Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 9

TROUW, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

Wat beteken die woord “sielkundige” in elk geval? Dis hoekom Trouw s’n eerder ’n shrink is. As sy daar uitstap, voel dit of haar selfvertroue nog verder gekrimp het. Dan is dit soos wanneer sy op Facebook ander mense se status updates lees.

Amazing punte gekry vandag, wow #cumlaude #feelingblessed

Belaglik om mense se kwansuis perfekte lewens met hare te vergelyk. Maar sy kan nie ophou nie, dis net so verslawend soos RedTube.

Die Facebook-agtige ongemak verlaat haar nie. Nadat sy lunchtyd by haar ma se huis gesit en tob het, klim dit saam met haar in die motor. Die samedromming van studente en werkers op die sypaadjie krap haar om. Die beklemmende gevoel ry saam met haar terug kantoor toe. In die straat, terwyl sy kantoor toe stap, kry sy dit nie afgeskud nie.

Sy kom in ’n slegter toestand terug by die werk as vroeër die dag. Haar selfoon gaan nou enige tyd lui. Waar sal sy haar ma hiérdie slag moet gaan oplaai?

Los my uit, Ma. Red jouself vir ’n verandering. Ek is nie fokken Supergirl nie.

Nadat sy die kantoordeur agter haar toegemaak en gesluit het, is sy verbaas om die figuur by Sophia se rekenaar te sien sit. Sy’t al vergeet hy is daar. Dis al ná drie.

“Is my kollega al terug?” vra sy vir die rekenaardeskundige.

Hy kyk nie op nie. Staar met ’n diep frons na Sophia se skerm en lyk of hy haar glad nie hoor nie. Tipiese man. Kan net een ding op ’n slag doen. Hy is nie eens so hot soos Bok nie. Is dit oor hy nie ’n bokbaard het nie? Whát’s up met haar obsessie oor die fluff daarso? Die vet weet. Hy het anyway ’n swak ken. Hy lyk ook nie so danig bright nie.

’n Oomblik lank kom dit by haar op: Ek moes vir Bok self gevra het. Of een van sy IT-pelle. Maar sy smoor die gedagte onmiddellik. Néé. As sy op sy raad moes staatmaak, was sy nou, met haar en Bok se verhouding soos wat dit is, in die verknorsing.

Terwyl sy by haar eie rekenaar gaan sit, takseer sy die rekenaarman uit die hoek van haar oog. Hy lyk heeltemal anders as Bok en die IT-nerds wat in die spelonk van sy kelderwoonstel rondhang. Hy is middeljarig, amper grys. Meer soos Sophia se Diederick-tipe: waarskynlik getroud met kinders. Vervelig. Maar lyk minstens of hy kan skottelgoed was. Of dalk of hy tot by die vullisdrom sal kan vorder om die oorblyfsels van die take-aways weg te gooi.

Lyk of hy ’n taak kan klaarmaak. Anders as haar ma.

Hopelik kan hy dié taak klaarmaak. Sy moes die rekenaarprobleme maar eerder self probeer uitsorteer het. Dit gaan nou weer ’n klomp geld kos. Vies omdat sy weet sy sou buitendien nie kon nie, verskuif sy haar fokus volkome na haar eie rekenaar en maak eers Facebook oop.

Sy het geen boodskappe of selfs enige kennisgewings ontvang nie. In haar nuusvoer skuif daar foto’s van gelukkige mense verby: ’n paartjie voor ’n kaggel met ’n bottel rooiwyn, iemand se kind wat glimlag met ’n medalje om die nek. ’n Ander vertel hoe hy die wêreld gaan verander. Nog iemand berig oor wat sy vir ontbyt geëet het (ProNutro en ’n doughnut; “Stuff die banters vandag!”). Dis nie net Bok en haar ma wat nie weet wat hulle met hul lewens aanvang nie. En sý?

Haar eie profielfoto kyk na haar toe terug. As dit nie swart-en-wit was nie, sou mens duidelik kon sien dat die ligte krul wat altyd uit haar vlegsel losraak en oor haar voorkop hang, wil-wil grys word.

Trouw maak Facebook vererg toe en beweeg aan na haar blogtuiste. By die blog wat sy gister geskryf het, is daar net een nuwe kommentaar.

Het jou, katvis! Me again! Is jy nog wakker? Chillax, moenie jouself so ernstig opneem nie. Groete, die Jester.

Net vir ’n oomblik skrik sy – is dit iemand van RedTube se rooikamer wat haar hier opgespoor het? Soos die boodskap van nou die dag: Attention. Suspicious activities … Sy skud haar kop. Daai “attention”-boodskap was van ’n bot af. Jy ontvang elke liewe dag van jou lewe dosyne spam-boodskappe, Trouw. Die enigste ding wat daardie spesifieke boodskap verskillend gemaak het van die res, is die feit dat jy stupid genoeg was om dit oop te maak en dit boonop te lees.

Komaan, Trouw, jy weet jy’s ’n pro.

Sy glimlag oor die verspotte rympie in haar kop, voel effens meer ontspanne. Hierdie Jester-trol is iemand anders, die vreemde boodskappe hou nie met mekaar verband nie. Trolle is outomaties lastig by enige blog-afdeling, dis hoe hulle is. Sy behoort dit mos te weet.

Sy skuif die pyltjie op die skerm oudergewoonte na haar verstellings om die blog-trol te blokkeer. Môre is hy weer daar, in ’n nuwe gedaante, maar laat sy tog maar vandag van hom ontslae raak.

Sistematies maak sy die trol se profiel oop en skuif tot op die plek waar sy moet klik om sy uitwissing te bewerkstellig.

Haar useless shrink het een keer gesê mens val maklik vir iemand met dieselfde soort karaktertrekke as jou ma. Of iemand wat jou op dieselfde manier laat voel. Die vrou het vir ’n slag die waarheid gepraat. Trouw is mense soos hierdie blog-trol gewoond. Ook die stalker was nie ’n weird opsie nie. Hy was presies wat sy geken het, al die jare.

Wil jy vir Jester uitwis? wonder Trouw se rekenaar. Sy talm. Maar ja, sy wil, absoluut.

Story of my life. Mal mense is normaal, hulle is die enigstes wat daar is. Daarom is dit nie so maklik om van een ontslae te raak nie. Maar hierdie een sál waai.

Terwyl sy besig is om al die blokkies te merk waar haar toestemming gevra word dat die persoon nou werklik van haar blog verwyder kan word, lui die telefoon.

“BoekWeb, goeiemiddag.”

Eers ’n stilte. Sy oorweeg dit om die gehoorbuis neer te sit. Dan maak ’n man keel skoon. Maar hy sê niks. Is dit al weer hý?

“Wat wil jy nou weer hê?” vra Trouw. “Ek dog ons albei het besluit dit werk nie.”

“Verskoon tog,” hoor sy egter ’n vreemde manstem. “Maar ek is op soek na Sophia.”

“Sy is nie nou hier nie,” antwoord Trouw, effens van stryk gebring. “Is daar ’n boodskap?”

Hy antwoord nie dadelik nie. Sophia het op universiteit ’n ding vir die stil, sterk tipe gehad, onthou sy onverwags. Dis hoekom Diederick se luidrugtige gelag haar voete so onder haar uitgeslaan het. Sy was nie daaraan gewoond nie.

“Enige idee wanneer sy terug sal wees?”

Dalk is dit omdat Trouw so ongeduldig reageer dat hy vinnig groet en aflui. Sy kan nie help om effens te glimlag nie.

Om te dink daar is ’n man wat agter haar vaal, getroude kollega aan bel! Op universiteit was Sophia beslis meer flambojant. Hélderder, ook wat haar kleredrag betref. Deesdae is sy so half dof en uit fokus: lang grys jasse en vervelige skoene.

“Jou kollega se laptop dié?” vra die rekenaardeskundige aan die ander kant van die lessenaar.

“My kollega werk daarop. Dis BoekWeb se eiendom.”

“Ek dink dis nou min of meer skoon. Maar daar was baie goggas.”

Trouw rol haar oë. “My kollega is clueless met rekenaars. Ek dink sy download files met ekstra attachments, of sy maak pop-up screens oop. Daai goed het altyd virusse.”

“Ek het ook eers gedink dis downloads,” sê hy terwyl hy in die rigting van die deur begin stap en sy hom volg. “Maar dis iets anders.”

“Soos ’n nuwe soort virus?”

Hy skud sy kop heen en weer. “Ek het nog nie so iets teëgekom nie – óf jou kollega weet al die tyd vrek baie van rekenaarprogrammering, óf ’n baie slim kuberkraker het op ’n manier haar rekenaar bygekom.”

Dis of hy wag dat sy hóm moet vertel.

“Nee, sorrie, ek kan jou nie sê wat dit is nie.”

Hy loop nog steeds nie. “Haar rekenaar is op ’n manier met jou rekenaar … geconnect.”

“Mens noem dit die internet.”

Hy lag nie. Glimlag nie eens flouerig nie. “Ek druk my nie duidelik uit nie, want ek is nie heeltemal seker wat hier gebeur het nie. Daar is ’n vreemde boodskap op haar rekenaar wat van joune af kom: ‘Attention, suspicious activities …’”

Trouw se hart mis ’n slag. Maar sy gáán nie voor hierdie ou lyk of sy nie weet wat aangaan nie.

“Van my e-posadres af? Dis vals. Ek het ook so ’n soort boodskap gekry …”

Weer skud die man sy kop, heen en weer, asof hy diep nadink.

“Dis asof iemand die rekenaars in hierdie kantoor probeer hack het. Is jy die enigste mens wat op jou eie rekenaar werk?”

Trouw wil nie te kenne gee dat sy nie verstaan nie. Sy het nog altyd onder die indruk verkeer dat al die rekenaars in die kantoor dieselfde IP-adres het as hulle dieselfde internetkonneksie deel. Die man beskou haar stilte as ’n teken dat sy wonder wie nog op haar rekenaar werk.

“Kry maar jou anti-virusprogramme in orde.”

“Werk die rekenaar nou weer?”

Hy knik. “Touch wood. Hoor hier, wat weet jy van die #fire-veldtog?”

Sy trek haar skouers op. Vir wat maak die man praatjies?

“Vergeet dit, net iets wat ek die afgelope paar dae sien opduik. Ek het vir jou die rekening gemail, baie dankie.”

Hy vertrek en sy bly alleen in die kantoor agter.

Néé. Dis die ou storie: Die internet lees gedagtes. Die worldwide web het gesien sy het hierdie boodskap op haar rekenaar oopgemaak, dit was ’n virus en nou het dit kleintjies gekry. Die internetman was toe al die tyd nie so betroubaar nie. Hy was oor die muur en weet nie wat fout was met Sophia se rekenaar nie.

Virus scan. Trouw kyk hoe die sirkeltjie op haar rekenaar begin draai.

Twintig oor drie. Nie net die sirkeltjie wat draai nie. Waar bly Sophia nou weer?

Sy kyk weer vir die sirkeltjie. Om en om.

Sy maak haar oë toe.

Toe ons saam in die BPhil-joernalistiekklas was, het die internet nog nie bestaan soos hy vandag is nie, Sophia. Maar ek leer hom elke dag ken. Ek wens ek het al meer geweet. En ek wens daar was iemand anders wat net so nuuskierig was oor hierdie web soos ek. Iemand anders as Bok.

Iemand wat my kon vertel wat áángaan.

Dis presies wat sy wil doen: aangaan. Met haar werk, terwyl die virus scan in die agtergrond al haar rekenaar se probleme probeer regmaak.

Wag. Laat sy net gou vir oulaas op Facebook loer wat vang die res van die wêreld aan.

Hierdie slag, vyf minute nadat sy dit verlaat het, is Facebook nie meer ’n vriendelike plek nie. Iemand het kommentaar gelewer op ’n inskrywing en foto wat sy omtrent ’n roman op BoekWeb se bladsy opgelaai het.

Die skrywer is, volgens die persoon, “baie lief vir ons rooi en pers en bont boeties en sussies”. Die boek “is een groot gegatkruip en gesoentjie-soentjie van ons medelandsburgers”.

Trouw sug.

Hide comment.

Vanmiddag, kan sy sien, gaan sy nie kan blog nie. Haar groot taak gaan wees om Facebook dop te hou vir krisisbestuur. Die alewige catch-22: Deel mens nie iets op sosiale media nie, weet niemand daarvan nie en val die statistieke nog verder deur die vloer; verskyn dit wel op Facebook, stroom die onvoorspelbare en dikwels rassistiese kommentare in.

Aangaan. Ten spyte van die mans in haar verlede, ten spyte van haar ma daar bo in die huis. Net fokken aangaan.

En Sophia is baie laat vandag. Wat’s haar storie? Elke middagete ’n verskoning. Dis altyd te doen met haar kinders. Darwin het die kat aan die hond se gat beet gehad. Niks van ’n survival of the fittest nie. Die spesie moet breinloos voortplant. Hoe anders sal ’n vrou bevrug word as dit nie is van stil lê en wag dat die man sy saad inplant sonder om voorsorg te tref nie?

Waar was Maslow toe die menslike ras hom nodig gehad het? Gebruik jou brein, vroumens. Vir wat wil jy kinders in die lewe bring? This planet is going down, dis apocalypse now already.

Maar Sophia loop staan en neem eers ’n kind aan, en dan loop baar sy nog een van haar eie. Sy populate en multiply. En besoedel alles met haar lui gene. Wáár bly sy? Trouw wil haar vra om ’n persverklaring te laai en ’n uitgewer te kontak oor ’n PDF-dokument – die posdiens staak mos weer. Sy gaan nie self daarby uitkom as sy op Facebook sit en wag dat die volgende beledigende opmerking verbykom nie.

As Sophia nie opdaag soos in right about now nie, is dit nag vir haar.

Hierdie werk moet ook voortgaan, áángaan.

Jare gelede was hulle op dieselfde bladsy, daar in die BPhil-joernalistiekklas. Dis dié dat sy jare daarna die kans gevat en vir Sophia ’n e-pos geskryf het: “Waar is jy in die wêreld?”

Dit was ’n fout. Mens moenie in ’n besigheid met iemand probeer saamwerk met wie jy voorheen bevriend was nie.

Ongelukkig, ongeag die afstand, was dit ’n baie ontvanklike tyd vir Sophia om ’n soort werksaanbod te kry. Teen daardie tyd was Diederick al maande lank sonder werk en hulle geld aan die opraak. BoekWeb was ’n uitkomkans.

Mens sou dit nie nóú sê nie! Vandag is die laatste wat sy al ooit ná middagete opgedaag het. Verstaan sy nie hoe werk ’n ooreenkoms nie?

’n Paar dae gelede het ek haar haar eerste warning gegee, dink Trouw. Ek het haar gesê ons moet ons stats lig, anders waai sy die einde van die maand. Laaste kans, sy wéét dit. Al wat ek wil doen, is om vandag te oorleef. Hoekom maak jy dit so moeilik vir my en my besigheid, Sophia?

Web

Подняться наверх