Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 7
DOPPERS, GATJIEPONDERS … STOEPSITTERS, WEDERDOPERS
ОглавлениеByname soos hierdie is deel van die geskiedenis van Afrikaanse Kerke. Maar waarvandaan kom hulle? Met hoeveel venyn is dit gebruik? En hoe gebruiklik is dit nog vandag?
Die oudste van dié kerklike byname is die woord “Doppers.” Nog voor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk in 1859 afgeskei het, is dié naam al gebruik.
Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong daarvan, maar volgens prof. Flip van der Watt, voormalige hoogleraar in kerkgeskiedenis van die NG Kerk, is die aanneemlikste teorie dat dit kom van die Nederlandse woord “dorpers.”
Dit is gebruik vir mense van die platteland; dus nie stedelinge nie. Volgens prof. Van der Watt het dit op eenvoudige mense gedui, maar nie ’n negatiewe betekenis gehad nie.
Prof. Adriaan Pont, Hervormde hoogleraar in kerkgeskiedenis, sê egter die bedoeling was selfs om agterlikheid aan te dui. Die naam is volgens hom soms ook vir Hervormers gebruik.
Die naam “Gatjieponders” vir NG lidmate het sy ontstaan te danke aan die soort manelle wat NG predikante soms gedra het.
Predikante van ander kerke het die “ronde manel” of “kaggelpyp” gedra, wat voor en agter lank was, sê prof. Pont. Dié kan ’n mens nog op Kerkplein in Pretoria in die standbeeld van pres. Paul Kruger sien.
Van die NG predikante het egter ’n Engelse manel begin dra wat net agter oor die boude lank was. Dit is spottenderwys ’n “gatjapon” genoem. Só het die naam “Gatjaponners” of “Gatjieponders” ontstaan met, volgens prof. Pont, die effense konnotasie dat ware gelowiges die ronde manel gedra het en dié wat ligter was in die geloof, die gatjapon.
Prof. Van der Watt meen egter dat dit nooit ’n negatiewe naam was nie. Hy gee ook nie om om ’n Gatjieponder genoem te word nie.
Die benaming “Stoepsitters” vir die Nederduitsch Hervormde Kerk is volgens prof. Pont ’n Wes-Transvaalse naam. ’n Mens sal vergeefs op ander plekke daarna soek.
Dit dagteken van die jare twintig toe die Hervormde Kerk nie genoeg predikante gehad het nie en van die Wes-Transvaalse gemeentes daarom nie Sondae eredienste gehou het nie.
Die lidmate wou egter nie saam met die Doppers of Gatjieponders kerk hou nie en het tuis gebly. Vandaar die naam “Stoepsitters.”
Dr. Jan Langerman, hoofsekretaris van die Apostoliese Geloofsending (AGS), sê die naam “Wederdopers” wat steeds as ’n skeldnaam ervaar word, kom uit ’n tyd toe die AGS die meeste van sy lidmate uit ander kerke getrek en die doop van die gelowiges bedien het aan mense wat ook as suigelinge gedoop is.
Die meeste mense wat vandag deur die AGS gedoop word, kom egter uit eie geledere. In elk geval erken die AGS slegs die doop van gelowiges wat een keer bedien word. Uit hul oogpunt is daar dus geen kwessie van “wederdoping” nie.
Die enigste van die kerklike byname wat wyd in die volksmond inslag gevind het, is “Doppers.” Die HAT noem dit dan ook ’n volksnaam. Daar is nog mense wat sensitief is daarvoor om Doppers genoem te word, maar oor die algemeen is dit nie die geval nie, sê dr. Callie Coetzee van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom. Persoonlik gee hy nie om om só genoem te word nie. Hy gebruik die term immers self.
(Uit Beeld, 23 Januarie 1992.)