Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 11
VROUELIDMATE NIE NET KOEKSISTER-SUSTERS
Оглавление(Yolanda Dreyer)
Twintig jaar nadat dr. Yolanda Dreyer die eerste vroulike predikant in ’n Afrikaanse kerk geword het, is daar steeds vir die kerke baie stof tot nadenke oor die rol wat vroue in die kerk speel. Ek het met haar daaroor gesels.
Wat vroue nodig het, sê Dreyer, is om deelnemende ampsdraers van die kerk te wees. Sy wys daarop dat 51% van die bevolking vroue is. In die kerk is die persentasie vroue nog groter.
Teen dié agtergrond is dit onlogies dat ’n kerk se topstruktuur nét, of byna net uit mans bestaan. Dit toon dat vroue nie volledig aanvaar word nie. Hulle bly net ’n ondersteuningstelsel vir die mans. Dít, sê Dreyer, is vir die moderne vrou onaanvaarbaar.
Dreyer, wat verlede jaar haar doktorsgraad oor pastoraat met vroue voltooi het, sê Europese navorsing het getoon dat vroue in die kerk in vier groepe ingedeel kan word. Daar is ’n groep wat tevrede is met die rol wat vroue speel. ’n Tweede groep is ontevrede, maar bly nietemin lojaal aan die kerk. Die derde groep verlaat die kerk uit ontevredenheid en die vierde groep is dié ontevredenes wat teruggaan kerk toe en aansluiting vind by die groep kritiese vroue. Die derde en vierde groepe word al hoe groter.
Dreyer se voorspelling is dat dieselfde tendens binne die volgende tien tot vyftien jaar in Suid-Afrika gaan posvat. Op die oomblik word professionele vroue binne werkverband (dikwels) as mans se gelykes aanvaar. Maar in die kerk tel vroue se intelligensie nie.
Ja, gee sy toe, dit is so dat die Hervormde Kerk, waar sy predikant is, en die NG Kerk verlede jaar vir die eerste keer vroue in hul “topstrukture” verkies het. Maar dit beteken nie alles is nou in die haak nie.
Een probleem is dat daar subtiel teen vroue in die amp gediskrimineer word. Vroue se bestuurstyl is dikwels meer demokraties. Gebeur dit dat ’n vroulike dominee ’n man opvolg wat ’n meer outokratiese bestuurstyl gehad het, of dat sy en só ’n dominee medeleraars word, dan dink mense sy het nie leiersvaardighede nie.
Of dit gebeur dat ’n vrou lank as proponent in ’n gemeente werk. Wanneer ’n voltydse leraar beroep word, is dit ’n manlike proponent sonder ervaring. Dreyer vergelyk die posisie van vroue met apartheid. Formeel is die beleid opgehef, maar dit beteken nie dat ons van rassisme ontslae is nie. Net so is daar in minstens party kerke geen formele diskriminasie teen vroue meer nie, maar dit beteken nie die einde van seksisme nie.
Oor die kerke wat glad nie vroue tot die ampte toelaat nie, sê Dreyer dit is ’n kwessie van Skrifbeskouing. Dit help nie veel om daaroor te praat nie. Maar Dreyer se kommer strek verder as net die posisie van vroue. Sy is bekommerd oor die uitdagings wat die postmodernisme aan die kerk stel. Dis immers nie net vroue wat ’n weersin in gesagstrukture ontwikkel het nie.
Dit is wat mans én vroue betref ’n kwessie van gesag van bo teenoor deelnemende gesag. Postmodernistiese mense laat hulle eenvoudig nie meer voorsê nie.
Die modernistiese raamwerk met sy gesag van bo is ’n onderdrukkende, manlike ding. Die postmodernisme gaan om verskeidenheid. Dit maak plek vir die randgroepe van die modernisme, soos vroue.
Dreyer sê die kerk sal moontlik beter by die postmodernistiese mens aanpas as vroue ’n groter rol in die kerklike besluitnemingsproses speel. Beteken dit dat sy agiteer dat vroue uit die “tevrede groep” hul houding verander?
Dreyer antwoord uit ’n pastorale hoek: Nee, ’n mens krap nie mense se lewe om as dit vir hulle werk nie. Daar hoef nie met tevrede vroue gekarring te word nie.
Maar navorsing toon dat baie vroue aan depressie ly omdat hulle sukkel om ’n werk en ’n huishouding te hanteer en dan boonop gelukkig moet voel as die man help met die skottelgoed.
Sommige vroue ontwikkel probleme omdat hulle dit nie regkry om vrou, ma en beroepsmens te wees nie. Dis aan hulle wat sy sê: Dis nie jou skuld nie, dis ’n onmenslike vrag wat jy probeer dra.
Hoe beskou sy Afrikaanse mans?
Daar is ’n groot verskeidenheid, sê sy. Van “die byste, oopkopste mans” tot die “stoere patriarge” en dit gaan nie noodwendig saam met ouderdom nie. Daar is mans vir wie ’n vrou net ’n huishoudster, broeikas en seksobjek is. As ’n man ander mense met respek behandel, is dit ’n ander saak.
Dít is wat sy ook van die kerk vra: dat vroue met respek behandel word. Vroue moenie net ’n bedienderol speel nie; die kerk moet kyk watter bydrae hulle kan lewer, of dit nou koeksisters of teologie is.
Maar dit gebeur nog te maklik dat vroue subtiel uitgesluit word. Sy noem die voorbeeld van ’n gemeente wat ’n studiekommissie aangestel het om iets oor kinders te ondersoek. In die gemeente was ’n vrou met ’n meestersgraad in maatskaplike werk, maar sy is nie betrek nie. Pleks daarvan het die kommissie bestaan uit mans sonder enige agtergrond oor die saak.
Dreyer is egter huiwerig om kwotas as ’n weg na ’n oplossing van die probleem te bepleit. Die pad wat gestap moet word, is volgens haar dié van bewuswording.
Kwotas kan mense bewus maak van ’n saak, maar dit kan ook ’n teenreaksie wek. ’n Spontane proses neem ongelukkig langer.
Sy wil ’n groter bewuswording in die kerk sien van die bydraes wat vroue kan lewer. Dit beteken nie dat alle tannies wat tot dusver koeksisters gebak het, moet ophou nie, maar wel dat hulle ’n keuse moet hê.
Want, sê sy, as jy vroue in ’n blik probeer druk, rig jy skade aan.
(Uit Beeld, 8 April 1999.)