Читать книгу Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson - Страница 4
VOORWOORD
ОглавлениеJoernaliste wat die voorreg verdien om twee dekades lank verslag te doen op ’n “beat,” raak dikwels net so goed ingelig – en in sommige gevalle selfs beter – as baie van die mense wat self op daardie terrein werk.
Nie net omdat hulle spesiale talente en gawes het nie – dit moet hulle immers hê om so lank voor die paaltjies te kan bly – maar ook omdat joernaliste die voorreg het om van die beste sitplekke in die arena te kry. Hulle kry die kans om met die bestes, sterkstes, slimstes en magtigstes te praat, hulle te leer ken en dan billik, reguit, eerlik en verstaanbaar oor te dra wat op daardie terreine gebeur.
Hulle beleef die hoogtepunte, die laagtepunte, die toppunt van prestasie, die dieptes van mislukking, die skerp kant van konflik en die skoonheid van vrede. Hulle dra dit só oor dat lesers begryp wát gebeur en hóékom dit gebeur. As hulle dit twintig jaar lank doen, ken hulle die kwessies en die mense later so goed soos hul eie familie.
Neels Jackson was as Beeld se kerksakeverslaggewer juis só ’n joernalis. Hy het daardie plek deeglik verdien. Hy het sy gawes gebruik op ’n manier wat vir hom agting verdien het. By predikante, akademici en ander “beroepsgelowiges.” By medejoernaliste. Ook by die lesers vir wie hy hard gewerk het om te sorg dat hulle begryp wat in die kerke gebeur en wat die neigings in die geloofslewe van Suid-Afrikaners is.
Neels is een van die min joernaliste wat dit reggekry het om ook die vertroue en respek te wen van mense of groepe oor wie hy krities verslag gedoen het. Al was dit soms ’n teensinnige respek.
As kollega is ek telkens getref deur Neels se eerlikheid en erns. Hy gaan nie sommer ligsinnig om met enigiets waarby hy betrokke raak nie. Dit sien ’n mens onder meer in sy fotografie van voëls, die manier waarop hy en sy vrou, Louise, die Camino de Santiago aangepak het, sy liefde vir krieket – hy het dikwels ’n week verlof geneem om ’n vyfdagwedstryd by te woon – en in sy eie geloofslewe.
Elke woord in sy skryfwerk en selfs in gesprekke, is meestal so deeglik bedink en geweeg, elke sin so nadenkend en presies saamgestel, dat dit ’n plesier is om te lees, en moeilik om sy kopie te sny.
Elke woord uit Neels se toetsbord verdien om gelees en weer gelees te word.
Peet Kruger
Johannesburg 2014