Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 5

SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

Dis ’n dag soos enige ander, dáárdie dag. Sy koester die kinders. Sy wil wegloop.

In die oggend se skemerdonker is daar ’n figuurtjie aan haar kant van die bed.

“Spinnekoppe, Mamma,” fluister die kind.

Tussen droomnewels deur begryp Sophia onmiddellik. Die natuur vereis dit van die moederdier. Diederick draai om in die bed, maar sy staan op en trek haar kamerjas aan en volg Magriet in die gang af en deur die kombuis.

Die oggendlug is klam toe sy die agterdeur oopmaak en sy besef dit reën steeds liggies soos dwarsdeur die nag.

Die dogtertjie se entoesiasme is onblusbaar. Sy en haar broer, wat hom vyf minute later by hulle aansluit, hare skeefgeslaap, laat hulle nie afsit deur ’n paar druppels nie. Hulle soek ywerig spinnekoppe in die agterplaas vir navorsingsdoeleindes. Hulle kon nie hier dinosourusse opspoor vir die vorige klastema nie, maar dié taak is ’n ander saak.

Dis nie woorde oor opwindende ontdekkingstogte wat uitkom toe sy praat nie.

“Julle gaan siek word, ons gaan laat wees, oppas vir knopiespinnekoppe …

“Ek’s Spider-Man!” skree Mathys en duik in sy sussie se rigting.

Magriet lig iets op en Sophia herken dit as ’n plastiekpop wat haar kop in ’n vorige skermutseling verloor het. Dis al waarvoor die pop nog goed is: selfverdediging. Sophia is met drie groot spronge by om die rusie stop te sit.

Sy is besig om haar tussen die kinders en die afkop-pop in te forseer, toe iets op haar arm spring.

“’n Gogga!” gil Spider-Man, hoër as enige meisie.

Terwyl Sophia na die insek slaan, registreer sy en haar dogtertjie gelyk wat dit is.

“’n Spinnekop!”

Magriet bulder dit uit. Hulle leer van spinnekoppe op skool. Sy is sewe – twee jaar ouer as Mathys – en sy wéét waaroor die lewe gaan, al is dit ook net die lewe binne hierdie paar vierkante meter.

Die kind skree ook so hard, weet Sophia, omdat hierdie wrede ma pas die enigste resultaat van hulle soektog van kant gemaak het.

“Wat skree julle so, Sophia?”

Diederick se stem is ook hard. Hy staan op die stoepie en die bietjie kuif wat hy nog het, lig op in die bries. Nie meer ’n seun nie. Veertig.

Dit het haar agt-en-dertig lewens- en elf huweliksjare gekos om te besef soms moet sy haar mond hou, soos nou.

Dis die kinders wat skree, Diederick, en jy moenie ook nie.

Sy sukkel om stil te bly, maar aan die ligkwaliteit kan sy sien sy is reeds laat genoeg vir werk soos wat dit is, hier tussen die houtstompe in die gras met sy normaalweg wye verskeidenheid spinnekoppe.

As sy nou reageer, gaan hý weer. Dan weer sy. En so aan. Soos ’n aggressiewe tenniswedstryd, ene sonder ophou. En soos sy hom hier van onder af bekyk, lyk hy opeens vir haar teleurgesteld. Sy wens sy kan sy moeë oë laat ophelder.

Sy kyk weer na die kinders. Hoe wonderlik is dit nie dat hulle hier is nie, sy behoort sulke oomblikke vas te hou.

Ook: Wat het haar besiel om saam met hulle in die gras te kom rondvroetel? Die wind is onplesierig. Hulle gaan almal borsinfeksies ontwikkel.

Op twee plekke, hou op. Dis nie Ierland dié nie. Word gelukkig.

Sy onthou van die grillerige ding op haar arm. Sy kyk daarna en prewel: “Dis ’n …”

Magriet het vinniger oorgeleun as wat die spinnekop kon spring en sy is die een wat die kadawer identifiseer: “Springspinnekop. Ag nee, man, Mamma.”

Die plat ding bly sit op Sophia se arm, in dieselfde posisie as wat sy lewe beëindig is. Sy ril.

“Is hy nou ’n fossiel soos in Pompie?”

“Pompeii, stupid,” korrigeer Magriet. Die strydbyl is begrawe. Sy’t weer begrip vir haar broer se geite, soos wanneer mens lank met iemand getroud is. Nes Sophia en Diederick dit nog ’n tyd gelede gehad het – die vermoë om tussen woede en warmte te kan rondbons. “En nee. Mens kan sien jy het nie ’n clue wat ’n fossiel is nie.”

Dis Diederick wat eerste uitbars van die lag, waar hy steeds op die stoepie staan. Dis so mooi om dié seldsame klank te hoor dat Sophia eers eintlik net wil luister; die diep basnote. En sy kan dit nie verhelp nie, dis vir haar ook snaaks. Hulle lag so baie dat die gril uit haar lyf wegvloei en sy die moed het om die dooie ding van haar arm af tussen die gras in te klap. In die lag stap sy met die trappe op na die mankolieke stoepie.

“Is julle klaar aangetrek?” vra sy vir die kinders wat in hulle nagklere met truie bo-oor nog op hulle knieë en elmboë in die gras doenig is. “Ons moet oor ’n paar minute ry, anders is ek laat vir werk.”

Wanneer mens haastig is, vra jy onlogiese vrae. Dis baie duidelik dat hulle nog nie hul dagklere aangetrek het nie. Hierdie week is dit skoolvakansie. Die feit dat Sophia laat sal wees as hulle twee nie gou maak nie, traak hulle nie. Nie een van hulle is haastig om uit te kom by die kleuterskool wat as vakansieversorgingsruimte dien nie.

Sophia draai na Diederick vir raad of ’n ongeduldige reaksie om die kinders aan te por. Maar hy staan nie meer agter haar nie.

Sy hoor die ketel in die kombuis kook. Onverwags vergewensgesind van hom; is gisteraand se rusie vergete? Hy wás verkeerd. Dit was onprofessioneel van hom om die kinders na haar werk te bring toe Candice nie opgedaag het nie. Net omdat sy vir ’n piepklein besigheid werk, beteken dit nie sy werk is belangriker as hare nie. Toe moes sý sien kom klaar. Maar gaaf, dink sy toe sy in die stort klim, as hy vir haar koffie maak, beteken dit ten minste hy het daaroor nagedink.

Toe sy in die kombuis kom, is hy klaar werk toe en sy leë koffiebeker staan in die wasbak. Hy het nie eens kom groet voor hy weg is nie. Hy’s dus nog kwaad oor Laingsburg. En die onbedagsaamheid om nie te help om die kinders te laat aantrek nie, is nog ’n spyker in die doodskis. Sy moet weer uitstap en vir Mathys met die uitvee van rekenaarspeletjies dreig om enige vorm van beveluitvoering te sien.

Terwyl die kinders die trappe na die stoepie klim, kyk Sophia bo-oor die elektriese heining wat hulle sekuriteitskompleks van Cloetesville skei, en sien hoe die mense aan die ander kant van die muur vir húlle dag gereedmaak.

Alles en almal in die verslete straat is aan die skarrel: mense, motors, honde. Die kinders moet strate toe, want dis vakansie, en die vroue moet uitkom by die wit mense se huise wat hulle gaan skoonmaak. Sy wens meteens sy kon nou met Diederick oor haar waarnemings praat, asof hulle twee en die kinders nog in die buiteland woon en al die oplossings vir die land se kompleksiteite het.

Terwyl Mathys sy hemp agterstevoorom aantrek, kyk sy by die kinders se kamervenster uit en sien hoe ’n plastieksak deur die noordwestewind opgeraap en ’n ent verderaan op die grond gesmyt word.

Aan dié kant en die ander kant van die heining, dink sy twintig minute later in die motor, is baie dinge eintlik maar eenders. So ’n gejaag was daar seker ook maar daardie dag vir die mense van Pompeii. Alledaagse oorwegings. G’n wonder haar vyfjarige seun identifiseer Pompeii, hoewel verkeerdelik, vroegoggend op ’n nugter maag in ’n doodgewone gesprek nie. Dis haar melodrama wat hom ook beet het. Sy het dit geneties oorgedra, soos ’n dooie spinnekop wat na hom toe afgeklap is.

Iemand klop aan haar motorruit toe sy by die rooi verkeerslig sit en wag. Dis Candice.

“Hallo, hallo!” groet sy.

Gister moes Sophia bel om te hoor of sy gaan opdaag vir werk. Vandag is dit asof dit nooit gebeur het nie.

“Moenie, asseblief …” fluister Magriet agter in die motor. Dis haar eerste woorde sedert sy uit die gras moes opstaan om gereed te maak vir die vakansieskool. Dis byna ’n deurbraak.

“Ek kan haar tog nie hier los nie, Magriet, dit wil reën,” antwoord Sophia en sluit die deur oop. “Tot waar ry jy saam, Candice?”

Candice antwoord nie daarop nie. “Goed, en met julle?” vra sy met die inklim.

Sophia antwoord ook nie. As sy iets oor gister sê, heropen dit alles. Sy het nie die krag nie.

“Hallo, tannie Candice!” roep Mathys uit.

“Gaan die kinders vandag na die vakansieskool?”

Candice maak natuurlik haar afleidings. Sy was gister onbetroubaar en Sophia wil nie vandag kanse waag nie.

“Die kleuterskool oorkant die straat het ’n spesiale reëling tot en met …”

“Ek weet, ja, Sophia het mos al gesê,” sê Candice. “Maar hoe gaan julle volgende jaar maak as Magriet in sub B is?”

“Graad twee,” sê Magriet sonder om na haar te kyk.

Candice werk vir Sophia en Sophia werk vir Candice. Candice sien soms na Sophia se kinders om en Sophia sien soms na Candice se behoeftes om. Sophia het vervoer, en Candice nie.

“Hallo, Magriet.”

Geen antwoord nie. In haar truspieëltjie sien Sophia hoe Magriet effens wegdraai.

“Tannie Candice sê hallo vir jou, Magriet.”

“Hallo,” sê Magriet terwyl sy nog steeds wegkyk.

“Tot waar ry jy saam, Candice?” vra Sophia met die wegtrek en vang in die truspieël die vrou se ontwykende oë.

“Die gewone plek, Sophia.”

Die gewone plek. Candice ry dikwels saam om werk te soek by huise in dieselfde area as die kleuterskool. Dit skyn vrugteloos te wees. Volgende keer probeer sy maar weer. Haar gereelde rit dorp toe is soos ’n straf wat deur Hades opgelê is, waar ’n rots bedags teen ’n heuwel opgestoot moet word, snags terug ondertoe rol, en dan begin alles van voor af. Resultaat dieselfde.

Die verkeerslig waar hulle nou moet wag, word weer rooi. Hou die mense dan nie vanjaar wintervakansie in die Kruger-wildtuin nie?

Teen die tyd dat die skoolhek eindelik in sig is, het die paneel op die geselsprogram goed op dreef gekom.

“’n Lolly lounge laat mens dink aan Hansie en Grietjie se lekkergoedhuis,” kom een van die deelnemers se stem oor die radio. “Maar die hekse wat hiér woon, gee vir die kinderprostitute dwelms om hulle te laat bly.”

Sophia skakel vinnig die radio af voor die kinders kan begin vrae vra, en sit haar motor se flikkerlig aan.

“My voet is mos seer, Sophia,” sê Candice.

“O?” hou sy haar dom en ry by die skoolwerf in. Daar’s nie nou nog tyd vir ander draaie nie. Toe hulle stop, klim Candice teësinnig uit.

Sophia probeer om nie te sien hoe die vrou oor die straat hinkepink nie. Magriet sit. Later klim Mathys uit en staan in die motreën, maar sy suster gaan nêrens nie. Die horlosie se digitale wysers wys dit is agt minute oor agt. Sophia vat die skooltasse op die voorste sitplek vas.

“Jou boetie reën nat, Magriet.” Sy speel vuil deur Mathys te betrek en sy weet dit. Die dogtertjie mag haar boetie stupid noem, maar dis ’n groot blufspul. Eintlik mag niks met hom gebeur nie, nie eens ’n druppel reën mag op sy kop val nie.

“Ek kan dit nie meer vat nie,” brom Magriet melodramaties en klim uit.

Sophia klim saam met haar uit en kry dit reg om aan Magriet se voorkop te raak voor die dogtertjie vooruit stap. Ten minste voel sy nie meer so warm nie; gister se koors is weg. Sy kla ook nie meer van keelseer nie. Met kinders kan ’n kiem soos blits kom en gaan.

Maar vanoggend in die reën! Die skuldgevoelens tref haar: dit was onverantwoordelik om die spinnekopsoektog toe te laat.

Sy wil Magriet vashou, en reik na haar. Maar die kind is te vinnig vir haar. Sy tree weg.

“Hoekom het jy daardie spinnekop doodgemaak, Mamma?”

Sy moes Magriet nie toegelaat het om om te draai en weg te stap nie, het Sophia later gedink. Maar daar was ’n rigiede sisteem om in stand te hou. Dis ’n masjien. Die skool. Die werk. Die dag se roetine.

Sy het die dag se patroon met slegs ’n paar sekondes omvergewerp deur tóg blitsig oor te leun en iets in die kind se broeksak te druk.

“Vir jou, Magriet.”

Maar daardie geskenk, jare lank al agterstallig, was nie daardie reënerige Donderdagoggend in Julie genoeg nie.

Dit was nie genoeg dat sy nou die dag in die winkel gestaan en uiteindelik die perfekte ene op die rak gesien en Magriet se versoek onthou het nie. Dit was nie ’n verskoning dat haar daaglikse lewe deur soveel dinge oorgeneem is dat daar niks kopspasie oorgebly het om te dink aan ’n spesifieke pienk haarknippie en haar dogtertjie se begeerte daarna nie. Niks sou daardie oggend goed genoeg gewees het nie, maar agterna het Sophia gedink: As ek tog net Magriet se gesiggie kon sien ophelder.

Maar die dogtertjie het gelyk of sy nie eens agtergekom haar ma sit iets in haar broeksak nie.

Haar kinders vleg tussen die ma’s met die gym-uitrustings deur tot by die kleuterskoolgebou. Sophia kom agterna. Sy moet ook haar stap ken, want daar is baie ma’s en hulle is almal haastig. Net een glimlag stywerig in haar rigting. Sophia herken haar as iemand wat sy al by Magriet se skool gesien het.

Die kinders hou vakansie by die vakansieskool, maar die volwassenes nie. Hulle hardloop rond soos marmotte op wieletjies; dís toe wat dit beteken om groot te wees.

In die klaskamer waarheen sy haar kinders neem, speel gospelmusiek op ’n dansmaat. ’n Kind huil en nog een dans. Sy weet nie of daar iemand van Magriet se graadeenklas is nie. Sy herken niemand, maar is ook nie so seker nie.

Magriet het geen maatjies die afgelope twee jaar gemaak of huis toe genooi nie, dink sy kort daarna terwyl sy haar motor se trurat indruk. Nie een nie.

Op pad na haar werk besef sy dit: As sy by haar kinders is, wil sy op haar eie wees. Weg van hulle, wil sy net by hulle wees, nêrens anders nie. Natúúrlik was eergisteraand se rit Laingsburg toe ’n glips, die soort flater waaroor hulle gesin later almal sal kan lag.

Sy begeer dit om een van daardie ma’s by die kleuterskool te wees wie se lewe daaruit bestaan om hulle eie drome deur middel van hulle kinders se partytjies te verwesenlik. Ook al moet hulle die hele dag koeke versier, beteken dit steeds hulle het meer tyd saam met hulle kinders as sy saam met hare.

Terwyl sy oor ’n plastieksak en ’n polistireenhouertjie in die parkeerarea voor haar werk ry, verfyn sy haar fantasie. Sy wil een van daardie ma’s wees, veral die een met die bruingebrande bene sonder ’n sweem van selluliet in haar kuit of in die gedeelte waar die swart rekbroekie gespan het.

Sy wat Sophia is, wil nie ’n vaal jas dra en heeldag doodstil voor ’n rekenaar sit nie. Sy wil nie in die spieël kyk en so grys en moeg lyk nie. ’n Vaal, gemiddelde vrou met ’n bril tussen die sprankelende, aktiewe moeders.

Sy wil eerder dáárdie een wees, die een wat voor die skool so half in haar rigting geglimlag het.

Terwyl sy haar motordeur toesluit, dink sy dat sy aan die vrou se been sal wil vat, net om te voel of dit ’n regte mens s’n is, ’n vrou wat al kinders gehad het. Hoe baar mens kinders uit so ’n lyf? Sy is so ferm soos Barbie, met dieselfde aangeplakte glimlag. Die vermommingsglimlag maak haar nog meer begeerlik. Dis presies wie Sophia wil wees. Sy wil nie voel dat sy iemand tevrede moet stel nie. As haar man werk toe sou foeter sonder om haar te groet, is dit sý verlies, sou sy reken as sy daardie vrou was.

Sy sluit BoekWeb se kantoordeur oop en toe sy instap, sien sy Trouw sit reeds voor haar rekenaar. ’n Bekende tamheid oorval haar. Dis ’n gevoel wat verband hou met kantoorwerk en roetine. Die dag het nou eers begin, maar die marmot op die wieletjie is klaar suf.

Tog, sonder haar karige salaris kan sy nie bekostig om haar kinders in dieselfde skole te hou as dié van die supermammas wat heeldag gym nie. Hulle eggenote is nie polisiemanne nie. Hulle is magnate.

Terwyl sy haar skootrekenaar uitpak, sien sy Trouw se gesig is donker. Sy vee haar vlegsel geïrriteerd agtertoe en Sophia ken al daardie beweging. Trouw tob oor BoekWeb, die webwerf wat sy self uitgedink het. Trouw tob elke dag daaroor, maar party dae meer as ander. En die laaste rukkie voel dit vir Sophia asof Trouw se luim nog slegter is as gewoonlik.

“Die naam BoekWeb is nog net in Holland geregistreer toe ek laas gekyk het,” sê Sophia terwyl sy haar kodewoord intik.

Trouw frons en skud haar kop. Nee, dis toe nie hoekom sy so onplesierig lyk nie.

“Daar is rassistiese comments op ons Facebook wall.”

“Wat’s nuut?” vra Sophia.

“Dis erger as ooit. Die studenteprotes het die hele land aangesteek. Nou is almal van voor af kwaad: die plaaswerkers, die mynwerkers, die huiswerkers …”

“So almal skryf nou rassistiese kommentaar onderaan artikels wat met boeke te make het …?”

“Mense skryf nou wilde comments enige plek! Die hashtag-veldtogte raak al hoe meer en jaag almal in verskillende kampe in. En die comments lyk regtig nie goed vir ons brand nie. Waar val al hierdie mense uit?”

Amper antwoord sy, al weet sy die vraag was retories.

Dis die ou storie op sosiale media, Trouw, die details het net verander. Hulle kruip saans uit hulle gate. Hulle voel alleen, of hulle kyk diep in die bottel, of hulle kry onmiddellik reaksie. G’n mens weet nie. Dis die internet se geheim. En ons kopseer.

Maar Trouw weet daardie goed al lankal.

“En anyway, Sophia, die feit dat die website se naam iewers anders geregistreer is, beteken ons stuur al ons traffic na hulle toe.”

Watse verkeer, Trouw? Dis nou nie asof besoekers in rye by ons webwerf aanmeld soos motors wat staan by die verkeerslig buite die sekuriteitskompleks waar ek woon nie. Ons bemark immers boeke in ’n land waar die meeste mense nie geld het vir kos nie en die res die sente omdraai om vir goeie skole en universiteite of Europese reise te betaal.

“Ons doelwitte verskil van daardie webwerwe s’n,” sê Sophia teen haar beterwete. Haar rekenaar is aan. Op die skerm is tekeninge van springende gedroggies; Google lyk vanoggend so besig soos ’n kleuterskool.

“Hoe? Hulle bemark boeke online en ons ook.”

Sy weet sy moet stop. Sy moet opstaan, kombuis toe gaan en vir haar gaan koffie maak. Dit sal nie lyk of sy haar aan die gesprek onttrek nie. Maar nee. Soos haar kinders, weet Sophia nie altyd wanneer dit ’n goeie tyd is om ’n gesprek te beëindig nie.

“Ons is mos nie net … ’n databasis soos hulle nie. Ons probeer mos vir mense lok … um, dink ek …”

Trouw help haar nie om haar sin te voltooi nie. Sy sit haar só en kyk. Asof sy wag dat Sophia ’n eksamen moet slaag.

BoekWeb 101, vraag 1: Wat is BoekWeb?

Sophia weier om haar te laat intimideer.

“Soos aanlyn boekbekendstellings, man, jy weet mos!”

Trouw leun terug in haar stoel en klap drie keer stadig vir haar hande. Die irritasie kriewel in Sophia.

“Jy’t mooi geleer,” sê haar kollega. “Ons probeer die boeke verkoop ook. Net jammer dit klink so boring. Sal ons gou kyk na die dag se bigger picture?”

Nee. Jy is die een wat die konsep uitgedink het en my gewerf het om saam met jou te kom werk. Kyk jý na die bigger picture. Die enigste prente waarna ek op hierdie stadium kyk, is Google s’n. En die enigste prente waaraan dit my laat dink, is die inkleurprente in my kinders se skoolboeke.

Sy wil fokus op die oomblik. Sy wil dink aan haar kinders. Verkoop jý die boeke, Trouw.

Trouw ignoreer haar gesigsuitdrukking. Sy mag miskien ’n vlegsel dra soos ’n tiener op skool, maar sy’s nie verniet die baas nie. Sy staan elke oggend op met nuwe idees. Sophia is onseker hoe Trouw se bene onder haar lospassende gedoente van ’n rokagtige broek lyk, maar haar brein hang uit in die gimnasium.

“Maak vir jou ’n koffie,” kom die bevel. “En dan dink jy sommer in die kombuis aan ons volgende social media campaign. Wat moet ons doen om die meeste likes te kry? Wanneer gaan mense ons retweet?”

Sophia voer die bevel halfpad uit. Sy gaan skep twee lepels poeierkoffie in die beker, maar dink nie aan sosiale media terwyl sy wag dat die ketel moet kook nie. Sy dink aan Diederick se leë koppie in die wasbak.

Voordat die ketel tot kook kan kom, is daar ’n kragonderbreking.

“Sal ons kerse aansteek om op ons rekenaars te kan sien?” vra sy op pad terug na hare met sy swart skerm. Sy battery was pap en sonder elektrisiteit sit die wêreld met rampspoedige wetenskapfiksie-gevolge: die mensdom is gedoem, niemand kan meer moderne take uitvoer nie. Haar werk staan stil.

Trouw glimlag nie eens vir haar flou grappie nie, maar trek papier nader sodat hulle in die daglig wat by die venster inval na haar sirkeldiagramme kan kyk.

Terwyl sy met haar potlood beduie, kry Sophia onverwags ’n gevoel van bewondering. Trouw het altyd ’n toekomsvisie. Sy het immers geboorte gegee aan BoekWeb en is een van daardie mense wie se idees nooit opdroog nie. As Trouw praat, klink dit of sy haar eie strategieë glo. As dit nie vir mense soos sy was nie, het die boekebedryf lankal nie meer bestaan nie.

Want hoekom lees mense? dink Sophia terwyl sy kyk hoe Trouw se potlood verder op die bladsy krabbel. Liewer ná ’n dag se harde werk sit en wyn drink voor die kaggel of die TV, of jou kinders met hulle huiswerk help. Trouw teken driedimensionele goeters met pyle wat energiek uitskiet. En Sophia dink aan die mense aan die ander kant van die elektriese heining vanoggend – mense wat nie vanaand gaan sit en lees nie, want hulle het heeldag ander se toilette skoongemaak, en daar’s nie geld vir appels in daardie huise nie, wat nog te sê boeke.

Sy dink ook aan Candice wat gister besluit het sy daag nie op vir werk nie.

Trouw teken amper die hele oggend lugkastele en pyldiagramme. Sy gaan kla by die eienaar omdat die krag nog nie aangegaan het nie, en sy bel die munisipaliteit.

Toe die elektrisiteit eensklaps aankom, het Sophia se rekenaar ’n nuk en moet ’n deskundige kom kyk. Trouw is stuurs oor die onnodige uitgawe.

Eenuur kry sy ’n SMS van Diederick: Ek brand vas. Gaan haal kinders.

As die rekenaar nie probleme gegee het nie, het Trouw nou op haar gevoel gespeel. Want in haar wêreld bestaan daar nie iets soos kinders nie. Hulle is net lastig, morsig en in die pad. Maar daar sit ’n tegnikus met ’n frons voor Sophia se rekenaar en sy kan tog nou niks doen nie.

“Ek gaan haal net gou my kinders by die skool en vat hulle na Candice by my huis toe,” kondig sy aan.

Dis nou te sê as Candice opdaag. Dalk is dit die skoolvakansiereëlings wat haar so deurmekaar maak dat sy nie betroubaar voorkom nie. In die kwartaal is sy elke middag daar. Maar hierdie slag gedurende die vakansietyd, as Sophia haar meer gereeld wil vra om na die kinders om te sien, selfs soggens, is die vrou skielik ontwykend en nie beskikbaar nie. So asof sy ander werk soek.

Trouw reageer nie.

Sophia ry met ’n gevoel van verligting skool toe.

Sy is vry, sy is wég.

Haar kinders is nie in die klaskamer toe sy instap nie. Sy haal hulle tasse uit die rakkies, groet ’n paar onbekende volwassenes wat vermoedelik gedurende die vakansietyd die personeel is, en stap na die speelgrond. Mathys klim die klimraam en beoefen seunsaktiwiteite. Hoe kan die geslagstereotipering reeds so gevestig wees? Hier klouter haar seun wat anderdag nog doek en ’n dierbare natgekwylde blou hempie gedra het: “Kyk, Mamma!”

Mamma kyk. Maar nie vir hom nie. Mamma kyk op die speelgrond rond.

“Waar is Magriet?”

Het sy haar dan binne misgekyk? Want hier is net ’n see van onbekende koppe, soos tydens Tweede Nuwejaar by Muizenberg se swembad. Mathys antwoord nie. Hy is deur sy eie spel verblind en het mos seunsmaatjies wat saam met hom klouter, of langs hom in hulle eie wêreld.

“Sy was nou-nou nog hier.”

Sy het Mathys onderskat. Sy staan verlig nader, pols hom vir nog inligting.

“Seker so … tagtig dae gelede.”

Terug binnetoe. Daar sit die personeel en tee drink. ’n Kind slaap in ’n bondel komberse by een se voete. Sophia se bedagsaamheid neem die wyk. Laat die kind wakker word, wat maak dit saak.

“Weet iemand dalk waar Magriet is?”

Hulle skud hulle koppe heen en weer, en dis asof sy vra of hulle hierdie of daardie onlangse fliek gesien het.

Iets voel nie reg nie. Maar sy wil nie oorreageer nie. Veral nie hier nie, nie as ’n ma in ’n skool waar Mathys die mense weer in die oë moet kyk nie. ’n Ma kry so vinnig ’n slegte naam, nes ’n meisie wat rondslaap – jy moet oppas, want voor jy weet, práát die mense.

“Sy is nie buite nie?” Sophia kan nogtans self hoor hoe klim haar stem.

Eers diep asemhaal.

“My dogter kom nie gewoonlik hierheen nie,” begin sy van voor af. “Dis gewoonlik net Mathys.” Sy beduie in die rigting van die klimrame en hulle oë volg haar vinger. Hulle luister na haar storie, sy behoort verlig te wees. “Sy is in graad een by die laerskool, maar tydens die skoolvakansie is sy partykeer hier …”

Nou knik hulle gelyk. Hulle is meer by as wat sy gedink het. Maar nie by genoeg nie.

Een van hulle, ’n helper wat Sophia al vantevore gesien het, staan op. Hoekom het sy nog nooit moeite gedoen om haar naam te vra nie?

“Wie was vanoggend aan diens, mevrou Stipp?” vra sy hulpvaardig.

Kortaf antwoord Sophia: “Ek weet glad nie, ek het niemand hier geken nie. Kan ons kyk of Magriet nie by die senior klas is nie? Dalk ken sy kinders daar wat ook die vakansieskool bywoon.”

Die vrou se gesig verklap reeds die antwoord: Hierdie ís die senior klas.

Haar stemtoon het die deurslag gegee en opeens is almal op die been. Hulle verdwyn en verskyn weer en elkeen het dieselfde verslag te lewer: Magriet is nie in die badkamer nie, sy is nie in die skool se kombuis of saal nie, sy is op geen uithoek van die speelgrond nie, sy is nie in die televisiekamer of enige van die ander lokale nie. Die sekuriteitsdeure is almal op knip. Nêrens staan ’n hek oop nie.

Die heeltyd bly sy op een plek, ingeval Magriet na die klas terugkom.

“Waar kan sy wees, Sophia?”

Die skoolhoof het nou ook op die toneel verskyn en sy vra die vraag met groot gebare, asof sy in ’n charismatiese kerk lofprysing doen. Wye, oop arms. Hande na bo gelig.

Nee, vertel jy mý. Dis jóú skool. En dis mý kind.

Soos vanoggend in die tuin teenoor Diederick, weet sy dis beter om nie nou te reageer nie. Sy beduie dat sy buite gaan kyk, netnou sê sy iets onverantwoordeliks. Mathys kom oor die speelgrond na haar toe aangehardloop terwyl sy na die sekuriteitsdeure stap. Sy sit haar hand ’n oomblik lank op sy kop en voel sy hare sag onder haar vingers.

“Mathys, wanneer laas het jy vir Magriet gesien?”

“Is sy weg?”

Julle het dan vanoggend hand aan hand by die deur ingestap, wil sy sê, het jy nie eens agtergekom nie? Dis dan jou groot sussie.

“Nie ver weg nie,” jok sy seepglad. Hulle bereik die sekuriteitsdeur en sy druk daarteen, so asof dit dalk heeltyd effens oopgestaan het en Magriet gaan uitspring en skree: “Surprise!”

Die deur is bottoe. Sy plaas haar wysvinger op die skandeerder vir ’n elektroniese vingerafdruk.

“Miskien is sy huis toe,” stel Mathys voor. Een kyk in sy oë laat haar besef die trane lê vlak.

Sophia stoot die deur oop en hulle stap uit op die parkeerterrein. Daar is net ’n pa en seuntjie op pad binnetoe. En nog ’n ma wat met haar kind staan en raas omdat sy nie gekyk het vir die motor wat ingery kom nie. Verder net vier bouers wat by hul opslaanhuisie sit en toebroodjies eet.

Die bouers!

Nog nooit tevore met hulle gepraat nie, maar vandag is die dag.

“Molweni! Ninjani …?”

Sy onthou vaagweg dis beleefd om in Xhosa ’n soort persoonsnaam by te voeg. “Goeiedag, my broers” en nie net “Goeiedag” nie. Maar in hierdie stadium kan sy nie onthou wat is “bhuti” se meervoud nie. En eintlik wil sy glad nie weet hoe dit met hulle gaan nie. Hulle voel dit sekerlik aan. Daar is ’n dik atmosfeer, amper soos by haar werk toe sy vanoggend daar ingestap het.

Dalk is hulle ongemaklik daarmee dat sy by hul huisie inloer, in die hoop dat sy Magriet hiér gaan aantref. Dis onmiddellik duidelik dat daar niemand binne is nie. ’n Stoel in ’n hoek, ’n hark en ’n graaf teen ’n muur. ’n Koffiebeker op die vloer. Nors gesigte oor sy hul privaat ruimte binnedring. Die gesprek het nie ’n gelukkige verloop nie.

Uiteindelik staan sy en Mathys by die hek. Die seuntjie klou aan haar bene vas, sy gesig styf vasgedruk teen haar jas. Sy bly in die straat op en af kyk, sinneloos, terwyl sy met haar selfoon teen die oor staan en wag dat Diederick antwoord. Die helper met wie sy daar binne kortaf was, kom by die gebou uit na hulle toe aangehardloop. Sy hou heelpad gretig iets uit na Sophia toe.

“Mevrou Stipp, ek het dit gekry, ek het dit gekry …”

Asof Magriet uit die objek gaan klim en in haar omhelsing gaan induik.

Die teleurstelling neem van haar besit, en toe iets soos woede jeens die vreemdeling omdat sy dit durf waag het om hoop in haar hart te plant. Sy gryp die ding uit die vrou se arms, dis half bekend en sag.

’n Oomblik lank, toe sy besef wat dit is, vermurwe haar hart. Die kind het tog, in hierdie weggooi-samelewing, iets van haar onskuld behou.

Sy registreer Diederick se stem praat in haar oor.

In haar arms is Magriet se afkop-pop, effens klam van vroeër se reën. Aan die pop se opgestopte lyfie kleef iets. Vanuit hul agterplaas vanoggend, ’n flenter spinnerak.

Web

Подняться наверх