk óf te stip dophou omdat ons velkleure verskil, Diederick, jy verstaan mos wat ek dink. Bewys my verkeerd, Diederick. Kom met gerusstellende woorde. Vertel vir my mooi leuens. Toor vir Magriet terug.
“Jy is reg,” sê hy. “By hierdie skool was daar personeel wat haar júis nie raakgesien het nie.”
Sy kyk weer in sy gesig. Hoe onverwags dat hulle vandag so baie vir mekaar kyk; dit het so lanklaas gebeur. Sy weet nie eens of die lyne op sy wange en voorkop vir die eerste keer daar is weens die spanning oor Magriet nie. Of lyk hy al baie lank so bleek en moeg? Sy steek haar hand uit om aan hom te raak, en hy vat haar ’n oomblik lank om haar lyf. Hy ruik bekend, en sy kan voel dat hy warmte het om haar te bied. Sy kan ook voel dat hy háár gerusstelling nodig het, en sy kan dit nie vir hom gee nie.
Die kleurbeheptheid van almal in hierdie land. Elke keer in die supermark as iemand omkyk en fronsend wonder hoekom sy wat Sophia is haar huisbediende se kind saambring en boonop vir haar ’n suigstokkie in die waentjie gee, net soos vir haar eie seun. Natúúrlik.
Daar is ’n binnewêreld: die plek waar alles gebeur. Maar daar is ook ’n wêreld wat ander mense sien, en dit lyk totaal verskillend. Die lewe na buite is egter die uitstalvenster en mense noem dit die regte een.
Vir enigeen wat haar gesin nie ken nie, is Magriet bruin en dus logieserwys nie háár kind nie. Hulle sóú haar nie raakgesien het nie.
“Is jy vas, Mathys?”
Sy gesiggie is bleek. Sy neem sy hand, dis nou yskoud.
Toe sy terugdraai, is Diederick reeds besig om met die bouers by die opslaanhuisie te praat. Ken hulle hierdie kind? Hy het weer sy foon beet, beduie na die foto.
Hulle skud hulle koppe, net soos vir haar.
Uit die bloute, ’n SMS. Sophia gryp na haar foon.
Ek het van jou gedroom. Gister heeldag lank. En in die nag. A. x
Diederick is terug by die motor. Sy sit blitsig haar foon weg.
“Het jy ’n foto van Magriet by jou?”
“Ek dink so. Op my sel.” Sy dink nie haar stem bewe nie, maar is nie seker nie.
“Dis goed genoeg. Hulle kan dit solank download en in-scan om dadelik op die Missing Persons-kennisgewing te gebruik.”
Sy wil iets vra, maar hy het ’n metamorfose ondergaan: Hy is nie meer net haar man nie, nou is hy speurder.
“Terwyl jy ry, dink oor die vorm van gesig, oor die afstand van haar oë uitmekaar, enige spesifieke besonderhede. Watter klere het sy vanoggend gedra? Die merkie op haar linkerarm waar sy ingeënt was, die klein geboortevlekkie in haar nek as mens haar hare oplig en opsy skuif … Noem alles waaraan jy kan dink.”
Sophia registreer die afslaerstem, die klank van kundigheid. En voel oorweldig deur die taak op haar skouers.
“Ek wil hê jy moet saamkom, Diederick.”
Hy frons vir haar. “Gáán. Ek moet nog hier rondkyk. Al bel ek jou tien minute nadat jy dit aangemeld het om te sê ek het haar gekry, maak dit nie saak nie. Laat die polisie ook solank begin soek, sê vir Xoliswa ek vra mooi, dis my kind.”
Sy klim nog nie in nie, maar maak die motordeur toe, staan by hom.
“Dit was ons twee, Diederick,” sê sy, en draai om om seker te maak Mathys hoor nie.
“Ons twee wat wát?”
Hy moet nou nie vir hom staan en dom hou nie. Sy voel skuldig oor Laingsburg, maar hierdie ding strek verder terug.
“Magriet wat nie maatjies het nie …”
“Jy bedoel soos nog altyd? As jy nodig het om ’n tipiese vrou te wees en oor iets te worry, moet jy nou worry oor iets konstruktiefs. Ons moet haar terugkry.”
Hy maak die deur vir haar oop. Sy klim in.
“Wat was die laaste ding wat sy vandag vir jou gesê het?” vra hy.
Sy fynkam haar geheue. Daar is niks. Haar brein staan stil.
Diederick lyk nie meer net moeg en bleek nie, maar ook saaklik – weer die kliniese speurder. “Ons kan nie langer tyd mors nie. Mense hierso het haar nie raakgesien toe sy verdwyn het nie. Ons moet haar kry voordat nog mense haar miskyk.”