Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 13

SOPHIA, DRIE DAE VOORDAT MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Maandag 10 Julie, Stellenbosch

“Die vreemdste vir my was dat Trouw heeltyd opgekom het vir die inbreker,” sê sy die aand vir Diederick. “So asof sy hom wou beskerm.”

“Maar is Trouw nie nou deurmekaar met daardie ander bokbaardoutjie wat daar iewers by die Eikestad Mall rond woon nie?”

“Diederick! Trouw het nie ’n verhouding met die inbreker nie, mens kan sien hy’s ’n gangster!”

Hy lig sy wenkbroue: “En?”

Sy vergeet soms: Speurders is soos dokters; hulle ondersoek al die moontlikhede en skop gewoonlik af met die rofste prognose.

“En toe, Mamma, en toe?” Mathys se oë het dieselfde onrusbarende óóropgewondenheid as wat in sy stem hoorbaar is.

Sophia besef dit was ’n oordeelsfout om voor die kinders daaroor te praat.

“Dalk, as hulle gaan slaap het …” sê Diederick.

Sy sien die donker halfmane onder sy oë wat hy altyd kry wanneer hy te min slaap en te veel stres. Hy mag dalk in Ierland na die adrenalien verlang het, maar dis nie maklik om ’n speurder in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te wees nie.

“Nee, nie as ons gaan slaap het nie, Pappa!”

“Daar was ’n vreemde oom in die kombuis saam met die tannie wat saam met my werk,” herhaal sy vir Mathys, want sy weet hy gaan aanhou vra. “Maar toe het die polisie hom kom haal en hy het belowe hy sal nooit weer by ’n plek se venster inklim sonder dat almal gesê het dis reg nie.”

Mathys lyk nie gelukkig met haar antwoord nie. Hy plooi sy neus en skud sy kop. Anders as sy sussie, het hy nog nie lekker die woordeskat om genuanseerd uit te vra nie.

Magriet het stil op die rusbank sit en luister, maar noudat sy praat, onthou Sophia weer hoeveel sy verstaan: “Niemand gaan sê dis reg dat iemand by hulle venster inklim nie.”

“Julle moet gaan bad,” sê Diederick.

“Ja,” beaam Sophia. “En ek en jy moet eerder praat oor daardie spinnekoptema wat julle volgende kwartaal gaan behandel, as wat ons nou tyd aan hierdie nonsens bestee. Gaan bad nou, ons is almal moeg.”

“Ek is nie moeg nie.” Magriet bly sit met haar arms gevou. “Het die polisie toe die man gevang?”

Sophia weet dit gaan nie help om die vraag te ignoreer nie, sy ken daardie trek om die mond te goed. Die gesiggie het deur die jare verander, maar sy onthou dit vandat Magriet ’n baba was. As sy iets wil hê, dan wil sy dit hê. Magriet hoor die woord “nee”, maar sy steur haar nie daaraan nie. Sy sal hier sit tot die dag môre breek as niemand haar vraag beantwoord nie.

Dan gewaar Sophia die skouerbande van Magriet se skooltas, hoe toiingrig dit is.

Jy hoef net my kosblik in te pak, Mamma!

Wil Magriet die tas so graag saamneem bewaarskool toe sodat sy die pop, haar veiligheidsobjek, daarin kan wegsteek?

Diederick het opgestaan om badkamer toe te gaan. Hy het Mathys se hand stewig beet, maar die seuntjie beweeg nie en Magriet sít.

“Hulle het hom gevang, kom bad nou.”

“Maar is hy in die tronk?”

Sophia kyk op van die tas af en wens sy kon maklik lieg. Dit sou die lewe soveel makliker vir almal gemaak het. Sy maak of sy nie gehoor het nie. Diederick stap met lang, uitgerekte treë en sleep Mathys omtrent saam. Dalk dink hy aan elke verkeerde beweging wat sy vandag ten opsigte van die kinders uitgevoer het.

Magriet sit nog steeds op die rusbank. Sophia beweeg na die ander rusbank, die een wat as die vertrek se pakstoor diens doen, en begin om ’n paar van die kussings, teddiebere en kryte te verwyder om plek te maak … en gaan lê.

“Wat doen jy?” frons Diederick van die deur af en beduie, terwyl hy Mathys met sy een hand vashou, met die ander na al die speelgoed en die drie plastiekborde met oorblyfsels van aandete op die vloer. “En waarvoor betaal ons vir Candice?”

“Dis ons eie gemors, Diederick.”

Hy kyk aandagtig vir haar. “Ek verstaan jou nie, weet jy? Altyd kla jy oor haar, maar as ék die dag kritiek uitspreek, kom jy vir haar op. Mens sou sweer sy’s jou ma.”

“Wat bedoel jy?” wip Sophia haar.

“Jy weet goed. Hierdie taai … wat dit ook al is … op die mat, dis al weke lank daar. Candice is nie blind nie, sy doen net nie haar werk nie.”

Omdat hy beduie, bevry Mathys homself en spring soos ’n jolige vlooi op die mat.

Op ’n ekstra moeë aand, soos vanaand, hou hulle soms piekniek. Dit klink altyd so prettig. Maar teen hierdie tyd assosieer Sophia al die woord met soveel spanning dat sy ’n maagseer daarvan kan kry. ’n Huispiekniek beteken daar’s meer chaos om agterna op te ruim: kos en klein papiertjies en speelgoed en die kombers op die vloer. Kan sy nie een van daardie super-gimnasium-mammas huur om die huis te kom opruim nie? Húlle het die tyd daarvoor. Hulle het die lywe. Hulle het die energie.

Mathys trap op ’n halwe tamatiebroodjie. Hy skree so hoog soos tien bioniese vlermuise op een van sy televisieprogramme, waar al die karakters kompetisie hou om te sien wie wen die prys vir die mees irriterende stem in die heelal.

“Ek trap op ’n gross ga-ga-iets!”

Sophia draai haar moeë kop en sien dat Mathys darem die toebroodjie onder sy voetsool verwyder het en nou daarmee rondloop, tussen duim en voorvinger vasgeknyp.

Diederick is by die deur uit. Sy hoor hoe die kraan in die badkamer so wyd oopgedraai word dat dit harder weerklink as die reën op die dak. En hoor jy die magtige dreuning.

En toe vang sy Magriet se oog. Sy sit nog op die bank met daardie nuutgevonde wysheid in haar oë, die soort begrip van iemand wat die wêreld in al sy dimensies begin verstaan. Saam met die insig wat Sophia nou herken, is daar ’n vonkel. Sy lag in haar hart saam oor Mathys se baba-agtige gedrag.

Hulle verskil net twee jaar, maar in haar kop was Magriet altyd die veel groter een. Dalk is dit haar persepsie dat Magriet nou so gewórd het; sy maak haar so.

Daar’s ook ’n sein wat sy nie kan verwoord nie, maar dalk neerkom op iets soos: Miskien gaan ons eendag mekaar se vertrouelinge wees, maak nie saak hoe kompleks ons verhouding raak nie.

Magriet knik vir haar, en toe staan sy op en sê vir Mathys: “Kom, Boetie, kom ons twee gaan klim in die bad.”

In die bad wil Mathys weer van die inbreker hoor: “Maar hoekom, Mamma?”

Sophia hou op om die seep aan die waslap te smeer en kyk in sy helder oë. “Bedoel jy hoekom het hy ingeklim?”

Hy knik.

Sy het Diederick hoor aankom en hoe hy nou voor die badkamerdeur vassteek. Maar dit maak nie saak wat hy dink nie. Hierdie slag, hoop sy, gaan verdere inligting die seuntjie gerusstel.

“Hy sê hy het weggehardloop van ander slegte mense, Mathys,” sê sy terwyl sy met die waslap die seepskuim van sy rug afvee. En terwyl haar hande verskuif na die dogtertjie se sagte skouervel, is die beeld van die middag van voor af by haar, asof die sweetpakman sommer net hier deur die venster geklim het.

Sy oë het so stip na haar gekyk dat dit gevoel het na die enigste twee goed in die kombuis. Dit voel of hulle haar nóú dophou, en skielik merk sy op dat haar hande in die water bewe.

“Mamma,” moedig Mathys haar aan.

Eerlikheid is nie ’n slegte ding nie, sê al die boeke oor ouerskap.

“Weet jy, Mathys, ek wil nou nie meer praat oor daardie oom nie. Hy is weggevat deur die polisie en dis goed so.”

“Het hulle die gang se mense gevang, die mense wat agter hom aan was?” vra Magriet.

“Ek is seker hulle het,” jok sy so glad soos die seep wat sy van hulle lywe afspoel.

“Het jy vir Mathys die waarheid vertel?” vra Diederick later in die kamerdeur, toe die kinders in die bed is. Hy het werklik kom ondersoek instel, sy stem is nie verwytend nie.

Sy sit regop. “Trouw hou aan daarmee: Hy’t glo vir haar gesê daar’s ’n hele spul gangsters agter hom aan. En sy wil nie ’n saak maak nie! Dink jy regtig sy ken hom?”

Diederick dink ’n oomblik na. Hy was tog nie so oortuig van sy teorie oor Trouw en die inbreker soos wat sy geligte wenkbroue nou-nou demonstreer het nie.

“Dis seker nie onmoontlik nie. Maar kom ons sê Trouw wil haar inkopies doen, dan kan sy dit mos enige plek doen. Daar op daai parkeerterrein naby jou werk …”

Diederick die speurder ondersoek nou nuwe moontlikhede, kan sy sien. Sy knik. “Ek dink die polisieman het haar ook geglo.”

“Wie was aan diens by die stasie?”

“Weet nie, maar Xoliswa was ook daar.”

Hy lag. “Eendag gaan jy dit regkry om haar naam uit te spreek.”

“Dit beteken vergifnis, sy’t my vertel.”

“So jy sê Trouw het die inbreker jammer gekry?”

“Nee, ek weet darem nie of dit sal sin maak nie.”

“Ek het dit al ’n paar keer gesien. Daar is mense wat iemand op heterdaad betrap en dan nie ’n saak wil maak nie …”

Sy skud haar kop, want hy kan nie ernstig wees nie.

“Is, ja, Sophia – wie’s die speurder hierso, ek of jy? Die ou het anyway aangehou met sy storie van die gang wat agter hom aan is. En daar ís op die oomblik plaaswerkers in die omgewing wat geïntimideer word om te staak, jy weet mos.”

Uiteindelik kry sy die volle waarheid. Toe hy hoor wat vandag by haar werk gebeur het, het hy ondersoek gaan instel, dalk vir Xoliswa gebel. Dit grief haar dat dit die eerste woord is wat hy daarvan verklap, tog maak dit haar hart sag dat hy omgee.

“Ek het niemand van die kastige intimideerders vandag naby my werk gesien nie. Kan jy nie met Trouw praat om ’n saak te maak nie?”

Diederick trek sy skouers op. “Niemand kan gedwing word om ’n saak te maak nie. BoekWeb is háár besigheid. Solank die landlord tevrede is daarmee dat die diefwering herstel word …”

Iets tref Sophia. “Hoekom wou niemand na my luister vandag nie? Ek dink die polisiemanne het ’n baie goeie idee gekry dat ek nie tevrede was met Trouw nie.”

“Trouw is die baas van die plaas.”

“So eenvoudig soos dit? En nou luister mense net na háár storie?”

“Dis seker waarop dit neerkom, ja.”

“Maar dis ’n grap!” roep Sophia uit.

Toe bars Diederick uit van die lag. ’n Vreugdelose lag.

“Is julle mal?” fluister sy.

“Dis nie ek nie, dis hoe ’n demokratiese regstelsel werk … Dis die hele stelsel, ook die polisie.”

Haar stem kom terug. “Jy werk sáám met hulle!”

“Ons werk meestal teen mekaar en jy weet dit,” sê hy in die uitloop, en trek die slaapkamerdeur agter hom toe.

Magteloos woedend vir al die pilare van al die sogenaamde regstelsels in die demokratiese wêreld, val Sophia terug teen die kussings op die bed. Sy hoor hoe Diederick die televisie in die sitkamer aanskakel, maak haar oë toe en sien die omgewing waar hy werk. Soos die gelamineerde gesig van Sneeuwitjie in die lang gang waar Diederick se kantoor die afgelope twee jaar lank is; die speurafdeling se Gesinsgeweld-eenheid is baie lief vir Disney-karakters. Winnie the Pooh ding mee met The Little Mermaid. Het die speurders gedink dit sal die kinders wie se pa’s hulle molesteer vandat hulle babatjies is, geborge laat voel? Niemand weet wie was verantwoordelik vir Gesinsgeweld se binnenshuise versiering nie. Dit gebeur net, soos ’n ekstra kind in ’n krot.

Tog hou Gesinsgeweld voortdurend vergaderings om te beplan. Dis wat hulle dit noem – klink of hulle voorsiening wil maak vir iets in die toekoms, terwyl die stapels bruin lêers op die vloere oorloop met hartverskeurende inligting van familiedramas uit die verlede. En inderwaarheid gee hulle selde die nodige aandag aan enigiets in die verlede óf toekoms, omdat mense hulle benodig wanneer daar ’n krisis in die hier en nou is.

Boonop bly dit maar so dat die polisie en die speurders dikwels teen mekaar werk. Dit het te doen met normale werkspolitiek en magsverhoudinge, ook met kleurpolitiek. En met ’n kortstondige liefdesdriehoek. Een van die polisie se grootkoppe het by ’n Kerspartytjie ’n aangename uur met die speurhoof se vrou verwyl. ’n Dronk kollega van Diederick het geklik. Sê Diederick, wat ook nie volkome nugter van die geleentheid teruggekeer het nie. Die speurhoof is toe nooit van sy vrou geskei nie. Daar is nooit klagtes van gesinsgeweld teen hom persoonlik ingedien nie, maar sy vrou word emosioneel afgepers – só vertel hulle bure, wat die rusies beluister, in die dorp rond. En net om seker te maak al die partye word gestraf, is die speurhoof nie aldag tegemoetkomend met inligting teenoor die polisie nie.

So, kommunikasie is ’n probleem. As Diederick iets by die polisie uitvind, is dit gewoonlik toevallig, of omdat hy goed met iemand soos Xoliswa oor die weg kom.

Sophia lê die hele affêre en bedink teen die sagte kussings wat al half bedompig ruik. Toe dit sagter reën, luister sy na skote wat klap op die televisie … of dalk aan die ander kant van die sekuriteitskompleks se heining, daar in die ander land wat Cloetesville is.

Sy lê en dink aan die polisiestasie se vuil banke waarop sy en Trouw moes sit voor hulle vandag die verklarings kon aflê. Die skoenmerke op die teëlvloere. Die kennisgewing teen die deur: Admision @ desc.

En hulle albei se stories oor die insident. Trouw wat voet by stuk gehou het die man het skuiling gesoek. Hét sy wat Sophia is oorreageer? Die man het by die venster ingeklim, maar afgesien van die diefwering niks skade aangerig nie.

Die hele nag lank verlaat die ongemak haar nie, dit word net erger.

Web

Подняться наверх