Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 6
GELIEFDE OOM BEN IS NIE BITTER
Оглавление(Ben Marais)
Toe ons by prof. Ben Marais aankom, het hy pas sy rose versorg.
Nadat hy sedert die vroeë jare veertig dikwels alleen gestry het teen die Bybelse regverdiging van apartheid in die NG Kerk, maak hy deesdae op die ouderdom van 82 hoofsaaklik tuin.
Vanoggend het hy sy vyftig tot sestig roosplante kos en water gegee. Hy het ook die beddings met gras en blare bedek om die wortels teen die somerson te beskerm.
Voorts korrespondeer hy gereeld met sy kleinkinders “om maar die bietjie wysheid deur te gee wat jy uit ’n ou mens kan druk,” sê hy. As ere-seisoenkaartjiehouer kom hy ook nog gereeld op Loftus.
Met ’n flinkheid wat niks van sy ouderdom verklap nie, neem hy ons na sy studeerkamer.
Sy vrou, mev. Sibs Marais, bring tee. Hy stel haar voor as “my eerste en beste vrou.” Hulle is nou al 52 jaar getroud.
Uit die foto’s teen die muur word ’n mens iets wys van oom Ben se lang en vol loopbaan. In 1933 was hy voorsitter van Maties se studenteraad. Op ’n foto van Wilgenhof se huiskomitee verskyn hy saam met ’n bloedjong Danie Craven en Beyers Naudé. Later sou hy 40 jaar lank, waarvan 26 as voorsitter, in die raad van Tukkies se manskoshuis, Sonop, dien.
Baie jare later was hy dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria. As ’n mens mooi kyk, herken jy ook die jeugdige proff. Johan Heyns en Carel Boshoff op die foto.
Nadat hy in 1974 “weens my hoë ouderdom van 65 gedwing is om uit te tree,” het Unisa gelukkig vir hom ’n pos aangebied. Dit was ’n gawe uit die hemel, vertel hy. Tot 1988, toe hy 79 geword het, het hy nog daar gewerk.
Maar hoewel hy diep spore op dié gebiede getrap het, is dit vir sy stryd teen die Bybelse fundering van apartheid dat mense Ben Marais onthou. Sy vrae oor die kerk se beleid en oor kleurverhoudinge het in 1934 op Stellenbosch begin. Maar dit was op die Transvaalse sinodes van 1940, 1944 en 1948 dat hy sy standpunte sterk in die openbaar gestel het.
In 1953 het hy met sy boek Kleurkrisis in die Weste ’n polemiek ontketen wat maande in die pers voortgeduur het en so byna sy aanstelling as professor in kerkgeskiedenis by Tukkies in die wiele gery het.
En in 1957 het hy die sinode in beroering gehad toe hy voorgestel het dat geen ampsdraer van die kerk tot enige geheime organisasie, ook nie die Broederbond, mag behoort nie.
Dit het daartoe gelei dat hy sewe jaar lank deur geen gemeente, behalwe af en toe deur sy eie gemeente, gevra is om te preek nie.
Maar dit alles kon hy verwerk omdat hy hom vroeg in sy lewe al voorgeneem het om nooit verbitterd te word nie. Hy sou ook nooit verskillende standpunte tussen hom en iemand anders tot vyandskap verhef nie.
Voorts het hy nooit probeer om van buite af druk op die kerk uit te oefen nie. ’n Verandering onder druk kan in elk geval nie ’n fundamentele verandering wees nie, sê hy.
En noudat die heersende gevoel van die gemeenskap in sy guns gedraai het, sal die woorde “Ek het mos gesê!” nie uit sy mond kom nie.
Met die vriendelikheid wat hom ná alles ’n geliefde figuur in die kerk maak, kuier ons langer as wat ons wou by oom Ben. En toe ons uiteindelik buite staan, wys hy ons ’n aalwyn met ’n tweekleurblom.
Van dié saad wil hy binnekort klein aalwyntjies kweek.
(Uit Beeld, 16 September 1991.)