Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 10
DAGGA IN DIE PASTORIE
ОглавлениеDwelms ontsien niemand nie. Geen ouer kan sê: “My kind sal nie daarby betrokke raak nie.” En as ’n kind verslaaf raak, het dit ’n geweldige impak op ’n gesin. Ek het met ’n predikant gesels wie se seun aan dagga verslaaf is.
“Ons is totaal ontredderd,” som die pa sy gesin se situasie op. Omdat die kind minderjarig is, mag hy en sy gesin nie geïdentifiseer word nie. Maar ’n predikant se gemeente sien op na hom. Hy is ’n rolmodel. ’n Mens sou nie verwag dat sy kind ’n daggaroker sou word nie.
Self het hy al sulke gevalle teëgekom, maar dit telkens verwys na mense met meer kundigheid om dit te hanteer. En toe tref dit sy gesin. Uit die bloute. “Dit kom soos ’n storm oor jou,” som hy dit op. As jy weer sien, is jy midde-in die probleem.
Hul seun was ’n begaafde leerling. Hy het onderskeidings behaal; hy was ondernemend en lief vir sport. Verlede jaar het hy depressie ontwikkel en behandeling gekry. In die proses het sy skoolwerk begin agteruitgaan.
Toe merk iemand met kennis van dwelmprobleme op ’n dag op dat die seun se oë rooi is, dat sy pupille groot is, tipiese tekens van dwelmgebruik. Hy het die ouers se aandag daarop gevestig en hulle het die kind se urine laat toets. Dit was positief vir dagga, “genadiglik nie vir iets anders nie.”
Die ouers het hul seun gekonfronteer met die uitslag en hy het erken hy rook dagga, maar hy ontken steeds dat dit ’n probleem is. “Die Here het die plante gemaak. Waarom kan ons dit nie gebruik nie?” is sy houding.
Maar die ouers het gesien hoe hul seun verander. Hy sou byvoorbeeld dikwels laat uitbly. Hulle het sy sakgeld opgeskort in die hoop dat hy dan nie meer dagga sou kon koop nie, maar agtergekom dat van sy klere verdwyn. Of hy dit verkoop om geld te kry of sommer direk vir dagga ruil, weet hulle nie.
Hy het sy goeie vriende verloor en ander maats begin maak. By die skool het hy begin om klasse en selfs toetse te bank, met die gevolg dat sy skoolwerk dramaties agteruitgegaan het. Ook fisiek kon ’n mens ’n verskil sien. Hy het al hoe maerder geword.
Geen straf het meer gehelp om sy gedrag te verander nie. Hy sê nie meer waar hy was as hy uit was nie en hy lieg, volgens sy pa, verskriklik. Op atletiekbyeenkomste is hy eenkant en sy kitaar, waarvoor hy vroeër lief was, speel hy nooit meer nie.
In ’n stadium het die ouers hul seun in ’n kliniek laat opneem vir ses weke se behandeling, maar ná vyf dae het hy weggeloop. Twee, drie keer terwyl die pa vertel, merk hy op: “Ek kan nie glo dis oor my eie kind wat ek praat nie, dat dit ’n situasie is waarin onsself betrokke is nie.”
’n Mens moet probeer om in so ’n situasie jou emosies te skei van die saak, sê hy, maar dis duidelik dat die situasie van sy kind vir wie hy lief is, diep seermaak. Hy gebruik ’n beeld om te verduidelik hoe hy dit beleef. “Dit lyk of jou kind ver weg is en net al hoe verder na die horison toe stap. Aan dié kant is die grootmense besig om hul instrumente soos preke en sielkundiges en wat nie nog alles nie, op te stel, maar dis soos kanonne waarmee jy ’n vlieg probeer doodskiet. En intussen stap jou kind net al hoe verder en verder weg …”
Die swaarste is die hartseer oor sy kind. Hy het alle sin in die lewe verloor, al sy drome om iets te bereik. Al sy ideale het weggespoel.
In die proses begin ’n pa aan homself en sy opvoeding twyfel. Die uitwerking op die gesin is ook dramaties. Die geborgenheid binne die gesin is belangrik, maar niemand weet presies hoe om die situasie te hanteer nie. Dis vir almal stresvol; hulle raak gefrustreerd en bots met mekaar.
Nee, sê die pa, hy beleef dit nie as ’n skande nie; dit kan met enigeen gebeur. Hy sien dit eerder as ’n siekte. Sy kind is ’n siek mens. Iemand het dit ’n sickness by choice genoem. Soos die geval is met ’n alkoholis, help dit nie om met hom te redeneer nie. Hy dink nie logies nie.
Die vraag is hoe hierdie siekte behandel moet word as die sieke nie behandel wil word nie. Toe hy uit die kliniek weggeloop het, het hulle hom nie teruggeneem nie. Hy sal immers net weer wegloop. En die probleem is dat die rehabilitasiesentra oop sentra is waarvandaan hy kán wegloop. Daar is wel plekke met strenger maatreëls, maar ’n hof moet ’n kind soontoe stuur.
“’n Mens weet regtig nie waarheen om die kind te neem nie. Ouers sit in die middel van die wêreld.” Daar is baie mense wat graag wil help, maar nie weet hoe nie. As pa voel hy net so magteloos. Dis asof sy kind aan ’n reddingsboei vasklou in verskriklike woeste water. Hy hou vas aan hierdie één ding wat hom laat goed voel en het nie die wilskrag om uit te swem nie.
Intussen is daar verskillende boodskappe oor hoe die saak benader moet word. Aan die een kant sê almal vir hulle hulle moenie druk op die kind plaas nie, want hy kan dit nie hanteer nie. Aan die ander kant wil hulle hom ook nie net laat begaan nie.
Die ideaal, sê die pa, is om die kind uit die situasie te haal sodat hy kan “uitdroog” en om eers as hy “droog” is, met hom te gesels. En dan wil hy nie met hom gesels oor die probleem nie, maar oor sy lewe vorentoe. Hy wil weer vir sy kind ’n droom gee.
Intussen sit hulle as ouers in die middel van die wêreld.
“As Christene is ons enigste sekerheid dat die Here, wat ons dra, ons ook deur dié situasie sal bring. Ons weet net nie hoe lank die tog gaan wees nie.”
(Uit Beeld, 20 Maart 1999.)