Читать книгу Web - Naomi Meyer - Страница 7

SOPHIA, DRIE DAE VOORDAT MAGRIET WEGRAAK

Оглавление

Maandag 10 Julie, Stellenbosch

Daar is min plek om te parkeer naby haar werk. Selfs al is dit skoolvakansie én al is die studente weg. Dis omdat sy laat is; die kinders het vanoggend gesukkel om op te staan en afskeid te neem.

Tog merkwaardig: oor naweke en wanneer hulle hele gesin met vakansie is, is Mathys en Magriet altyd lus om vroeg op te staan. Maar in die skoolkwartaal of wanneer Sophia onder druk is om betyds iewers te wees, wil hulle laat slaap. Of hang een van die twee aan haar been as sy probeer om by die voordeur uit te stap motor toe. Ten minste het Candice opgedaag en kon sy hulle help aantrek vanoggend.

Verby die hopie blare wat die skoonmaker voor die hotel se deur gevee het, draai sy links uit Dorpstraat om parkeerplek te soek. Daar is darem openinge tussen die handvol motors in die systraat, net soos tussen die tande van die boemelaar wat op haar afpyl terwyl sy dit merkwaardig genoeg regkry om parallel te parkeer.

“Môre, mevrou Stipp,” toe sy uitklim. Die walm tref haar dadelik.

“Jammer, Jackson, dis nog ver van die einde van die maand af.”

Hy lyk nie oortuig nie.

Sy kyk by hom verby, vermy sy oë, en sluit die motordeur. As hy enigiets gehad het om te eet, sou hy dalk nie heelnag gedrink het nie, wie weet.

“Ek het self twee kinders by die huis,” voeg sy by. Partykeer maak hy simpatieke geluide as sy hom vertel van haar kinders, maar nie vandag nie. Sy nood is groter as hare, dink hy seker, en hy is reg.

Sophia loop aan en weet Jackson steier nou terug na sy blyplek: die parkeerterrein. Daar lê sy slaapsak en daar sit sy vrou, seker net so vol drank as wat hy is. Dit lyk soos ’n poskaartfoto hier waar die bome handevat bo-oor die straat met sy historiese geboue – behalwe vir Jackson, wat eerder sou pas by ’n alternatiewe kunsuitstalling in ’n nywerheidsgebied. Hy kon deel uitmaak van ’n foto wat veronderstel is om besoekers aan ’n galery ’n bietjie te laat nadink oor die lewe se onregverdighede, voordat almal terugkeer na hul sekuriteitskomplekse.

Eers die kantoor se veiligheidshek oopsluit. Dan die gewone houtdeur.

In BoekWeb se kantoor brand die ligte. Trouw sit klaar en werk.

Die lug is muf toe sy instap. Dik lug het ’n gevoel. En as dit by jou longe intrek, voel dit of jy nie kan asem kry nie. Haar kollega se gemoedstemming het daardie lug vervaardig; haar gesig is donker.

Trouw het nie vanoggend met ’n idee opgestaan wat ’n boek gaan verkoop nie. Of anders is daar probleme met haar sekslewe. Sophia het haar mees onlangse kêrel lanklaas gesien. Sy oë was intelligent, maar hulle het orals rondgekyk.

“Dis LitNet.” Trouw kyk nie van haar skerm af op nie.

“Wie’s hulle?”

“Dis nie nou die tyd om te probeer snaaks wees nie, they’re up to something. Kyk bietjie wat gaan op hulle home page aan.”

Sophia kyk oor Trouw se skouer na waar sy op die skerm beduie. Sien die flitsende woorde: nuwe projekte met groot prysgeld.

“Hulle het stewige borge agter hulle.”

Dit was nou régtig die verkeerde ding om te sê. Trouw kyk op en haar oë blits.

“Wil jy hoor of hulle vir jou ’n job het?”

Sophia antwoord eerder nie. Skakel haar rekenaar aan. Wag dat die e-posse inkom. Vanoggend is daar wraggies min.

“Watter plug-ins gaan vir ons die beste SEO verseker?” vra Trouw. “Ons móét hoër op die lys as LitNet sit as iemand ons google.”

Ons kan ons nie met LitNet vergelyk nie, wil Sophia sê. Hulle span die net baie wyer as slegs boeke. Hulle volg die aktuele sake van die dag. Hulle betrek teater en musiek en feeste. Daar is akademiese inhoud. Ál wat BoekWeb doen, is om boeke te bemark.

“Hoe kan ons mense laat voel hulle is by ’n book launch deur net ons website te besoek?” gaan Trouw voort, maar dit klink of sy met haarself praat. “Virtual cocktails?”

Sophia staan op terwyl Trouw nog so planne probeer uitdink en stap oor die groot, oop teëlvloer kombuis toe. Die vrou glo dis professioneel om ’n kantoor te huur, maar waarom vir al hierdie spasie betaal?

So ’n groot kantoor is onnodig, dink Sophia verder terwyl die ketel begin kook. Ons kan uit iemand se garage werk. Die reëls van die wêreld waarin ons woon, hoef nie te wees soos dié van die res van die samelewing nie. Ons hoef nie met ’n motor daarheen te ry nie. Ons kantoor kan vir alle praktiese doeleindes op die strand wees. Mens sou reken Trouw, van alle mense, sou dit verstaan.

Koffiebeker in die hand keer sy tydsaam terug na die lessenaar wat hulle naby die deur deel: Trouw aan die een kant, sy aan die ander. Sophia maak ’n e-pos oop.

Persverklaring (Afrikaans)

Titel: Misdaad – Crime

Skrywer: Nikodemus van Wyk

’n Tweetalige bundel van bloeddorstige stories deur ’n nuwe en opwindende misdaadskrywer. Lees verhale wat jou laat vrees, ril, lag en tevrede voel dat die skurk aan die pen ry.

Versoek aan media: Laat weet of die skrywer ’n eksemplaar van die e-boek kan aanstuur met die oog op ’n resensie.

“Nee,” skud Trouw haar kop toe Sophia haar mening vra. “Ons het nie nou geld vir ’n review nie. Jy moet ’n email interview doen. Vra die skrywer hoekom skryf almal nou crime fiction. En wie is hierdie danige nuwe en opwindende misdaadskrywer? En hoekom kies hy nie een taal om in te skryf nie?”

“En die geheim van goeie misdaadfiksie?”

Die vrou trek ’n gesig en skielik voel Sophia vies. Eers hoor sy sy moet alles in haar vermoë doen om die webwerf te verbeter, maar wanneer sy iets voorstel, is dit ook nie goed nie. Sy tik gou ’n paar vrae en stuur die e-pos.

“Sien jy wat doen die publishers deesdae?” kom Trouw se stem. “As die boek gaan oor fossiele, gaan hou hulle die book launch binne die museum.”

Sophia voel of sy wil mal word. Die spanning knaag soos ’n rot aan haar maag.

“Wat is volgende? ’n Boekbekendstelling binne ’n lugballon?”

“Ek dink nie jy besef die omvang van BoekWeb se finansiële verknorsing nie …”

Sophia kan hoor die ligsinnige opmerking gaan nie goed af nie, want Trouw volg dit op met: “As ons nie vinnig ons stats sien lig nie, het jy nie aan die einde van die maand ’n salaris nie.”

Toe is dit stil in die kantoor. Ysig stil.

Die gewoer-woer van die draai-kennisgewing oorkant die straat by die meubelwinkel is duidelik hoorbaar. Hoe klink dit dan nou so ’n bietjie meer knarsend as gewoonlik, soos ’n windpomp wat olie kort?

Knars-knars. Ís dit ooit die draai-kennisgewing wat so maak? Sophia het daardie geluid dan nog nooit vantevore gehoor nie en dit klink of dit van hier digby kom, van die kombuis se kant af. Selfs Trouw kyk soontoe.

Nou, beslis van die kombuis af, kom daar nog geluide: iets wat skuif, gevolg deur ’n dowwe slag. ’n Diep hoes, gedemp.

Sophia gryp haar handsak in ’n refleksbeweging en kies koers voordeur toe. Agter haar rug skuif Trouw se stoel; hulle het dieselfde plan. Hoe Sophia dit regkry om die veiligheidshek oop te sluit, weet sy nie, want haar hande bewe iets vreesliks. Sy’s eerste uit. Buite die kantoordeur swenk sy na links en mik vir die restaurant vyftien meter verder. ’n Nuwe kelnerin loer by die deur uit, gretig soos ’n aasvoël.

“Table for one?”

Kan sy nie sien hier’s groot fout nie?

“There’s a burglar in our office!” hyg Sophia en draai om.

Maar Trouw is nie agter haar nie. BoekWeb se kantoordeur staan nog wawyd oop.

“My colleague …”

Die bestuurder kom uit die restaurant gestap. Sophia het haar al dikwels gesien en nog nooit ontmoet nie, soos dit maar gaan met bure.

Lynette, flits die naambalkie. Sy snap die halwe storie dadelik en begin hardloop. Weg van die restaurant af, om die gebou, aan die ander kant. Sophia volg, bloed singend in haar ore.

Terwyl Lynette hardloop, gryp sy haar foon uit haar handsak (“Die polisie is op speed dial!”) en druk dit teen haar oor.

Sophia gewaar uit die hoek van haar oog hoe motors stadiger begin ry; die mense wil sien wat aangaan. Hier is ’n algemene aanvoeling van misdaad, helder oordag.

Hulle hardloop om die hoek, verby die eerste venster. Daar’s niemand in die oopplankantoor nie. Hulle moet in die kombuis wees, Trouw en watter man ook al ingekom en gehoes het.

Venster twee en venster drie.

Sophia kan van hier af sien die diefwering is aan die onderkant losgeskroef en weggedruk sodat iemand die venster kon oopskuif om in te klim.

Lynette praat uitasem in haar foon: “Ja, hallo, hier’s ’n inbraak in Dorpstraat …” Naby die kombuisvenster steek sy vas. Sophia sien die gebrandskilderde glas, wat sy al ken vandat sy hier aangestel is. Lynette wil weet: “Nee, ek kan nie aanhou nie, is jy nou mal?”

Sophia gryp haar eie foon en bel.

“Hallo, dis Diederick Stipp. Ek is ongelukkig nie nou beskikbaar nie, maar …”

Sy druk dood.

Jackson kom aangeslenter, sy hoed met die vuil wolle skuins op sy kop, onbewus van die drama.

“Wag, Jackson!”

Maar hy steur hom nie aan die waarskuwing nie en nog minder aan hul onseker liggaamstaal. Hy slinger verby hulle, gaan staan reg in die middel van die venster waar die glas doodgewoon en deurskynend is, by die plek waar hy gewoonlik deurloer om vir ’n ekstra geldjie te vra as sy of Trouw staan en koffie maak.

Nou. As iemand daar binne ’n skietding het, gaan hy dit nóú gebruik.

“Jackson, nee!”

Hy steek vas, maar nie omdat Sophia vir hom skree nie. Hy frons. En toe kyk hy vir haar en Lynette.

“Wie’s die skollie daar by haar?” vra hy en klink merkwaardig nugter.

Lynette gee ’n magtige tree vorentoe en so ook Sophia, wat wil sien wat in die kombuis aangaan.

Haar hart spring in haar keel.

Web

Подняться наверх