Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 14
DIE GROOT SOEKTOG NA DIE HISTORIESE JESUS
ОглавлениеIn akademiese kringe bestaan die afgelope anderhalf eeu ’n soektog na die “historiese Jesus.” Miskien omdat die resultate soms so omstrede en skokkend is, het kerke dit tot dusver grootliks geïgnoreer. Tog meen sommige teoloë die kerke behoort ernstige aandag daaraan te gee.
Die soektog na die historiese Jesus het in die 18de eeu begin toe die Duitser Hermann Reimarus tot die insig gekom het dat die vier Evangelies, met hul onderlinge teenstrydighede en verskille, nie historiese dokumente in die moderne sin van die woord was nie.
Dié tekste, wat dekades ná die kruisiging ontstaan het, moet eerder gelees word as verhale wat mense van die jong groeiende kerk van bepaalde geloofstandpunte wou oortuig. Die prentjie van Jesus wat daarin geteken word, is dus ’n geloofsprentjie en nié ’n akkurate historiese beeld nie.
Dié insig het daartoe gelei dat ’n onderskeid getref is tussen die “historiese Jesus” en die “verkondigde Christus.” Daar word ook onderskei tussen die “verkondiger” (Jesus wat tydens sy lewe as mens ’n boodskap oor die naderende koninkryk van God gebring het), en die “verkondigde” (dié Jesus wat deur die kerk as Verlosser verkondig is); of tussen die Jesus vóór Pase (en die kruisiging) en die Jesus ná Pase.
Terwyl die Bybel vol is van die verkondigde Christus, het die soektog begin om die historiese Jesus te probeer peil. Die navorsing het tot verskillende profiele van Jesus gelei, soos dat Hy ’n politieke revolusionêr, ’n morele leraar of ’n apokaliptiese prediker was. Dit het ook gelei tot groot botsings met die kerk en party teoloë is uit hul leerstoele gesit.
Sowat ’n eeu gelede het daar ’n wending gekom met die oortuiging dat daar eintlik te min historiese bronne is om hoegenaamd die historiese Jesus te agterhaal. Albert Schweitzer het gesê navorsers wat profiele van Jesus opstel, is eintlik net besig met profiele van hulself.
Rudolf Bultmann, die reus onder die 20ste-eeuse Nuwe-Testamentici, het gemeen dit wat ’n mens van die historiese Jesus kan weet, is nie van betekenis vir die geloof nie. Dat die “dat” van Jesus se bestaan genoeg is vir die geloof; die “wat” is nie belangrik nie.
Ná Bultmann het van sy studente egter aangevoer dit is tog moontlik om meer van die historiese Jesus agter te kom. ’n Tweede fase van die soektog het begin. Sedertdien het die navorsing só ontwikkel dat daar al gepraat word van ’n derde fase, waarin daar ook van die insigte van verskeie vakgebiede soos die sielkunde, sosiologie en antropologie gebruik gemaak word.
In die proses word verskeie uiteenlopende hipoteses gestel oor presies wie die mens Jesus regtig was. Daar is veral min eenstemmigheid oor wat sy bedoeling was met die “koninkryk van God” wat hy verkondig het.
Een belangrike ontwikkeling was die Jesus-Seminaar wat in die jare tagtig en negentig van die vorige eeu teoloë van reg oor die wêreld betrek het. Deelnemers het ná grondige navorsing gestem oor die vraag of woorde en dade wat deur die Evangelies aan Jesus toegeskryf word, werklik van Hom kom en of dit deur sy volgelinge aan Hom toegedig is.
Die resultaat was dat slegs sowat 18% van sy woorde en 16% van sy optredes in die Evangelies volgens dié navorsers ’n historiese basis in die lewe van Jesus het.
Die maagdelike verwekking en die leë graf is twee van die sake wat volgens hulle geen historiese basis het nie. Ook die natuurwonders soos dat Hy op die water geloop en die storms stil gemaak het, het volgens hulle nie regtig só gebeur nie.
Vir baie gelowiges is sulke uitsprake skokkend en ondermyn dit hul geloof.
Inderdaad erken van die navorsers dat hulle nie gelowig is nie en dat die navorsing vir hulle bloot ’n akademiese oefening is. In Duitsland woed daar byvoorbeeld ’n herrie om die kop van die teoloog Gerd Lüdemann wat twee jaar gelede in ’n “ope brief aan Jesus” in Der Spiegel sy ongeloof te kenne gegee het. Sy kollegas aan die fakulteit teologie by die Universiteit van Göttingen het sy kop geëis. Uiteindelik het dit gelei tot hofsake wat nog oor Lüdemann se posisie uitsluitsel moet gee.
Sommige teoloë, soos die Amerikaner Marcus Borg, het egter ’n nuwe manier gevind om te glo waarin die insigte van die navorsing oor die historiese Jesus verreken word. Só stel Borg in sy boek Meeting Jesus Again for the First Time sy lesers opnuut aan Jesus voor asof dit ’n eerste kennismaking is.
In Suid-Afrika is prof. Andries van Aarde van die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie ’n lid van die Jesus-Seminaar. Sy boek Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God word volgende jaar in Amerika uitgegee. Van Aarde is ’n ernstige gelowige en aktief betrokke in die Hervormde Kerk.
Dr. Daan van Wyk jr., predikant van die Hervormde gemeente Zuurfontein, bepleit in sy doktorale proefskrif dat die kerk kennis moet neem van dié navorsing. Hy het onlangs sy doktorsgraad onder Van Aarde gekry met ’n proefskrif oor die relevansie van die navorsing oor die historiese Jesus vir die kerk en teologie.
Van Wyk wys daarop dat daar lidmate met verskillende denkraamwerke in die kerk is. Party mense aanvaar bloot die Bybel as volledige en gesaghebbende Woord van God en kan die resultate van sulke navorsing ignoreer. Vir hulle is dit nie ’n probleem nie.
Ander mense sien die geskiedenis egter só dat iets wat nie letterlik histories gebeur het nie, nie “waar” kan wees nie. Dié mense kan hul geloof verloor as hulle gekonfronteer word met resultate van die navorsing oor die historiese Jesus.
Volgens Van Wyk kan die kerk nie die resultate van die navorsing van sy lidmate weghou nie. Onder meer tree die Jesus-Seminaar op as konsultante vir ’n rolprent deur die vervaardiger Paul Verhoeven oor die lewe van Jesus. Dis ook onvermydelik dat die inligting deur die internet, koerante en tydskrifte by lidmate uitkom.
Die kerk kan enersyds daarop wys dat die resultate van die ondersoek na die historiese Jesus nie vreeslik vasstaan nie. Suiwer histories gesien bly dit alles maar teorieë en hipoteses.
Maar, sê Van Wyk, die postmodernisme bied die moontlikheid van ’n ander oplossing. Omdat dit ruimte maak vir verskillende beroepe op die waarheid en dat waarheid nie noodwendig deur historiese feitelikheid begrond hoef te word nie, kan mense met dié denkraamwerk hul geloof behou, ondanks die resultate van die navorsing.
Van Wyk wys daarop dat die kerk, soos die res van die samelewing, nou die oorgang van ou denkraamwerke na nuwes moet verwerk. Dit skep onsekerhede en vrese.
Juis in dié tye moet die navorsing oor die historiese Jesus met omsigtigheid hanteer word, anders lei dit tot die ondergrawing en verbrokkeling van geloof. Dán ry dit die eintlike roeping van die kerk, die verkondiging van die eenvoudige evangelie van die gekruisigde en opgestane Here, in die wiele.
Hy pleit dus vir ’n openhartige en vrymoedige debat sodat die kerk steeds aan sy lidmate leiding kan gee oor hoe om die omstrede kwessies te hanteer. Dit sou die kerk by die punt kon bring om opnuut na sy belydenis te kyk deur ’n eietydse interpretasie van die bestaande belydenisse of deur ’n nuwe belydenis.
(Uit Beeld, 13 Oktober 2000.)