Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 9
OUER, MOEËR ADRIAAN VLOK STAP ’N EENSAME PAADJIE
ОглавлениеMnr. Adriaan Vlok is sestig, maar die man wat ’n dag en ’n half lank in kruisverhoor geneem is voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie se amnestiekomitee, lyk ouer.
Heelwat ouer, in elk geval, as die joviale minister wat ’n klompie jare gelede nog buite die stadsaal van Verwoerdburg gestaan en skerts het met kiesers wat tougestaan het om te stem. Sy gesig is maerder, sy hare yler en daar is klein plooitjies op sy vel wat nie altyd daar was nie.
Dis nie maklik om voor die amnestiekomitee van die Waarheids-en-Versoeningskommissie te verskyn nie. Hoe onthou ’n mens alles wat tien, twaalf jaar gelede gebeur het, hoekom dit gebeur het, presies wat gesê is?
Veral as jy nog ondervra word deur advokate wat elkeen sy eie agenda het en wat jou woorde probeer plooi sodat dit sy saak pas.
Teen die einde van sy kruisondervraging gee Vlok self miskien die belangrikste rede waarom dit moeilik is: “Dis nie lekker om skuld te aanvaar nie.”
Tydens die onderbreking, nadat sy kruisverhoor afgehandel is, wil hy niks sê nie. Op regsadvies, sê hy. Maar jy hoor iewers hoe hy laat glip dat dit ’n eensame paadjie is om te stap. En ’n mens sien dit, want al sit twee regsmense langs hom wanneer hy getuig, al is sy generaal van destyds skuins agter hom en al is daar verskeie ander operateurs wat saam met hom amnestie vra, sit hy ’n ete lank alleen in die saal en blaai deur sy dokumente.
Terwyl oudkapt. Michael Bellingan se getuienis aan die gang is, sit hy heel agter, skuins onder die borde wat in verskeie tale sê: “Openbaring is genesing.” En toe sy prokureur met ’n stapel dokumente onder sy arm ingestap kom en Vlok hom wil help, sê die regsman: “Toe maar, jy dra ’n baie swaarder las.”
Maar as die kruisverhoor begin, is sy stem nog so wakker en jonk soos altyd. Cosatu se prokureur probeer aantoon dat ’n veldtog van bomaanvalle en brandstigting teen sy organisasie gemik was.
Ja, gee Vlok toe. Hy stem saam, dit lyk só. Maar nee, hy was nie destyds bewus van só ’n veldtog nie.
Die SARK se regsman wil hê dat Vlok moet erken dat dié liggaam nie geweld gesteun het, daarby betrokke was of die ANC/SAKP gesteun het nie. Die gesprek loop dié kant toe en dáárdie kant toe en telkens wanneer dit lyk of die oudminister in ’n hoek beland, erken hy hom daaruit: “Ja, ons was verkeerd, maar dis hoe ons dit destyds gesien het. Dis hoe ons gedink het. Maar ons was verkeerd.”
Nooit probeer hy gebeure van destyds wegpraat nie. Dikwels kan hy nie presies onthou nie, maar telkens verduidelik hy hoe hy en sy mense destyds gedink het. Hy laat nie toe dat regsmense hom woorde in die mond lê waarmee hy nie saamstem nie. Maar nêrens probeer hy die skuld op iemand anders afskuif nie.
In ’n stadium wend hy hom tot die regter om hulp: “Voorsitter, hy kan nou met woorde speel, maar ek is in die moeilikheid.”
Wanneer die SARK aanvoer dat die regering ’n oorlog van geweld teen hom en Cosatu gevoer het, antwoord Vlok amper heftig: Nee, dis nie korrek nie. Hulle het wel ’n oorlog gevoer teen dié organisasies, maar net met wetlike instrumente. Dit was eers toe wetlike instrumente nie meer gehelp het nie dat hulle onwettige dade gepleeg het.
Mettertyd kry die SARK-man sy erkenning. Nie die SARK nie, nie die Katolieke biskoppe nie, nie enige lidkerk van die SARK was betrokke by geweld nie. Maar die regering van destyds het geglo Khotso-huis word misbruik deur bomplanters en ander opstokers.
Oudpres. P.W. Botha se regsman is besorg oor ’n gesprek tussen Vlok en sy kliënt. Ja, bevestig Vlok, Botha het geensins gesê hy moet onwettig optree nie. Maar, voeg hy by, hy kon geen ander afleiding maak uit Botha se opdrag as dat onwettige optrede nodig was nie.
Teenoor Botha se regsman gee Vlok toe: Binne die Staatsveiligheidsraad is die konnotasie “doodmaak” nooit aan woorde soos “elimineer” en “neutraliseer” gekoppel nie. Teenoor Bellingan se regsman sê hy egter ook: As hy ’n operateur was wat sulke woorde in ’n dokument gelees het, sou hy dit “letterlik verstaan het.”
Teen die tyd dat die kruisverhoor byna klaar is, sit Vlok vorentoe op sy stoel, sy hande bymekaar voor sy mond soos iemand wat bid dat dit tog moet klaarkry. Maar van die kommissarisse het ook nog vrae.
Hoe voel hy nou oor sy verskyning voor die WVK?
Ondanks moeilike vrae is hy “baie, baie billik” behandel. Hy is meer as ooit tevore oortuig dat dit die regte proses was om te volg, antwoord Vlok. En as hy sê dat dit nie lekker is om skuld te aanvaar nie, voeg hy by: Dis belangrik. Belangrik vir hom, belangrik teenoor P.W. Botha én belangrik teenoor die operateurs vir wie dit ’n raamwerk bied waarbinne hulle om amnestie kan aansoek doen.
Glo hy nog die oorlog van destyds was regverdig?
“Ons probleem was dat ons apartheid in stand gehou het omdat ons geglo het ons veg teen iets erger as dit. Ek het gedink ons breek apartheid af, en mnr. Botha het voorgeloop daarmee. Ek het mense gemotiveer om strukture in stand te hou sodat dit op geordende wyse afgebreek kan word.”
En laastens: Sal hy nou met P.W. Botha gaan praat om vir hom te sê die WVK is nie ’n sirkus nie, dit bied ’n geleentheid tot versoening?
Die oudminister glimlag halfverleë. Nee. Botha het dit aan hom oorgelaat om self te besluit. Hy sal dit liewer nou aan Botha oorlaat.
Dan is die kruisondervraging verby. Maar die spanning duur voort, want die amnestiekomitee moet nog sy uitspraak gee.
En dit kan oor maande eers gebeur.
(Uit Beeld, 29 Julie 1998.)