Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 17
’N MENS LOOP VOOROOR OM WEG TE STEEK DAT JY VROU IS
Оглавление(Annalie Steenkamp Nel)
Annalie Steenkamp Nel is in baie opsigte die toonbeeld van ’n moderne vrou: selfversekerd, bekwaam, goed versorg, mooi, intelligent, maar sy mag (nog) nie doen waarvoor sy opgelei is nie: om predikant in haar kerk te wees.
Dis nou net meer as tien jaar gelede dat sy die teologiese opleiding voltooi het wat van ’n predikant van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika verwag word. Nou het die nasionale sinode besluit dat vroue nog drie jaar moet wag voordat ’n besluit geneem sal word of hulle as predikante gelegitimeer kan word.
As sy terugdink, onthou sy ’n gediggie wat sy op skool oor God geskryf het. Die roeping om predikant te word, het geleidelik sterker geword. Drie maande nadat sy haar studie voltooi het, het die Gereformeerde kerk Akasia haar genader om pastorale werk te doen. Dit was vir haar ’n uiterlike bevestiging van haar innerlike roeping.
Maar die pad wat sy geloop het, was nie altyd maklik nie. Sy praat van skuins opmerkings deur omies en vertel dat sy nie self die verslag oor haar werk aan die kerkraad kon voorhou nie.
“’n Mens begin later vooroor loop om weg te steek dat jy vrou is …”
Daar was gevoelens van woede, skaamte, selfbejammering en verlies waardeur sy moes werk. In 1995 het sy by die Assosiasie vir Bybelse Berading en Opleiding betrokke geraak – eers as student, later as dosent en toe as direkteur. Hul besturende direkteur, ds. Marius Schalekamp, het haar gehelp om deur die negatiewe gevoelens te werk.
“Moenie stilbly nie.” Daar is baie stories wat sy kan vertel oor hoe vroue in ’n ondergeskikte rol in die samelewing ingedwing word. Soos die dag toe sy as kind gehoor het hoe ’n ouderling haar weduwee-ma voor stok kry omdat sy ’n vraag op ’n gemeentevergadering gevra het. Sy moes swyg, het die ouderling gesê; sy moes iemand anders kry om die vraag namens haar te vra.
As dogters moes hulle ná ete by familiekuiers gaan skottelgoed was, terwyl die seuns buite gaan speel het. Dis teen sulke goed dat daar ’n “bietjie rebellie” by haar ontstaan het.
Deesdae is sy in ’n bediening wat sy vrouepotensiaalontwikkeling noem. Dis ’n oorkoepelende bediening waarin sy berading doen, as spreker optree, skryf, radiowerk doen en opleiding gee.
’n Entrepreneurspredikant, noem sy haarself, met ’n bediening wat oor baie kerkgrense strek. Sy tree op as “lewenstrateeg” wat vroue help om hul lewensdoel te ontwikkel en uit te leef.
Dié bediening het nie uit die lug geval nie. In 1997 het sy drie maande opsy gesit om by die Here seker te maak wat sy moet doen. Die bevestiging van haar roeping het uit Handelinge 18:9 gekom, uit die woorde wat die Here in ’n gesig vir Paulus gesê het: “Hou aan met preek en moenie stilbly nie.”
Dis tóé dat sy aktief begin het om vir haar ondersteuningsnetwerke te organiseer, goed wat dominees in hul gemeentestrukture het, maar waarsonder sy moes begin. Maar sy lag toe sy sê dat sy die gawe van geloof gekry het om soos Abraham uit te trek en nuwe dinge aan te pak.
Sedertdien het sy talle “feminare” gereël en met baie vroue gepraat. Die Here het haar al na baie plekke gestuur, vertel sy, na plekke soos Ventersdorp en Vryburg, waar faksies van die gemeenskap haar optredes geboikot het.
Maar daar was ook mense vir wie dit baie beteken het, soos die tannie van in die 70 wat ná so ’n byeenkoms vir haar kom sê het: “My man sal nie met jou saamstem nie, maar ek is so bly dat ek ook vir die Here iets werd is.”
Daar is vroue, sê Steenkamp Nel, wat dink: “Omdat Eva die appel gehap het, is oorlog, spitsverkeer, pleisters, bloed en pyn ons skuld.” Dis sulke sienings waarvan sy vroue wil help gesond maak.
Sy praat oor die beeld wat mense van God het, oor Jesaja wat God ook in vroulike terme beskryf. “God is nie Hy of Sy nie. God is God,” verduidelik sy. “’n Verkragtingslagoffer wat geleer het God is ’n man, kan God nie nader nie.” Hoe gaan vroue met intiem vroulike traumas soos ’n miskraam of ’n mastektomie na God toe as God ’n man is? “Ons gebruik ‘Hy’ omdat ons taal beperk is. God is groter as geslag.”
Is Annalie Steenkamp Nel ’n feminis?
Dis ’n te gelade term, antwoord sy. Daar is te veel goed daarin wat nie deel is van haar nie. “Ek bemagtig vroue.” Dit vra van haar om ’n fyn balans te handhaaf. Sy moet “plofbare feite in suiker verpak.”
As daar ’n reukie feminisme daarby is, is dit verby. Daarom dra sy haar boodskap oor onder die leuse: “Impak met grasie.” Daarby sê sy: “Vroue is sagte staal.”
Met haar eie bediening gevestig, klink dit nie of sy dit regtig nodig het dat haar kerk die bediening vir vroue oopstel nie. Ná ’n bietjie dink, som sy egter haar emosies oor die jongste sinodebesluite op met die term “heilige hartseer” omdat die kerk nog drie jaar mank gaan aan die volheid van God.
Haar beroep op die GKSA is om alle meganismes in werking te stel om Bybelse persepsies van vroue te bevorder. ’n Sinodebesluit verander nie mense se harte nie.
(Uit Beeld, 18 Januarie 2003.)