Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 8

STERRE KNIP OË OOR ROOMSE DIENS IN NG KERK

Оглавление

(Bonaventure Hinwood)


Die sterre sal hul oë knip by die gedagte aan ’n Rooms-Katolieke priester wat van ’n NG kansel af preek. Só reageer iemand nou die dag teenoor my toe hy hoor dat vader Bonaventure Hinwood, Afrikaanse digter-priester van Pretoria, dié Sondag in ’n NG gemeente in Verwoerdburg sou optree.

Méér as optree: Hy sou van die kansel af preek, as deel van die erediens.

Ek kon dit nogal verstaan. In die Sondagskool het ek genoeg gehoor van die “Roomse Gevaar.” In die geskiedenisklas in st. 6 het ek dit weer geleer toe ons die Hervorming behandel het. Vandag word die Rooms-Katolieke Kerk steeds gereken as een van die Christelike kerke wat ekumenies die verste van die NG Kerk af staan.

En tog.

Ek het tevore al met vader Bonaventure te doen gehad. En met die Roomse biskoppe van Suid-Afrika. Ek het al met hulle oor verskeie aspekte van die godsdiens gepraat.

Hulle pas eenvoudig nie in die prentjie uit my Sondagskooljare nie.

En toe sit ek die oggend in die kerk en kyk hoe vader Bonaventure die trap van die preekstoel bestyg.

Ek het gewonder of hy ’n pak klere sou dra. Maar toe die deur van die konsistorie oopgaan, verskyn hy in sy lang bruin priestergewaad, soos die priester in die advertensie wat hoe lank uitgehou het, maar eindelik tog moes swig voor die versoeking van ’n heerlike tros druiwe.

Aan sy voete het vader Bonaventure ’n paar bruin sandale gedra, sonder sokkies.

Toe ons deur die geloofsbelydenis is, kom hy aan die woord. En ek luister met gespitste ore na sy gebed.

“God, ons Vader,” begin hy en hy sê dankie dat God ons bymekaargebring het om saam sy Naam te prys. “Lei diegene wat U na u Koninkryk roep, tot eenheid in geloof en liefde dat hulle saam U en U alleen mag dien,” vra hy twee sinne later. Hy bid vir berou oor sonde en vir eenheid van God se gemeente. En hy vra dit “deur ons Here Jesus Christus, u Seun, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer: een God tot in ewigheid.”

Hy lees sy eie vertaling van een van die Psalms voor en daarná Paulus se lofsang uit Romeine 11. Toe hy daarmee klaar is, kom die enigste duidelik Rooms-Katolieke kenmerk van die diens na vore. Sy een hand beweeg na sy voorkop en sak af tot voor sy maag. Met die vingerpunte bymekaar, trek dit die horisontale lyn van skouerknop tot skouerknop om die kruis te voltooi. En sy mond sê die woorde wat so bekend is in die gereformeerde tradisie: “In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Sy preek is eenvoudig. Dit gaan oor die vraag: “Wat is godsdiens?” Beteken dit, vra hy die gemeente, dat ons in diens van God staan? Of dat God in ons diens staan? Hy vra die vraag oor die samelewing. Oor die politiek. Oor die ekonomie. Dieselfde vraag word gevra oor mense se persoonlike lewe.

“Baie mense bly taamlik ver van die gebed af totdat hulle siek word of ’n ander ramp hulle oorval. En dan word God skielik oorval met gebede en vrome praktyke,” sê hy. Sy woorde sny deur ’n klomp opvattings oor kultuur. En ek dink daaraan dat ’n dansonderwyser eens vir my gesê het party mense loop net, selfs al dans hulle. Ander dans, selfs al stap hulle net.

En met sy woorde dans die digter deur konsepte waaroor my gedagtes al hoeveel keer gestrompel het. Tot by sy teks: Paulus se lofsang aan God. Dit is ’n belangrike deel van egte godsdiens, leer hy, dat ons tyd bestee om ons te verwonder aan God se grootheid, sy wysheid, sy kennis. En die teks word oopgebreek sodat ons iets van Paulus se verwondering oor God kan deel.

Later sluit hy af: “Dit alles kom neer op ’n bewondering van die almagtige God van liefde. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.”

Ek het later ’n bandopname van die preek gekry om weer te hoor wat vader Bonaventure gesê het. Sy woorde kon ek nie onthou nie. Maar in my gemoed het daar weer iets oopgegaan oor die grootheid van God. En ek het besef: As die sterre hul oë knip, sal dit dáároor wees.

(Uit Beeld, 21 September 1993.)

Ek kies steeds die kerk

Подняться наверх