Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 4

SOPHIA, TWEE DAE NADAT MAGRIET WEGGERAAK HET

Оглавление

Saterdag 15 Julie, Faro, Algarve, Portugal

Sonskyn. Helwarm hawe. En sy, op die passasiersitplek van ’n onbekende motor.

Hier binne ruik dit na nuwe sitplekke en die sweet van die man wat pas aan die bestuurskant uitgeklim het.

Die son brand haar kaal regterarm deur die toe ruit, maar die Kaapse winterreën is nie te ver weg nie. Die wind vanaf Simonsberg waai ysig in haar geheue.

Op twee plekke, soos altyd. Selfs nou. Saam met die vrees.

Deur die motor se voorruit sien sy ’n chaotiese skare op Faro se hawe. Hy is seker ook daar, maar haar oë vind hom nie tussen die baie mense nie. Alles is sedert die vlug nog uit fokus.

Hoe het sy hier beland, in hierdie bedompige motor? Vasgekeer. Soos in ’n droom waar mens weet hulp is net in die kamer langsaan, maar as jy wil skree, is daar geen klank nie.

Sy kry nie asem nie, en sukkel om haar hand te lig. Alles nog pap, iemand anders se lyf.

Uiteindelik draai sy die ruit met moeite op ’n skreef oop.

“O sol está brilhando …”

Wat die res van die woorde ook al beteken, sy weet sommer die verbyganger praat van die son. Hierdie vreemde land s’n.

Haar branderige oë kan nie lank oop bly nie. Sy maak hulle toe en agter haar ooglede is daar weer die baie ligte, nes op die vliegtuig. Soos honderde flitsende rekenaarmonitors.

Die vars lug laat haar benewelde brein egter ’n oomblik lank verhelder, sodat sy besef: Ek moet hier wegkom. Tot dusver was sy te deurmekaar om iets te doen. Die bordjie langs die pad met die naam van die berugte strandoord daarop, het haar tot haar sinne laat kom.

Maak oop die deur, klim uit. Word ’n vakansieganger tussen die skare. Nóú.

Iemand klop aan die ander ruit, en sy weet dis die bestuurder.

Sy maak haar oë oop in ’n vertraagde refleksbeweging. Word tog nou regtig wakker – kom by, Sophia! Maar sy gáán nie vir hom kyk nie. Draai haar kop doelbewus weg.

Sy sien die skare op die hawe hergroepeer soos miere wat eers blindelings deur suiker geskarrel het en nou gedissiplineerd in ’n ry inval om die kosvoorraad nes toe te dra. Hulle het ’n doelwit voor oë, hulle wil seker kaartjies koop vir bootvaarte.

Hy beweeg om die motor, sy hoor sy voetstappe. Sy het al op die internet gelees wat mens moet doen as jy gekaap word. Dis op ’n manier dieselfde.

Moenie oogkontak maak nie. Bly kalm. Soek hulp.

Soek hulp. Maar sy kan nie die miere op die kaai se taal praat nie. Hulle is van ’n ander dimensie. Hoe kommunikeer sy haar situasie aan enigiemand?

Sy kan nie gered word nie, sy is vasgekeer.

En toe slaan die naarheid haar weer, in ’n groter golf as dié by die hawe.

Knars-knars. Voetstappe tot vlak by die ruit.

Iemand sê haar naam en sy hoor die deurslot oopwip.

Sy kyk op en sien heel eerste die tande. Dan kom die seerkry soos wat sy vingers in haar boarms druk en hy haar by die motor uitpluk. Alles is nie meer donkerblou soos die voorruit dit oomblikke gelede nog gekleur het nie. Terwyl die helder son alles oranje laat lyk, is dit nie aan haar eie lewe wat sy op dié oomblik dink nie.

Daar is net die een gedagte, asof hy dit in haar losskud. Dieselfde vraag, oor en oor.

Waar is my kind, waar is my kind, waar is my kind?

Web

Подняться наверх