Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 11

SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

Ons moet haar kry voordat nog mense haar miskyk …

Met Diederick se woorde in haar ore ry Sophia by die kleuterskool se hek uit en draai regs.

Hoekom kan ’n mens se lyf net op een plek op ’n slag wees? Sy wil agteruit ook kan ry, sy wil bo-oor die dorp kan vlieg, sy wil in al die windrigtings kan sien. Maar al sê haar broer van Gauteng graag dat Stellenbosch nie soos die res van die land is nie, is die strate tóg soos oral anders. Plat stroke teer waarop motors die rigting moet kies waarin hulle gaan ry.

Daar is min verkeer. Byna niks nie, om die waarheid te sê. En bo die strate met so min motors vir die middaguur en sonder ’n teken van die dogtertjie wat sy so graag wil sien, is daar dreigende onweer. Swaar wolke.

“Kumulonimbus.”

Dis die eerste woord wat Mathys praat sedert hulle weggetrek het.

“Jy onthou mooi …”

Sy kan nie verder praat nie. Dis Diederick wat wolke en hulle benamings aan die kinders uitgewys het. Diederick weet wat hy doen, maak nie saak hoe sy in hierdie stadium oor hulle huwelik voel nie. Hy móét weet. Hy móét haar kry.

So laat hy daar by die kleuterskool aanhou soek, en laat sy dan maar doen wat hy voorgestel het – polisiestasie toe gaan.

Sy ry by die Jan Marais-park verby. Daar’s sowaar parkeerplek en die studentewoonstelle lê verlate aan haar regterkant. Orals is oop spasies in die dorp; ook net in vakansietyd is dit so stil.

Maar waar wip-wip Magriet se skouers terwyl sy stap, waar dobber haar koppie ligweg bokant haar lyfie, waar is die bene wat nou dié van ’n laerskoolmeisie word, waar is haar seldsame glimlag?

“Magriet is nêrens,” sê Mathys hier van agter af, asof hy haar gedagtes lees.

“Waar kan sy wees, Boetie? Het sy vanoggend iets gesê?”

“Sy praat nie met my by die skool nie. Sy wil altyd iets boring doen soos teken op haar eie.”

Sy visualiseer Magriet by ’n tafel. Die gefokusde gesigsuitdrukking.

Die seuntjie voeg by: “Maar sy het nie vanoggend geteken nie. Sy was ’n ruk lank binne, en ’n ruk lank buite en toe is sy net weg. Mamma, is sy dood?”

Sophia klem die stuurwiel stywer vas. Aan die onderpunt van Pleinstraat is die groot sirkel waar sy na regs draai. Dink prakties. As daar ooit ’n tyd was wat sy hierdie seldsame wens gewens het, is dit vandag hier in die motor – hier naby die polisiestasie, waar sy parkeer. Dink soos ’n man.

Hulle gaan haar vra hoe Magriet lyk, soos Diederick gesê het. En oor haar klere. Wat het Magriet vanoggend aangetrek? Die groen trui is al wat sy kan onthou. In haar skooltassie is alles soos wat sy dit vanoggend ingepak het, toebroodjies inkluis, onaangeraak. Die enigste ander bewysstuk wat sy van haar dogtertjie se bestaan het, is die afkop-pop.

Toe sy uitklim en vir Mathys oopsluit, besef sy die reën het in groot druppels begin neerplof.

“Wat het Magriet vanoggend aangehad?” vra sy, koes-koes in die rigting van die deur. Arme kind, is hy dan haar geheue?

“Daai feetjiehemp van die ander winkel wat jy altyd vertel dis goedkoop en ons groei vinnig so jy koop daar.”

’n Bruin dogtertjie in klere van PEP Stores. Al is dit net Magriet, stoksielalleen in die strate van Stellenbosch, gaan g’n mens haar raaksien nie. Sy sal so onsigbaar wees soos die bende spoke wat die inbreker naby hulle kantoor geïntimideer het.

Die inbreker met die wit sweetpak! Loop hy nog los rond?

Sy laat die gedagte tydelik vaar toe hulle nat-nat by die deur instap. Dis suiwer paranoia. Die man ken nie vir Magriet nie, maak nie saak wat hy nou die dag daar op die sypaadjie gesê het nie. Nou die dag, maar dit voel so lank gelede. Was dit sowaar net gister toe hy daar buite hul kantoor gestaan het met hul huis se voordeursleutel in sy hand?

Xoliswa is nie aan diens nie, ook nie die polisiemanne by wie Sophia haar verklaring oor die sweetpakman kom aflê het nie. Dis ’n man wat sy nie ken nie, nóg ’n nuweling. Sy stap hom tegemoet met haar selfoon.

“My kind is weg en sy lyk só …” sê sy terwyl sy die foon oorhandig sodat hy Magriet se foto dadelik kan sien.

Hy kyk na die skerm. “Ek het van jou gedroom?” lees hy met ’n frons.

Sophia gryp die foon terug. Navigeer weg van die SMS en na die foto van Magriet wat sy gereken het daar uitgestal was.

“My sussie is ’n kleurling,” sê Mathys. Sy woorde skok haar uit haar deurmekaar gedagtegang. Boonop sê hy dit vir ’n polisieman wat self bruin is. Sy besef Mathys kyk saam met haar vir die foto op haar selfoon. Hy het net sy waarneming gedeel.

Sy sit haar hand op sy kop, en hy skuif weg onder haar handpalm uit. Sy oorhandig weer die foon aan die polisieman, wat die foto bestudeer.

“U sê sy is u kind?”

“Ja.”

Hy kyk nou aandagtig na haar. Hy kyk ook na Mathys met sy grysgroen oë en sy donkerblonde hare. Dit lyk of sy dit gaan moet uitspel.

“Sy is aangeneem.”

Hy knip sy oë. “Het u dalk ’n foto van u kind by u?”

Sy skud haar kop. “My man het gesê …”

Die polisieman stel nie belang in wat haar man gesê het nie.

“Ek sal u toestemming moet kry om hierdie foto op u selfoon te bluetooth sodat ons dit onder ons netwerke kan versprei.”

Sy knik en, terwyl hy agtertoe verdwyn daarmee, draai sy na Mathys. Sy wil een oomblik lank vir hom dáár wees.

Maar terwyl sy nog besig is om te dink wat sy vir hom wil sê, hoor sy ’n telefoon agter in die polisiestasie lui.

“But is the protest peaceful?” hoor sy ’n polisieman vra nadat hy geantwoord het. En na ’n rukkie: “You can phone back if the group gets violent.”

Sy hoor ’n geluid soos die telefoon neergesit word, en bepaal haar weer by Mathys. Hoe voel hý? Sy gesiggie lyk klein en bang, sy mond weerloos.

“Wanneer was die laaste keer wat u u dogter gesien het?” vra die polisieman agter hulle.

Sophia neem haar selfoon terug. “Toe ek haar vanoggend by die skool afgelaai het. My man is Diederick Stipp, hy’s ’n speurder daar by die stasie in Adam Tas …”

Die polisieman trek sy skouers op, irrelevante inligting vir hom.

“Dis hy wat gesê het ek moet ’n vorm 55 voltooi. Of is dit 55A?”

“Moenie worry oor die vorm en sy kodes nie, mevrou, daai is ons kopseer. Jy moet net die verklaring aflê en ’n paar vrae oor haar voorkoms en die omstandighede beantwoord.”

Toe tower hy blitsig ’n stapel vorms op en hou dit by hom op die toonbank. Daar raak klaarblyklik genoeg kinders weg dat hy presies weet waar om dit te vind. Die vertrek klad voor Sophia se oë. Die polisieman gee emosieloos vir haar ’n sneesdoekie aan.

“Die eerste gedeelte van die proses is dat ek moet neerskryf wat u verklaring is, mevrou,” verduidelik hy. “En u kan daardie … speelding vir my gee, asseblief. Dis baie belangrik dat ons enige DNA kan gebruik in ons ondersoek.”

Sy bekyk die pop in haar hande ’n laaste keer. Dis verspot om te voel sy kan nie eens oogkontak maak met die ding nie. Daar sit net ’n ronde knoppie aan die nek waaraan die kop moes vas wees. Die pop is verstandloos, sonder sig of gehoor. Die pop is ’n lyf. Sy is plasties en dood.

Niemand in graad een speel meer pop nie, Mamma.

Moenie jou steur aan wat ander mense sê nie. Sy’s nie net jou pop nie, Magriet, en sy mág jou beste maatjie wees.

Enigste maatjie daarby.

Moeg oorhandig sy dit aan die polisieman. Sy besef sy het dit vasgeklou, haar laaste bietjie Magriet. Daar gaan dit nou, uit haar hande.

Sy is moeg vir verklarings. Die besigheid met die inbreker by hulle kantoor was te onlangs. Sy en Trouw het die hele oggend staan en praat. Goed, Trouw het daarop aangedring dat sy nie ’n saak wou maak nie, maar hulle moes steeds die insident vir die rekord aanmeld. Sy wat Sophia was, het haar bes gedoen om die polisieman te oortuig dat die ou nie daarmee kon wegkom om sommer net by hulle venster in te klim en niemand doen enigiets daaromtrent nie. En wat het dit haar in die sak gebring? Die polisieman het Trouw se wens eerbiedig en niks verder gedoen nie. Die man met sy wit sweetpak loop los rond.

Sy besef die polisieman voor haar wag dat sy praat. Sy voel van voor af wanhopig oor die besonderhede wat Diederick haar vertel het die polisie gaan verlang.

“Hoe moet ek beskryf wat die vorm van haar gesig is?” vra sy. “’n Gesig is ’n gesig. Watse vorm gesig het hý?” Sy beduie na Mathys en gaan voort om haar punt te staaf: “Oukei, dis ovaalvormig, dis net ’n gewone kind se gesig …”

“Sy gesig is hartvormig.”

“Ekskuus?”

“Breë voorkop, kleiner ken na onder. Hoe lyk jou dogter se gesig?”

Sy kyk hom ’n oomblik lank in die oë, asof hulle poker speel. Hy wag geduldig dat sy moet reageer.

“My gesig lyk nie soos ’n flippen hart nie.” Mathys gaan sit op ’n vuil bank daar anderkant, vou sy arms en skop sy bene voor hom uit. Sophia kan nie sy emosie uitpluis nie en draai terug na die polisieman.

“Of hoe moet ek weet hoe ver sit haar oë uitmekaar?”

“Sal een van haar oë kan inpas tussen haar een oor en die oog die naaste daaraan? Of twee? Drie?”

Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Sy antwoord nie eens nie. Hy moet haar ysigheid aanvoel, want hy praat weer.

“Mevrou,” sê hy, “ons moet nou saam die puzzle pak. Voor jy dan nou worry oor die ander besonderhede, moet ons eers begin by die begin. Hoe gouer jy vir my vertel wat het gebeur, hoe gouer kan die polisie daar by die skool ook vrae gaan vra …”

“My man is klaar besig om dinge daar te ondersoek, ek sê mos hy is ’n speurder!”

Terwyl sy dit sê, besef sy haar fout. ’n Onweerswolk skuif oor die man se gesig. Kumulonimbus.

“Hy meng nie in nie,” is dit nou sy wat ’n gat vir haarself dieper grawe; sy kom agter waar Mathys sy talent vandaan gekry het. “Hy het juis vir my gesê om die saak te kom aanmeld.”

“Nou maar goed,” sê die polisieman koel. “Kom ons volg dan die regte roete sodat die law en die gereg sy loop kan neem. Vertel nou maar eers vir my die storie van die begin af.”

Van die begin af, sê hy. Maar waar begin hierdie storie? Sy en die polisieman is vasgevang in aardse tyd. Dit beweeg in een rigting, soos motors op ’n pad. Sy kan nie bo uit die lug op alles afkyk en die groter prentjie weergee nie, al is dit haar hartsbegeerte.

“Van die begin af, asseblief,” herhaal hy.

Daar was ’n mooi somer in Ierland, jare gelede, en sy en Diederick was in die agterplaas. Daar was baie lelies, fuchsias en petunias. Hul liefde was ook in oorvloed.

Sy het tussen sy bene gesit met haar arms op sy knieë, asof hy ’n groot leunstoel was. Tussen haar hare het hy liefdeswoorde gefluister. Dit was vir albei maklike woorde om te sê, maar daar was reeds dinge waaroor hulle nie kon praat nie. Sy wou nie ’n sekretaresse wees wat ’n prokureur se foon beantwoord nie; hy nie ’n maatskaplike werker in plaas van ’n polisieman nie.

Veral het hulle opgehou tel die hoeveelste somer dit was wat hulle in Ierland bly. Hulle het ook lankal opgehou kyk na wat die bye en die blomme in die natuur regkry.

Daar was so baie wat hulle oorsee nie kon maak werk nie. Hulle wou so graag aanpas en inpas en vir altyd daar bly. Diederick wou finansieel selfstandig wees, sonder sy pa se hulp. Sy wou wegkom van haar skuldgevoelens oor haar ma in die ouetehuis met sy gladde vloere en die teerpad daarvoor met genoeg sinkgate dat al die straatmense daarin kon lê en herstel nadat hulle die drankwinkel besteel het. Niemand om na haar ma om te sien as sy nie daar is nie. Haar broer in Gauteng gee net om vir sy werk en sy minnares. Daar’s nie tyd vir sy vrou nie, wat nog te sê sy ma. Maar hulle kon nie wegkom nie, sy en Diederick, al was hulle derduisende kilometers ver. Hulle was nog altyd dáár. Dit was ook so toe dit begin duidelik word dat hulle nie sou kon kinders hê nie. Hulle kon nie wegkom van die één gedagte nie, nog iets wat hulle nie kon beheer nie. Om iemand aan te neem na jare se gesukkel het soos die enigste ding gevoel om te doen. Daar was nie ander opsies nie, daar was net tonnelvisie.

Wat alles in daardie lêer gestaan het, die dag in Dublin toe sy die baba onbeholpe teen haar skouer opgelig het: ’n Onbekende pa. Moontlik ’n Nigeriër, maar onbevestig.

“But why is she …”

“You mean her complexion?”

Nie Sophia of die Ierse verpleegster kon dit vir mekaar in woorde sê nie. Velkleur is ’n taboe-onderwerp. Maar die baba s’n het haar tog opgeval – dit was ’n sonbruin vel, Magriet was nie ’n baie donker baba nie.

Van Nigeriërs het sy en die Ier ewe min geweet. Maar sy kon sien die kind se voorsate was ligter van gelaat as die stereotipes in haar kop. Hulle moes egter iets in daardie lêer invul. Die biologiese ma het vermoed ’n Nigeriër was die pa, so wie was hulle om te stry? Hulle was nie daar nie.

En dan, die wit biologiese ma, van Suid-Afrikaanse afkoms. Omdat haar paspoort beskikbaar was, was dit hoe Magriet geregistreer is. Dit was ’n ligbruin dogtertjie, het Sophia gesien terwyl sy die kind se kuit streel. Sy kon net reageer op die onmiddellike, die sigbare.

Meer as dit het sy nie geweet nie, nie toe nie en ook nie nou nie. Hulle het die papiere geteken en dit was genoeg. Waarom nou van voor af hieroor karring, aan alles loop staan en krap? Dit het niks met die polisieman te doen nie. Vandag se storie begin by vandag, die digitale wysers wat in die motor flits, wat skree sy is laat vir werk.

“Ek het vanoggend om agt minute oor agt albei my kinders by die vakansieskool afgelaai, by Skoppelmaai Speeloord …” begin sy uiteindelik.

Daarna, toe sy en Mathys by die deur uitstap, is daar haastige voetstappe agter hulle. Sophia swaai hoopvol om; het die polisie so gou nuus oor Magriet? Maar die polisiemanne is haastig op pad iewers heen, sodat moeder en seun moet plek maak dat hulle kan verbykom.

“Hulle gaan seker vir Magriet soek,” sê Mathys. “Hulle gaan haar nou-nou huis toe bring.”

“Ja,” jok Sophia. Sy en hy kyk hoe twee polisiemotors met loeiende sirenes by die hek uitjaag.

Terwyl sy huis toe ry, voel dit soos ná ’n belangrike eksamen waarop sy nie goed genoeg voorbereid was nie.

Dra Magriet krale in haar hare? Vir watter ouderdomsgroep was haar hempie bedoel en watter prentjies was daar op haar onderklere? Aan watter kant van haar kop sit die paadjie?

Sy het die eksamen gedruip, want sy kon haar kind net as eendimensionele stokfiguur vir die polisieman teken. Die belangrikste weet hy nie, soos die reuk van haar meisiekind se kopvel as sy saans ná die bad teen haar skouer lê.

“Mamma, ek is honger,” sê Mathys. “Wat eet ons vir middagete?”

Sy het amper van hom vergeet, besef sy met ’n skuldgevoel. Haar een kind is nie by haar nie, maar die lewe gaan voort vir die ander een.

“Sal ek vir ons pizza koop?” vra sy impulsief, en draai af na die eetplek waar sy gewoonlik weier om vir die kinders kos te koop. Dis te olierig en te duur om ’n gewoonte daarvan te maak, maar hulle albei is mal daaroor.

Terwyl sy en Mathys in die ry staan, is Sophia verbaas om te sien hoeveel studente tog in die dorp oorgebly het en dat so baie gelyktydig hier is. Oomblikke gelede was daar in die dorp dan omtrent niemand nie, maar hier is ’n magdom jong mense. Sy en Mathys staan en droog word. Die ruite is toegewasem van die asems en vuur in die oonde.

Die pizzamaker smeer die tamatiesous en strooi die kaas kaalhand oor die pizzadeeg. Dan gooi hy die pizza op die groot spatel en druk dit in die oond, in een vloeiende beweging. Sy wens sy kon net kyk en kyk, die vlamme hipnotiseer haar. En die kaas wat smelt soos kerswas – ’n vuurwarm, loperige massa, eintlik eerder rooi-oranje lawa.

Wat nóú? Die polisieman het gesê sy moet huis toe gaan en wag. Gaan wág …

Die vuur in die oond veroorsaak ’n sissing, dis warm soos ’n vulkaan daar binne, dit wil alles verkool.

Maar dan ruk die man die pizza uit. Die reuk laat Sophia se mond water. Hoe bisar dat haar liggaam nog gehoor gee aan so ’n gewone menslike behoefte op hierdie gekke dag.

Ek het van jou gedroom.

’n Gedagte wat in haar kop spring soos ’n vonk uit die vuur. Maar dít kan sy beheer. Sy kyk na die mense om haar en Mathys. As sy die pratery so beluister, is dit iemand se verjaardag of ’n soort feesviering – die mense gesels opgewonde oor die een of ander groot vuur. ’n Vuur as dit so reën?

Hulle is nog jonk. Een-en-twintig vir altyd, sorgvry en sonder kind of kraai. Sy wil vir hulle skree: Besef julle hoe sinloos is elke aksie wat julle uitvoer? Hoekom vandag eet? Weet julle hoe kort leef ons almal en dat nie een van ons weet wanneer dit alles verby gaan wees nie?

En: Waar is my kind? Waar is my kind? Waar is my kind?

Al wat sy aanhou voel, is die woede en die magteloosheid. Dis oorweldigend.

Die lawaaierige atmosfeer veroorsaak amper dat sy die ry verlaat, want wat sóék sy hier, sy verraai die dogtertjie wat nie hier kan wees nie. Maar Mathys gaan nie daarvoor val nie, sy het reeds die belofte gemaak.

En dan lui haar selfoon. Toe sy van die luitoon bewus raak bokant die lawaai, antwoord sy dadelik.

“Dit klink vrolik,” kan sy eers uitmaak toe die persoon aan die ander kant die tweede keer praat.

“Trouw, ek kan nie terugkom werk toe nie.”

“Ek kan dit hoor, ja. By só ’n paartie kom mens nie maklik weg nie …”

Sy ignoreer die sarkasme. “My kind is weg.”

“So, toe gaan vier jy dit saam met ’n paar vriende?”

Hulle is voor in die ry, die kelner agter die toonbank wag dat sy haar en Mathys se bestelling plaas. Sophia tik met haar vinger op die spyskaart, hoop die man kan verstaan wat sy bedoel.

“Nee, ek wil ’n house special hê, dis wat ek en Magriet mos altyd vat!” bulder Mathys hier naby haar oor en die selfoon.

“Julle moet lekker eet,” sê Trouw ysig. “Ek wou jou eintlik net vertel daar’s iemand wat jou met ’n seer hart soek. Hy’t al drie keer gebel vandag. Ek het nou uiteindelik sy naam uit hom gekry: dis Anders Bester.”

En toe is die foon dood.

Web

Подняться наверх