Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 18

NUWE LEWE VIR JONGES NÁ SATANISME, ZOLLE

Оглавление

In st. 4 het hy ’n satanis geword. Sy het alles gedoen wat “lekker” is: pille gesluk, dagga gerook …

Elmari en Jaco se paaie het die eerste keer gekruis toe sy agter tralies was.

“Shoplifting, en ek is met dwelms gevang,” gee die 16-jarige meisie die rede waarom sy daardie dag, anderhalf jaar gelede, in die polisieselle beland het. Dis daar dat Jaco haar kom haal het.

Jaco is eintlik ds. Jaco Strydom, predikant van die NG gemeente Villieria in Pretoria en uitvoerende direkteur van Echo Jeugontwikkeling, ’n niewinsgewende onderneming wat uitreik na jongmense soos Elmari.

Vir haar, Vaatjie (16) en ander jongmense wat Dinsdae by Villieria se kerkgebou byeenkom, is hy sommer net Jaco.

Elmari en Vaatjie vertel verhale wat ’n mens nie in verband sou bring met die jongmense wat so vriendelik met jou sit en gesels nie. Hy het in st. 4 ’n satanis geword, vertel Vaatjie. Hy het “heavy baie dagga gerook,” pille gesluk en rave parties bygewoon.

Oor die satanisme wil hy nie uitwei nie. “Dis te grusaam,” sê hy, maar vertel dat hy by gangs betrokke was en dat sy paadjie ’n paar keer ná ’n “fightery” met dié van die polisie gekruis het.

Elmari sê sy is deur drie skole geskors. Een keer is sy met dwelms op die skoolterrein betrap. By ’n ander skool was sy ses maande lank nooit in die klas nie. “Ek het baie ge-slip, drugs gebruik, gedrink, dagga gerook, pille gesluk – alles wat lekker is.” Sy was ’n groot rebel en wou nooit na haar ma luister nie.

Maar Echo het haar kop begin swaai. Jaco, sê Elmari, het nie net by die polisie mooigepraat vir haar nie. Hy het ook by die Hoërskool Hendrik Verwoerd gaan mooipraat sodat hulle haar sou aanvaar.

Daarna het sy Echo se Dinsdagaandbyeenkomste by Villieria se kerkgebou begin bywoon. Dis daar dat sy anders begin dink het oor die lewe.

Vaatjie is deur die skool – hy is ook in Hendrik Verwoerd – voor ’n ultimatum gestel: Kry hulp of ons skors jou. Of, soos hy dit stel, hulle het vir hom gesê hy moet na dié “kerkding” toe gaan.

Hy het baie met Jaco gesels en een aand by die huis gaan sit en dink hoe sy lewe was en wat hy alles het en besluit om ’n nuwe paadjie te loop. “Ek sê nie ek is 100% ’n Christen nie, maar ek probeer.”

Strydom vertel die Dinsdagaandbyeenkomste is gerig op jongmense wat nie deur die kerk bereik word nie. Die kerk is gewoonlik goed met die begeleiding van kerkkinders; dis die jongmense wat kerklos is waarby hulle sukkel om uit te kom. Echo is gestig om dié gaping te vul. Verskeie kerke in Pretoria se Moot-gebied werk saam in dié bediening. Daarby het hulle goeie vennootskappe met skole gesluit.

Hul bedieningsmodel, sê Strydom, werk soos ’n tregter. Die eerste stap is om uit te gaan om kontak met onbetrokke jongmense te maak. Pleks van jeugdienste by gemeentes te hou, hou hulle liewer ’n youth bash by ’n skool of allerlei kampe.

In daardie stadium praat hulle van “kom-kyk-jongmense” wat g’n verbintenis met hulle het nie, maar wat ’n behoefte het aan pret en vriende en wat net die plek wil “uitkyk.”

Jongmense wat aksies soos die Dinsdagaandbyeenkomste gereeld begin bywoon, word navolgers genoem. Hul behoefte is aan ’n betekenisvolle verhouding met Jesus Christus en met lede van die groep, en daar word vir hulle onder meer basiese opleiding en Bybelstudie gebied.

Later groei hulle tot dissipels wat self diens lewer en uitreik na ander jongmense. Hulle kry leierskapopleiding en diensgeleenthede sodat hulle weer kan uitreik na jongmense wat kerklos is.

Dat jongmense se lewens in die proses ingrypend verander, is duidelik uit Elmari en Vaatjie se verhale. Elmari sê sy beland nog in die moeilikheid by die skool, maar nie meer so baie nie. Nou en dan slip sy nog, maar ander kere is dit oor goed soos praat in die klas of oor huiswerk. Eintlik is sy nou dood-happy by die skool. Sy het weer toekomsdrome, soos om ’n fisioterapeut te word, terwyl daar ’n tyd was dat sy net gedink het aan drank, sigarette en mans. Vroeër was sy ’n ateïs; nou glo sy weer.

Vaatjie dink daaraan om in die regte of teologie te gaan studeer. “Ek weet wat ek in die lewe wil hê,” sê hy met oortuiging. Dít was nie altyd so nie. Daar was ’n tyd wat hy net ’n zol wou hê.

Só ’n ommekeer vind nie eensklaps plaas nie.

Terwyl Elmari dwelms en drank lankal laat staan het, het sy eers onlangs ophou rook. Vaatjie sê hy wil nie nou al ophou rook nie. Hy is besig om al die ander veranderings in sy lewe te hanteer en hy wil nie te veel op een slag probeer nie.

Hy gaan byvoorbeeld na ’n sielkundige wat hom help om sy aggressie te hanteer. Intussen beskou hy reeds elke dag as ’n nuwe dag. As dit nie vir Jaco-hulle en die kerk was nie, weet hy nie waar hy sou wees nie, sê hy.

Mnr. Hennie du Toit, hoof van Hendrik Verwoerd, sê Echo maak ’n “absoluut ongelooflike verskil.” Die skool kan nie sonder hul bystand aangaan nie. Die waarde van die berading en ander maatskaplike dienste kan nie in geldwaarde gemeet word nie.

Elmari sê sy het nie gedink sy sal ooit uit die groot moeilikheid kom waarin sy was nie. Sy weet nou wonderwerke kan steeds gebeur.

(Uit Beeld, 3 Mei 2003.)

Ek kies steeds die kerk

Подняться наверх